Kern-medewerkers

Etienne van Heerden
Uitvoerende redakteur | Executive Editor

Etienne van Heerden is skrywer en Hofmeyr-professor in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is stigter-redakteur van LitNet, wat in Januarie 1999 aanlyn gegaan het nadat hy ’n voorstel vir ’n aanlyn-boekejoernaal aan 24.com gemaak het. Sedertdien het hy LitNet uitgebou en bestuur. Hy dien as redakteur en mede-eienaar van LitNet in die LitNet-bestuurskomitee en is ook besturende direkteur van die maatskappy sonder winsbejag LitNet Akademies, wat die geakkrediteerde inhoud in LitNet se node vir akademiese skryfwerk bestuur.

Etienne behaal die grade BA (Regte) en LLB aan die Universiteit Stellenbosch en word as prokureur tot die destydse sybalie toegelaat. Verdere grade is Honneurs in Afrikaans en Nederlands (cum laude), Universiteit Stellenbosch, MA (cum laude), Universiteit van die Witwatersrand, PhD (Rhodes) en DLitt (hc), Universiteit van die Vrystaat.

Kontak Etienne by profetiennevh@gmail.com as jy ’n skerp idee vir ’n nuwe LitNet-projek het.

Klik hier vir Etienne se webwerf.


Christo van der Rheede
Hoogleraar in die Departement Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat

Christo is ’n LitNet Akademies-direksielid.

Hy is ’n boorling van Goedverwacht Morawiese Sendingstasie naby Piketberg. Hy is ’n oudonderwyser, skoolhoof, voormalige uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, asook voormalige hoof- uitvoerende beampte by Agri SA.

Tans is hy ’n hoogleraar in die Departement Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hy is lief vir musiek, boeke, tuinmaak en die natuur.

Christo is passievol oor Suid-Afrika en die uitleef en realisering van die ideale soos vervat in ons Nasionale Grondwet!


Martin Geldenhuys
Bestuursrekenmeester | Accountant

Martin Geldenhuys het ’n BComm-graad in finansiële bestuur en is ’n geoktrooieerde bestuursrekenmeester (ACMA). Hy werk tans as ’n bestuursrekenmeester by Media24 en is al vir meer as drie jaar aan die rekeningkundige kant betrokke by LitNet. Hy woon in Kaapstad. Hy dien in LitNet se bestuurskomitee en is ’n direksielid van die maatskappy sonder winsbejag LitNet Akademies.


Naomi Meyer
Inhoudsbestuurder | Content Manager

Naomi Meyer is ’n niepraktiserende prokureur. Ná haar regstudie en klerkskap in Bloemfontein voltooi sy haar meestersgraad cum laude aan die Universiteit van Kaapstad in die Departement Afrikaans en Neerlandistiek. Sy is in 2000 en in 2001 voltyds betrokke by LitNet en by die Taalsekretariaat. Tussen 2002 en 2011 het sy in Ierland gewoon, waar sy kontraktueel by ’n regsuitgewer betrokke was, regsassistentswerk by ’n eenman-prokureur verrig het en vyf jaar viool by ’n musiekskool gegee het. Haar jeugroman Ruik jy die filmster het in September 2006 by Tafelberg verskyn, en haar roman Web in 2017 by Queillerie

Kontak Naomi by naomimeyer@litnet.co.za vir voorstelle vir inhoud op LitNet.


Menán van Heerden
Bestuurder en webmeester – LitNet Akademies, LitNet en Voertaal
Senior inhoudsbestuurder – LitNet en LitNet Akademies
Redakteur – Voertaal

Menán van Heerden is sedert 2010 by LitNet betrokke. Sy het in Desember 2016 haar MA in sosiale antropologie cum laude aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy het ook ’n eenjaar-sertifikaatkursus in grafiese en webontwerp by CTU (Computer Training Unlimited), Stellenbosch-kampus, voltooi. Sy het in 2017 ’n internskap as navorser by South African History Online voltooi en deeltyds as inhoudsbestuurder by LitNet en LitNet Akademies gewerk. Sy het in 2018 voltyds by LitNet, LitNet Akademies en Voertaal aangesluit.

Lees hier haar profiel op Voertaal.

Haar verhandeling, “Afrikaaps: A celebratory protest to the racialised hegemony of ‘pure’ Afrikaans”, fokus op die teaterproduksie AfrikaapsAfrikaaps se mees onlangse opvoering was by die 2015-Suidoosterfees by Kunstekaap, Kaapstad. Hierdie multimediaproduksie word in Kaaps opgevoer en dit is hoofsaaklik hip-hop-kunstenaars van die Kaapse Vlakte wat daarin optree. 

Die groep Afrikaaps fokus op die miskenning en stigmatisering van Kaaps binne die konteks van die hegemonie van sogenaamde suiwer Afrikaans en weerstaan die algemene persepsie dat Afrikaans ’n sogenaamde wit taal van onderdrukking is.

Kontak Menán by menanvh@gmail.com.


Nicky Grieshaber
Teksredakteur | Copy editor

Nicky Grieshaber woon in Pietermaritzburg en is ’n onafhanklike taalkommunikasiespesialis. Hy het ’n BA (Hons.) aan die Universiteit van Natal (nou UKZN) verwerf, en ’n MA in taalkunde aan die destydes Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU). Onmiddellik na voltooiing van sy honneursgraad het hy in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg begin klasgee en was lid van die voltydse personeel totdat hy in sy middel-40’s bedank het om sy eie baas te word. Hy werk sedert 2000 as vryskuttaalversorger vir LitNet en is o.a. vir taalversorging en -raadgewing by LitNet Akademies betrokke. Nicky is met Marilyn, ’n onderwyseres, getroud, en hulle is die allergelukkigste en allergeseëndste ouers, skoonouers en grootouers van twee seuns, ’n dogter, twee skoondogters en ’n kleinseun. Nicky se hoofbelangstelling buite die taalbedrywighede is musiek, en veral musiek maak. Hy is die skrywer van Diacs and quirks in a nutshell – Afrikaans spelling explained (2011) en het omtrent vier jaar lank ’n weeklikse rubriek oor Engelse taalgebruik in die KZN-streekskoerant The Witness geskryf. Webwerwe: www.wordguru.co.za en www.keysalive.co.za.


Francis Galloway
Redakteur: LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

Francis Galloway behaal haar kwalifikasies aan die Universiteit van die (Oranje) Vrystaat: BA (met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke); BA. Honneurs (cum laude); MA (cum laude) en D.Litt. Sy is sedert 2009 die redakteur van die geesteswetenskappe-afdeling van die geakkrediteerde aanlyn vaktydskrif LitNet Akademies. Sy het haar loopbaan begin as dosent in Afrikaanse letterkunde aan die destydse Universiteit van die Noorde (tans die Universiteit van Limpopo); daarna was sy lid van die navorsingspan van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN); akademiese uitgewer by Van Schaik Uitgewers; en dosent (en koördineerder van die program) in Uitgewerswese aan die Departement Inligtingkunde van die Universiteit van Pretoria. Sy was die samesteller van ’n jaaroorsigreeks oor die Suid-Afrikaanse letterkundesisteem, SA Literatuur/Literature, en projekleier van verskeie verslae oor die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf. Sy publiseer navorsingsartikels oor die plaaslike boeklandskap en neem deel aan die jaarkongresse van die internasionale Society for the History of Authorship, Reading and Publishing (SHARP) waarvan sy ook ’n bestuurslid was. Sy is die skrywer van die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur asook die redakteur van die Breytenbach-huldigingsbundel, Woordenaar woordnar, en van die versameling liefdesbriewe tussen André P. Brink en Ingrid Jonker, Vlam in die sneeu.

Klik hier vir haar volledige profiel.


Wessel Pienaar
Redakteur: LitNet Akademies (Natuurwetenskappe) 

Wessel Pienaar is ’n navorsingsprofessor in die Departement Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het die volgende gevorderde grade behaal: MS in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; MEcon in Vervoerekonomie aan die Universiteit Stellenbosch; PhD (Ing.) in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch; en DCom in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy beskik oor ’n Kategorie A-navorsingsgradering van Sanral. In 2000 en 2011 ontvang hy die Rektorstoekenning vir Voortreflike Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die hoofredakteur en hoofskrywer van die internasionaal gebruikte handboek Business logistics management: A value chain perspective, wat deur Oxford University Press uitgegee word. Wessel publiseer in Afrikaans en Engels. Van sy werk is deur internasionale navorsingsinstellings in Duits, Frans en Russies vertaal en gepubliseer. In Desember 2015 het Wessel die Kanselierstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Hy is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan hy van 2014 tot 2017 as voorsitter gedien het, en is ’n genoot van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Ingenieurswese (SAAE).


Jannie Hofmeyr
Ereredakteur: LitNet Akademies (Natuurwetenskappe) 

Jannie Hofmeyr is professor van biokompleksiteit en biochemie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy sedert 1975 aan die Biochemie-departement verbonde is.

Klik hier vir sy volledige profiel.


Hendrik Geyer
Ereredakteur: LitNet Akademies (Natuurwetenskappe)

Hendrik Geyer is professor in teoretiese fisika aan die Universiteit Stellenbosch en Direkteur van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS).

Klik hier vir sy volledige profiel.


Johann Neethling
Redakteur: LitNet Akademies (Regte)

Johann Neethling is gebore in Clocolan in die Oos-Vrystaat en het grootgeword as ’n “boy from Bethulie” (Patrick Mynhardt) in die Suid-Vrystaat. Na matriek in 1963 behaal hy sy BA LLB aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy verwerf ’n LLM aan die Universiteit van McGill in Montreal, Kanada en in 1976 ’n LLD oor die reg op privaatheid aan Unisa.

Klik hier vir sy volledige profiel.


Pieter GR de Villiers
Redakteur: LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Pieter GR de Villiers voltooi sy studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) met ’n BA (cum laude) in 1966, ’n BA Honneurs (in Grieks, cum laude) in Maart 1969, ’n BTh (cum laude) in November 1969 en ’n LicTheol (cum laude) in 1974. Sy doktorale studie voltooi hy aan die Teologiese Universiteit in Kampen in Nederland (ThDrs, 1973) en aan die US (DTh, 1976). Hy beklee akademiese poste aan die US (1971–84), die Universiteit van Suid-Afrika (1984–88) en aan Rhodes Universiteit (1989–2002). Sedert 2002 is hy verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), waar hy buitengewone professor in die Departement Nuwe Testament is.

Klik hier vir sy volledige profiel.


Alta Vos
Redakteur: LitNet Akademies (Opvoedkunde)

Haar tersiêre loopbaan begin by die destydse Onderwyskollege van Pretoria (NKP) nadat sy haar BA (Honneurs) in Afrikaans-Nederlands aan Unisa verwerf het. Hier is sy genader om deel te word van ’n span wat Afrikaans-handboeke vir ’n postapartheid Suid-Afrika geskryf het. Dit het haar belangstelling in die rol wat handboeke in die amptelike en nie-amptelike kurrikulum speel, laat posvat.

Sy verwerf haar MEd en PhD ook aan die Universiteit van Pretoria, waar sy tans senior lektor in die Fakulteit Opvoedkunde is. Sy is verantwoordelik vir die metodoliekopleiding van voorgraadse en nagraadse onderwysstudente en het reeds ses MEd- en PhD-studente suksesvol begelei.

Elf akademiese publikasies het reeds uit haar pen in geakkrediteerde tydskrifte of boeke verskyn. Haar publikasies word gekenmerk deur twee navorsingsfases: stereotipering in skoolhandboeke as oorgangspublikasies ten tye van die oorskakeling van apartheid na demokrasie, en postapartheid publikasies wat deur situasionele veranderlikes soos kurrikulumontwikkeling en tegnologiese ingrypings beïnvloed word.

Twintig handboeke en werkboeke vir skool- en tersiêre opleiding vorm ook deel van haar publikasielys. Sy is onder andere die medeskrywer van handboekreekse soos Afrikaans ons taal en Platinum Afrikaans (Huistaal), ’n Afrikaanse navorsingshandboek vir nagraadse studente, en twee metodiekhandboeke vir studente en onderwysers, getiteld Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril (Oxford) en Vuvuzela-Afrikaans: taalonderrig wat nie geïgnoreer kan word nie (Mediakor). Sy het onlangs ook werkboeke geskryf vir die roman en film Pad na jou hart, sowel as die Alles-in-een Afrikaans Eerste Addisionele Taal Lees- en taal-reeks vir graad 4–7.

Klik hier vir haar volledige profiel.

Top