Karoo Moose wen groot by KKNK Kannas

  • 0

Lara Foot se Karoo Moose was die groot wenner by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kanna-prysuitdeling. Dié drama is bekroon met die Kanna vir beste teateraanbieding, Foot as beste regisseur en Chuma Sopotela as beste aktrise.

Karoo Moose

Die Kannas, wat jaarliks kreatiewe uitnemendheid by die KKNK beloon, is Maandagaand (15 Mei) by Nasdak @ Media24 in Kaapstad oorhandig. Elke wenner het ’n Kanna-beeldjie deur Danélle Janse van Rensburg en ’n kontantprys ontvang. Totale prysgeld van R160,000 is uitgedeel, geborg deur Media24, die ATKV, NATi, Kunste Onbeperk, Absa, Huisgenoot, SARIE, Castle Lager en Ton en Anet Vosloo.

Mareli Stolp, voorsitter van dié jaar se Kannapaneel, het opgemerk dat een ding vir die paneel seker is: “Die kunste staan sterk in ons land. Oudtshoorn het oorgeloop van teater- en musiekproduksies uit die boonste rakke, voor volgepakte sale. Dit was ’n enorme voorreg om uitvoerende werk van sulke hoë gehalte te beleef en elke KKNK-deelnemer het ons dank en respek – met óf sonder prys. Baie geluk aan al die teatermakers,” sê Stolp.

Buite Land, ’n debuut uit die pen van Neil Coppen, is met twee Kannas bekroon: as beste debuutwerk en Kopano Maroga as beste manlike byspeler.

Jacques Bessenger en Kopano Maroga in Buite Land. (Foto: Hans van der Veen)

Drie nuwe Kannas is vanjaar ingestel. Buhle Ngaba se The Swan Song is die eerste wenner van die Kanna vir beste Uitkampteater-aanbieding, Retief Scholtz se komedie-drama Dop, het die Kanna vir beste nuutgeskrewe teks ontvang en die nie-verbale Uitkampteaterstuk vir kinders, In die woud, is met die Kanna vir beste kinderteater-aanbieding bekroon. Nóg ’n eerste vir die Kannas is dat laasgenoemde kategorie deur kinders van verskillende ouderdomme beoordeel is.

Ngaba is verder bekroon as beste opkomende kunstenaar vir haar teks en spel in The Swan Song.

Gideon Lombard se spel in die eenman debuutdrama Die reuk van appels, het aan hom die Kanna vir beste akteur besorg. Dié produksie het ook ’n spesiale prys vir beste produksiebemarking ontvang, geborg deur die KKNK se bemarkingsvennoot, Lumico.

Gideon Lombard in Die reuk van appels

Sandra Prinsloo het die Kanna vir beste byspeler: vroulik ingepalm vir haar rol in Chris Barnard se Pa maak vir my ’n vlieër pa, onder regie van Albert Maritz.

Die hip-hop opelugmusiekproduksie, Rymklets van Oos tot Wes, is aangewys as beste musiekproduksie en Ronél de Jager se visuele kunsuitstalling Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets is met die Kanna vir beste visuele kunsuitstalling huis toe.

Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van onder meer die KKNK, sê dat dit ’n groot voorreg bly om met ’n platform soos die KKNK geleenthede vir kunstenaars te skep. “Die kreatiwiteit en talent wat mens ook by die jong kunstenaars sien, is ’n inspirasie. Kunste Onbeperk is steeds daaraan toegewy om regdeur die jaar met verskeie inisiatiewe te help bou aan ’n stewige fondament vir die Suid-Afrikaanse kunstebedryf en geleenthede te help skep om ondersteuning te bied met ’n langtermyn impak vir kunstenaars.”

Drie van dié Kanna-wenners is later vanjaar by feeste te sien: Karoo Moose tussen 4 en 28 Augustus by die Edinburg International Festival in Skotland en Buite Land en Die reuk van appels van 29 Junie tot 9 July by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.

Die lede van die Kannapaneel was Stolp, Retha Bornmann, Diane de Beer, Aidan Erasmus, Rafiek Mammom, Angelo Mockie, Laetitia Pople, Marguerite Robinson, Tracey Saunders en Malan Steyn, met Meghan Konnie, Isabel Mascher, Leah Mascher, Tamlyn Prins, Zak Steyn en Ayden Winster die lede van die kinderpaneel.

Die 24ste KKNK word van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April 2018 op Oudtshoorn aangebied. Programvoorstelle kan van 1 Julie aanlyn by www.kknk.co.za ingedien word.

Die volledige lys van Kanna-wenners is:

Kanna vir die beste debuutwerk, geborg deur Media24

  • Buite Land

Kanna vir die beste teateraanbieding, geborg deur die ATKV 

  • Karoo Moose

Kanna vir die beste musiekproduksie, geborg deur Huisgenoot

  • Rymklets van Oos tot Wes

Kanna vir die beste regie, geborg deur die ATKV

  • Lara Foot (Karoo Moose)

Kanna vir die beste aktrise, geborg deur SARIE

  • Chuma Sopotela (Karoo Moose)

Kanna vir die beste akteur, geborg deur Castle Lager

  • Gideon Lombard (Die reuk van appels)

Kanna vir die beste byspeler: manlik, geborg deur Kunste Onbeperk

  • Kopano Maroga (Buite Land)

Kanna vir die beste byspeler: vroulik, geborg deur Kunste Onbeperk

  • Sandra Prinsloo (Pa maak vir my ’n vlieër pa)

Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks, geborg deur NATi

  • Retief Scholtz (Dop)

Kanna vir die beste bydrae tot visuele kuns, geborg deur Absa

  • Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets (Ronél de Jager)

Kanna vir die beste opkomende kunstenaar, geborg deur Ton en Anet Vosloo

  • Buhle Ngaba (The Swan Song: teks en spel)

Kanna vir die beste Uitkampteater-aanbieding, geborg deur NATi

  • The Swan Song

Kanna vir die beste kinderteater-aanbieding, geborg deur Media24

  • In die woud

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top