KKNK 2017: Volledige program hier beskikbaar

  • 2
kknk_logoKlik hier om die
volledige program in
PDF-formaat af te laai.

“Die 23ste KKNK bied hope geleenthede om die room van die Suid-Afrikaanse kunste in verskeie genres, dissiplines en vorms te beleef. Vermaak vir oud en jonk word met ’n program propvol drama, humor, musiek, diskoers en vermaak aangebied.”

So sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, wat van Saterdag, 8 tot Saterdag, 15 April 2017 vir die 23ste keer op Oudtshoorn aangebied word. Die datums val binne die nasionale skoolvakansie en die fees eindig oor Paasnaweek. Die feesprogram is op Sondag, 27 November by Rhebokskloof Wynlandgoed in die Paarl bekendgestel.

“Ons vereer vanjaar vir Pieter-Dirk Uys met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis en ons is opgewonde om die jong teatermaker, Jason Jacobs wat as skrywer, regisseur en akteur ’n dinamiese en belangrike nuwe stem tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf voeg, met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys te vereer”, sê Snyman.

Rhodé Schoeman

Rhodé Snyman

Volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, neem Uys die voortou met komedie en satire by die fees in ’n oorkoepelende feesprogram wat gewortel is in sosiale kwessies van kontemporêre Suid-Afrika. “Pieter-Dirk Uys keer na ’n lang afwesigheid terug na die KKNK en is in verskeie produksies te sien. ’n Intieme outobiografiese stuk Weerklink van ’n Wanklank en saam met sy “gunsteling”-politici uit die verlede en hede in Pasaanoffokof. Tannie Evita Bezuidenhout maak as eregas ook ’n paar verskynings tydens die fees”, sê Theart.

_mg_7314

Hugo Theart

Jacobs bied ’n trilogie van werk aan wat insluit In wag van, Kalahari Swaan en Stof Rooi. Volgens Theart is sy besondere styl van teater en sterk poëtiese aanslag ’n belewenis wat sorg vir uitmuntende teaterervarings.

Verskeie nuwe en klassieke werke is op die toneelprogram te sien. Reza de Wet, wat in 2017 vyf jaar oorlede is, se kragtige toneelstuk Breathing In word vir die eerste keer in Afrikaans aangebied as Asem, onder regie van Marthinus Basson, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt. Hierdie produksie word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) aangepak.

Die multi-bekroonde regisseur en skrywer Neil Coppen se Buite Land (oorspronklik NewFoun

dLand) is ’n kontemporêre drama en debuteer by die fees. Dit vertel die storie van twee jong mans uit verskillende konserwatiewe kulture en hul realiteite en gewaarwordinge. Jacques Bessenger, Elize Cawood en Kopano Maroga is onder andere hierin te sien. Chris Barnard se klassieke stuk Pa maak vir my ’n vlieër Pa, onder regie van Albert Maritz en met Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt is te sien, asook Henrik Ibsen se internasionale vertaalde, klassieke werk Die vrou uit die see, onder regie van Henry Mylne.

_mg_7351

Jason Jacobs

Die Hertzog-pryswenner vir Drama, Tertius Kapp, span kragte saam met sy Rooiland-vennoot Jaco Bouwer vir die debuut van Liewer, wat verhoudings tussen generasies in Suid-Afrika, seksuele spanning en kommunikasie ondersoek. Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en die jong aktrise Tarryn Wyngaard is hierin te sien.

’n Aantal solovertonings debuteer by die fees waaronder Éric-Emmanuel Schmidt se roerende Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran met Dawid Minnaar, onder regie van Philip Rademeyer. Mark Behr se roman, Die reuk van Appels, onder regie van Lara Bye word deur Gideon Lombard lewe gegee. Sandra Prinsloo is te sien in ’n splinternuwe solostuk, Moedertaal, met teks en regie deur Nico Scheepers. Prinsloo is ook te sien in die treffer So ry miss Daisy, met John Kani en Jacques Bessenger, onder regie van Christiaan Olwagen.

Antoinette Kellerman

Lara Foot se multi-bekroonde Karoo Moose, maak sy eerste verskyning in die Klein Karoo en vertel ’n hartverskeurende verhaal met Afrika-storievertelling. Ander dramahoogtepunte sluit in Dop, met kragtoere deur André Odendaal en Wilhelm van der Walt, onder regie van Sylvaine Strike, Hond met Frank Opperman en Beurtkrag met Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Die baanbreker van Afrikaanse stand-up, Casper de Vries is terug en te sien in 3-in-1 saam met Schalk Bezuidenhout en Hannes Brummer. Bezuidenhout is ook in ’n solo-vertoning Voksbesit te sien.

_mg_7383

Marthinus Basson

Marthinus Basson bring een van Duitsland se mees opgevoerde kontemporêre skrywers, Roland Shimmelpfenning, se komedie Die koninkryk van die diere na die verhoog met ’n geselskap van verskillende generasies spelers in Dawid Minnaar, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Wessel Pretorius en Ludwig Binge. Pretorius se roerende komedie Die Ontelbare 48 is te sien en na suksesvolle Uitkampteaterstuk Klara Maas se Hart is gebreek, debuteer dié volwaardige toneelstuk.

Pierre van Pletzen (Oubaas van 7de Laan) is na jare terug op die verhoog in sy solokomedie, Voël in die hand. De Klerk Oelofse debuteer met sy eerste solokomedie Strooijonker en Esther von Waltsleben (Francois Toerien Show en Die Republiek van Zoid Afrika–faam) debuteer met haar solostuk, O my goeie volk. Marion Holm se 14de solokomedie, Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis debuteer by die fees.

Waldimar Pelser

Frans Swart se My man se skelmpie se skelmpie se vrou is ’n skreeusnaakse klug met o.a. Cobus Venter en Ana van Achterbergh en Saartjie Botha se komedie Gebore uit die huwelik, met Elize Cawood en Wilson Dunster maak sy debuut.

Ander komedies sluit die verhoogverwerking van P.G. du Plessis se Koöperasie-stories (Chris van Niekerk, Marion Holm, De Klerk Oelofse, Margit Meyer-Rödenbeck en Carel Nel), Ooms (Tobie Cronjé en Gerben Kamper), Net ’n Chilliburger en Chips asseblief! (Deon Lotz en Waldemar Schultz) en Mike van Graan se treffer skerpskertsproduksie Pay back the Curry in.

David Kramer

David Kramer

David Kramer se hip-hop musiekblyspel Amper Famous, saam met die jong hip-hop kunstenaar V.I.T.O. ontwikkel, is ’n eerste vir Suid-Afrika. V.I.T.O. is te sien in die hoofrol met ’n storie van ’n jong man van Okiep wat droom van nasionale sukses met sy Afrikaanse hip-hop.

Coenie de Villiers span kragte saam met Deon Meyer vir Karoo Suite met van De Villiers se nuwe musiek en die Karoo Suite, ’n debuutwerk, struktureel gebaseer op Vivaldi se Vier Seisoene. De Villiers het die musiek gekomponeer en die internasionaalerkende skrywer Deon Meyer het gehelp met die teks. Hy wys ook van sy asemrowende fotografie wat ’n agtergrondtafereel vir dié multimedia-viering word.

Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band trek ’n kontemporêre baadjie vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese protesalbum Eet Kreef aan en die musiekprogram tree in gesprek met ’n ander ikoniese musiekteaterstuk Piekniek by Dingaan wat deur die Feesteforum en NATi ontwikkel word as Piekniek by Mpande nee Dingaan.

Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe gee ’n swing twist aan bekende Afrikaanse musiek in die splinternuwe Karoo Swing en Zolani Mahola (Freshlyground) kom Rock en rol in ’n produksies wat die rol van vrouwees in die wêreld van rock & roll vereer.

Ander musiekdebute sluit in Amanda Strydom met So onder deur die maan, Andriette Norman en orkes met Goeie genade dis ’n dekade!, Jak de Priester met 15 Jaar met klavier en kitaar, Loki Rothman en Albert Frost met Die akoestiese kitaar, Ricus Nel en Pietman Geldenhuys met Die ding van ’n liedjie en Steffie le Roux en Les Javan wat hul musiektalente saamspan.

kknk_650

Die debuut musiekproduksie Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band

Die Vlammende Fez, ’n literêre kabaret, kyk na skrywer I.D. du Plessis se lewe en skryfwerk oor die Kaapse Maleier-kultuur, onder regie van Abduragmaan Adams met o.a. Chris van Niekerk, Loukmaan Adams en ’n Kaapse Maleier-sanggroep.

Angels on Horseback: Skop skiet and Blonder is sexy en satiriese vermaak en Jemma Khan bring die internasionaal suksesvolle We didn’t come to hell for the Croissants na die fees. Hierdie stout kabaret is verskillende storievertelling in die Japanese tradisie van prentjiestorievertelling (kamishibai), met die oorspronklike tekste deur verskillende vooraanstaande jong Suid-Afrikaanse skrywers in Engels geskryf, spesiaal vir die KKNK na Afrikaans vertaal deur Tertius Kapp.

Nuwelinge op die program sluit in Elisha Zeeman wat na haar suksesvolle Uitkampteater-stuk van 2016 ’n volwaardige kabaret na die planke bring met Mond Verby. Die internasionaal bekende Suid-Afrikaanse pianis, Petronel Malan is na jare te sien in ’n spesiale uitvoering, Getranskribeer. Ander hoogtepunte sluit in Adam Tas, Rocco de Villiers, Elvis Blue en Mathys Roets.

Karen Meiring

Die KKNK se opelug musiekervarings keer vir die eerste keer sedert 2012 terug na die Rivierbuurt en bied meer waarde as ooit tevore. ’n Ongelooflike atmosfeer word in die Rivierbuurt geskep met stalletjies, smulkos, wyn- en deli-proeë, kindervermaak, rusareas, musiek by twee verhoë vanaf 12:00 én in 2017 ook aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog. ’n Feeskaartjie kos R250 (vir agt dae se vermaak) en dagkaartjies kos R50 per dag. Golden circle-kaartjies is vir uitgesoekte aande beskikbaar vir diegene wat voor in die gehoor wil wees, maar hierdie kaartjies bied nie toegang tot die Rivierbuurt nie.

Literêre juwele is volop met boekgesprekke saamgestel deur Daniel Hugo, Jana Cilliers wat met In die Omtes van die Hart, Petra Müller se werk voordra, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte saamgestel en onder spelleiding van Juanita Swanepoel met akteurspaar Waldemar Schultz en Ira Blanckenberg en Eric Nobbs se vertellings oor Giel Swiegers en ander Karoo-duiwels. Die digter Danie Marais en RSG-aanbieder Haidee Muller bring bekende en minder bekende storievertellers van heinde en verre bymekaar om die ATKV-Kampvuur vir heerlike stories, kuier en musiek.

Sue Pyler van RSG

Sue Pyler van RSG

Na die sukses van Uitkampteater in 2016, is dié kort-kuns projek terug en verskeie opwindende stukke word om die uur aangebied in tentjies met o.a. twee Nederlandse stukke, Diep en Wentel, wat jou omgewing letterlik omkeer. Baron van Reedestraat bied ’n feestelike program met internasionale straatteater uit onder meer België en Spanje en verskeie verrassings lê voor met geheime bekende kunstenaars wat in die straat ’n verskyning maak.

Kindervermaak is gefokus by Arbeidsgenot en kinders (jonk en oud) word hier getrakteer op ’n verskeidenheid teaterproduksies en aktiwiteite soos Crafty Kids se werkswinkels, ’n multi-media produksie TechnoPOP en verskeie Uitkampteaterstukke. Gunstelinge onder die kinderhelde soos Lollos maak ook ’n draai.

Paul Bayliss, kurator van visuele kuns, het ’n diverse samestelling van kurators, kunstenaars en mediums byeengebring wat sorg vir ’n besonderse ervaring. ’n Feesuitstalling met die titel Die moontlikheid van sig / The possibility of sight, onder kuratorskap van Raimi Gbadamosi word aangebied.

Hannes van Wyk is op die bank met Kwêla-gesprekke waar hy met bekendes en kundiges in die industrie gesels. Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, en joernalis Ivor Price, lei Die Burger Praat Saam se diskoersreeks met onderwerpe waaronder Suid-Afrikaanse politiek, Afrikaans, kerke en klasgelde. Bayliss lei daagliks gesprekke oor kuns en rondleidings by die kunsuitstallings. Teatergesprekke na afloop van sommige vertonings bied insig agter die skerms.

Kaartjieverkope vir Kliek Klublede open Maandag, 28 November en Dinsdag, 17 Januarie 2017 vir die publiek by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan by verblyf@kunste.org.za of 044 203 8600 gedoen word.

  • Foto van Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band: verskaf
  • Foto's van die bekendstellingsfunksie: Naomi Bruwer
  • 2

Kommentaar

  • Goeienaand. Vanaand die vertoning Voel in die hand van Pierre van Pletzen gesien.
    Wat 'n teleurstelling.
    Is dit nodig dat hy so laag moet daal?
    KKNK kan beslis nie met sulke gemors geassosieer word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top