KKNK 2017: Toespraak deur Jan Heunis

  • 11

Toespraak deur JC Heunis SC, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch, by geleentheid van ’n oud-Maties-ontbyt by die KKNK, Vrydag 14 April 2017, 07:30, Welgeluk NG Kerksaal, Parkweg-Suid, Oudtshoorn

It is dying.
It is dying.
Let it die.
It's had its chance. (La La Land)

Dames en here

Gedurende 2016 het Afrikaans sy status as primêre onderrigtaal aan nog vier universiteite, insluitend die Universiteit Stellenbosch, verloor.

Dit is nou nog net aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit ’n primêre onderrigtaal met ’n status gelyk aan dié van Engels.

Aan die Universiteit Stellenbosch was die Raad en die Senaat die rektor se bestuurspan ter wille en het hulle ’n beleid aanvaar wat gestalte gegee het aan ’n verklaring van die bestuurspan van 12 November 2015 waarin onder meer gesê is dat alle onderrig voortaan in Engels sal wees en dat dit ook die primêre taal van kommunikasie en administrasie sal wees.

Waldimar Pelser, Rapport se redakteur, het onlangs geskryf oor die opbloei in Afrikaanse teater, letterkunde en musiek en hoe Afrikaans lewe daaruit put. Daarvan is die Stellenbosch Woordfees en die KKNK ook sprekende bewyse.

In die rolprent La La Land sê die jazzkomponis, Sebastian, op ’n stadium met verwysing na jazz as ’n genre:

It is dying.
It is dying.
Let it die.
It's had its chance.

Dit het drie vrae by my laat ontstaan:

  • Is Afrikaans sterwend?
  • Indien wel, maak dit saak?
  • En indien dit saak maak, moet (kan) ons iets daaraan (probeer) doen?

So seker soos wat die son in die ooste opkom, sal die einde van Afrikaans as taal van tersiêre onderrig dit as ’n instrument van kommunikasie en as draer van kultuur noodlottig verwond.

  • Dit sal met verdrag sy hoëre funksies verloor.
  • Dit sal ophou om ’n volwaardige wetenskapstaal te wees.
  • As daar nie meer ’n vooruitsig is dat Afrikaanssprekende skoliere in Afrikaans aan universiteite sal kan studeer nie, sal hulle ouers hul toenemend na Engelse skole toe stuur en Afrikaanse skole sal noodwendig ook in die proses tot niet gaan.
  • Namate dit gebeur, sal ouers hul kinders toenemend vir skool voorberei deur Engels met hulle te praat.
  • So sal Afrikaans sy dood tegemoet gaan; langsaam maar onafwendbaar.

Geen wonder nie dat Robert Greig op 10 April vanjaar in sy LitNet-reaksie op bydraes deur Marlene van Niekerk, Stephanus Muller en Johann Rossouw, die volgende vrae aan die orde stel:

The language regime change at Stellenbosch University was an act of force majeure. For that reason, I sense in Johann Rossouw's and others' postings a drift from the urgent to the incidental. A pity. Philip Larkin's line in The old fools comes to mind: “Why aren't they screaming?"

En ook:

Remind me: Was there – is there – any serious objection or protests or attempt to mobilise public opinion against the project? Was there a demo, sit-in, drive-in, be-in, or a strike? Did faculty and students go public and stand up and be counted? Or was there merely moaning and shrugs?

I live too far away to be certain. But I am aware that the risks of public opposition in the context of the democratic miracle and a corporate environment are enormous. It's also unfashionable.

Die voorstanders van die behoud van Afrikaans as ’n taal van tersiêre onderrig wen die debat loshande. Die meer belangrike vraag is of hulle die oorlog wen.

As ’n mens vinnig na die empiries verifieerbare objektiewe feite kyk, is dit maklik om te sien waarom hulle die debat wen:

  • Afrikaans is die moedertaal van die derde meeste Suid-Afrikaners.
  • Dit is die moedertaal van die grootste bevolkingsgroep in die Wes-Kaap; van hierdie groep is bruin mense, ’n voorheen agtergestelde bevolkingsgroep, verreweg in die meerderheid.
  • Vir baie van hulle, veral dié wat in die platteland woon, is dit lewensbelangrik om toegang tot tersiêre onderrig in Afrikaans te hê.
  • Artikel 6(4) van die Grondwet bepaal onder meer dat alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel moet word.
  • Artikel 29(2) bepaal dat elkeen die reg het om aan openbare-onderwys-instellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.
  • Paragraaf 15.4 van die Ministeriële Taalbeleid vir Hoër Onderrig, waaraan universiteite se taalbeleide moet voldoen, lees soos volg:

The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource. It, therefore, fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded. In this regard the Ministry endorses the views of the then President, Mr Nelson Mandela, as expressed in his speech to the University of Stellenbosch in 1996, on the occasion of the acceptance of an honorary doctorate, that: “The real issue is not the extermination or preservation of Afrikaans as an academic medium. Rather, the question is this: Amongst ourselves, how are we to negotiate the dispensation for the South African University system that meets the following three criteria? Firstly that a milieu should be created and maintained for Afrikaans to continue growing as a language of scholarship and science. At the same time, that non-speakers of Afrikaans should not be unjustly deprived of access within the system. And moreover, that the use and development of no single language medium should – either intentionally or unintentionally, be made the basis for the furtherance of racial, ethnic or narrowly cultural separation.” The Ministry has built on this statement in the National Plan for Higher Education.

  • Afrikaans is ’n volwaardige wetenskaps- en onderrigtaal.
  • Daar is 26 universiteite in die land waarvan, soos ek gesê het, nog net die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Afrikaans as primêre onderrigtaal gebruik.
  • Daar is vier universiteite in die Wes-Kaap, waarvan drie uitsluitlik in Engels onderrig aanbied.
  • Daar is 560 skole in die Wes-Kaap wat in Afrikaans enkel- of dubbelmediumonderrig aanbied.
  • Die Universiteit Stellenbosch het ’n bewese vermoë om onderrig in Afrikaans aan te bied.
  • Dit is ’n onomstootlike feit dat studente wat voorgraadse onderrig in hul moedertaal ontvang, akademies beter vaar as studente wat nie in hul moedertaal onderrig ontvang nie.

Met die wind van hierdie feite in hul seile kan die voorstanders van Afrikaans as primêre onderrigtaal met ’n status gelyk aan dié van Engels aan die Universiteit Stellenbosch, kwalik die debat verloor.

Nogtans wen hulle nie die stryd nie, soos blyk uit die feit dat die Raad en die Senaat die rektor se bestuurspan hulle sin gegee het en ’n beleid aanvaar het wat die doodsklok vir Afrikaans ingelui het.

Dis miskien nog net die lede van daardie bestuurspan wat betwis dat dit so is. Maar dan moet die caveat wat die rektor in ’n onderhoud met Mercy Kannemeyer geopper het, nie uit die oog verloor word nie. Hy het gesê: "Die Universiteit Stellenbosch is ’n nasionale bate. Dis nie vir ’n klein deel van die gemeenskap nie."

Klaarblyklik het hy uit die oog verloor dat die Ministeriële Beleid sê: "The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource."

Afrikaans is dus óók ’n nasionale bate.

Die rektor se stelling verdien eintlik nie eens kommentaar nie.

In die Wes-Kaap is Afrikaanssprekendes nie ’n klein deel van die gemeenskap nie.

Nasionaal is hulle nie ’n klein deel van die gemeenskap nie. Nasionaal én provinsiaal is daar geen proporsionaliteit tussen die Engelse en Afrikaanse aanbod as daar na die getal universiteite en die getal Afrikaanssprekendes gekyk word nie.

En, laastens: die aanspraak is nie op Afrikaans as die enigste taal van onderrig aan die Universiteit Stellenbosch nie; dit het gelyke status met Engels.

Jannie Mouton, die stigter van die Stellenbosse beleggingsreus PSG, het onlangs in ’n onderhoud met Die Burger met verwysing na die Universiteit Stellenbosch gesê: "Ek sou hom graag ’n Afrikaanse universiteit wou hê, maar die tyd is verby."

Dit net nadat hy gesê het: "Ek het ’n liefde vir Afrikaans, maar vir seker, en dan wil ek my in die stryd werp hierso by Stellenbosch Universiteit (US), en dan sê hulle vir my ek kan nie as genoteerde maatskappy ... ons het Afrikaanse én Engelse aandeelhouers en die regering is aandeelhouers, ek moet my bek hou."

Oor die regering is hy dalk reg, al behoort dit nie so te wees nie, maar oor sy Engelse aandeelhouers beslis nie – vra maar die Nobel-pryswenner JM Coetzee en die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en die skrywer van Can South Africa survive?, RW Johnson, en Robert Greig, wat ek in die begin aangehaal het. Almal van hulle, en duisende soos hulle, sien met die eerste oogopslag dat Stellenbosch ten minste ook ’n Afrikaanse universiteit behoort te wees en baie is verstom dat dit nie meer die geval is nie.

Of die uitkoms nou, soos wat Johann Rossouw glo, weens regeringsdruk was en of dit uit vrees vir ontwrigting was deur ’n klein groepie studente onder die vaandel van Open Stellenbosch (wat nie eens meer bestaan nie), en of dit ’n kombinasie van hierdie en ander faktore was, soos wat ek glo die geval is, die hartseer werklikheid is dat die outeurs van die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid en die dryfkrag daaragter, Afrikaanssprekend is, van wie sommige dit uit innerlike oortuiging doen, ander omdat hulle vrees vir ontwrigting of omdat hulle oordeel dat dit ’n geveg verg wat hulle nie kan wen nie, en ander wat gewoon deur eiebelang gemotiveer word.

Die voorstanders van gelykberegtiging vir Afrikaans en Engels as onderrigtale aan die Universiteit van Stellenbosch wen die debat, maar ons wen nie die stryd nie.

Is die tyd verby en maak dit saak?

En as dit saak maak, maak dit genoeg saak?

En as dit genoeg saak maak, wat gaan ons daaromtrent doen?

Die antwoord is eenvoudig: as dit vir genoeg Suid-Afrikaners saak maak, dan maak dit saak.

Maar dan sal hulle hul stemme moet laat hoor.

Dan sal hulle en hul kinders daarop moet aandring dat laasgenoemde in Afrikaans onderrig sal ontvang aan die Universiteit Stellenbosch en hul misnoeë met wat daar aan die gang is, volgehou te kenne gee en illustreer.

Die uitrangering van die enigste ander tersiêre onderrigtaal naas Engels is slegte nuus vir alle Suid-Afrikaners, want wat die Grondwet verg, en wat die Ministeriële Taalbeleid verg, en wat gesonde verstand verg, is nie om ’n taal wat reeds die status van ’n wetenskapstaal verwerf het, in die ban te doen nie, maar vir Suid-Afrikaanse universiteite om die verantwoordelikheid te aanvaar om inheemse tale anders as Afrikaans ook tot volwaardige akademiese tale te ontwikkel. Om meer te doen, nie minder nie.

Eerder as dat Afrikaans uitgerangeer word aan die Universiteit Stellenbosch, behoort daardie universiteit verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van Xhosa as ’n wetenskapstaal te aanvaar.   

Te oordeel aan die mense, bekend en onbekend, wat hulle steun vir die saak van Afrikaans as onderrigtaal teenoor my uitspreek, teenoor mense wat ek ken uitspreek, en dit uitspreek in die meningskolomme van koerante soos Die Burger, maak dit saak en maak dit genoeg saak.

Maar Suid-Afrikaners, en veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, sal hulle stemme moet laat hoor.

En terwyl ek nie onsimpatiek is teenoor die vestiging van ’n nuwe universiteit nie, is ek daarvan oortuig dat ons Stellenbosch nie sonder slag of stoot behoort prys te gee nie.

Dit het tyd geword dat ons weier om die swye opgelê te word met emosionele, vals en moedswillige argumente soos dat –

  • Afrikaans die taal van onderdrukking en Afrikaanssprekendes die onderdrukkers was en daarom "verdien" wat nou met hulle gebeur
  • die aandrang op Afrikaans as primêre onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch saam met Engels, ’n teruggryp na die beskamende bevoorregting van apartheid is
  • Afrikaans as onderrigtaal anderstaliges uitsluit en afwysend is teenoor hulle.

Dan sal ons onsself onomwonde en met nadruk op die standpunt moet stel dat –

  • daar ’n grondwetlike en inherente reg is om Afrikaans se status as spreektaal en onderrigtaal en akademiese en wetenskapstaal in stand te hou
  • die nastreef daarvan ’n positiewe dadigheid verg en nie tot nadeel van enige ander bevolkingsgroep is nie
  • dit trouens die enigste manier is waarop honderde duisende voorheen benadeelde, veral plattelandse, bruin Afrikaanssprekende mense bemagtig kan word, en as iemand my hieroor beskuldig van opportunisme sal hy hom in klipharde feite vasloop
  • mense nie meer van die nasionale debat uitgesluit kan word omdat daar ’n apartheidsideologie in sommige van hulle se verlede lê nie
  • ons in hierdie saak reg en geregtigheid aan ons kant het.

As dit vir ons saak maak, moet ons van ons laat hoor.

As dit die moeite werd is, moet ons standpunt inneem.

As dit vir ons ’n saak van innerlike oortuiging is, is hierdie nie ’n aangeleentheid wat ons aan ’n paar mense kan oorlaat nie.

Langenhoven het in 1925 gesê: "Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As Nederlands julle taal is, waarom praat julle dit nie? As Afrikaans julle taal is, waarom skryf julle dit nie?"

Die retoriese vraag wat sigself vandag aan ons opdring, is: As Afrikaans nog julle taal is, waarom neem julle nie standpunt in teen die devaluasie daarvan op elke vlak van die samelewing en in die besonder aan universiteite nie?

Dit gaan van u verg om die gemeenskappe waarin u woon en werk, op te vorder om die saak van Afrikaans te ondersteun.

Om die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch, die enigste orgaan van daardie universiteit wat nog onomwonde staan vir Afrikaans as primêre taal van onderrig met gelyke status aan dié van Engels, te ondersteun.

Om Gelyke Kanse se hofaansoek teen die Universiteit Stellenbosch te ondersteun. Dit is nie my voorneme om met u te praat oor die meriete van daardie aansoek nie, behalwe om te sê dat gegewe die gekheid van die besluit om Afrikaans te devalueer in die lig van die feite wat ek ter aanvang genoem het, en in die lig van daardie feite, behoort daardie hofsaak ’n beter kans te hê om te slaag as enige van die ander drie wat in die noordelike provinsies onderweg is. Dit het gewoon te doen met demografie.

Die status van Afrikaans as onderrigtaal ook aan tersiêre opvoedkundige inrigtings is nie een waaroor eensydige besluite geneem kan word op aandrang van ’n hopelose regering of aggressiewe minderhede wat toegelaat word om ’n buitensporige en disproporsionele rol te speel nie. Dat dit gebeur het, is ’n skande. Dat dit voortduur, ’n groter skande. As dit standhou, sal dit ’n skandvlek wees.

Hierdie het ’n saak geword waaroor ons ’n streep in die sand moet trek en moet sê tot hiertoe en nie verder nie.

Dit is ’n saak waarvoor ons vierkantig kan steun op fundamentele regte wat in die Grondwet verskans is juis omdat dit uitdrukking gee aan dit wat moreel en eties reg en regverdig is.

  • Die eerste so ’n fundamentele beginsel is dié van gelykheid.
  • Die tweede is dié van menswaardigheid, ’n fundamentele reg wat ten grondslag van alle ander fundamentele regte lê en wat verg dat ons mekaar sal behandel soos wat ons verwag om behandel te word.
  • Die derde is dié van sekerheid van die persoon, wat beteken dat ons aan hierdie debat moet kan deelneem sonder vrees vir lewe en veiligheid.
  • Die vierde is dié van vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra, asook akademiese vryheid.

Oor hierdie saak moet ons aandring op ’n spreekbeurt en dat ons aangehoor sal word. Niemand mag van hierdie debat uitgesluit word nie – nie op grond van sy of haar velkleur nie; nie op grond van sy of haar oortuigings en standpunte nie; nie op sterkte van etikettering en wanvoorstelling nie; nie op grond van verdagmakery nie; nie as gevolg van ’n verbintenis met enige organisasie, polities of andersins, nie; nie as gevolg van geweld of dreigemente van geweld nie.

Daar kan nie meer ruimte wees vir die uitskakeling van mense op sterkte daarvan dat hulle kwansuis teruggryp na die verlede terwyl die enigste rede waarom hulle daarvan beskuldig word, ’n armoede aan geldige teenargumente is nie.

Vrygeborenes is belangrike deelnemers aan ’n debat oor Suid-Afrika se toekoms, maar hulle is nie die enigste deelnemers nie en die vrygeborenes wat in Afrikaans onderrig wil ontvang se stemme moet ook gehoor kan word.

Ewe belangrik is die feit dat Afrikaans as ’n medium vir die oordrag van kulturele waardes onontbeerlik is. Dink mens na oor die gevestigde Afrikaanse letterkundeskatte en die vakkundige, sosiale, tegniese en religieuse woordeskat van Afrikaans in sy wonderlike verskeidenheid, besef jy dat die taal tekenend is van ’n ganse kultuur, simptomaties daarvan en onderliggend daaraan – en dat die uitsluiting van die taal terselfdertyd uitsluiting van die middel tot kultuuroordrag en -oorlewing moet beteken.

Of dit so bedoel word of nie, deur die ontkenning van gevestigde taalregte word die oordrag van kultuur self gekniehalter, en die vraag wat vandag voor ons is, is of dít die uitkoms is wat die Grondwet beoog het met sy visie vir ’n demokratiese bestel en nasionale versoening.

As vertrekpunt, bevestig, erken en beskerm artikel 30 van die Grondwet onomwonde Suid-Afrikaners se taal- en kultuurverskeidenheid.

Natuurlik word die uitoefening van hierdie reg begrens. Natuurlik is dit nodig om daarteen te waak, soos wat die wetgewers in feitlik elke ander beskaafde land in die wêreld ook daarteen waak, dat die uitoefening van hierdie regte die fyn grens tussen kulturele eiesoortigheid en rassehaat, die saai van etniese verdeeldheid en die voer van oorlogspropaganda nie oorsteek nie.

Maar kan dit werklik realisties geargumenteer word dat die behoud van die bestaande reg op moedertaalonderrig aan die Universiteit Stellenbosch rassehaat sal aanblaas of dat ’n geldige aanspraak gemaak sou kon word dat dit die geval is? Natuurlik nie.

Dat die opstellers van die Grondwet ingesien het dat daar ’n verband bestaan tussen die beskerming van taalregte en die beskerming van ’n kultuur, is ook duidelik uit artikel 31, wat uitdruklike beskerming aan die regte van kulturele, taal- en godsdienstige gemeenskappe bied.

Dit kan nie ernstig beweer word dat die afskaffing of afwatering van onderrig in ’n amptelike taal, by ’n instelling waar die reg daarop dekades lank gevestig, bestendig en bewese prakties uitgevoer is, hierdie ongrondwetlike regte en opdragte bevorder nie.

Prontuit gesê, ’n mens bevorder kwalik grondwetlike waardes wat almal sê wenslik en ideaal is deur by die plekke waar dit nog in vervulling gaan, ’n einde daaraan te maak eerder as om dit as voorbeeld en inspirasie te koester.

Laat ek dit duidelik stel: die praktiese en logistieke werklikheid aan die Universiteit Stellenbosch is dat daar geen eenvoudige en liniêre verhouding is tussen die ontneming van bestaande regte van die studente wat Afrikaanse onderrig verkies en die opgradering van die omvang van onderrig in Engels aan studente wat verkies om nie in Afrikaans onderrig te ontvang nie.

Inteendeel, hierdie koers sal groter ongeregtigheid en ongelykheid meebring. As daar meriete was in die aanklag dat Engelssprekende studente in die verlede nie gelykwaardig behandel was nie, is daar nou meriete in die aanklag dat Afrikaanssprekende studente nie gelykwaardig behandel word nie. Nie een van die twee uitkomste behoort nodig te wees nie.

Die reg op moedertaalonderrig soos in die Grondwet verwoord, is een van die swaar-verworwe boustene van die pakt wat in die Grondwet beslag gekry het. Die besluit om Suid-Afrikaners van die reg te ontneem om in hul moedertaal onderrig te ontvang, beteken dat een van die mees fundamentele beginsels van die sosiale, ekonomiese en politieke visie vir ’n demokratiese Suid-Afrika te gronde gerig word.

Dit beteken dat sommige van die mees belangrike beginsels wat in die Handves van Fundamentele Regte met betrekking tot die beskerming van kulturele en taalregte verskans is, geweld aangedoen word.

Die Handves van Fundamentele Regte verwoord die kern van dit wat deur die opstellers van die Grondwet as grondliggend aan ’n nuwe en regverdige sosiopolitieke en ekonomiese bestel beskou is.

Geen regsbeginsel was meer versigtig en omsigtig verwoord as dit nie.

Ons sien dus aan die een kant dat die grondwetlike opdragte om inheemse tale, benewens Afrikaans, tot wetenskapstale te ontwikkel, verontagsaam word.

Aan die ander kant word die opdrag om Afrikaans se status as akademiese taal uit te bou, eweneens verontagsaam. Dit gaan, in die woorde van die Konstitusionele Hof, lei tot die "equality of the graveyard, not of the vineyard".

Dít het implikasies vir meer as die tale; dit het implikasies vir gemeenskapsontwikkeling; dit het implikasies vir die kwaliteit van onderrig; dit het implikasies vir die ekonomie; dit het implikasies vir verhoudings; dit het implikasies vir ons geloof in die waardes wat onderliggend aan ons Grondwet is; en omdat dit so is, het dit implikasies vir ons politieke stelsel.

Die taal wat mense praat, het niks op aarde te doen met of hulle, individueel of kollektief, inherent goed of boos is nie; of mense hul lewens inrig op so ’n wyse dat dit in pas is met die norme en standaarde wat die beskawing van vandag behoort te onderskei van die donker eeue van gister.

Dit het niks te doen met die politieke keuses wat hulle vir hulself maak en wat hulle dalk by magte is om aan ander op te dring nie.

Verslawing en onderdrukking, soos bevryding en opheffing, is nie die funksies van ’n taal nie; dit is die gedrag en optrede van mense – goed en sleg – ongeag die taal wat hulle praat.

Vir sover dit nog steeds dien as motivering vir wat by ons universiteite aangaan, is dit dwaas om wat histories verkeerd gegaan het, voor die deur van ’n taal te lê en dit daarom nie te praat nie, of ander sprekers daarvan te verbied om dit te praat; of andere die geleentheid te ontneem om daarin onderrig te ontvang.

En laat ons nie vergeet nie dat Afrikaans ook die taal van verset en opstand, van boetedoening en van bevryding was.

’n Mens kan nie wraak neem op ’n taal nie; jy kan wraak neem op mense; en jy sou kon wraak neem op mense deur hulle die geleentheid te ontneem om onderrig in hul moedertaal te ontvang, maar as dít deel van enigiemand se agenda is, dan word die noodsaak vir weerstand en verset soveel dringender en groter.

Want dit maak nie saak wie of wat jy is nie, jy kan nie verby die bepalings van die Grondwet en van die ministeriële beleid waarna ek verwys het, kom nie, en jy kan nie verby die versoeningsopdrag waarin ons Grondwet gebed is, kom nie.

Jy kán nie. Jy kan dit nie doen sonder om ’n bespotting te maak van die hoë waardes waaraan die Grondwet uitdrukking gee nie. En jy kan dit nie doen sonder om dit alles op risiko te plaas nie.

Die antwoord is nie die weg van die minste weerstand nie. Die antwoord behoort bepaal te word deur die insig dat die vooruitsig van veeltaligheid ’n geleentheid is, eerder as ’n las.

Om die middele te vind om, eerder as om Afrikaans as ’n primêre taal van onderrig uit te faseer, die verantwoordelikheid te aanvaar om ook ’n ander inheemse taal as Afrikaans tot volwaardige akademiese taal te ontwikkel. Om meer te doen, nie minder nie.

Afrikaanssprekendes het daarin geslaag om binne ’n baie kort tydsbestek van Afrikaans ’n volwaardige wetenskaps- en akademiese taal te maak. Hulle weet hoe om dit te doen. Hulle is dit aan hulself en aan die mense van hierdie land verskuldig om –

  • te verseker dat die besluite om Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch af te skaf, of om dit te devalueer, omgekeer word
  • te verseker dat die universiteite van hierdie land die verantwoordelikheid opneem om, universiteit vir universiteit, elk ’n inheemse taal tot volwaardige akademiese en wetenskapstaal te help ontwikkel.

Dit is die uitdaging. Die uitdaging is om te besef dat ’n aanspraak om in ’n moedertaal onderrig te word, ’n regverdige grondwetlik-gefundeerde aanspraak is.

Veral dat dit verdien om voor gestry te word.

Dat dit ’n stryd is wat Afrikaanssprekendes saam met ander bevolkingsgroepe kan stry.

Dat dit nie net ’n aandrang verg op Afrikaans as taal van onderrig nie, maar ook op die ontwikkeling van ander inheemse tale as akademiese en wetenskapstale.

Dit verg geloof daarin dat daar nog ’n toekoms in hierdie land is, of weer een sal wees.

Dit verg van studente om meer te doen as om net so gou as moontlik in enige taal hulle kwalifikasie te verwerf sodat hulle ’n loopbaan, hier of elders, kan volg.

Dit verg van sakemanne om nie skaam te wees vir hulle standpunt hieroor nie en om dit doeltreffend en met oorgawe te bemark. Kortom, om ook hulle kant te bring.

Dit verg van akademici, met inagneming van hulle billike aansprake op genoeg navorsingstyd, om saam te besin oor hoe die grondwetlike regte waarna ek verwys het, aan akademiese instellings in vervulling kan gaan.

Dit verg van ons almal om hieroor standpunt in te neem. Nie in die geheim nie, maar in die openbaar, hard en duidelik.

Hierdie uitdaging konfronteer ons onvermydelik en onteenseglik met die volgende vrae:

  • Het Afrikaanssprekendes nog leiers wat kan en sal opstaan vir hulle regte?
  • Het hulle nog ideale wat in hierdie land in vervulling moet gaan?
  • Het hulle nog drome?
  • Het hulle nog veggees?
  • Het hulle nog die moed van hulle oortuiging?
  • Sien hulle nog vir hulle ’n toekoms in hierdie land?
  • Sal die aanvaarding van die nuwe taalbeleid deur die Universiteit Stellenbosch hulle by die punt bring waar hulle sê: Tot hiertoe en nie verder nie?
  • Glo hulle in basiese menseregte – nie net hulle eie nie, maar almal s’n?
  • Is daar nog Afrikaanse helde of sal daar weer wees?

Mag die tyd leer dat die antwoorde op hierdie vrae "Ja" was.

Foto van Jan Heunis: Naomi Bruwer

  • 11

Kommentaar

  • Wilhelm Fourie

    Net oor die aanhaling van Jannie Mouton: Is ons in die Middeleeue waar daar 'n denk- en spraakverbod is? Mag 'n mens nie meer 'n opinie hê nie? Ek kan my nie indink dat PSG se aandeelhouers skielik almal hulle aandele gaan verkoop as Jannie Mouton hom vir Afrikaans uitspreek nie. Natuurlik moet 'n maatskappy en sy direkteure en algemene werknemers versigtig wees met politieke uitsprake en natuurlik word 'n uitspraak in 'n privaat-hoedanigheid ook op 'n manier met die maatskappy verbind. Om hom vir Afrikaans uit te spreek kan tog sekerlik nie so drasties/radikaal wees nie? Is dit maar 'n verskoning vir ruggraatloosheid? Jannie Mouton het ook kort na Wim de Villiers se Afrikaans-aftakeling R50M aan US geskenk. Dit kon hy seker teruggehou het.

  • alta labuscagne

    Dit voel vir my of 'n sekere uitgediende rassistiese nasionalisme ons taal geskaak het ... en ja, it is dying ... 'n uitgerekte marteldood.

  • Johannes Comestor

    'n Nugtere, ewewigtige redevoering. Drie opmerkings. (1) #WMW: Wim moet weg. (2) Fort Hare eerder as die US is die aangewese plek vir die uitbouing van Xhosa as akademies-wetenskaplike taal. (3) Druk moet op Het Jan Marais Nationale Fonds geplaas word om sy finansiële ondersteuning van die US in alle opsigte te beëindig.

  • Ek stem saam dat die doodsklok vir Afrikaans ook die einde is van die ander inheemse tale.

    Mnr Heunis doen 'n oproep onder andere op sakelui om hul stem te laat hoor. Van sakelui kan jy niks verwag nie. Hulle dien net een god. Vir die wat so graag apartheid ophaal as regverdiging vir die vreeslikste teenswoordige vergrype, laat ek dit uitspel: die *filantrope* het toe niks gedoen nie en hulle doen dit weer. Ek is moeg om te hoor hoe diegene wat Afrikaans met die grootste vernyn ondergrawe hulle voordoen as mense wat Afrikaans liefhet en koester. Bly liewer stil. Julle walg my.

    Meermale word die woord "skande" in die toespraak gebruik. Dit druk kwalik die verontwaardiging uit van ons wat sterk voel oor die aangeleentheid. Ons protes word tot 'n bleek straaltjie afgewaterde *** gereduseer deur die sogenaamde Afrikaanse media wat alles besensor en met 'n polities korrekte kapmes rede laat probeer seëvier.

    As julle nog nie wakker is nie, laat ek julle help: Die magte aan die ander kant is doof vir rede. As dit Afrikaans se enigste wapen is, as bv emosie-belaaide walging (wat in rede gegrond is) nie gebruik kan word nie, dan is dit (soos PW in 'n ander konteks gesê het) Ikabod met Afrikaans.

  • Gustaf Claassens

    SOET IS DIE STRYD
    ID du Plessis

    "Jy sê die stryd is verlore,
    Ons nasie te arm en klein,
    Ons taal uit 'n drang gebore
    Wat een van die dae verdwyn?
    My broer, dit mag heeltemal waar wees.
    Wie weet wat die toekoms gaan baar?
    Miskien moet ons oormôre klaar wees.
    Om weer hierdie droom te laat vaar;
    Maar as ons net altyd moet strewe
    Na wat tot oorwinning gaan lei,
    Wat baat dan die stryd van die lewe
    Waarin ons onseker moet bly?
    Solank jou bedoelings maar goed is,
    Gaan jy jou oor neerlae kwel?
    Solank jy volhard en vol moed is -
    Dis tog die probeerslag wat tel!
    Nee, soet is die stryd vir die stryer,
    Al moet hy uiteindelik verloor;
    Maar die man wat sy deelname weier,
    Is die man wat sy nasie vermoor."

    • Susarah Maria van Zyl

      Ai, dit neem my ver terug. Dankie Gustaf Claassens vir hierdie woorde wat vandag nog so van toepassing is.

  • Barrie Vermeulen

    Dit is nie die taal wat sterf nie, dit is die land. Tyd dat die boerenasie net so ontslae raak van die land as die universiteite van die taal. Selfbeskikking waar ons ons taal kan praat en ons eie universiteit kan stig.

  • Susarah Maria van Zyl

    Vier gebede by jaargetye in die Boland - NP van Wyk Louw
    Vroegherfs
    Die jaar word ryp in goue akkerblare ...
    Dit maak my baie hartseer dat my moedertaal al hoe meer val soos akkerblare wat verbruin (ironies dat veral die bruin gemeenskap van die Wes-Kaap die meeste gaan ly onder die nuwe taalbeleid).

  • In die driehoek area van Arizona, Utah en New Mexiko is Di'nehe, die land wat die Navajo's van verdryf is op die 'trail of tears', die paar duisende wat terug gekom het na 'n verbrande Canyon de Chelly en die Turquoise Mountain praat steeds Navajo. Skooltaal Amerikaans. Die Zulus praat steeds isiZulu. Die taal gaan nie dood nie. Miskien is daar te veel 'gesiene' Afrikaners met kleinkinders wat geen Afrikaans praat nie. Daar is die taal dood. Maar nie in die plaasskool in die middel van die Tankwa nie. Dis die taal wat die kinders praat en in leer. A la Langenhoven: Kies. Die wat gekies het is te swak om te erken hulle is die probleem. Net 'n paar idees van 'n fisikus.

  • Leon de Vries

    Adv Heunis, ek wil as oud-Matie u bedank vir u pogings om Afrikaans aan die US te red. Sommige persone hou nie daarvan nie, maar ek dink die groot meerderheid Afrikaanses het groot waardering vir u en ander soos prof Giliomee se pogings om Afrikaans op US as een van die onderrigtale te behou. Dit wat ek hier skryf, is alles aan u bekend, maar miskien lees ook ander dit wat ek probeer sê en lei dit dalk tot herbesinning. ////// Afrikaans is gekwes. Die taal is op die agtervoet. Afrikaans het deur 'n lang stryd wat met die eerste Afrikaanse beweging begin het en veral verder deur Langenhoven aangevoor is, amptelike status verkry en daarna gedy. Maar dit het 'n prys gekos, veral in die beginjare. Daardie destydse voorstanders van Afrikaans het ook onder Engelstaliges en Engelsgesindes (veral in die ou Kaapkolonie) deurgeloop. Ons vergeet maklik dat daar 'n tyd was toe daar op Afrikaanssprekendes neergesien is en waar hulle, soos ek dit verstaan, selfs op skool verbied is om Afrikaans te praat. Ek dink dit kan onder meer teruggevoer word na lord Milner wat na die Anglo-Boereoorlog probeer het om, waar hy kon, 'n beleid van verengelsing toe te pas. Nietemin, Afrikaans het in die twintigste eeu 'n wonderlike groeitydperk beleef. Die grootgeldsakewêreld het egter grootliks Engelstalig gebly. Sedert 1994 het dinge verander. Vandag is die staatsdiens vinnig besig om te verengels. Net die anderdag het ek gelees dat alle hofdokumente voortaan in Engels opgestel moet word. Selfs op die rugbyveld hoor jy op TV selde dat 'n skeidsregter Afrikaans gebruik. Miskien hier en daar 'n paar woorde as dit 'n minder belangrike wedstryd is. Afrikaanse rugbykapteins praat Engels as daar na die wedstryd met hulle TV-onderhoude gevoer word. Wanneer Afrikaanse rugbykenners soos Naas Botha en Jean de Villiers na wedstryde in die ateljee kommentaar lewer, is dit in Engels. Afrikaanse skole is onder druk om ook Engels as ondermedium in te voer. Die werkslas op onderwysers is groot. Dubbelmedium- en parallelmediumonderrig verhoog die werkslas verder. Verder lyk dit vir my is Afrikaanse ouers al meer begaan oor die gehalte van onderrig as dat dit in Afrikaans moet wees. Die uiteinde van al hierdie faktore is dat die aanbod van Afrikaans as skoolonderrigmedium al kleiner gaan raak. Ek wonder hoeveel Afrikaanse skole het al sedert 1994 na Engels as onderrigmedium oorgeskakel. ///// Ek stem met adv Heunis saam dat die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak baie negatiewe gevolge vir die taal gaan hê. Die behoefte aan skoolonderrig in Afrikaans gaan al kleiner word. Mense wat Afrikaans lees gaan al minder word en gevolglik sal minder skrywers in Afrkaans publiseer. Gedrukte koerante is alreeds in 'n wêreld wat toenemend digitaal raak, onder geweldige druk. Minder mense wat in Afrikaans skoolgaan lei tot minder Afrikaanse lesers, minder publikasies in Afrikaans en 'n taal waarvan die sprekers al minder word. Die afskaffing van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal sal noodwendig tot 'n verskraling in Afrikaanse terminologie lei. Waarom sal akademici Afrikaanse terminologie ontwikkel wat nie meer gebruik gaan word nie. Gevolglik sal die Afrikaans wat nog gepraat en op skoolvlak onderrig gaan word, waarskynlik nog meer as voorheen met leenwoorde deurspek wees. //// Om saam te vat, ek dink (en ek hoop terselfdertyd van harte dat ek verkeerd is) dat Afrikaans gaan kwyn en uiteindelik gaan uitsterf. Afrikaans se geskiedenis in SA gaan uiteindelik soortgelyk wees aan die geskiedenis van Afrikaans in Argentinië. Die proses gaan net baie langer neem omdat die groep Afrikaanssprekers in SA baie groter is, maar die verloop min of meer dieselfde. Afrikaans sal eers nog die huistaal van baie bly, dan al meer, soos kinders, kleinkinders en agterkleinkinders al minder Afrikaans verstaan, die taal word wat die oumense met mekaar in die kombuis praat - 'n kombuistaal reg om by die agterdeur uitgevee te word. Die laaste stuiptrekkings gaan soos in Argentinië wees: 'n Klompie ou mense wat nog so 'n bietjie Afrikaans kan praat. Taalnavorsers en kultuurhistorisi sal hulle vind in afgeleë gebiede van Namakwaland, die Boesmanland, die Tankwa-Karoo, die Richtersveld en die suide van Namibië. Dan sal die laaste Afrikaansmagtige, soos die laaste San- en Khoispreker, sterf. So, soos die gekweste koedoe wat onder 'n kameeldoringboom op die rooi duin gevrek het. Dood vir altyd. (Nagedagte: Hoe is dit moontlik dat daar drie Engelstalige universiteite in die Wes-Kaap is, maar die Universiteit van Stellenbosch, omring deur Afrikaanses, in die bakermat van Afrikaans geleë, word ook nog op 'n pad van verengelsing geplaas.Verskoon my mooi Afrikaans, maar hoe "de donner" is dit moontlik? Mnr Jannie Mouton, ek wil graag op u 'n beroep doen om te herbesin. U het die vermoë om vir Afrikaans te doen wat Jan Marais 'n eeu gelde gedoen het, en meer. Ondersteun asb Gelyke Kanse se hofsaak, en dan, indien daardie hofsaak misluk, wat dan vorentoe? Solidariteit se Akademia met 'n groot kampus in die Paarl?)

  • Hans Richardt

    Die affêre mis die punt van Afrikaanse kunsfees en dit het in karnaval met vlooimarkte ontaard of sommer net politieke weergawe van nog 'n vlooimark.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top