Klimtol – en 'n onderhoud met 2012 se Europese damesklimtolkampioen

  • 0

Klimtol, Etienne van Heerden se jongste roman, ontgin die tema van spel as kuns. Naomi Meyer gesels met iemand wie se spel haar erns is. Corli du Toit was in 2012 Europa se damesklimtolkampioen. Sy vertel vir Naomi Meyer van die werklikheid van klimtolspeel.

Hallo Corli, sal jy asseblief vir my vertel hoekom staan daar by jou werksbeskrywing op Facebook: https://www.facebook.com/c3yo-yodesign? Wat behels jou agtergrond en prestasies?

Hallo Naomi. Ek het ses jaar gelede vir die eerste keer met 'n moderne klimtol kennis gemaak. In Londen, waar ek woon, het ek 'n jong man ontmoet wat my eendag met die stokperdjie verras het. Ek het eers nie daarin belang gestel om self te speel nie, maar nadat ons al 'n jaar saam gewoon het, het ek eendag uit verveling een van sy yo-yo’s opgetel en begin gooi. Hy was alte gretig om my touwys te maak en voor die dag om was, het die gogga my gebyt. Hy het vir my 'n webblad op die laptop oopgemaak wat honderde toertjies stap vir stap verduidelik met behulp van video’s. Ek het vinnig deur die lys begin werk totdat ek na 'n paar weke my eie klimtol as prys by hom present gekry het. Van daardie tyd af oefen ek omtrent elke dag om steeds beter te word. Net soos met 'n musiekinstrument is daar geen einde aan hoe goed jy die klimtol kan bemeester nie. As jy genoeg toertjies aangeleer het, dan begin jy sommer jou eie uitdink, en daar is oneindig baie moontlikhede, net soos daar oneindig baie melodieë op 'n instrument gespeel kan word. Ek het binne die eerste paar maande begin om aan kompetisies deel te neem en het my eerste titel verwerf as nasionale kampioen van die "Trick Ladder" (beginnersafdeling) in Engeland nadat ek net een jaar lank gespeel het. 'n Jaar later het ek saam met die pro's deelgeneem en die tweede plek in Brittanje verower. In 2011 het 'n yo-yo-vervaardiger in Hongkong my talent raakgesien en aangebied om my te borg. Van toe af speel ek net met C3yo-yodesign se yo-yo’s by kompetisies en op video’s en in ruil gee hulle vir my soveel yo-yo’s en bykomstighede soos toutjies, bearings en ander goedjies as wat ek nodig het, sowel as finansiële hulp met uitgawes rondom kompetisies. In 2012 het ek die vroue-afdeling by die Europese kampioenskap gewen. Ek het al baie gereis en het al kompetisies in Londen, Praag (Tsjeggiese Republiek), Madrid (Spanje), Lodz (Pole), Budapest (Hongarye), Bratislava (Slowakye), Moskou (Rusland) en Orlando (VSA) bygewoon.

Die boek Klimtol gaan oor spel. En jy lyk so ontspanne op die YouTube-video’s wat ek van jou sien. Tog is jy ’n klimtolkampioen. Is speel jou erns?

Die lewe is vir my 'n spel, 'n dans, 'n komedie, 'n instrument! Ek speel en lag oral waar ek gaan. Ek klim selfs nog soms in bome soos 'n kind. Speel is beslis 'n baie belangrike deel van my lewe en ek dink dit is die rede hoekom ek nog so jonk lyk! Dis nie sonder harde werk dat ek kampioen geword het nie, maar ek werk ook sommer so speel-speel. Ek herinner myself altyd voor kompetisies dat ek klimtol speel vir die pret en dat dit nie 'n verpligting is nie. Sodra ek te hard probeer of te ernstig daaroor raak, raak my emosionele toestand van so 'n aard dat ek nie ordentlik kan oefen nie. Ek dink dit geld vir baie dinge in die lewe: Create with a playful attitude to achieve success.

Klimtol gaan ook oor spel as kuns. Is dit vir jou mooi as iemand ’n toertjie doen – en hoe weet jy dié is nou kuns, of dié? Of is dit nie waaroor dit gaan in die bedryf nie?

Klimtolspeel is beslis 'n kunsvorm. Natuurlik is daar 'n groot tegniese aspek, en dit is wat die meeste beoordeel word by kompetisies. Die estetika word egter ook beoordeel en tel gewoonlik 30% van die totale punt. Die meeste spelers ontwikkel na 'n paar jaar hul eie styl. Die klimtol is beslis iets waardeur individualiteit uitgedruk kan word. Ek is baie meer geïnteresseerd om 'n mooi toertjie by iemand te leer as om die moeilikste triek te probeer bemeester.

Elkeen wat dink klimtolspeel is vir kinders, moet weer dink. Vertel asseblief vir ons lesers watter soort kampioenskappe kry mens – ook in Suid-Afrika.

Vandag se klimtol is beslis nie vir klein kinders nie. Die speelding self het al so baie verander dat dit eintlik moeiliker geraak het om te speel. Dit is met hoë uitsondering dat ek al ooit 'n kind jonger as nege jaar oud gesien het wat enigsins regkom met 'n moderne klimtol. Jong kinders het nog net nie die koördinasie daarvoor nie. Die oorgrote meerderheid spelers by kompetisies en op die aanlyn gemeenskap is tussen die ouderdomme 16 en 30 jaar.

In die meeste lande waar daar klimtolspelers is, is daar streeks- en nasionale kompetisies. In sommige lande waar die spel baie gewild is, soos Rusland, is daar 'n liga, wat beteken dat 'n speler eers in die kleiner streekskompetisies moet presteer voordat hy of sy in die nasionale liga toegelaat word. 'n Wenner van 'n nasionale kompetisie kry outomaties 'n plek in die finale ronde van die wêreld- , Europese of Asië-Pasifiese kampioenskappe. Elke kompetisie bestaan uit twee of meer rondes. Eers is daar 'n een-minuut kwalifiserende ronde en dan gewoonlik drie minute vir die finaal. Die speler kan enige toertjies doen en werk gewoonlik vir elke kompetisie 'n nuwe roetine uit met agtergrondmusiek van sy of haar keuse.

Vertel ons van die trieks wat jy die meeste geniet om te doen?

Ek kan gewoonlik nie sê hoekom ek van sekere trieks meer hou as van ander nie. Ek het altyd een of twee gunsteling-kombinasies wat voel of dit lekker uit my hande uit vloei. Omdat ek ingestel is op puntetellings, sorg ek altyd dat ek 'n wye verskeidenheid toertjies in my repertoire het. Daar sal byvoorbeeld toertjies wees waar die yo-yo ver van my lyf af uitskiet, ander waar ek klein bewegings naby my lyf doen. Soms gooi ek die yo-yo vorentoe en soms na die kant. Ek speel na links, na regs, na voor, bo my kop, selfs agter my rug. 'n Goeie roetine moet ietsie van alles bevat.

Moet mens maar oefen tot mens dit regkry, of kan mens ’n natuurlike talent hê en dan werk dit sommer vanself?

Selfs die mees talentvolle spelers moet baie ure oefen om die kuns te bemeester. Ek dink dit is moontlik om baie goed te speel sonder veel talent, en enige persoon kan leer yo-yo speel. Maar op die ou end is dit die mense met die meeste talent wat die mooiste speel en die meeste vernuwing toon. Iemand met baie talent kan wegkom met minder ure se oefening, maar dit verg nog steeds baie ure, glo my!

Beheer jy die klimtol – of is dit ook nie altyd so eenvoudig nie – is daar kere wat hy nie saamwerk nie?

Dit is onmoontlik om nooit foute te maak nie. 'n Goeie musikant kan dalk 'n vertoning doen sonder 'n enkele fout, maar selfs die klimtol-wêreldkampioene maak foute en knoop selfs soms hulle toue! Dis maar iets waarmee ons moet saamleef.

In die roman Klimtol is daar ’n belangrike Coca-Cola-klimtol in die storie. Besit jy ’n gelukkige yo-yo (persoonlik) – of een wat in geld baie werd is?

Nee, ek het nie 'n gelukkige yo-yo nie. Ek het op die oomblik meer as 'n honderd yo-yo’s, en ek het al baie weggegee of verkoop. Ek heg wel sentimentele waarde aan sommige wat aan my as geskenke gegee is. En ek is trots op 'n paar signature edition yo-yo’s met my naam daarop gegraveer wat deur C3yo-yodesign vervaardig is.

In Klimtol is die hoofkarakter van die storie soms in vertwyfeling voor ’n vertoning: hy’s bang die tou knoop, of hy maak ’n gek van homself. Gebeur dit ooit met jou?

Beslis! Dit hang af hoe goed ek voorbereid is en hoe groot die kompetisie is. As ek regtig goed voel oor my voorbereiding, soos toe ek Europese kampioen geword het in 2012, is ek vir niks bang nie, selfs voor 'n baie groot gehoor. Ander kere bewe my hande sommer van die spanning. Ek’s nie te bang vir die tou wat knoop nie – dit het al so ’n paar keer met my gebeur. Ons vat maar altyd twee of drie ekstra yo-yo’s op die verhoog en gryp vinnig 'n ander een as daar fout kom met die een in jou hand. Dit kos jou wel 5 punte, maar die eintlike verlies is aan tyd. In die tyd wat jy van yo-yo verander, kon jy al nog 5 of meer punte verdien het.

Vertel ons gou tegnies van ’n klimtol. Jy het my al vertel die minste moontlike gedeelte van die tou moet met die klimtolgedeelte in aanraking kom, anders veroorsaak dit te veel wrywing. Die karakter in die storie is bang die tou sweet nat. Sal die sweet dus ook ’n rol speel? Of wat nog?

Die moderne klimtol het 'n baie wyer gleuf waarin die tou sit. Die vorm is ook so dat dit die tou na die middel lei. Ons noem dit die skoenlapper- of uurglas-vorm. Dit dien 'n tweevoudige doel. In die eerste plek gee dit jou 'n groter vanggebied en meer ruimte om groter en moeiliker bewegings te doen en die yo-yo op die tou te vang. In die tweede plek gee dit meer ruimte vir die toutjie self waar dit aan die as vas is, sodat dit nie aan die kante raak nie. Die toutjie sit om 'n koeëllaer (ball bearing) sodat dit nie direk aan die as raak nie. Dus kan die klimtol baie langer spin as die outydse yo-yo’s. Net langs die bearing, naby die middel van die yo-yo, sit die response system. Dit is die gedeelte waarteen die toutjie wrywing moet opbou sodat die yo-yo kan terugklim na jou hand. Vandag se yo-yo’s is egter so ontwerp dat die toutjie so min as moontlik aan daardie gedeelte raak, sodat die yo-yo langer kan spin en ons meer toertjies uit een gooi kan kry. Die “catch” is nou egter dat die moderne klimtol glad nie terugkeer na jou hand as jy aan die toutjie ruk soos die Coca-Cola-klimtolle gedoen het nie. Om die klimtol net te laat klim, moet jy al jou eerste toertjie leer! Ons noem dit die bind. Die toutjie moet basies dubbeld gevou word om die as sodat die tou op een punt drie keer in die gleuf lê. Eers dan is daar genoeg wrywing om die yo-yo te laat klim.

Die toutjie kan van verskillende materiale gemaak word, elk met ander eienskappe. Ek verkies 100% poliëster, omdat dit sag en lig voel en nie my vingers te veel seer maak nie. Die nadeel is egter dat hierdie toutjie baie vinnig begin toiing en gereeld vervang moet word. As die toutjie te oud is, beïnvloed dit hoe goed die yo-yo bind. Soms haak dit vas aan die response terwyl jy 'n toertjie doen, en dan stop die yo-yo sommer. 'n Natgeswete (of natgereënde) tou is 'n nagmerrie, want dit sit aan jou vingers vas en laat jou foute maak en dit kan selfs jou vingers sny. Gelukkig sweet my hande nie, maar sommige spelers gebruik poeier of dun handskoene vir hierdie doel.

Twaalf trieks word in Klimtol as hoofstukindelings gebruik: spinner, walking the dog, reach for the moon, rockin’ the cradle, bouncing Betsy, man on the flying trapeze, looping the loop, Texas cowboy, around the globe, the dog bite, home run en die Marlene. Ken jy hulle en sou jy sê die trieks raak in hierdie volgorde meer ingewikkeld – of is dit ’n persoonlike ding wat moeiliker en makliker is om reg te kry met die klimtol?

Ek ken al die trieks, maar die meeste van hulle kan ek nie met my moderne yo-yo doen nie, omdat dit nie self terugkeer na my hand nie. Baie van hierdie toertjies, soos byvoorbeeld loop the loop, vereis dat die yo-yo self moet terugklim as jy liggies aan die tou trek. Nietemin het ek baie van die toertjies al probeer op 'n outydse yo-yo en maniere gevind om ander wel op my yo-yo te doen. Alhoewel daar persoonlike verskille is in hoe maklik iemand 'n toertjie kan leer, is dit wel moontlik om te sê watter trieks oor die algemeen moeiliker is as ander.  Spinner is die eerste triek wat almal deesdae moet leer, omdat ons staat maak op die yo-yo wat aan die onderkant van die tou moet spin. Dit is nie noodwendig die maklikste nie – dit kan ure se oefening verg om 'n goeie spinner te bemeester. As jy dit egter eers goed kan doen, is dit baie eenvoudig om rockin’ the cradle te leer. Ek sou nie sê die trieks in die boek is heeltemal volgens moeilikheidsgraad gerangskik nie. As ek die volgorde beoordeel, dink ek tog dat dit 'n baie goeie vertoning sal wees met betrekking tot die ruimte wat elke triek gebruik. Byvoorbeeld, bouncing betsy en walking the dog gebruik dieselfde ruimte en daarom is dit goed dat daar twee trieks wat heeltemal ander ruimtes gebruik tussen-in is. Die vertoning het 'n eenvoudige inleiding en bou op tot 'n baie klimaktiese einde. Ek het self ook al 'n vertoning met die Marlene (of skyrocket soos ons dit deesdae noem) afgesluit.

Titel: Klimtol
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624057796

  

Koop Klimtol by Kalahari.com.
Koop Klimtol by Leserskring.
Koop Klimtol by Amazon.

Lees 'n resensie van die roman Klimtol.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top