Kinders en lees: ’n onderhoud

  • 4

Baie onlangs is die uitslag van die 2016 PIRLS- (Progress in International Reading Literacy Study-) opname bekend gemaak. Hierdie studie word dwarsoor die wêreld onderneem deur middel van gestandaardiseerde leestoetse wat onder graad 4- (die ou standerd 2-) leerders uitgevoer word. Vyftig lande het aan die 2016-opname deelgeneem. Suid-Afrika het die swakste van al die lande gevaar.

In die lig hiervan is die gesprek van Estelle Kruger met Nandi Lessing-Venter oor haar en Maritha Snyman se artikel "Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed".

Wat is jou eie ervaring in die onderwys voordat jy die akademie betree het en ernstig met navorsing begin het?

Ek het Engels gegee in Taiwan vir skoolkinders en daarna het ek teruggekom Suid-Afrika toe en is as ’n dosent aangestel. My ma, haar sussie en hulle ma was egter almal onderwysers en ek het dikwels in my ma se klaskamers uitgehelp (graad 1–3).

My ervaring was dat kinders toegegooi word onder nuwe inligting en min kans kry tydens klastyd om dinge te doen wat vir hulle lekker is. My eie ervaring in die onderwys het dit vir my duidelik gemaak dat kinders die behoefte het om veilig te voel in ’n atmosfeer waar hulle gemaklik voel en voel dat hulle nie bo hulle eie vermoë gedruk word om te presteer nie. Ek het gevind dat kinders nuwe inligting beter ontvang en verwerk wanneer hulle die tema of inhoud van ’n les, handboek of leesboek geniet. Die akademie het vir my die basis gebied om hierdie ervaringe om te skakel in navorsing en om die invloed van humor en plesier te ondersoek, asook om die waarde wat dit vir trae lesers se motivering inhou, te bepaal.

Hoe het jy bewus geraak van gebrekkige leesgeletterdheidsvaardighede – maw wat is die agtergrond van jou studie?

Nadat ek die PIRLS-uitslae (2011) gelees het, het ek besluit dat daar ’n behoefte is om nie net op die probleem van leesgeletterdheid in Suid-Afrika te fokus nie, maar om eerder met ’n moontlike oplossing vorendag te kom vir die probleem. Daar word te min daarop gefokus dat ’n kind se leesvaardigheid van sy/haar vlak van leesmotivering afhang.

Kan jy kortliks verduidelik wat die verskil is tussen leeswaardering, leesbegrip en ’n positiewe leeshouding?

Leeswaardering beteken dat die leser hou van ’n teks en emosioneel daarby betrokke raak deur met die karakters en gebeure in die teks te kan identifiseer. Leesbegrip vind plaas wanneer die leser verstaan wat hy/sy lees. ’n Positiewe leeshouding is ’n ingesteldheid wat die leser openbaar of beleef en gedrag toon wat dui op leesplesier en ’n liefde vir lees.

Hoe raak ’n kind emosioneel betrokke by boeke – fiksie sowel as niefiksie?

’n Kind raak emosioneel betrokke by boeke wanneer hy/sy met die karakters en gebeure in die boek kan identifiseer. Wat niefiksie betref, raak kinders emosioneel betrokke wanneer ’n teks inligting bevat waarin die kind geïnteresseerd is en wat gedetailleerde prente bevat. Besprekings met klasmaats of met ouers of onderwysers oor die inhoud van niefiksieboeke gaan ook gepaard met kinders se emosionele betrokkenheid daarby.

Deesdae is kinders tog die hele tyd besig om op hulle selfone te lees en te kommunikeer met vriende, selfs inligting te soek op Google – hoe kan dit in die klaskamer gebruik word om leesmotivering te bevorder?

Sosiale motivering kan gebruik word om leesbetrokkenheid aan te moedig in die klaskamer. Kinders kan byvoorbeeld deelneem aan ’n Facebook-groep waar hulle kan skryf oor boeke wat hulle gelees het en waar hulle vir mekaar boeke wat hulle geniet het, kan voorstel. Onderwysers kan ook Facebook of Twitter gebruik om ’n onderwerp vir bespreking te plaas en sodoende leerders betrokke te kry by ’n tema en aanmoedig om interaktief met mekaar om te gaan. Dit is vir leerders ’n maklike manier om hulpbronne te deel en mekaar te help.

Het jy praktiese raad vir ouers wat self nie aktiewe lesers is nie – hoe kan hulle kinders motiveer om meer te lees?

Ouers hoef nie hulself te straf deur dik boeke te lees wat hulle nie interesseer nie. ’n Mens vergeet dikwels dat lees nie net gaan oor die lees van fiksieboeke nie. Ouers kan ’n wye verskeidenheid van leesaktiwiteite by hulle kinders aanmoedig: laat hulle spyskaarte, filmname, padtekens, speletjiesgidse (soos die instruksies wat saam met bordspeletjies gegee word), weerberigte en ander praktiese alledaagse inligting lees. Doen moeite om uit te vind waarin jou kinders belangstel. As jou kind hou van kook en bak, kry vir hom of haar ’n oulike resepteboek. Seuntjies hou dikwels daarvan om dinge aanmekaar te sit, en wanneer hulle iets soos ’n vliegtuigie bou, moet hulle instruksies lees om te weet wat hoort waar. Kinders se liefde vir troeteldiere kan ook gebruik word as aanmoediging om inligting oor hierdie troeteldiere te soek en te lees.

Onderwysers wil kinders dalk meer geleenthede gee om te lees, maar hulle word dikwels beperk deur ’n oorvol kurrikulum en oorvol klaskamers – het jy praktiese voorstelle vir hierdie situasie?

Onderwysers kan lees aanmoedig deur leerders na die skool- of gemeenskapsbiblioteek te neem en hulle aan te moedig om self boeke te kies. Wees ’n voorbeeld vir leerders deur ’n liefde vir lees te modelleer. Onderwysers wat belangstelling toon in boeke wat kinders graag lees, koppel nie net leerders se belang by boeke nie, maar motiveer ook leerders wat lief is vir lees om te praat oor boeke wat hulle geniet en sodoende word trae lesers ook aangemoedig om opgewonde te raak oor lees. Lees ’n kortverhaal of ’n gedig vir leerders in die klas voor wat tussen lesse ingewerk kan word. Sit plakkate van ouderdomsgeskikte boeke se voorblaaie in jou klaskamer op om jou leerders se leeslus te stimuleer en moedig hulle aan om kort resensies te skryf oor hierdie boeke wanneer hulle dit klaar gelees het.

Hoe dink jy kan die affektiewe faktore wat leesmotivering inhibeer, geminimaliseer word? Watter praktiese raad wil jy aan die hand doen?

Navorsers het ’n aantal faktore geïdentifiseer wat ’n rol speel in die motivering om te lees, insluitende selfkonsep en waarde van lees, keuse, tyd spandeer om te praat oor boeke, tipes teks beskikbaar en die gebruik van aansporing. Onderwysers kan negatiewe faktore verminder en leesmotivering aanmoedig deur aktiwiteite voor te stel om ’n positiewe groepdinamika te bou deur leerders in te sluit by die keuse van leesmateriaal en aktiwiteite wat gepas is vir die ouderdom en belange van die leerders. Boekvoorlesing en -bespreking is ook ’n effektiewe maniere om leesbetrokkenheid aan te moedig. Wanneer ’n onderwyser ’n teks voorlees, stel dit leerders in staat om belangrike leesstrategieë en -gedrag te modelleer. Die verskaffing van gebalanseerde boekversamelings op alle graadvlakke is noodsaaklik vir leesbetrokkenheid vir beide voorgeskrewe boeke en boeke wat leerders self kies om te lees. Om boeke vir selfseleksie beskikbaar te stel, opwinding en liefde vir lees te deel, ’n gebalanseerde boekversameling te bou, jou passie vir lees vir leerders te openbaar en om belonings te bied wat die waarde van lees demonstreer, is net ’n paar eenvoudige voorstelle wat die liefde vir lees kan aanmoedig in jou klaskamer.

Wat kan gedoen word om kinders in arm gebiede waar daar dalk nie biblioteke is nie, bloot te stel aan leesplesier?

Kinders in arm gebiede is afhanklik van boekskenkings en voorbeelde van rolmodelle wat ’n liefde vir lees by hulle kan kweek. Boekklubs kan in hierdie gebiede gestig word en kinders kan sodoende gemotiveer word om boeke te lees waarin hulle belangstel en wat hulle aan leesplesier sal blootstel. Vrywilligers wat vir kinders boeke kan voorlees sal ook kinders se leesplesier aanmoedig. Tydskrifte, koerante en boeke kan ook aan gemeenskapsinstansies soos klinieke en kerke geskenk word waar dit aan kinders uitgedeel kan word of waar kinders dit in ’n veilige omgewing kan lees.

Die meeste biblioteke het ensiklopedieë wat rakke volstaan en wat in ’n vorige bedeling – voor Google – bronne van inligting was. Hoe sou hierdie waardevolle boeke steeds gebruik kon word om kinders se kognitiewe ontwikkeling te bevorder wat tot leeswaardering kan lei?

Lees- of boekklubs in arm gebiede waar daar nie internettoegang of ander bronne van inligting beskikbaar is nie, kan baat by die skenking van ensiklopedieë. Die kleurvolle prente in ensiklopedieë is ook stimulerend en kan bydra tot kinders se kognitiewe ontwikkeling, selfs al kan van hulle nog nie lees nie. Hulpbronne soos ensiklopedieë, maak nie saak hoe oud dit is nie, kan kinders help om die vaardighede van insameling of verkryging van inligting aan te leer. Hierdie vaardighede behels die vermoë om spesifieke inligting te vind en te gebruik. Dit sluit ook vaardighede in om inligting uit verskillende bronne krities te lees vir kennis.

Wat het jy van jouself geleer in hierdie proses van navorsing en publikasie van jou artikel?

Publisering van ewekniebeoordeelde artikels in akademiese tydskrifte bly die goue standaard van akademiese skryfwerk. Ek het geleer om kommentaar nie persoonlik op te neem nie en het positiewe kritiek verwelkom aangesien ek daaruit kan leer. Ek het natuurlik ook ’n paar nuwe woorde geleer in die proses, asook geskaaf aan my kennis van Afrikaanse taalreëls. Navorsing, veral op ’n doktorale vlak, is dikwels ’n eensame proses en mens verloor soms perspektief oor die geloofwaardigheid en toepaslikheid van ’n studie. Wanneer ewekniebeoordelaars egter die waarde van ’n studie bevestig, hernu dit weer ’n mens se passie vir die studie en navorsing.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison wat jou inspireer? Kan jy ons kortliks daarvan vertel sonder om jou geheime uit die mou te laat?

Ek het onlangs ’n studie voltooi waarin ek 15 van Jaco Jacobs se boeke vir jong lesers ondersoek het vir voorbeelde van humor en hoe hierdie humor ooreenstem met internasionaal gekategoriseerde soorte humor. Hierdie studie het bewys dat daar ’n korrelasie bestaan tussen die gewildheid van Jacobs se boeke onder jong lesers en die sleutel wat die humor in hierdie boeke inhou ten opsigte van leesplesier, leesmotivering, leesbelangstelling en uiteindelik leesbevordering.

  • 4

Kommentaar

  • Veral in ons land is dit van kardinale belang om die agterstand wat die afgelope jare ontstaan het, met beproefde tegnieke in te haal. Humor klink veral vir my na so 'n gawe metode!

  • Louis du Preez

    Die kind moet meer spelenderwys leer. Maak meer gebruik van die kunste (veral musiek) om die leerproses lekker te maak. Musiek help baie om die kind se perseptuele ontwikkeling aan te help. Indien hul perseptuele ontwikkeling vasgelê is, sal leer soveel makliker wees.

  • Hendry Kortje

    Ek is ’n aspirant-digter en ek raak skaam omdat my eie dogter van 15 'n swak leerder is.
    Ek beplan om vier kinderboekies te skryf sodat ek in my sewejarige seuntjie 'n liefde vir lees kan kweek.
    Al die karakters in die boekies is daagliks in ons agterplaas te siene. My dogter gaan my help met storie -on twinkling.
    Ek beplan om die stories gereed te hê teen 16 Februarie 2028.
    In die tussentyd werk ek solank 'n program uit om my seuntjie se klasmaats uit te nooi na "Nasionale Hardop-lees dag" in Februarie.

    • Nandi Lessing-Venter

      Klink na 'n baie goeie idee, Hendry! Jou kinders sal baat by jou entoesiasme vir lees. Sterkte en geniet dit!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top