Kinders se leesprobleme: is daar oplossings?

  • 7

Gesprek van Estelle Kruger met Ansie Lessing (AL) en Marike de Witt (MdW) oor hulle artikel 'n Neurowetenskaplike beskouing van die leeshandeling

Hoe het julle bewus geword van leerders se leesprobleme?

AL: Afgesien van inligting uit navorsingsverslae, soos die PIRLS-verslag en rubrieke in koerante en tydskrifte, het ek ook eerstehandse kennis opgedoen as onderwyseres in die primêre skool, sowel as aanmeldings in my privaatpraktyk as opvoedkundige sielkundige. Verder het ek ook ‘n doktorsgraad verwerf op grond van navorsing oor die leeshandeling en ‘n metode om lees by kinders met leestekorte te verbeter.

MdW: My jare lange betrokkenheid by veral die landelike kind het my baie bewus gemaak dat ons die agterstande wat by hulle aanwesig is, nie sonder meer gaan oplos nie. Al die pogings wat deur die staat aangewend word om die leesprobleem in skole op te los, het nog geen verskil aan die leesprestasie van die meerderheid van kinders meegebring nie.

Wat het gebeur dat julle besef het dat die neurowetenskap antwoorde (kan) bied vir leesonderrig?

AL en MdW: Die rol van die neurowetenskap in die leeshandeling is in dié stadium slegs ‘n teoretiese idee. As daar na konsepte en konsepvorming gekyk word, kan dit net vanuit die neurowetenskap hanteer word. Hierdie ingreep moet so vroeg as moontlik in die lewe van die jong kind ʼn aanvang neem. Met behulp van spel kan die kind fisies die neurobane vorm wat tot die vorming van bepaalde konsepte lei. Ons idees is ʼn betreklik nuwe benadering wat ons laat wonder of dit nie die oplossing vir ʼn baie groot probleem is nie ... Ons wonder nog, maar voel baie opgewonde oor die idee.

As julle die hoof van ’n skool was, hoe sou julle die onderwysers wat leerders moet leer lees, bemagtig met inligting oor die neurowetenskap?

AL en MdW: Ons dink in dié stadium sal aanvanklike informele gesprekke met onderwysers die beste vrugte afwerp. Die verskillende prosesse van die uitvoerende funksie van die brein en die rol wat dit in die leeshandeling speel, is ‘n verskynsel waaroor onderwysers en navorsers nog nie regtig gedink het of iets wat hulle in hulle opleiding teëgekom het nie. Algemene agtergrondskennis oor die waarde van die verskillende prosesse is uiteraard noodsaaklik. Die uitvoerende funksie van die brein behels aandagbeheer, kognitiewe vloeibaarheid, inhibisie, inisiëring, metakognisie, organisering, beplanning, reaksie op terugvoer, selfregulering, die vermoë om van een aktiwiteit na ‘n ander oor te skakel en die gebruik van die werkende geheue. ‘n Gonsgroep oor die rol van die prosesse en hoe dit in die praktyk bevorder kan word, kan interessante inligting oplewer. Ons besef dat dit ʼn nuwe konsep is en dat onderwysers nie maklik van ou idees sal afstand doen nie.

Hoe hanteer julle kritiek van onderwysers wie se onderrigmetodes nog op vorige leesbenaderings berus?

AL en MdW: Elke persoon is geregtig op sy siening. Solank ons, met watter metode ook al gebruik word, die doel van “’n kind wat nie kon lees nie, het geleer lees” kan bereik, is ons gelukkig. Ons dink net dat ons hier iets beet het wat die proses kan vergemaklik en meer kinders kan help. Die omvang van die probleem is so groot en die heropleiding van onderwysers is geen maklike taak nie. Op dié stadium konsentreer ons op bepaalde areas waar die behoefte die grootste is.

Watter pogings is daar om onderwysers te bemagtig met (nuwe) kennis en vaardighede geskoei op insigte van die neurowetenskap?

AL en MdW: Ons is nie bewus van enige pogings in dié verband nie en reken die veld lê braak. In die gebied waar ons navorsing plaasvind, konsentreer ons vanweë die leerkragte se gebrek aan opleiding en kennis nie so veel op hul insig ten opsigte van die teoretiese agtergrond nie, maar voorsien hulle van programme om die doelwit te bereik. In meer gesofistikeerde gemeenskappe sal die benadering heel anders daar uitsien en sal mens moontlik begin met die teoretiese begronding van die benadering. Ons hoop dat ‘n artikel soos hierdie sal help om die aandag op hierdie verskynsel te vestig.

Hoe sou julle die bevindinge van die navorsing in 25 woorde aan ’n belangstellende (maar ongeletterde) ouer verduidelik?

AL en MdW: Die bemeestering van konsepte onderliggend aan lees speel ‘n groot rol in leessukses. Die ontwikkeling van toepaslike breinprosesse kan kinders help om die konsepte te bemeester.

Hoe kan ongeletterde ouers van voorskoolse leerders hulle kinders vir die leeshandeling voorberei?

AL en MdW: Ongeletterde ouers kan stories vertel en hulle kinders aanmoedig om te luister, aandag te gee en die stories te herhaal. Maak die kinders bewus van klanke, vorme en kleure. ʼn Beklemtoning van die belangrikheid van kinderspel en beweging is noodsaaklik. Ouers moet bewus wees van die feit dat die grondslag vir leer lê in kinders wat speel en beweeg en nie net in die tegnologie nie.

Watter verrassings het julle gekry in hierdie navorsingsprojek?

AL en MdW: Die bestudering en gebruik van enkele aspekte van die neurowetenskap het ons grense oor die verskillende aspekte van lees verskuif. Ons was verwonderd oor die toepaslikheid van die neurologiese uitvoerende funksie op die leeshandeling en dat hierdie verband nog nie deur die navorsers van lees besing en beskryf is nie. Dit was in die data wat ons uit die navorsing verkry het, beduidend dat kinders konsepte kon bemeester nadat ons ingegryp het met toepaslike programme.

Dit lyk of julle twee ’n gedugte navorsingspan is. Hoe het julle mekaar “ontdek” en begin saamwerk?

AL: Ek kan regtig nie onthou nie – ons het ongeveer 30 jaar gelede begin saamwerk. Weet net dat ‘n mens soms iemand “ontdek” met wie jy kan saamwerk en ‘n pad kan loop. Marike is so ‘n persoon. Sy sê ons is “karperde” en weet hoe om saam te werk. Ons is goed vir mekaar, nie net akademies nie, maar ook as vriendinne, want ons vul mekaar aan en is altyd eerlik met mekaar.

MdW: Vanweë ons verskillende persoonlikhede het ons verskillende invalshoeke in navorsing wat heelwat gesprek en groei tot gevolg het.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het tot hierdie navorsing van julle gelei?

MdW: Ons is reeds jare betrokke in navorsing in die landelike dele van Limpopo. Die totale agterstand van die leerders met betrekking tot lees en die geweldige gebrek aan stimulasie het met verloop van tyd by ons die gedagte laat ontstaan dat ons nie in die formele skool moet begin nie, maar reeds so vroeg as moontlik. Ons het sodoende betrokke geraak in kleuterskooltjies wat bedryf word deur onopgeleide vroue uit die gemeenskappe. Met wetenskaplik-gefundeerde programme en die voorsiening van hulpmiddels kon ons daarin slaag om by hierdie kleuters konsepte te vorm wat voorheen nie aan hulle of hul leerkragte bekend was nie. Die onderbou hiervan was die neurosielkunde.

AL: Alhoewel ek ‘n opvoedkundige sielkundige is, het die neurosielkunde my nog altyd baie geїnteresseer. Die huidige “krisis” ten opsigte van aanvangslees het die gedagte by ons laat ontstaan om deur ‘n ander lens na die leessituasie te kyk.

Wat was julle elkeen se ervaring in die onderwysberoep voordat julle die akademie betree het?

MdW: Ek het eers as maatskaplike werkster aan US gekwalifiseer en toe besef dat onderwys eintlik my passie is. Na opleiding aan UP het ek vir vyf jaar as voorskoolse onderwyseres gewerk en is toe gewerf om as dosent by Unisa aan te sluit.

AL: Met ‘n BCom-graad as basiese opleiding het ek my onderwysloopbaan in die ekonomiese wetenskappe begin. My belangstelling in leerprobleme het aanleiding gegee tot verdere studie in dié verband en die onderrig van leerlinge met leerprobleme in die voormalige hulpklas. In 1985 het ek ‘n loopbaan in hoër onderwys by die destydse Goudstad Onderwyskollege begin. In 1986 is ek by Unisa aangestel as lid van ‘n span wat onder andere die opvoedkundige-sielkunde-aspek van die hoër onderwysdiploma en die opleiding van opvoedkundige sielkundiges hanteer het.

Wat het julle elkeen as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van julle bevindinge?

AL: Die skryf van die artikel en die besinning oor die rol van die neurologiese uitvoerende funksie het groot opgewondenheid by my ontketen. Die verskillende prosesse van die uitvoerende funksie van die brein het ‘n lewendige rol in my alledaagse handel en wandel gekry – watter proses/prosesse is onderliggend aan ‘n bepaalde optrede? Die belangrikste leerervaring van die navorsingsprojek is seker dat elke oplossing van ‘n navorsingsvraag tot nuwe navorsingsvrae lei.

MdW: Vir my was die grootste leerskool die feit dat ons gevoel het dat iets dieperliggends agter die leeshandeling is. Ons navorsing vind plaas in die armste van arm gemeenskappe, en die feit dat ons dit kon inbou in ons programme en dat die verskil merkbaar was – ons móés dit net gaan neerskryf.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op julle horisonne?

AL en MdW: Ons artikel “‘n Neurowetenskaplike beskouing van die leeshandeling” verteenwoordig ‘n teoretiese besinning. Ons sal graag hierdie teorie in die praktyk wil toets. Verskillende vrae het as gevolg van die navorsing ontspring, naamlik:

  1. Wat sou ervare graad 1-onderwyseresse van die teorie dink?
  2. Hoe kan die teorie met praktiese voorbeelde vir belangstellende ouers en onderwysers toegelig word?
  3. In watter mate sou ‘n neurologiese benadering tot leesonderrig tot leerlinge se leessukses bydra ?
  4. Hoe hierdie benadering sinvol aan die duisende onderwysers in die praktyk oorgedra kan word. Ons is oorbewus van die feit dat die enkele skole in stede nie die norm is nie.
  • 7

Kommentaar

  • annette le Grange

    Dit klink voorwaar na wonderlike inligting. Waar kan mens meer inligting t.o.v. die onderwerp kry. Ek is 'n bekommerde ouma met 'n 8 jr kleinseun wat sukkel met lees en begrippe. Enige inligting wat kan help sal waardeer word. Dankie vir die navorsings werk wat reeds gedoen is.

    • Ansie Lessing
      Ansie Lessing

      Beste Annette
      Ons aanvaar dat jy die artikel op die LitNet-akademiese webblad gelees het en dus oor die agtergrond van die gesprek beskik. Meer inligting kan ook verkry word uit die volgende artikel: Lessing, AC & De Witt, M. 2016. Die ondersteuning van die voorskoolse kind met betrekking tot ontluikende leesvaardigheid – ’n loodsstudie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2):660-677, waarin die basiese verwerwing van die voor-leesvaardighede bespreek word.
      ’n Grondige woordeskat en genoegsame bewustheid van die klanke (fonemiese bewustheid) en letters waaruit woorde saamgestel word (alfabetiese beginsel) is van kardinale belang vir aanvangslees. Die verwerwing van hierdie vaardighede berus nie net op konkrete ervaring nie, maar ook op die inoefening van die vaardighede. Kinderspel speel hier ’n baie groot rol.
      Die saamleestegniek is ‘n nuttige hulpmiddel vir ‘n groter kind wat sukkel om te lees en nie van lees hou nie. Meer oor die metode is in die volgende artikel beskikbaar: Lessing, AC & Odendaal, MC 2004. The influence of paired reading on the relationship between the parent and the child with a reading disability. Journal for Language Teaching, 38(2)185 197. Die tegniek kom bloot daarop neer dat die opvoeder en kind aanvanklik saam hardop lees (hoor en sien) en dat die opvoeder geleidelik sagter en minder saamlees.
      Dit belangrik dat die leser genot ervaar in die leeshandeling: ’n mooi kleurvolle storieboek en speletjies met woorde (geheuespel, wie-lees-die-woord-eerste en verskillende kaartspeletjies) is belangrike tegnieke. Hulpverlening aan kinders wat leestekorte toon vereis tyd en baie geduld, maar is ook baie bevredigend wanneer sukses behaal word.
      Die rol wat die lees van stories speel moet nie onderskat word nie. Daar moet op ’n daaglikse basis vir kinders stories gelees en vertel word. Deur die wonderwêreld van stories ontdek die kind die waarde en genot van lees. Dit is belangrik om te beklemtoon dat voorleesvaardighede reeds by geboorte ’n aanvang neem. Deur daaglikse stimulasie en die skep van leergeleenthede word die basis vir latere lees gevestig. Die gevaar van ’n kind wat later sukkel met lees is dat die kind telkens ‘n gevoel van mislukking beleef en maklik die leestaak afwys of probeer vermy.
      As die kind teen agtjarige ouderdom nog sukkel met lees is dit dalk raadsaam om die hulp van ‘n professionele persoon wat in remediëring onderlê is in te roep.
      Marike en Ansie

      • annette le Grange

        Ansie

        Ek het geensins verwag dat ek terugvoering sou kry nie. Ek waardeer dit geweldig dat jy wel die moeite gedoen het met jou skrywe. Dit gaan definitief help, 'n regte stap in die regte rigting. Nogmaals baie dankie.

  • Marina Bessinger

    Ek was remediëring-onderwyseres vir baie jare in lees en spelling. Lig my asseblief tog in oor vernuwing in die veld. Sal dit innig waardeer.

  • Ansie Lessing
    Ansie Lessing

    Beste Marina
    Hulpverlening aan die kind met leertekorte bly ‘n kwessie van individuele aandag. Ons kan net help as ons weet watter uitvalle die kind toon en die hulpverleningsmetode wat gevolg word moet die besondere uitvalle aanspreek. Om vloeiend te kan lees vereis voldoende woordeskat, bemeestering van basiese konsepte, deeglike fonemiese bewustheid, kennis van die alfabetiese beginsel en die gedrukte woord en ‘n effektiewe geheue. Ongeag die verskillende teorieë en metodes wat in die literatuur beskryf word, is bogenoemde die aspekte wat die onafhanklike leser bemeester het en waaraan in die onderrig aandag gegee moet word. Daar is nuttige rekenaarprogramme beskikbaar om lees te verbeter. Dit is egter jammer dat remediëring en die stelsel van hulpklasse verdwyn het. Met groot klasse en ʼn baie gelaaide program kom die klasonderwyseres nie by individuele hulpverlening uit nie, Goeie raad aan enige laerskool is om ʼn remediërende onderwyseres vir naskoolse hulpverlening te identifiseer.

    Ansie en Marike

  • Marina Bessinger

    Beste Ansie, hoe verfrissend was dit om so ’n keurige en breedvoerige antwoord van jou af te ontvang. Waar is jy woonagtig? Asseblief! Ek benodig om met ’n kenner van handskrifprobleme kontak te maak. Seun v gr 4, 10 jr oud se lettervorming en spasiëring is erg.
    Sal jou raad baie waardeer.
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top