Katarsis – nagtelike uitspoel van die hart einde 2016

  • 0

Kersfees is verby en die einde is in sig. Die einde van nog 'n jaar. 'n Jaar vol wonderkleure – jaagasem ondervindings, uitbasuin-vreugdes en putdiep-teleurstellings, uitdop-verrassings.

 

So was daar eerstes – eerstes van alles: Troues, kinders, kleinkinders, skooldae, huise, karre, fietse en ongelukke. Soveel eerstes.

So ook laastes:  Laaste praat en loop, laaste werksdag, laaste skooldag,  laaste asem ook. So baie laastes.

Die radio, TV, vriende en geeste herinner jou daagliks aan "the year that was".

Wat 'n uiters vervelige besigheid. Snert praat en lieg. Ophemel en kritiseer. Lag en spot. Swak jaar, sleg jaar, goeie jaar, verby-jaar.

Vaderdank dis verby, juig die mensdom.

Donderwolk mooi juig die aarde.

Na wat moet jy luister?  Wie moet jy glo?

Ek weet nie, maar het maar my irritasies daarmee.

 

Elke jaar het sy eie identiteit.

Eie polsslag en eie ritme. Onvoorspelbaar en ongenaakbaar beur dit voort.

Dag na dag. Nag na nag. Onstuitbaar en presies. Sekonde vir sekonde. Dag en nag. Week na week en maand na maand.

Skep geleenthede.

Gryp sy deel. Vergeet van gister en strompel voort na môre.

Altyd môre. Môre sal beter wees. Môre sal dit regkom. Môre is om die hoek. Môre bly ver. Môre is net môre.

Net nog 'n dag.

Net nog 'n geboorte.

Mense bekommer hulle oor môre.

Vergeet dinge van gister.

Lag oor laas week en wonder waarom die tyd so vlieg. Alles mensdinge.

 

Die jaar het hom nie aan mensdinge gesteur nie.

Bepaal hom by sy eie en wikkel onwrikbaar aan.

Nag en dag. Week na week.

Maand na maand tot weer 'n nuwe jaar.

'n Nuwe jaar van al die môres wat gekom het.

Die môres het die jaaremmer vol gemaak en dié emmer het oorgeloop na 'n nuwe jaar.

 

Die ekonome voorspel. So ook die politieke ontleders.

Die ministers dra hul deel by en die banke weet presies wat die wisselkoers gaan wees.

Die aandelemakelaars vertel waarmee jy koggelryk gaan word en die predikers is seker oor die wederkoms, maar erken darem dat hulle nie dag en datum wil waag nie. Ook hulle lieg uit hul maag, want ook hulle weet nie.

 

Ek en jy ook, voorspel ook. Raai ook. Lieg ook, want niemand ken die waarheid nie.

Deel in die liegspel. Spoegspat  lieg. Lekker lieg en maak-of-ek-weet lieg.

'n Aanvaarbare gedoente, die voorspel- en liegding.

Afskuwelike aanvaarbare gedrag.

 

Wat 'n spel.

Almal voorspel verkeerd en het 'n sterretal redes vir hul dwaling.

Dié kant toe en daai kant toe lieg dit steeds.

Die een leuen moet die ander doodvee.

Voorspel bly maar die sagte woord vir 'n simpel raai.

Nee, eintlik 'n grootdoenerige, geleerde, allesweet liegraai.

 

So ook onderneem almal.

Onderneem om te doen en voorneem om Job-getrou deur te druk. Al kos dit wat. Al vra dit als.

 

Voornemens van minder eet en drink.

Gesond eet en gewig verloor,  met of sonder 'n dieetplan. 

Voorbeeldig leef en gereeld kerk toe gaan.

Meer spaar, asook bespaar en kwaliteit tyd aan en met wederhelf en kinders spandeer.

Nooit kwaad word nie en taxis elke keer 'n indrukkans gee.

 

Vriendelik en versoenend wees.

Die regering respekteer en die president van die land opreg bejammer.

Talle ander goed ook.

 

Tog, "meanwhile back at the ranch", weet ek. Dis reg, weet ek . . .

 

So onderneem ons dan.

So weet ons dis 'n gewetesagmaak-saak.

'n Liegsaak.

'n Saak wat wegtrek asof daar 'n vuurpyl in die agterstewe is wat 'n muggieklein tydjie hou en dan donkieflou uitsak en neerval tot 'n vergete sterfgeval.

Praat nie meer daarvan nie.

Dink nie meer daaroor nie.

Begrawe dit vinnig – sonder respek, eerbied of emosie.

 

'n Nuwe blaadjie omslaan.

'n Skoon blaadjie. Spierwit blaadjie wat nie eers lyne het om op te skryf nie.

Aan die einde van daai omslaanjaar besef jy dat die lyne op die blaadjie nie eintlik nodig was nie. Jy het niks geskryf nie.

Dit wat jy kon skryf, is so ver van die ondernemings en voornemens dat dit jou skaamkop maak. Eintlik kan daar maar net 'n paar swart polkadotkolle gedruk word.

Dit sê alles van wat regtig gebeur het met die nuwe, skoon blaadjie.

 

Dink, wens, onderneem en voorspel. Dis deel van menswees.

n Skewe, slu spel vir slim en dom.

Dis mode.

Jy weet mos oor mode.

Niemand steur hul aan die mode nie, maar almal deel en neem deel daaraan.

Die mensdom in sy domheid, ja.

 

Dan dink ek aan my kloofding.

Die kloofding waardeur jy in die nag moet beur.

Fiets op die skouer. Jonk en sterk.

Sigloos en onseker loop en dra jy.

Voel jou pad.

Stamp jou voet.

Mompel "bliksem".

My kloofding van nie weet nie.

Van hartseer en verwardheid. Van onbekend en angs.

Nag en swart wat mens omring en toedraai.

Nag van koud en nat.

 

Ja, so dink ons baie keer aan die jaar wat om die hoek lê en wag.

Wag om jou soos n orkaan in te slurp en jou deel daarvan te maak.

Deel van iets waaruit jy nie kan ontsnap nie.

Deel van iets wat jy nie kan verander of keer nie.

Deel van asemhaal.

Om daarin te spartel.

Om saamgesleep te word.

Om en om daarin te tuimel.

Om en om.

Kop bo en kop onder.

Lag en huil. Fluister en skree.

Holmaag. Volmaag.

Jy bly deel.

 

So wag die jaar vir ons.

Wanneer hy deurbreek en loswikkel uit die ou jaar, vind die geboorte plaas.

Gebore uit die natuur.

Gebore in die natuur. Uitgespoeg deur 'n heelal. Gevorm deur 'n uitspansel.

 

'n Geboorte wat met kragtige lawaai aangekondig word. 

Klappers, sirenes, toeters, blaffende honde, skreeuende mense.

Almal raas en juig.

Vreugdes en gelukwense.

Die lug ruik na klapperkruit.

Vrolikheid en baldadigheid.

Dronke uitbundigheid.

Nog 'n begin.

Nog 'n jaar. Nog 'n uitsien. Nog 'n wonderwerk. Nog 'n asemteug. Nog 'n Nuwe  Jaar.

 

Baie keer al gewonder waarom 'n syfer 1 en letters Januarie so 'n verskil aan die mensdom maak.

Meer, vir Jood, Griek, heiden of boer, vrou of kind; almal gryp en asem die lug van 'n nuwe jaar. Ja, almal suig die nuwe jaar in. Behaaglik is dit. Begeerlik drup dit.

 

Is dit nie maar net nog 'n dag nie?

Skynbaar nie.

Nee, kan nie wees nie, want dis Nuwejaar.

Weereens, ek verstaan dit nie regtig nie.

 

Ryk en arm. Vet of maer. Dik gevreet of knoppenshonger. Geel of wit. Swart of bruin. Groot of klein. Man of vrou.

Almal haal asem.

Almal wonder en probeer die dit-wat-voorlê gevoel en gedagtes versmoor

en in 'n toesluitkissie prop.

Bang en angs krimp 'n bors. Versmoor 'n long. Beklem 'n hart.

Oorheers altyd die rondspringvreugdes.

Bang en angs se greep is stewig en woedend swart.

Rondspringvreugdes is sag en vredevol wit.

 

Meng angs en vreugdes. Meng die swart en wit. Wat kry jy?

Jy kry 'n grys van 'n net-bestaan-asemhaal,

sleepvoet en slofvoet deur die jaar wat  kop uitsteek.

Onbevange en neutraalgrys.

Doen sy ding, loop sy tyd.

Ek en jy?

Ja, ons maak die verskil.

Ons dra die angs.

Ons leef die vreugde.

Ons sien die swart en ons verf die wit.

 

Dis reg, ons sien met 'n dowwe oog die grysheid van lewe.

Nie goed nie. Nie sleg nie.

Net wees.

Net bestaan.

Geen gister. Geen môre.

Net vandag met 'n niks in die oog.

'n Niks in die kop.

'n Skorvoet in die loop.

Eentoon stem.

 

So wonder ek oor die natuur.

Diere en plante. See en land. Son en maan. Wind en reën. 

Hulle maak die dag.

Hulle word die dag.

Hulle bepaal die dag.

Hulle ís die dag.

Wonderwesens. Skepperwesens.

Wonder of hulle doelwitte het.

Of hulle wense het.

Uitsien na die dag en uitsien na môre.

Dink aan gister en verlang na eergister.

 

Sien hulle om hulle?

Ken hulle vreugdes en ervaar hulle ook pyn?

Droom hulle en watse woorde sing hulle?

Hoe klink hul taal?

Weet hulle dat hulle baie mooi is?

Spog hulle onder mekaar?

Troos hulle mekaar?

Rol hulle taal oor die berge en klowe soos die van blitsende donderweer?

 

Die wonder van natuurwees.

Die stemlose wind wat bome en kranse gebruik om sy vrolikheid en gehuil te laat hoor.

Wolke wat trane laat val om dier, mens en plant te behaag.

Wolke se smart is ons vreugde.

Son se hitte laat ons lewe.

 

Die natuur gee.

Die mens ontvang.

Die natuur vra nie.

Die mens weier knopkop om hom sy gang te laat gaan.

Meng in.

Versteur en vermink.

Verander en wis uit.

Die kroon van die skepping vernietig die skepping.

 

'n Angsvolle en hartkramp-werklikheid wat ek nie kan verstaan nie.

Weet ons dan beter as die Skepper?

Gebruik ons Sy wondergeskenk van 'n kragvolle brein om Sy vingerwerke te verwrong en te vermink?

Sien ons die natuur?

Kyk ons daarna?

Dink ons daaroor?

Ek weet nie.

Want ons verstaan steeds nie dit wat ons so verflenter en vertrap nie.

Stomkop, domkop, slegkop, menskop. Wat vang jy aan?

 

Die opwinding van wat in 'n nuwe jaar skuil moet ons skattejag.

Uitgrawe en ontdek.

By inhaak en saamstap.

Saam mee huppel en saggies neurie.

Grootoog en blinkoog mooi sien.

Omrol, rondtol en asem-uit lag.

 

Vrede en vreugde uitstoot tot bo ons koppe.

Dit voel en streel.

Dan vanaand neersyg op die bed en prewel.

"Wat 'n skitterblink wonderdag."

Dankbaar lê met 'n blinkoog en glimlagbek.

 

Hierdie jaar wat kom gaan ook sy streke hê.

Sal ook hoogtepunte uittower en laagtepunte uitskop.

Mooi oomblikke en tye uitstrooi en ongemaklike en wilvergeet-tye uitdop.

Soet en suur is deel van menswees.

Op en af is net huppelbewegings.

Lewe is ook 'n beweging.

Weet nie eintlik watse beweging nie, maar tog!

 

Almal het verwagtinge.

Elkeen dra 'n eiesoortige hoop.

Ons bly mense.

Aanpasbaar en plooibaar.

Slim en dom.

 

Weet jy, toe ek nog jonk was, so van twaalf jaar af, het ek gedink dat ek Oujaarsnag dwarsdeur moet wakker wees totdat die son uitloer op Nuwejaarsdag.

Waarom ek so gedink het, dit weet ek nie.

Of dit enigsins 'n verskil aan die nuwe jaar gemaak het, is onbekend aan my.

Groot woorde vir "weet ek nog minder".

Tog het ek dit gedoen met 'n nagevolg van 'n flouperd-dag wat ek moes deurgalop.

Simpel, maar ek kon nie my simpelheid verwurg nie.

Simpelheid was te sterk.

 

Vandag is dit anders.

Ek dink daai simpelheid het saam met apartheid gesneuwel.

Nog net sy spook sal ewig rondsweef en nooit 'n rusplek vir sy afkop vind nie.

Hy is hier. 

Hy klop aan die deur.

Die kraampyne vererger by die uur.

Een slapie en hy gil en raas en skree en proes die nuwe dag, die nuwe jaar, die nuwe lewe binne.

'n Nuwe jaar.

 

Gryp dit.

Geniet dit.

Kou dit en kleiwerk dit.

Bestuur dit.

Geniet dit.

Bewonder dit.

Omhels dit.

Lewe dit

en laastens,

wees vreugdevol en dankbaar vir 'n nuwe dag.

Vir 'n nuwe jaar.

Vir menswees.

Vir genade en liefde.

 

Dat jy glo en weet –

jy is kosbaar en vertroeteld in Sy sagte hande.

In sig van Sy liefdesoë.

Net minder as 'n hemelwese.

Kroon van die Skepping.

 

Ja,  reg geraai, dis ís jy en ek.

 

Die nag skuif weg. Dis dag.

 

31 Desember 2016

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top