KKNK se boekgesprekke bied insig in nuwe Afrikaanse publikasies

  • 0

“Die ATKV-Boeke-oase is nie net ’n tuiste vir die nuutste boeke teen sakpaspryse nie, maar stel ook met daaglikse boekgesprekke feesgangers bekend aan ons kreatiewe denkers en hul skryfprosesse”, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, wat van 8 tot 15 April op Oudtshoorn aangebied word.

Daniel Hugo, bekende digter en vertaler, stel vir die tweede jaar dié program saam, ná verlede jaar se suksesvolle boekgesprekreeks. Die program bied iets vir elke kranige leser en is die perfekte geleentheid om boeke te koop én meer oor ons skrywers en hulle literêre juwele te leer.

“Terwyl Afrikaans onder al hoe groter druk kom, is daar ’n opbloei van skryfwerk oor elke denkbare onderwerp. Die KKNK se boekgesprekke bied ’n blik op die wye verskeidenheid boeke wat tans beskikbaar is. Feesgangers kan die skrywers in lewende lywe ervaar en met hulle in gesprek tree. ’n Unieke geleentheid”, sê Hugo.

Daniel Hugo

Boekgesprekke word daagliks om 11:00 en 14:00 in die ATKV-Boeke-oase (Rembrandtsaal van die CP Nel-museum) aangebied. Ál die gesprekke kan gratis bygewoon word.

8 April 2017

11:00  Oorlog word bespreek in Die grensoorlog herbelig met skrywer Willem Steenkamp en kyk ondersoekend na Suid-Afrika se langste oorlog. Wie was die wenner en wás daar ’n wenner? Kom luister na klomp nuwe feite oor die waterskeidings-gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

14:00  Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker deel in Kaapse kookkuns met Marlene Malan meer oor die oorweldigende sukses van Kook saam Kaaps en hulle nuutste kookboek, Soettand. Hulle was hul lewe lank net ma’s en eggenote wat hul huisgesinne bederf het met lekker etes, maar toe word hulle ontdek ...

9 April 2017

11:00  In Joernaliste wat boeke skryf gesels Wyngaard (A Home for Zephany) en Carla van der Spuy (Mishandel, misbruik, misken: Joey Haarhoff was my ma) oor hulle verhale wat allesbehalwe “mooi” is. Dié stories oor die donker kant van die mens se psige is boonop scoops – daardie magiese woord wat elke joernalis se hart vinniger laat klop.

14:00  In Misdaadskrywers op die kruin van die golf gesels Deon Meyer en Chanette Paul met Tertius Kapp oor die ongekende oplewing wat misdaadromans en spanningsfiksie die afgelope jare beleef. Meyer en Paul se boeke is topverkopers, maar is daar nog iets nuuts te vertel, of is Afrikaanse lesers naby die versadigingspunt van misdaadverhale?

10 April 2017

11:00  Skrywers op pad bring vir Dana Snyman en Erns Grundling byeen om oor hulle reise te praat. Een reis internasionaal, die ander verkies reise in sy eie land. Die een kyk na die groter prentjie van die mens se soeke na betekenis, die ander skep klein onthou-oomblikke wanneer sy pad met dié van onbekendes kruis.

14:00  Shirmoney Rhode (Nomme 20 Delphistraat) en Gaireyah Fredericks (Kaaps is Hollands) demonstreer in Twee Kaapse digters hoe doodgewone dinge en die ordinary lewens van “kalit mense” in hul monde performance poetry word.

11 April 2017

11:00  Lina Spies gesels in Na aan my hart oor haar jongste bundel Sulamiet, wat handel oor die temas wat haar die afgelope vyf dekades so ’n geliefde digter gemaak het.

14:00  Kapp is ook betrokke by Waarom word so min dramatekste gepubliseer? saam met Nicol Stassen (uitgewer) en Marthinus Basson (regisseur) oor wat die Suid-Afrikaanse uitgewerswese gaan doen om erkenning te gee aan ons puik dramaturge. Of word dramas nog net van tyd tot tyd uitgegee bloot om letterkundige pryse te wen?

12 April 2017

11:00   In Twee Anglo-Boereoorlogbiografieë volg Carel van der Merwe (Eugène Marais) en Elsabé Brits (Emily Hobhouse) die spoor van twee enigmatiese mense wat ’n onmiskenbare band met dié oorlog gehad het.

14:00  Twee gevierde Ladismithers het ’n egte Klein Karoogeur, met Abraham H de Vries en Peter Veldsman, gelei deur Wium van Zyl. Die Klein Karoo het ’n deurslaggewende rol in hul lewens en loopbane gespeel: De Vries as kortverhaalskrywer en Veldsman as kosskrywer. Maar hulle is ook storievertellers by uitstek – smaaklike, sappige, souserige, kleurvolle stories van mense en hul dinge. Met Ladismith en die Klein Karoo wat soos ’n goue draad deur hierdie vertelkuns loop.

13 April 2017

11:00  In Giliomee – taalaktivis en historikus gesels Hermann Giliomee met Hugo oor sy jongste boek, Historikus – ’n Outobiografie. Sy lewe het interessante draaie gemaak as professor by Ikeys, Maties en in die buiteland.

14:00  Marianne Thamm is die gespreksleier van Melk die heilige koeie met skrywer Deon Maas. Hulle gesels oor Maas se nuutste boek en dié twee skrywers, met hul eie sterk menings, gaan kyk of hulle oor enigiets kan saamstem.

14 April 2017

11:00  Tydens Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry vertel Jansen die verhaal van ’n jong meisie se verskeurdheid oor haar oorlogservaring, wanneer sy tussen haar broer en haar pa te staan kom.

14:00  Van Hitler en Verwoerd tot Mandela is ’n gesprek met Marianne Thamm, gelei deur Heindrich Wyngaard, oor hoe haar grootwordjare haar menings en lewensuitkyk beïnvloed het. Haar boek Hitler, Verwoerd, Mandela and Me is ’n verhaal van ’n pa en sy dogter, oor die spoke van die geskiedenis, oor gesinsverhoudings en vergifnis.

15 April 2017

11:00  Hannes Visser lei ’n gesprek met Ena Jansen, Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste. Hulle bespreek Jansen se boek Soos familie, waarin sy kyk na die lewens van huiswerkers in stedelike huishoudings – vroue wat soms verskeur is tussen hul eie gesinne en dié van die mense vir wie hulle werk.

14:00  Eben Venter gesels in Blik op Suid-Afrika van binne en buite met Hugo oor sy twee romans Wolf, wolf en Horrelpoot wat temas van kleur, politiek, ontnugtering en lig teenoor donker ondersoek.

Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600. Die feesdatums val binne die nasionale skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top