Katryn deur Winnie Rust: ’n resensie

  • 0

Katryn
Winnie Rust
Uitgewer: Litera
ISBN: 9781920188528

Weens die gruwelike moord op Winnie Rust in Mei 2016 is hierdie roman postuum gepubliseer. Sy het reeds in 2014 aan die verhaal begin werk, en volgens ’n vriendin het sy slegs ’n dag of wat voor haar dood gesê sy is uiteindelik klaar met die hersiening daarvan. Dat sy só sou sterf, met haar laaste manuskrip pas afgehandel en reg vir publikasie, is ’n troosvolle gedagte.

Winnie se eerste boek is eers in haar middel-60’s gepubliseer, maar in die bestek van vier titels het sy haar in Afrikaans gevestig as ’n beduidende skrywer van historiese romans. Dit klink dalk na ’n maklike uitweg vir ’n skrywer om ’n historiese roman aan te pak, aangesien daar reeds ’n klomp feite bestaan waarom die verhaalraamwerk gebou kan word. Maar sou die resultaat uiteindelik meer geskiedkundig as roman wees, kan die skrywer maar vergeet om lesers te wen. ’n Geskiedkundige roman moet bo alles stórie wees – dit moet gaan oor bloedwarm ménse in al hul wel en wee, want mense wil lees oor ander mense; hulle stel belang in karakters met wie hulle kan identifiseer.

Hiermee het Winnie uitgeblink, want sy kon menseverhoudings beskryf soos min ander. Sy kon onder haar karakters se vel inklim en vanuit hulle harte praat. Sy kon lesers ontroer, soos wat ook haar eie maatstaf vir haar skryfwerk was: dat dit moet gaan oor dinge wat haar ontroer.

Al haar boeke – Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford (2004), Margie van die Seminary en ander verhale (2011), Trek (2013) sowel as Katryn – speel af in Wellington, waar Winnie haar lewe lank gewoon en gewerk het. In haar laaste roman ontmoet die leser vir Blink Ben Marais, ’n vooraanstaande jong boer van die spogplaas Wolwehoek, wat verlief raak op Katryn, ’n meisie ver benede sy stand, want sy werk by die berugte Masonic Hotel, waarvan haar pa die eienaar is. Hierdie liefdesintrige word geplaas teen die agtergrond van die Christelike herlewing in die Boland van die 1860’s en sektes soos die Wederdopers, die Afrikaanse Taalstryd van daardie tyd, en die groei van die Kaapse wynbedryf te midde van die Afskaffingsbeweging wat uit Amerika oorgewaai het.

Seker die interessantste historiese aspek van die roman is die beskrywing van die fillokseraplaag wat destyds byna die wêreldwye wynbedryf vernietig het. Blink Ben is een van die boere wat deur enting ’n manier vind om filloksera-weerstandige wingerd aan te plant, ’n ontwikkeling wat Wellington as die grootste stokkieskweker in die land gevestig het. Dit was terloops ook die oorsprong van die spreekwoord “stokkies draai” – wanneer kinders uit die skool gehou is sodat hulle kon help met die stokkieskwekery.

Waar haar vorige boeke feitlik uitsluitlik op vrouekarakters gefokus het, skep Winnie met Ben Brink ’n besonder aantreklike manlike karakter. Enigeen wat sou aanneem dat ’n bejaarde vroulike skrywer haar nie kan inleef in die kop én lende van ’n vurige jongkêrel nie, sal ná die lees van Katryn weer moet dink.

Ben se stryd met homself en sy ontembare drang na dit wat verbode is (die plaasnaam Wolwehoek dra ook ’n simboliese betekenis), sy familie (veral sy dominerende ma) en al die beperkings wat kultuur en konvensie op hom lê, word aangrypend beskryf. En vir diereliefhebbers is daar ekstra plesier in die pragtige uitbeelding van sy verhouding met sy spogperd, Napoleon. In daardie jare was ’n man se ryperd immers gelykstaande aan ’n sportmotor vandag, en Blink Ben was bekend as Wellington se beste ruiter.

Geloof en opvoeding was leitmotiewe in die lewe en werk van Winnie Rust. Wat geloof betref, had sy groot bewondering en waardering vir die Skotse leraar Andrew Murray, geestelike vader van Wellington en in sy tyd alom bekend as “dominee Morries”. Murray het in Suid-Afrika baanbrekerswerk gedoen vir die opvoeding van vroue deur die stigting van die Hugenote-seminarie, die eerste hoërskool vir meisies in die land – ’n stuk geskiedenis waarna Winnie in al haar boeke gekyk het, met die uitsondering van Trek.

Elke lewe vul die menslike belewenis aan; elke sterfte is ’n verlies. Vir Afrikaans is dit ’n verlies dat daar nooit weer ’n kortverhaal of boek deur Winnie Rust sal wees nie.

Foto van Winnie Rust: Naomi Bruwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top