Kleinboer en Lungi: ’n onderhoud oor die dokumentêre film

  • 2

’n Dokumentêre film oor Kleinboer en sy boek Hierdie huis, is onlangs by die Vrystaatse Kunstefees vertoon. Naomi Meyer het vir Niël van Deventer, vervaardiger van die film, oor die film uitgevra, en ook met Andries Bezuidenhout oor die film gesels. Hier verskaf Niël van Deventer besonderhede oor die agtergrond van die film:

Johan Rossouw en Natie Botes van Bloemfontein het met die idee vir die dokumentêr vorendag gekom. Johan het tydens die Vrystaatse Kunstefees ’n reeks praatjies oor Fanie de Villiers (Kleinboer) en sy werk gedoen en die vertoning van die film het toe daarmee saamgeval.

Die dokkie is 45 minute lank en ek gesels tans met ’n paar televisiekanale en aanlyn platforms, maar ons dink ook daaraan om dalk ’n vertoning of twee in Johannesburg/Pretoria te hou.

Ons maatskappy, Palama Productions, het die projek befonds. Ek glo daaraan om projekte te vervaardig wat ek graag self sou wou kyk. Hierdie een was so. Of ’n televisiekanaal dit sal koop, is ek nie seker nie, maar ons is tans besig met onderskrifte en wil dit dan graag na filmfeeste in Nederland en België neem.

Ons het verlede jaar November besluit om dit te doen en toe in Mei/Junie vanjaar die meeste van die skietwerk gedoen. Ek ken vir Kleinboer al 11 jaar en is sedert Kontrei se dae ’n groot ondersteuner van sy werk.

Die film fokus op Kleinboer se hele lewe, maar Lungi het ’n integrale deel daarvan uitgemaak. Hierdie huis eindig waar Lungi sterf en die dokumentêr ook. Dus in 2008. Al is Fanie sedertdien met Lungi se kleinniggie, Nelly, getroud, was Lungi sonder twyfel die liefde van sy lewe.

Dit fassineer mense. Ek verstaan dat Praag destyds Kontrei uitgereik het om die verval van die Afrikaner aan mense bloot te lê. Koos Kombuis het iets soortgelyk gesê in ’n onlangse resensie oor Hierdie huis. Dit bly op die ou end ’n liefdesverhaal van twee mense wat mekaar inniglik liefgehad het, maar ook sleg opgemors het. Die feit dat dit mense fassineer omdat Fanie wit en Lungi swart is, moet ons dalk ’n bietjie tot introspeksie dwing.

Fanie de Villiers (Foto: Vimeo)

Andries, in ’n dokumentêre film met die titel Kleinboer & Lungi gesels jy oor die hoofkarakters van hierdie ware verhaal. Wil jy dalk iets oor hulle vertel?

Ek dink Kleinboer se lesers ken reeds die karakters, maar dalk vir nuwe lesers: Kleinboer, ook bekend as Fanie, en sy vrou Lungi woon in Yeoville in Johannesburg. In die 1980’s was Yeoville ʼn boheemse ruimte vir (hoofsaaklik wit) kunstenaars en politieke aktiviste – baie van die Voëlvry-mense het daar en in Hillbrow gewoon. In Yeoville was Radoma Court, ʼn pragtige modernistiese gebou in Le Corbusier se styl, ʼn interessante plek. Met die tyd, soos maar met Johannesburg en ander wêreldstede gebeur, het die boheme aanbeweeg (Melville of Kaapstad toe) en immigrante het inbeweeg. Van die geboue se waarde het gedaal en eienaars het sogenaamde “slumlords” geword. Vandag woon daar veel meer mense in Yeoville as waarvoor die infrastruktuur gebou is. Kleinboer het aangebly en met Lungi, ʼn Zoeloesprekende vrou, getrou. Hy is nie die enigste wit persoon wat aangebly het nie (ʼn paar van my ander vriende woon steeds daar), maar wat Kleinboer interessant maak, is die wyse waarop sy vriendekring en verhoudings klasgrense oorskry. Hy skryf pragtig daaroor. Meer as dit wil mens nie verklap nie.

Een van hulle lewe nog, die ander nie meer nie. Kleinboer, die langslewende, het nou nog ’n boek geskryf – Hierdie huis. Wil jy iets hiervan sê?

Dis sy derde boek. Hy skryf baie stadiger as wat hy lewe, dus het sy volgende boek nog baie om in te haal. Ek hoop nie mense lees dit as ʼn tipe pornografie of studie van iets eksoties nie, omdat daar soveel menslikheid in is. Kleinboer se stories is bowenal menslik – oor liefde tussen mense, maar ook oor hoe ons onsself en ons geliefdes teleurstel. Hy is ewe puntenerig oor taal as wat hy oor onkruid en rommel is.

Kleinboer verskuif grense in mense se koppe, nie net oor swart-wit-liefdesverhoudinge nie, maar ook oor vriendskappe en identiteit in Suid-Afrika. Wil jy vertel van ontdekkings wat jy in die dokumentêr rondom Fanie de Villiers gemaak het?

Ek dink Kleinboer se lewe is veel meer radikaal as dit by kwessies van klas kom, eerder as ras. Daar’s vele sekuriteitsdorpe waar daar vriendskappe en verhoudings oor sogenaamde kleurgrense is. Ek dink nou aan Johannesburg, dalk nie soseer elders nie. Kleinboer het wel ʼn muur om sy huis, maar sy lewe is geïntegreer met armoede, nood en alledaagse geweld wat maak dat dit moeilik is vir leunstoel-intellektuele om uitsprake oor sy lewe te maak. Ek probeer nie sê dat hy bo kritiek verhewe is nie, maar bloot dat hy keuses gemaak het wat behels dat sy morele milieu nie deur elektriese heinings en veiligheidswagte beskerm word nie.

Kleinboer en Lungi – Lokprent deur Niel van Deventer op Vimeo.

  • 2

Kommentaar

  • Francois Williams

    BEFOK! Sal hierdie bitter graag wil kyk, ja Lungi was ook 'n stugge-stil soort mens,.maar KB was haar ridder in 'n wit ou Benz en sy was soos 'n windhaan of eerder -hen vir hom ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top