Kernontploffings, soutpotte en slaweskepe

  • 0
Evelyn, Christo van Rensburg, Diana Ferrus, Anzil Kulsen, Hans du Plessis, Frazer Barry en Willem Fransman

Evelyn Ferreira, Christo van Rensburg, Diana Ferrus, Anzil Kulsen, Hans du Plessis, Frazer Barry en Willem Fransman

’n Dreigende kernoorlog, gesprekke oor soutpotte, die opdiep van slaweskepe en die vraag wie nou eintlik die eerste kletsrymers was: Adam Small of die Khoi met hulle kieries? Moet nooit dink taalkunde is vervelig nie. Jy het iets gemis as jy nie die oggend van 21 Oktober op Clanwilliam was nie.

Anzil Kulsen, ’n skrywer en projekorganiseerder by die ATKV, het vyf sprekers bymekaar gekry om te gesels oor die onderwerp: “Só kry ons Afrikaans en só lyk dit vandag”. Dié interessante taalerfenissimposium was deel van die Cederberg Rooiboskunstefees wat op Clanwilliam aangebied is. Daar is baie gelag, ’n bietjie lekker veglustig gestry, en meer as een traan is skelm weggevee terwyl Christo van Rensburg, Hans du Plessis, Diana Ferrus, die kletsrymer Frazer Barry en Willem Fransman die woord gevoer het.

Evelyn Ferreira (senior bestuurder: taal by die ATKV) was die gespreksleier. Hy sê Clanwilliam is gekies omdat interessante dialekte in daardie streek gepraat word.

Anzil Kulsen

Anzil Kulsen

“Die ATKV maak erns met ons Afrikaanse taalerfenis,” het Anzil Kulsen gesê toe sy inleidend gepraat het. “By die ATKV bou ons brûe, ons reik uit.”

Dit kom van ver

Afrikaans kom van ver. Christo van Rensburg was eerste aan die woord. Hy sê sy navorsing toon Afrikaans het reeds 400 jaar gelede ontstaan – vóór die koms van Jan van Riebeeck.

Prof. Christo van Rensburg

Christo van Rensburg

Van Rensburg stel baie in Afrikaans se dialekte belang. Sy navorsing lei hom toe na Afrikaans se geskiedenis, want van die taalvariante wat onlangs nog in plekke soos Namibië aangeteken is, word weerspieël in skeepslogs wat gemaak is toe die Khoi nog die enigste permanente inwoners van die Kaap was.

Mense is eintlik lui om ’n ander se taal te praat, sê hy, maar indien hulle mekaar nodig het, word die nodigste woorde vinnig aangeleer om kommunikasie moontlik te maak. Die matrose het water en vars kos nodig gehad. Die skepe het weer verskeie artikels, soos brood en beskuit, aan boord gehad wat die plaaslike inwoners nie geken het nie, en wat as ruilmiddels aangebied is. Die brood was ook maar droog – soos die beskuit. Die Khoi het dus ’n versamelnaam gemaak vir dié tipe kos: borokwa.

Ons weet ook vandag waarom hulle dit so genoem het, sê Van Rensburg.

Vir die Khoi was die klankkombinasie br- onbekend. Om ’n woord op -d te eindig, was ewe onbekend. Die word boro het dus ontstaan, want dit was maklik om uit spreek. Die -kwa is eweneens maklik om te verstaan; want dit is die aanduider van ’n versamelnaam.

So ontstaan een van Afrikaans se eerste woorde in die mond van Khoi: borokwa, die droë kos wat die matrose ruil vir vars kos.

Dié manier van die Khoi om versmalterme aan te dui met ’n agtervoegsel word vandag nog in Afrikaans gebruik. Ons praat van ons magoed of van pa-hulle. Wanneer iemand sê “pa-hulle”, in plaas van byvoorbeeld “pa en sy vriende”, is dit ’n direkte gevolg van dié versamelterme, iets wat ons by die Khoi geleer het; dit is ons moderne weergawe van -kwa.

Van Rensburg sê die matrose het weer baie gou die woord kierie geleer, ’n Khoi-woord, want die Khoi het hard onderhandel en het klaarblyklik redelik maklik gedreig wanneer hulle dink die matrose wou hulle verneuk.

Afrikaans is ook geneig woorde opeen te stapel. Dink aan die dorpie Leeugamka. Die Khoi-woord vir leeu is gam. Leeugamka is dus die leeu-leeu-plek.

Neem nou die woord geemare, wat in die 20ste eeu steeds in gebruik was. Dit is ’n mooi voorbeeld van opeenstapeling. Die agtervoegsel -re dui op ’n bevel, en ma is die Khoi woord vir gee. Wanneer die Khoi dus geemare” aan die matrose gesê het, was die betekenis gee-gee-dis ’n bevel.

Ons gebruik steeds dié soort konstruksies in moderne Afrikaans. Dink aan walvis. Die woord wal ken Afrikaans nie meer in sy oorspronklike vorm nie, maar ons ken die Engelse woord whale. Walvis is dus ’n opeenstapeling wat steeds alledaags in Afrikaans gebruik word.

Woorde is soos saad, sê Van Rensburg. Hulle lê oënskynlik dormant rond, tot ons aandag gee aan hulle. Sy boek So kry ons Afrikaans het ‘n aantal jaar gelede by LAPA Uitgewers verskyn. Daarin vertel hy heelwat meer oor die inheemse oorsprong van Afrikaans.

Wat van ’n nuwe Kodesa?

Hans du Plessis was volgende aan die woord. Sy gesprek was lekker uitdagend.

Prof. Hans du Plessis

Hans du Plessis

Om mee te begin, sê Du Plessis, wil hy dit onderstreep: Afrikaans is nie koloniaal nie, dit het in Afrika ontstaan vóór Van Riebeeck. Dié komvandaan van ons taal moet deel wees van Afrikaans se storie, want vir té lank was dit nie. Om dit bloot aan te hou sê in isolasie, help egter ook nie, want daar is baie mense, veral onder die jonger swart mense, wat wél aan Afrikaans as ’n koloniale taal dink en wat steeds die stigma van apartheid daaraan koppel.

Ons as Afrikaanssprekers moet dus gewoon ophou dink aan Afrikaans wat beskerm moet word net omdat dit ’n amptelike taal is. Afrikaans blom daar waar dit gebruik word – dink aan al die kunstefeeste waar Afrikaans gedy. Kyk ook na die groei in Afrikaanse boeke. Kla jy oor hoe min Afrikaans daar op die speserybotteltjies is wat jy in die winkel kan koop? Dan moet jy liewer trots wees op die uitstekende Afrikaanse resepteboeke wat elke jaar verskyn.

Blote wetgewing gaan Afrikaans nie red nie. Afrikaans is een van 11 amptelike tale en die regering sê tereg dat dit baie moeilik is om 11 tale gelyk te behandel; nou gebruik staatsinstellings dit as ’n verskoning om alles te verengels. Dít is ewe verkeerd, maar ons moenie die fout maak om te dink Engels is die vyand nie. Glad nie. Ons moet juis sê: En Engels. En Khoi. En gebaretaal. En Afrikaans. En Zoeloe. En Sotho.

Die jongmense is kwaad, hulle gooi klippe oor “colonisation”. Du Plessis sê hy verstaan dit. Vandag se studenteleiers het geen agting het vir Kodesa en die onderhandelings wat daar gebeur het nie. Hulle weet nie wat Kodesa voorafgegaan het nie en sien steeds net ongelykhede raak in die land.

Sy aanbeveling is dat die ATKV ’n nuwe Kodesa moet reël vir jongmense en dat veeltaligheid deel moet wees van daardie gesprek.

Hoe gaan dit werk? Ons moet dink oor die tale wat in sekere streke gepraat moet word. Ons as Afrikaanssprekers moet ook moeite doen vir die ander tale. Dan kan ons sê: Venda het geen grootse nut in die Wes-Kaap nie, maar ook het Afrikaans nie juis veel reikwydte in dele van KwaZulu-Natal nie. Ons moet dan hande vat om goeie moedertaalonderrig weer deel van ons samelewing te maak. Onthou, sê Du Plessis: die geveg is nie met Engels nie. Mense wat goeie opleiding kry, sal goed Engels praat. Ons lei egter tans ons mense op in slegte Engels, so bitter min van ons ekonomiese werksmag het die vermoë om goeie Engels te praat. Daarom moet ons as Afrikaanssprekers ook help dat die Khoi in hulle moedertaal moet kan skoolgaan. Ons moenie bloot net baklei vir Afrikaans nie; ons moet ophou om bloot die regering te blameer, want dit is Afrikaanssprekendes self wat hulle kinders in Engels grootmaak.

’n Kernbom met ’n kort lont

Frazer Barry van die groep Tribal Echo was die volgende spreker. Hy is benewens musikant ook komponis, liriekskrywer, musiekvervaardiger, sanger, kletsrymer, skrywer, digter, seremoniemeester, radiostemkunstenaar, televisieaanbieder en komponis van kenwysies.

Frazer Barry

Frazer Barry

Barry is baie trots dat hy sy voormense kan terugvoer na die Strandloper-Khoi, daarom is hy “aggressief” oor sy wortels, daarom skryf hy in Afrikaans. Hy wil sy eie mense se storie vertel – en daardie storie is nie Amerikaanse R&B nie.

Gaan terug na die erfenis van die Khoi en die strandloper en luister na hulle klanke, vertel hy graag vir jongmense. Gaan luister na die klanke van die smouse, wat Adam Small so mooi vasgevang het. Luister nou na die gadji’s in ons taxi’s. Dít is die taal van Afrika, dít is die woorde en die klanke wat hy wil gebruik om Afrika se storie te vertel, soos Adam Small dit ook gedoen het.

Wie was dus die eerste kletsrymer? Dit was Adam Small, sê Barry, want kletsrymers kan ’n hele situasie opsom in ’n gedig of lied; soos baie van Small se gedigte toon. Ter verduideliking sing Barry toe ’n eie liriek: “Hy druk die pen in my hare, maar die bloed is rooi in my are. Ek is mal oor jou Suid-Afrika.” Kyk net hoeveel geskiedenis lê opgesom in hierdie twee sinne, sê hy.

’n Deel van Barry se komvandaan is trots Khoi, maar sy van, Barry, is weer Iers; dit beteken “vernietiger”. Hy leef daardie deel van sy eie geskiedenis ook uit as hy met jongmense werk, want met sy werk en kuns wil hy die idee vernietig dat ons net in Amerikaans kan rymklets. Waar is ons eie stories en ons eie klanke?

Te veel mense dink jy kan net met Amerikaanse klanke musiek maak en gooi dan woorde soos nigger rond sonder om die konteks of volle betekenis daarvan te verstaan. As hy met jongmense werk, kom Barry soos ‘n kernontploffing op die diegene af wat die Amerikaanse leefstyl verheerlik; hy is amptelik op ’n missie om die VSA se houvas op rymklets te vernietig.          

Ek wil my oumagoed terughê

Willem Fransman het volgende die woord gevoer. Hy is ’n stigterslid en die nasionale voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging en werk tans by UWK as navorser, maar het ook al in feitlik alle genres gepubliseer. Fransman is veral bekend vir sy radiodramas.

Willem Fransman

Willem Fransman

Met radiodramas kan jy mense bymekaarbring, vertel hy. Afgeleë mense se stories word uitgesaai na ander afgeleë gemeenskappe toe, daarom het hy die storie van bedelaars, diegene op die periferie, vertel met sy wendrama Om te bedel is 'n kuns.

Om sy eie liefde vir die radiodrama te verduidelik, haal hy toe ’n gedig van André Boezak aan. In dié gedig vertel die spreker hoe hy en sy ouma radiodramas geluister het – die spreker onder die strykplank waarop sy ouma staan en stryk. “Ek wil my oumagoed terughê,” sê die spreker in Boezak se gedig.

Willem Fransman sê toe sy eie “oumagoed” is ewe belangrik. Dink aan skaapkop en vaal afval – dit is sy oumagoed daardie, al word dit deesdae in duur restaurante voorgesit. Dieselfde geld vir ons taal.

Skrywers is eintlik woedende lesers, sê Fransman. Op skool het hy die woede ervaar dat daar gewoon nie stories was oor seuns soos hy nie. Hy was lief vir lees, maar in die skool se biblioteek was daar net stories oor wit seuns. Hy het ook geleer van mense soos Wolraad Woltemade, maar nooit van helde wat uit sy oumagoed se gemeenskappe kom nie.

“Ek is ’n Suid-Afrikaner – al is ek bruin,” sê hy. “Ons moet oor ons eie werklikhede skryf. Dan almal se werklikhede saamgooi. Dit is erfenis.”

As Suid-Afrikaner is hy dus ewe trots op ’n gedig soos “Die gevalle Zoeloe-indoena” deur CM van den Heever, al vervang Fransman deesdae die woord meid met vrou as hy dit opvoer. Dit is ’n beeldskone gedig, en deel van ons erfenis.

Fransman dra dit toe voor. Menige traan is saggies weggepink terwyl hy besig was.

Oor Masbiekers en Saartjie Baartman

Diana Ferrus was die volgende spreker. Sy sê sy was nog nooit bang dat Afrikaans sal doodgaan nie, maar wel dat die sprekers daarvan binnekant sal doodgaan. Dit is waarom sy deesdae haar gedigte gebruik om met versoening te help.

Diana Ferrus

Diana Ferrus

Gedigte kan ons help om ons erfenis te verstaan, sê sy. Een deel van haar erfenis is haar pa wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het en toe gevange geneem is. Hy het daarna vir die res van sy lewe aan posttraumatiese stres gely. Vir haar was dit belangrik om haar pa se storie te gaan navors en sy is dus Pole toe om die konsentrasiekamp te gaan sien waar hy aangehou is.

Soms moet ’n mens veel verder terugkyk. Sy het byvoorbeeld ’n opdrag gekry om ’n gedig te skryf oor die slaweskip die São José, wat in 1794 met tussen 400 en 500 Mosambiekse slawe naby Clifton gesink het. Minstens 200 slawe het verdrink en die oorlewendes is summier hier aan die Kaap verkoop.

Ferrus sê dit het haar lank geneem om te verstaan hoe om die gedig aan te pak, tot sy onthou het dat haar voorsate, die Februwaries van Worcester, soms as die “Masbiekers” bekend gestaan het. Toe begin sy wonder: Kon van haar eie voormense dalk op daardie skip gewees het?

Ferrus is baie bekend vir haar gedig oor Saartjie Baartman se tuiskoms. Met haar woorde maak sy Baartman se reis deel van alle Suid-Afrikaners. ’n Aangedane gehoor het geluister hoe sy Saartjie namens ons almal huis toe nooi.

Die kerk en die losie is naas mekaar

Die organiseerders van Clanwilliam se Cederberg Rooiboskunstefees het goeie myle gekry uit die gesprek wat plaasgevind het in die restaurant Michael’s on Park. Dalk was dit per ongeluk, dalk was dit opsetlik, maar die milieu het iets van die oggend se gebeure weerspieël: Michael’s verkoop deesdae “huiskos”, maar die gebou was jare lank ’n Vrymesselaarslosie en is direk langs die Gereformeerde Kerk geleë – ’n goeie metafoor vir Afrikaans se diverse erfenis.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-Groep, saam met Hans du Plessis en Christo van Rensburg

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-Groep, saam met Hans du Plessis en Christo van Rensburg

Heel gepas is die oggend afgesluit met geelrys en bobotie wat daar in die toenmalige Vrymesselaarslosie voorberei en geniet is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top