Who killed Johannes Kerkorrel?

  • 0

Johannes Kerkorrel het as protesmusikant ’n dramatiese impak op die Suid-Afrikaanse populêre kultuur gehad. Alhoewel daar baie protesmusiek voor hom was, het hy en ’n aantal ander mense (André Letoit, Dirk Uys, James Phillips ea) daarin geslaag om ’n populêre beweging van stapel te stuur. Dis hoekom mense nou nog met nostalgie van Voëlvry praat. Hierdie mense se musiek het ’n spil geword waarom ’n nuwe postapartheid Afrikaanse identiteit kon draai.

Soos Koos Kombuis later sou sing:

aan die begin was ons min,
maar ons wil was sterk
om vir die god van rock ’n roll
en vir sy kerk te werk ...

Maar mense wat ’n belangrike rol speel om verandering mee te bring, moet baie keer baie inboet – veral as hulle besluit om ’n ander rigting in te slaan, hetsy musikaal of polities. Vir Kerkorrel het die malende kolk van sy lewe buite beheer geraak. In 2002 pleeg hy selfmoord buite Kleinmond. Of wás dit selfmoord? Die dokumentêre program oor die lewe van Johannes Kerkorrel, Who killed Johannes Kerkorrel?, poog om hierdie vraag te beantwoord. Ek dink die program slaag daarin om ’n mens te laat twyfel oor of dit selfmoord was, maar ’n mens voel amper of die makers van die program ’n “angle” gesoek het om dit te verkoop, eerder as om die vraag werklik ernstig op te neem en te ondersoek.

Die kameraskote is fyn gestileerd. Ons sien Janneke Strijdonk, Kerkorrel se voormalige bestuurder, se gesig bo ’n bierbottel uitsteek. Koos Kombuis sit met ’n pragtige rooi stoel in die agtergrond. Stef Bos se torso pas soos ’n portret in die raam wat sy vleuelklavier vir die kamera maak. Soms betrap ek my dat ek meer aandag skenk aan die pragtige skote van mense wat na regs uit die TV se skerm loer met ’n onkonvensionele toneel langs hulle linkerore.

Hierdie dokumentêr se titel speel natuurlik met “Who killed Kurt Cobain?”. Op ’n manier word dieselfde vraag gevra, nie oor die rol van Courtney Love se rol in die dood van Cobain nie, maar oor sekere van die vrae rondom Johannes Kerkorrel se oënskynlike selfmoord.

Die dokumentêr wat oor Kurt Cobain gemaak is (ek verwys hier na Nick Broomfield se Kurt and Courtney), is een wat die donker wêreld van seks, drugs en rock ’n roll ernstig opneem en die lewe van ’n baie tragiese figuur probeer verstaan. Op ’n stadium word dinge ’n bietjie te warm en word die befondsing onttrek. Die maak van die dokumentêr word deel van die storie. Courtney Love dreig en vloek as sy bekruip word by die pakhuis waar haar band rehearse of by ’n lesingsaal waar sy as openbare spreker optree. Maar die argumente vir en teen haar rol in Cobain se dood word ewe ernstig ondersoek en weergegee. ’n Mens voel die regisseur daarvan probeer jou nie aan die neus lei nie.

Who killed Johannes Kerkorrel? neem ’n mens deur die verskillende stadia van Johannes Kerkorrel se loopbaan. Dele daarvan is werklik interessant.

Ons kry ’n beeld van Kerkorrel as die strategiese brein agter Voëlvry, as die een wat tot sewe onderhoude op ’n dag toestaan en dom vrae van Engelse joernaliste heel geduldig beantwoord – in hierdie geval Deon du Plessis. Koos Kombuis se verwysing na die cultural revolution in China is skreeusnaaks, deels omdat Koos homself in die proses ’n bietjie opstuur.

’n Mens kry ’n persoonlike blik vanuit die oogpunt van Anne, Kerkorrel se eksvrou, en sy seun Reuben, wie se embarrassment oor die feit dat sy pa gay was, ’n mens amper ontroer.

Dan gesels Grete Fox oor die maak van die video vir “Halala Afrika” en ons vind meer uit oor die Bloudruk-fase. Miskien sou Didi Kriel met meer insig oor Kerkorrel se musiek kon praat. Nietemin, ons hoor oor verskillende musikale invloede en Grete Fox voel dat Kerkorrel te gesofistikeerd was vir ’n land soos Suid-Afrika – ’n tema wat ’n paar keer herhaal word.

Ons hoor oor die ongekende mediablootstelling wat hy in België geniet het, oor nuwe invloede van mense soos Raymond van het Groenewoud, en oor die feit dat die openbare beeld van Johannes Kerkorrel kon terugstaan vir Ralph Rabie om ’n eie identiteit te ontwikkel. Stef Bos praat met insig: “In Europe he was more Ralph Rabie, in South Africa he was Johannes Kerkorrel ...”

Terug in Suid-Afrika praat Janneke Strijdonk oor die dilemma van Afrikaanse en Nederlandse sangers wat saam aan projekte werk. Netnou neem mense dit verkeerd op! Kom ons bel gou vir Thandi Klaassen om kleur aan die projek te verleen. ’n Mens is verbaas oor hoe eerlik sy praat oor die politieke berekening wat by so ’n projek betrek word.

Oor die insident met Koos Prinsloo hoor ons net die stem van Willem Pretorius, wat ’n biografie oor Kerkorrel geskryf het.

Stef Bos praat oor die belangrikheid van “Al lê die berge nog so blou” in ’n homofobiese konteks – oor hoe werklik subversief dit is om ’n tradisionele lied te neem en die betekenis daarvan te verdraai. “This is fucking smart, this is amazing,” sê Stef Bos.

’n Mens hoor oor Kerkorrel se moeilike verhouding met die media – oor die feit dat hy die chutzpah gehad het om resensente te bel en met hulle te redeneer oor hulle oordeel. Stef Bos praat oor hoe ’n mens weerloos moet wees om sulke weerlose musiek te maak en dat jy jou oopmaak vir kritiek wat kan seermaak. Grete Fox noem dat Kerkorrel self die kwessie in “Sirkustier” aangespreek het. ’n Mens hoor oor die feit dat ’n kunstenaar konstant sy image moet verander, en dat die media nie saam met Kerkorrel wou aanbeweeg nie. Ons hoor ook hoe sy ou kamerade teen hom gedraai het en oor sy versoening met Koos Kombuis.

Dan, heel aan die einde, kom ons by die vraag: Wie het vir Johannes Kerkorrel doodgemaak? Janneke Strijdonk noem dat hy besig was om aan nuwe musiek te werk, saam met mense soos Ray Phiri en Louis Mhlanga. Hy was baie opgewonde hieroor. Ons hoor oor die gewelddadige wyse waarop hy gesterf het en dat dit onwaarskynlik was dit hy dit self kon gedoen het. Ons hoor oor dokumente wat op ander rekenaars getik is en toe na sy rekenaar toe verskuif is en oor ’n testament wat twee keer verander is met ’n oënskynlik vervalste handtekening. Ons word ingelig dat Demetrios nie ’n onderhoud wou toestaan nie.

En dan is alles oor. Deels is die dokumentêr ’n huldeblyk. As huldeblyk sou dit kon slaag. Maar op die ou end slaag die dokumentêr nie werklik nie, omdat dit die vrae nie baie ernstig opneem nie. As ’n mens ’n vraag vra, moet jy al die argumente ondersoek – die argumente daarvoor en daarteen. ’n Mens sou minder gestileerd moes werk. ’n Mens sou vuiler moes speel en leliker kamerawerk moes doen. Dalk sou ’n mens ook met die vyande moes praat ...

Iemand met ’n bietjie meer afstand sou dit dalk beter kon doen – as ’n stuk ondersoekende joernalistiek, nie ’n tribute in pragtige kameraskote nie. Dit laat ’n mens wonder oor wat die doel met die program is. Gaan dit oor ondersoekende joernalistiek, of is dit ’n poging om die beeld van die tragiese kunstenaar in neon te verf?

LitNet: 6 September 2005

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top