Katinka Heyns: ’n onderhoud

  • 4

Katinka Heyns (foto: Antonia Steyn)

Die bekroonde kunstenaar Katinka Heyns vier vanjaar haar 70ste verjaardag (gebore 20 September 1947). Sy is bekend in radio-, televisie-, film- en teaterkringe – as aktrise, regisseur en vervaardiger.

Haar nalatenskap, wat oor 40 jaar strek, is reusagtig. Sy het haar debuut as rolprent-aktrise in 1968 in Jans Rautenbach se rolprent Katrina gemaak, waarna Jannie Totsiens (1970), Pappalap (1971), Die sersant en die Tiger Moth (1974), Eendag op ’n reëndag (1975) en die gewilde TV-reeks Willem (saam met Tobie Cronjé) gevolg het.

Daarna het sy baanbrekerswerk as regisseur en vervaardiger gedoen. Sy was die vervaardiger van The Angel, The Bicycle and the Chinaman’s Finger (1991) en regisseur van Fiela se kind (1988), Die storie van Klara Viljee (1992), Paljas (1998), Die wonderwerker (2012) en nou weer die vervaardiger van Die rebellie van Lafras Verwey. Paljas was die eerste Suid-Afrikaanse rolprent in die geskiedenis wat benoem is vir ’n Oscar-toekenning in die afdeling beste buitelandse rolprent.

Katinka, wat haar BA-graad in drama aan die Universiteit van Pretoria verwerf het en deur dié instelling met verskeie toekennings vereer is, soos ’n Laureaat-toekenning, Alumni-toekenning en ’n eredoktorsgraad (DPhil), se werk is al op diverse akademiese terreine ondersoek, met inbegrip van rolprent- en mediastudies, literatuur- en politieke teorie. Haar werk is al bestudeer met betrekking tot vorm, inhoud, vervaardiging, ontvangs en as sosio-politieke kommentaar. Haar werk word beskou as voorbeelde van die ontwikkeling van ’n inheemse rolprentkuns met inheemse temas as middelpunt – ’n baanbreker-tendens in Suid-Afrikaanse rolprentstudies. Dit is die produk van die postperiode van die Nuwe Afrika-rolprentbeweging, wat impliseer dat haar werk toonaangewend is op kinematografiese, sowel as akademiese gebied.

Toekennings

Sy is al met verskeie toekennings bekroon, waaronder die internasionale Crystal-toekenning vir Vroue in Rolprente, tien M-Net Vita-toekennings, die Rapport City Press Vrou van die Jaar-toekenning, die Ere-Kanseliersmedalje van die Tshwane Universiteit van Tegnologie, ’n FAK-erepenning en ’n Safta-prys vir lewenslange bydrae tot die bedryf. Sy is ook die eerste vrou wat in die Nasionale Rolprent- en Televisiestigting se Hall of Fame opgeneem is en deur die Departement van Kuns en Kultuur as raadslid van die Nasionale Rolprent- en Videostigting aangestel is.

Katinka onderskei haarself in ’n wêreld waar mans meestal die septer swaai.

Het jy ’n ánder benadering?

Elkeen ervaar en vertolk die gegewe op sy eie unieke manier. In my geval is die draaiboek van ’n menigte films deur my man, Chris Barnard, geskryf. Die stories was karaktergedrewe. Die oë waardeur jy kyk, het te make met jou eie persoonlike bloudruk. Dit is as regisseur. As vervaardiger is die reëls anders. Die "draaiboek" bestaan uit streng praktiese reëls wat deur begrotings en skedules bepaal word en effektiwiteit is die wagwoord. Linkerbrein. So ja, mens kan sê as vervaardiger is die benadering meer prakties en “manlik” en as regisseur meer kreatief en “vroulik”. Meer mans bevind hulle in die bedryf as vervaardigers. Dit was mans wat my in staat gestel het om te fokus op die “sagter”, meer delikate aspekte van storievertel.

Ons draai die horlosie terug en herroep van die blywendste indrukke uit haar kinderjare wat haar geslyp het tot die mens wat sy vandag is.

Ek het op Kempton Park skoolgegaan, waar my ma, Katie, ’n onderwyseres was. (Vlug en flink, werk en dink: Kempton Park Junior Skool!) Daarna was ek by die Laerskool Chloorkop. Al wat ek onthou, is pouses – waarin ons konsert gehou het tussen twee reuse-bloekombome. Hoogtepunte was my ma se stories uit die Kinderensiklopedie en my pa, Wilhelm, se geïmproviseerde slapenstydstories. Hy was ’n skeikundige, ’n sportman, Tuks-rugby, Noord-Transvaal-rugby, tenniskampioen en krieketkampioen in die Kaap, voor hy by die SA Vloot aangesluit het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy was ’n kinderliefhebber en kon met ons toor. Gelukkig het ek en hy naweke saam teen my ma en my ouer broer, Wilhelm, tennis gespeel – én ons het altoos gewen!

Naweke en vakansies het ek op Balfour deurgebring saam met my ouma Katie en oupa Frans du Toit. Ek en my maatjie, Kandas, het saam-saam grootgeword en sy het later my kinders help grootmaak.

Hoe oud was jy toe jy besef het jy wil deel van die vermaakbedryf wees – en wat het tot daardie bewuswording aandag gegee?

Ek en my broer het elke Vrydagaand in die klubhuis bioskoop gaan kyk, vandat ek sewe jaar oud was. Ek het my geweldig ingeleef en my verbeel ek is Lesley Caron (Gigi) of Elizabeth Taylor (Black Beauty). Om nie te praat van Jane nie. En Tarzan en Zorro. Dis miskien waar die verskuiwing van die werklikheid na die illusie, met ’n wit doek tussenin en ’n projektor wat dril, deel geword het van my lewe op ’n vroeë ouderdom. Ek was ’n eenkantkind en ’n dromer. Ek wóú nie deel van die vermaaklikheidsbedryf wórd nie; ek wás deel. Ook opvoerings met Al Debbo, Elsa Fouché en sulke mense. Dit was vir my wonderlik om ’n saal vol mense te sien saam lag. Wonderlik!

Die beginjare

Katinka het in 1965 drama aan die Universiteit van Pretoria studeer en haar debuut in 1969 as rolprentaktrise gemaak. Sy het egter eers vir Kruik en daarna vir Truk gespeel in stukke wat gewissel het van Jochem van Bruggen se Ampie, Pase van Strindberg en Die koopman van Venesië van Shakespeare tot Tsjechof se Drie susters.

Wat was jou drome, ideale, vrese en versugtings toe?

Ek is as twaalfjarige na die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria toe. Dit het ’n deurslaggewende rol in my lewe gespeel en teen die tyd dat ek Tuks toe is, het ek bietjie meer selfvertroue gehad, hoewel ek steeds skaam en teruggetrokke was. My nuuskierigheid het my deurgedra. Ek het in 1968 begin toneelspeel en ná die rol van Lika in Die arme Marat teenoor Cobus Rossouw, die rol van Lida in Katrina gespeel vir Jans Rautenbach. My jare as aktrise op die verhoog was fantasties. My rol as rolprentaktrise was minder bevredigend. Ek het gehou van die dissipline van die teater en die organiese proses. As rolprentaktrise is jy uitgelewer aan die regisseur se mag. My enigste vrees was dalk dat ek nie mooi genoeg is om op so ’n groot skerm gesien te word nie. Ek het veiliger gevoel op ’n verhoog. Dit was meer intiem. Maar toe ek deur ’n kamera se lens begin kyk op die stel van Pappalap, het die gogga my gebyt. Ek het op hoërskool lekker gespeel met my oom Pieter se Super 8-kamera en dit was ’n voortsetting daarvan. My drome, ideale en versugtinge het maar altyd te doen gehad met stories.

Heyns en Roets

Katinka en die bekroonde kameraman en rolprentmaker Koos Roets het mekaar in 1969 ontmoet tydens die verfilming van Jans Rautenbach se grensverskuiwende rolprent Jannie Totsiens. Hy het haar mentor agter die skerm geword ten opsigte van kamerawerk en beligting. Hulle trou in 1971; hul seun Reghard word twee jaar later gebore; sy speel in die fliek Eendag op ’n reëndag, waarna sy en Koos en Sonneblomfilms in 1975 stig. Hulle het ook briljante werk met die koms van televisie gelewer.

Katinka het haar aanvanklik op oorklanking en dokumentêre programme toegespits, waarna films en televisieprogramme gevolg het. En toe, meteens, het sy ook in ons voorkamers kom kuier as die naïewe, verstrooide Pennie in die reeks Willem. Tobie Cronjé was te sien in die titelrol. Katinka en Tobie het oornag die land se lieflinge geword.

Sy besluit egter om so ’n bietjie uit die kollig te tree en oorklanking vir die SAUK vanaf haar huis te doen sodat sy meer tyd saam met Reghard kon deurbring. Katinka en Koos se huwelik verbrokkel en sy en die skrywer Chris Barnard trou in 1978. Die professionele verhouding tussen al drie is egter nooit verbreek nie. Hul laaste samewerking was in 2012 met die rolprent Die wonderwerker. Katinka was die regisseur, Chris die draaiboekskrywer en Koos Roets die beligtingskameraman.

Hoe was dit moontlik dat julle ná ’n egskeiding jul werksverhouding kon voortsit – en vriende kon bly?

Koos was as kameraman baie uitstedig en kon byvoorbeeld nie eers by die huis wees na Reghard se geboorte nie. Hoewel hy ’n “afwesige pa” was, kon Reghard nie ’n beter pa gevra het nie. Ek het byvoorbeeld nou nie eintlik sy passie vir motorsport gedeel nie, maar danksy Koos was Reghard in ’n stadium ’n Suid-Afrikaanse kampioenrenjaer.

Koos is ’n passievolle, fantastiese mens. As ons getroud gebly het, was die lewenskreatiwiteit op stel dalk afgestomp. 

Anders as Koos, het Chris, daarenteen, op een plek stilgesit en van die huis en later van ons ateljees af gewerk. Ironies genoeg was dit Koos wat vir Chris betrek het om die kommentaarteks van ons eerste dokumentêre program, Ken jy die see, meneer? te skryf! Chris het Koos respekteer en besef dat hy my aanvul op stel. My en Chris se liefde vir die letterkunde was soos olie en vuur.

In LitNet se onderhoud met Koos Roets, onlangs, het hy vertel: “Ek en Katinka het besef dat ons goeie vriende is, maar nie ’n goeie egpaar nie! Om ’n waardevolle vriendskap te behou, het ons besluit om elkeen sy eie pad te gaan. Respek vir mekaar se ruimte en talent het die deurslag gegee. Ons werksverhouding is hoegenaamd nie negatief beïnvloed nie en ons is tot vandag steeds baie goeie vriende. En ek en Chris was ook goeie vriende!”

Heyns en Barnard

Uit Katinka en Chris se verbintenis het wonderlike projekte gevloei. Chris het telkens gesorg vir die uitmuntende draaiboeke, terwyl Katinka as regisseur gesorg het dat die storie op papier, op die silwerdoek of op die televisiestel lewe kry. Hulle het saam hul voorliefde vir die letterkunde uitgeleef deur dokumentêre programme oor skrywers soos Louis Leipoldt, DJ Opperman, NP Van Wyk Louw, Marthinus Versveld en Jan Rabie te vervaardig.

Na vele TV-dramareekse verwesenlik Katinka haar droom om ’n rolprent vir die wye doek te maak – met ’n vrou as hoofkarakter. Hoewel Dalene Matthee die roman geskryf het, het Chris die draaiboek van Fiela se kind geskryf. Daarna het talle bekroonde rolprente gevolg.

Chris is onverwags in 2015 oorlede.

Hoe beskou jy Chris se nalatenskap as ’n skrywer?

Ek was reeds op universiteit al betower deur Bekende onrus en veral Dwaal. Sy nalatenskap is formidabel. Hy was boekuitgewer, joernalis en as skrywer natuurlik een van die befaamde Sestigers wat die grense van die letterkunde dramaties verskuif het.

Chris was uiters hardwerkend en het met soveel integriteit gewerk. Hy was pretensieloos. Dit was half misterieus hoe hy elemente soos sy liefde vir die natuur kon integreer met ’n soort Afrika-sensualiteit wat subtiel deur sy werk gevleg is. Een van ons vooraanstaande vroulike skrywers het gesê Chris was die mees erotiese skrywer in Afrikaans. Hy het diep gaan delf in sy onderbewuste en uit sy derms uit geskryf. Mens hoef net te kyk na sy oeuvre as skrywer van kortverhale en romans, verhoogdramas, radiohoorspele, jeugverhale, rubrieke en selfs lirieke. As draaiboekskrywer het hy enkeldramas, dramareekse en dokumentêre programme vir televisie geskryf. Sy draaiboeke vir die wye doek was sonder uitsondering baie suksesvol. Sy hoorspel Die rebellie van Lafras Verwey, wat in 1970 met die SAUK/BRT-prys vir hoorspele bekroon is, is as ’n verhoogdrama verwerk en nou is dit ’n rolprent.

Chris se werk is herhaaldelik bekroon en hy ontvang die Hertzogprys by twee geleenthede: in 1973 vir Mahala en Duiwel-in-die-bos en in 1991 vir al sy dramas. Ons is saam vereer deur die Akademie vir ons dokumentêre programme asook Fiela se kind en Paljas. Chris se mees onlangse toekennings was ’n Safta vir Die wonderwerker en ’n Fiësta vir sy bydrae as dramaturg.

Hóé hy soveel uiteenlopende karakters kon skep oor die jare, gaan my verstand te bowe. Dit was ’n voorreg om saam met hom te werk en hy het nooit ingemeng nie. Hy het my baie gehelp om objektief te kyk na my werk en met ’n koel kop en ’n warm hart te sny waar nodig. Ons kon saam lag en saam huil. Of soos hy sou sê: “Nou wil die verdrietigheid my oorval.”

Sal jy weer (kan/wil) trou?

Ongetwyfeld nie. Ek was en ek is só geseënd!

Die rebellie van Lafras Verwey

Die jongste toevoeging tot Katinka se repertoire is die rolprent Die rebellie van Lafras Verwey – wat reeds deur resensente as ’n “grootse rolprent-ervaring” bestempel word. Katinka is die vervaardiger. Dit is gegrond op die 1971-hoorspel wat Chris en hul seun, Simon (35), in 2014 ’n eietydse draaiboek verwerk het. Simon maak sy debuut as regisseur. Katinka en Simon het kort ná Chris se dood in 2015 aan die rolprent begin werk.

Katinka en Simon (foto: Lien Botha, met vergunning van LiG)

Simon het in die vermaakbedryf grootgeword. Hy is 1982 gebore en het ’n BA-graad in visuele-kommunikasie-ontwerp, wat hy aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Sy eerste rol in ’n fliek was as die jong Benjamin Komoetie in Fiela se kind. Buiten die regie en vervaardiging van ’n dokumentêr oor sy pa vir kykNET en musiekvideo’s vir Die Heuwels Fantasties, is hy ook die skepper van 60 programme (2008 tot 2013), in samewerking met kykNET en Medihelp, oor geestesgesondheid (’n Lewe met ... / Living with ...) saam met die psigiater dr Franco Colin. Die doel van die programme was om mense en hul geliefdes te help deur mites en wanpersepsies oor sekere toestande bloot te lê en reg te stel.

Simon se eerste professionele kennismaking met ’n drama was op die stel van Die wonderwerker, met sy pa as skrywer en ma as regisseur, waar hy fotografie, redigering en regie van materiaal agter die skerms behartig het. Simon is tans mededirekteur van Sonneblom Ateljees.

Die rebellie van Lafras Verwey is ’n tragikomedie wat die verhaal vertel van Lafras Verwey (Tobie Cronjé), ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Hy werk in die staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander. Wanneer hy Petra (Chantell Phillipus), ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis. Ironies genoeg begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word. Komedie, drama en elemente van fantasie word verweef in ’n aangrypende storie van ’n man wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom van ’n beter wêreld vir almal te verwesenlik.

Wat was die grootste uitdagings wat julle moes oorbrug om dié rolprent te vervaardig?

Die grootste uitdagings was om in ’n stad te skiet, met ’n tydsbeperking. (Al my flieks is in die platteland geskiet, wat die praktiese elemente vergemaklik het.) Die skietdag was korter as gevolg van verkeer en die span het nog nooit tevore saamgewerk nie. Dit neem tyd om ’n soort soepelheid op stel te skep. Dit was ook nie ’n voor die hand liggende kommersiële onderwerp waarmee ons besig was nie. Daar was heelwat x-faktore.

Het daardie samewerking gehelp in die hantering van jul verlies en dalk ook om ter ere aan Chris ’n sonderlinge gehalteproduk te skep?

Ek sou sê dit het in ’n sin gehelp, maar ons was albei so geskok en gedisoriënteerd. Hy en Simon het baie nouer met die teks gewerk en ek was meer objektief oor die produk. My ervaring het hier ook seker gehelp om Simon te ondersteun. Tog was dit vir my soms of Chris by ons is en in ons ore fluister. Ons wou in elk geval ’n gehalteproduk skep en die uitdaging was om veral die integriteit van Chris se karakter Lafras te behou.

Ouers het mos maar altyd verwagtinge van hul kinders. Het julle vir Simon ’n loopbaan in die vermaakbedryf verwag en/of voorsien?

Ons het geweet hy is baie kreatief en ek het vroeg al gedink hy sal ’n goeie dokumentêre regisseur wees. Ons het hom nie spesifiek aangemoedig nie, omdat die bedryf wispelturig is, behalwe as jy kans sien vir sepies. Hy het ’n goeie oog en het interdissiplinêre studies op Stellenbosch studeer. Hy is baie gelukkig dat hy die kans gekry het om Lafras te maak, maar hy het ook baie ervaring van dokumentêre programme opgedoen met die reekse ’n Lewe met ... vir kykNET.

Het jy Simon baie leiding gegee en hoe beoordeel jy sy werksetiek en regie?

Soos Chris van die kantlyn af ’n rol gespeel het, het ek van die kantlyn af insette gelewer. Simon is ’n perfeksionis en het ’n groter verwysingsveld as ek met betrekking tot rolprente oor die algemeen. Hy is openlik oor dít wat hy anders kón doen, maar hy het getrou gebly aan sy visie sonder om halsstarrig te wees.

Simon Barnard (foto: Lien Botha, met vergunning van LiG)

Jy en Tobie Cronjé het in 1976 saam aan Willem gewerk. En nou werk julle weer saam – maar in ’n ander genre.

Ek en Tobie hoor dieselfde musiek in ons ore. Of dit nou ’n wals of ’n tango of tiekiedraai is, ons dans lekker saam. Ons lag vir dieselfde goed en ek respekteer sy deernis vir mense. Dié keer was ons natuurlik ouer, maar die vuur is nog glad nie geblus nie. Dit duur voort.

Die rolprentmusiek

Die uitdaging ten opsigte van die musiek is dat Lafras denkbeeldige musiek in sy kop hoor wanneer hy hom in ’n wêreld van sy eie bevind. Die Russiese komponis Prokofiev se Die Luitenant Kijé-suite was die inspirasie. Chris het met oorfone gesit en daarna geluister terwyl hy geskryf het. Prokofiev het glo in 1932 ’n uitnodiging van die Russiese filmregisseur Alexander Feinzimmer ontvang om musiek te komponeer vir ’n film gebaseer op Yuri Tynyanov se vreemde en komiese verhaal getiteld Lieutenant Kijé. Hy kon sy opgewondenheid skaars bedwing. Die storie het te make met dié soldaat wat foutiewelik deur tsaar Paul 1 (heerser vanaf 1796 tot 1801) aangesien is as ’n held. In werklikheid is sy naam deur ’n inkklad vernietig in ’n stel amptelike rekords en ’n denkbeeldige naam is geskep: dié van luitenant Kijé. Niemand kon die fout teenoor die Tsaar erken nie en die gevolg was dat ’n hele fiktiewe lewensverhaal geskep is om die situasie te red.

Die musiek is in 1934 geskryf. Die gedeelte wat in Die rebellie van Lafras Verwey gebruik word, is Kijé se geboorte en is aanvanklik uitgevoer deur die Montreal-simfonie-orkes onder leiding van Charles Dutoit.

Omdat die musiek so ’n kardinale rol in die verhaal speel, was dit ’n geweldige uitdaging om die ondersteunende filmmusiek te versmelt sonder om die illusie te versteur van wat in Lafras se kop aangaan. Ons het die bekroonde pianis, komponis en verwerker Janine Neethling gekry om die musiek te verwerk, aanvullende stukke te komponeer en te regisseer. Sy moes temas binne-in temas ontrafel wat moes resoneer met die Kijé Suite, sonder om die geloofwaardigheid van die storie aan te tas. Janine het met sensitiwiteit, verbeelding en integriteit met die musiek omgegaan.

Is jy tevrede met die eindresultaat van die rolprent?

Ja, ek is tevrede met die eindresultaat. In die eerste plek wentel die storie om die karakter van Lafras. Hy is manjifiek en subtiel gespeel deur Tobie Cronjé en baie goed ondersteun deur sy medespelers. Die musiek speel ’n belangrike rol en mens sou maklik oorboord kon gegaan het. Dit is nie die geval nie. Die inkleding en kunsontwerp deur Franz Lewis is uitmuntend en subtiel. Dis altyd goed as al die elemente op ’n geïntegreerde manier saampraat om die storie en die visie van die regisseur te dien. Dit is hier die geval.

Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf het sedert jou debuut in 1968 reuseveranderinge ondergaan. Wat is vir jou die ingrypendste vordering en/of agteruitgang?

Die ingrypendste vordering is dat Afrikaanse rolprente ’n bloeitydperk beleef het danksy kykNET/MNet en dat ’n nuwe geslag fliek toe gaan. Die jonges doen ervaring op met TV-dramas en sterre word gekweek – wat die aandag trek. Die uitdaging is om teen vervlakking te waak. Daar is ’n besliste onderskeid tussen dramas vir TV en dramas vir die wye doek en dit word nie altyd toegepas nie.

Hoe vergelyk die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf met sy oorsese eweknieë?

Ons kan nie meeding met aksie- of historiese dramas nie, maar wanneer dit kom by intieme menslike stories, het ons ’n kans. Daar lê nog ’n lang pad voor.

Wat is die bedryf se ergste tekortkominge?

Befondsing en goeie draaiboekskrywers.

Hoe beloer jy die toekoms van die Suid-Afrikaanse en, veral, die Afrikaanse rolprent?

Die algemene tendens is om via TV ’n publiek te bereik. Teaterbywoning neem af as gevolg van die tegnologie. Mense is net eenvoudig nie meer lus om uit te gaan nie, veral in die winter. Die Engelse Suid-Afrikaanse fliek het ’n groter uitdaging omdat dit met buitelandse eweknieë vergelyk word. Ons moet duimvashou dat die Departement Handel en Nywerheid betrokke bly – anders is ons in die moeilikheid.

Jy is ’n veelsydige aktrise, regisseur en vervaardiger. Wat verg dié dissiplines en wat is die uitdagings van dié onderskeie ambagte?

As aktrise moes ek fokus op my karakter en waar dit in die groter prentjie inpas en die visie van die regisseur dien. As regisseur fokus ek op die kreatiewe eindproduk en as vervaardiger op die haalbaarheid van die begroting. Die intensie bly dieselfde: om ’n storie van gehalte te vertel deur die talente van die beste mense saam te snoer, of dit nou spelers of tegnici is.

Wat is die waarde van erkenning en toekennings?

Ek sal jok as ek sê dit laat my nie goed voel nie. Dit hang ook maar af van waar die toekenning kom. Akademiepryse was nog altyd van waarde en die eredoktorsgraad van Tuks was ’n verrassing.

Hoe aanvaar, hanteer en verwerk jy kritiek?

Ek dink daaroor en laat dit gaan.

Dit is 40 jaar later sedert jou debuut. Wie is Katinka, die mens nou?

Ek is seker dieselfde mens? Wel, min of meer. Minder teruggetrokke en selfbewus en hopelik meer gerig op ander mense en húlle talente. Mens verander as jy ’n ma word. My kinders is vandag vir my belangriker as enige projek wat ek professioneel mag aanpak.

En as jy bestekopname doen, is jy verbaas en/of tevrede met hoe die lewe jou op persoonlike en professionele vlak behandel (het)?

My beroep en persoonlike lewe was maar altyd inmekaar gevleg. Dit was slegs met my swangerskappe dat ek kon asem skep. Ek is dankbaar vir die beroepsgeleenthede wat ek gehad het en die fantastiese ondersteuning van soveel mense daar buite. Ek is ook dankbaar dat die branders wat my en my familie soms onverhoeds betrap het, ons sterker leer swem het. Die lewe het my tot dusver goed behandel.

Ons talm by Katinka agter die skerms.

Waar woon jy deesdae en hoe verwyl jy jou verpoostyd daar?

Die huis waarin ek op Onrus woon se naam is Hier en Daar. Hier geniet ek die rustigheid saam met my honde: Willempie, die Duitse pointer, Stella, Chris se rifrug, en die twee corgi’s, Tiekie en Tango. Ek doen waarvan ek hou: swem, stap met my honde, geniet my klein groepie vriendinne en geniet Maria Elisabet se Vonkel van Hermanuspietersfontein – as ek gelukkig is.

Wat maak jou ontsettend gelukkig – en wat jou maak tog ook hartseer?

Dit maak my ontsettend gelukkig as dit met my kinders goed gaan en hartseer as dit nie so goed gaan nie.

Wat wink nog vir jou loopbaangewys op die horison? Aftrede, ooit?

Mits my gesondheid dit hou, nie aftrede nie. Ek praat nooit oor projekte in die broeikas nie.

Wat is jou drome, wense en versugtinge as mens?

Om gesond te wees, nog ’n paar stories te vertel en dankbaar te bly.

Wat is jou lewensfilosofie?

Vertrou die proses.


 

Die rolprent Die Rebellie van Lafras Verwey is ’n aanbieding deur Katinka Heyns en Genevieve Hofmeyr.

Met Tobie Cronjé, Chantell Phillipus, Neels van Jaarsveld, Albert Pretorius en Cobus Visser.

Kinematograaf: Willie Nel
Produksieontwerp: Franz Lewis
Redigeerders: Avril Beukes en Marcelle Mouton
Kostuumontwerp: Reza Levy
Musiek: Janine Neethling

Die rolprent draai vanaf 7 April landwyd en word deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Teaterlys

Ster Kinekor

Northcape (Kimberley)
Baywest (PE)
Tygervalley
Somerset Mall
Eikestad
V & A Waterfront Nouveau
Garden Route Mall (George)
Mimosa Mall (Bloemfontein)
Gateway Commercial (Durban)
Mall of the North (Polokwane)
Cradlestone
Mooi Rivier (Potchefstroom)
Matlosana Mall (Klerksdorp)
Centurion
Brooklyn
Kolonnade (Pta)
The Grove (Pta)
Rosebank Nouveau
Cresta (Jhb)
Vaal Mall (Vereeniging)
Carnival City
East Rand Mall

Nu-Metro

Canal Walk (Cape Town)
Clearwater (Jhb)
Key West (Krugersdorp)
Loch Logan (Bloemfontein)
Menlynpark
Parkview (Woodlands, Pta)
Welkom

Onafhanklike teaters

Epic Mall@ Reds (Rooihuiskraal, Pta)
Epic Northridge (Bloemfontein)
Movies@Emnotweni (Nelspruit)

Lees ook


Die rebellie van Lafras Verwey – ’n onderhoud met Simon Barnard

Anna-Marie Jansen van Vuuren, Simon Barnard
Film

"Daarom wil ek toekomstige kykers van Die rebellie uitdaag om dieper te kyk. Na jouself. ĺn jouself. En na ander. Want die storie van eensaamheid, al is jy tussen mense, is nie net Simon of Lafras se storie nie. Dis ons elkeen se storie."

  • 4

Kommentaar

  • Cornelis Loots

    Dit was vir my baie interessant om so van Katinka te lees.Dat een mens so baie talente kan hê.

  • Tina Tolken Schoeman

    Katinka sal altyd in my gedagtes uitstaan as "'n mens-mens'. Wonderlike aktrise en in elke faset van die filmwese. Sy is so briljant, tog nederig, 'n kwaliteit wat baie min met haar talent nog oor beskik. Pappa Lap en "die groen tamaties' was so fantasties gedoen. Sy is 'n mens wat mens altyd bybly. Toe dit 'n rukkie gelede weer op televisie was het ek eintlik 'n knop in die keel gekry toe ek na die toneel waar sy uitstap met haar wit rok om na die matriekdans te gaan. Katinka, ons is baie lief vir jou en kan jou net sien as een van ons helderste sterre.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top