Karin Hougaard, ’n onderhoud

  • 1

Christiaan J de Swardt gesels met die bekroonde sangeres, liedjieskrywer, aktrise, kortverhaalskrywer, digter en skilder Karin Hougaard oor kreatiwiteit – die ink wat in haar are bruis.

Karin Hougaard (Foto: Bilal Chahal)

Los dit

As jy sou weggaan
los vir my ’n briefie
los dit op die yskas of
oppie hangkas
skryf dit op
’n post-it-plak-papiertjie
en los dit, los dit, los dit

Sonder ’n groot gedoe
griffel die hoekoms,
die waaroms en
waarheen en
nommer al my foute
benoem elke liewe een

Los – as jy sou weggaan
’n briefie met die dag
en met die tyd
noteer sekonde vir sekonde
toe jy besef het
dit was uit

As jy sou weggaan
los vir my ’n briefie
los dit op die yskas of
oppie hangkas
skryf dit op
’n post-it-plak-papiertjie
en los dit, los dit, los dit, los dit

Inventeer numeries
of alfabeties
die tye saam verwyl
in hotelkamers, wagkamers, die bad
ons geskiedenis detail vir detail
lys veral ten slotte
ons stiltes en ons storms –
ons blywees en ons seer
lys veral ten slotte
ons mooiste momente weer

En as jy dan sou bly
los vir my ’n briefie
skryf dit op my arm,
skryf dit op my boud
skryf dit op my oordrom
en trek my dan weer toe,
dis koud, dis koud, dis koud

Teks: Karin Hougaard, 2015

Dit is die liedteks wat ’n Suid-Afrikaanse Afrikaanse liedjieskrywer-sangeres op versoek van die Nederlandse vermaak-ikoon Herman van Veen geskryf het ter viering van sy 50 jaar op die verhoog. Hy het die musiek komponeer, het die teks in Nederlands vertaal en sing dit by sy vertonings. Karin het dieselfde liedteks in 2016 op versoek van die Nederlandse sangeres Jannemien Cnossen in Engels vertaal. Dit pryk nou op haar nuwe CD.

Karin Hougaard en Herman van Veen

Ja, Suid-Afrika se bekende kaalvoetsangeres Karin Hougaard het internasionale sterstatus bereik en woon al bykans tien jaar in Noord-Carolina, VSA. “Dit is bloot ’n ander straatadres van waar ek my onderskeie dissiplines beoefen!”

Ons paadjies het in 1983 gekruis toe sy gedebuteer het en sedertdien het ek die voorreg gehad om gereeld oor haar as mens en kunstenaar te kon skryf.

Asof net gister, neem ons bestek op. Ja, sy tree steeds kaalvoet op die verhoog op. Die stem is nog heserig. Sy’s nog kort, hare heelwat ligter, kakie oë, elfie-ore, spitsgesig. Ek delf nuuskierig!

“Lyk my soos ons ouer word, leer ’n mens aanvaar die lewe is ’n konstante proses van wortels optrek, horisonne agterlaat – van tot siens sê; net om ook weer hallo te sê!”

Karin sê Suid-Afrika was en is steeds baie goed vir haar. “Ek had ’n wonderlike loopbaan van 30 jaar (and counting) en bevoorreg om in Afrikaanssprekende huise ’n huishoudelike naam te wees. Uiteraard maak my afwesigheid die afgelope bykans tien jaar dit moeiliker om daardie vlak van naamherkenning te behou, maar ek besef ook alles het ’n leeftyd. Ek raak soms opstandig omdat Amerika ver is, maar ek besef ook hoe gelukkig ek is om ten minste elke jaar te kan kom kuier en sing. Dit blyk dat daar wel nog mense is wat belangstel om te weet waarmee ek besig is en my wil hoor sing. Dit laat my werklik nederig.”

Jy was die afgelope paar jaar geweldig bedrywig in die buiteland. Hoe opwindend is en was dit?

“Ongelooflik! In samewerking met Herman van Veen het ek in 2015 ’n Afrikaanse minikunstefees op sy landgoed georganiseer. Ek het van my Suid-Afrikaanse kollegas betrek. Ons hoop om die fesie elke dan en wan te herhaal. Ek het ook my hand gewaag aan videoredigering en het musiekvideo’s vervaardig.

Verlede jaar September het ek saam met Die Week van die Afrikaanse roman deur Nederland en België getoer – gereël deur die onstuitbare Ingrid Glorie. Die Week is ’n toonvenster vir van ons beste Afrikaanse skrywers en in 2016 was Marita van der Vyver, Ena Jansen, Francois Smit, Lien Botha, Marlene van Niekerk en Simon Bruinders aan die beurt en is hul boeke aan die Nederlandse en Belgiese publiek voorgestel deur middel van boekpraatjies en gesprekforums. Ek was verantwoordelik vir die musikale omlysting tydens verskeie van die geleenthede.”

Karin in Holland

Suid-Afrikaanse optredes

Karin is nou in Suid-Afrika vir twee sonderlinge optredes. “Ek is uitgenooi om op 27 April as gaskunstenaar saam met onder andere Coenie de Villiers en Karin Kortje op te tree by die Suidoosterfees se openingskonsert, Kunstreffers van hoop, ’n produksie deur die musiekmaestro Janine Neethling, by die Artscape. Ek sien ontsettend hierna uit. Die vertoning is ’n hutspot van samewerking tussen verskillende kunstenaars en kunsvorme. Op 29 April doen ek weer my eie ding en sing ek by die Drostdyteater in Stellenbosch met begeleiding deur die formidabele Jaconell Mouton.

Jy het intussen Amerikaanse burgerskap gekry. Is jy nou ’n Amerikaner of Suid-Afrikaner?

Ek sal altyd eerstens ’n Suid-Afrikaner bly – dis waar my hart is. Ek dink dis eenvoudig in my bloed, onder my vel, onlosmaaklik deel van my stelsel! Ek is ’n Suid-Afrikaanse burger. Daar is tans nog voordele aan verbonde om ’n Amerikaanse paspoort te hê, want dit beteken dat ek byvoorbeeld nie vir visums hoef aansoek te doen om die meeste ander lande te besoek nie. Dit was ’n ontsettend duur en moeitevolle proses om met ’n Suid-Afrikaanse paspoort te reis omdat ek elke keer na Washington moes reis om aansoek te doen as ek byvoorbeeld Holland toe wou gaan! Ek hou duim vas dat die Amerikaanse paspoort se voordele so sal bly, maar die nuwe Trump-administrasie se immigrasie- en visumbeleid beloof om nou ook te impakteer op Amerikaanse paspoorthouers. Soos ek dit verstaan, het die EU ’n voorstel ter tafel gelê wat visumvrye reis vir VSA-burgers gaan opskort. Dis natuurlik ’n hengse slag vir my – wat gehoop het ’n Amerikaanse paspoort maak reis makliker. Maar wie weet, dalk maak my Suid-Afrikaanse paspoort weer ander deure oop! Op ’n meer tegniese noot: as jy nie finansieel emigreer nie – maw jou bankrekeninge toemaak en ophou belastingopgawes indien nie – bly jy ’n Suid-Afrikaanse burger.

Hóé Afrikaans is jy nog?

Ek droom en dink steeds in Afrikaans en ons praat dit tuis. Daar is nou ook in my nabye omgewing drie ander Afrikaanssprekende gesinne. Ons kuier gereeld oor en weer, vertel Afrikaanse grappies en maak biltong en droëwors – wat ons self kruie en droog!

Het jy nog wortels in Suid-Afrika?

My pa, Frank, is in 2001 oorlede. Ons mis hom ontsettend – sy heerlike galgehumor, sy stip kyk en sy perfeksionistiese streep dat dinge “netjies” moet wees – wat ek van hom geërf het. My ma, Carol, het onlangs van Jeffreysbaai, waar sy die afgelope 15 jaar gewoon het, na Plettenbergbaai verhuis om nader aan my jongste sussie, Lente, en haar gesin in Keurboomsrivier te wees. Dit gee my ontsettende gemoedsrus. Ek maak ’n punt daarvan om my ma so gereeld moontlik te sien en sal ’n week by haar gaan kuier. Dis oor haar wat ek my uiteraard die meeste bekommer wanneer ek weg is. Sy het wel verlede jaar Desember by my, my lewensmaat en ons 22-jarige dogter, in Noord-Carolina gekuier, asook haar 75ste verjaarsdag gevier. My ander sussie, Marishia, en haar gesin woon in Witrivier. Albei my sussies het twee kinders. En wanneer ek in die vreemde is, gesels ek bykans elke week met hulle en my hartsvriende. Die wonder van die internet maak afstand relatief.

Jou straatadres in Amerika is Peeples-straat, Oak Ridge, Noord-Carolina. Hoe lyk dit daar?

Dis ’n kleinhoewe agt akker groot. Hoewel dit net ’n blyplek is, mag ons wel boer as ons wil, omdat dit landbougrond is. Ons het egter besluit om die kleinhoewe wild te los. Dit is as ’n sogenaamde wildlife refuge verklaar: ’n plek waar nie gejag word nie en waar kleinwild ’n heenkome het. Dit moet ook voldoen aan sekere eienskappe soos skoon water, kos, skuiling, volhoubare ekologiese praktyke (soos erosievoorkoming), minder grasperke, eerder inheemse bos en beperkte gebruik van gifstowwe. Omring deur die mooiste bome voel dit asof ons in ’n boomhuis woon. Hier is wilde bokkies, jakkalsies, opossums en die mooiste voëllewe. Die buurplasies hou perde aan; dis idillies mooi. Die mense is vriendelik en onpretensieus. Die lewenspas hier is stadig, maar die internet is blitsvinnig! Ons is bederf: hier sluit ons selde deure of motors. Ons het nie heinings of diefwering nie. Hier is steeds persoonlike vryheid.

In Suid-Afrika verpoos jy by jou strandhuis Cottage David in die dorpie Marina Beach in KwaZulu-Natal aan die Suidkus. Dit klink idillies?

“Dis ’n absolute lushof, met ’n wonderskone subtropiese tuin en ’n private paadjie af see toe na ’n klein beskutte strand. Ons het die lieflikste voëllewe en klein Natalse blouduikertjies en -apies is gereelde besoekers aan ons tuin. Die kothuisie is ouwêrelds en niks is luuks nie. Dis twee slaapkamers en ’n badkamer en klein kombuisie, maar soos alle Suid-Afrikaners weet, mens leef buite toe. Die luukse is die ligging – die direkte toegang tot die see, die op die bed lê en kyk of die see vandag blou of grys, plat of vol perdjies is. Die uitstap op die stoep en ’n paar treë verder en jy voel die sand tussen jou tone. Hier kom ek heen om te herlaai, die see te hoor, en te ruik en te adem. Te verpoos.

“’n Kuier hier beteken altyd ’n bietjie opknapwerk – hier ’n bedlampie koop, daar ’n nuwe stel glase, ’n tuinbankie skuif sodat dit net regstaan vir die sonsopkoms oor die see. Daar is drie rituele wat onlosmaaklik deel is van ’n Marina Beach-kuier: banoffee-pannekoek eet by Waffle House, whiskey-garnale by Lobster Pot en toasted chicken & mayonnaise-broodjies by Mariners Seafood Restaurant reg op Marina Beach-strand. Die een ding wat ook nooit verander nie, is die groot droom oor hoe om dit reg te kry om langer, ononderbroke tye hier deur te bring.”

Veelsydige kunstenaar

Die meeste Suid-Afrikaners ken Karin as ’n liedjieskrywer-sangeres – bekend vir onder meer “Lui lui telefoon”, “Swaeltjie”, “Sweef soos ’n arend” en “Bly". Haar pragstuk “Kruietuin” is in die nuwe uitgawe van die FAK-sangbundel opgeneem en is ook voorgeskryf vir graad 11-leerders in Afrikaanse poësie.

Sedert Karin haar in Amerika gevestig het, het sy ook as aktrise, skrywer, digter en skilder bekendheid verwerf. Op haar kerfstok is talle verhoogproduksies as aktrise vir Herman van Veen, twee digbundels en kortverhale en talle liedtekste in Afrikaans, Nederlands en Engels vir Suid-Afrikaanse en oorsese kunstenaars.

Hoe benader jy die onderskeie dissiplines?

My talente, of die kunsvorme wat ek beoefen, is soos ’n kaleidoskoop wat die verskillende fasette van my identiteit na vore laat kom op verskillende wyses – dit alles maak my heel. En selfs tuis is ek die heeltyd besig om “prentjies” te maak in die huis en landskap rondom ons huis en die bos!

Liedjieskrywer en sangeres

Karin het 16 albums (insluitende enkelsnitte) sedert haar debuut, Eerste afspraak, in 1983, uitgereik. Die jongste is haar sonderlinge vertolking van Leonard Cohen se “Hallelujah”. Karin het verlede jaar in Buenos Aires, Argentinië, opgetree en die organiseerders het spesiaal versoek dat sy daardie lied van Cohen moet sing. En toe neem sy die lied op wat ’n paar dae voor dié legende se afsterwe as ’n enkelsnit uitgereik is.

Tree jy nog kaalvoet op?

Om te sing, is ’n fisiese, en ja, op sekere vlak ’n primitiewe, manier van uiting gee aan emosies. Die klank word vervaardig in jou lyf en selfs iets soos jou skedelvorm bepaal hoe uniek jou klank sal wees! Ek gebruik my hele lyf om te sing en dis een van die redes waarom ek kaalvoet sing: ek voel beter geanker op die grond en dit gee my ’n stewiger basis om van te werk. Sing is my eerste liefde.

Foto: Bilal Chahal

Wat verg ’n goeie komposisie?

Ek skryf musiek reeds vandat ek op skool was. Toe ek 16 was, is een van my toonsettings gebruik as temalied vir ’n Leipoldt-gedenktoer, aangebied deur Sukovs. Ek geniet opdragwerk ontsettend baie, want dit gee jou ’n stel gegewens waarvolgens jy moet werk, soos byvoorbeeld my lirieke vir die temalied van die film Lien se lankstaanskoene – die boek was ’n heerlike bron om van te put. Ek het ook onder meer al musiek geskryf vir kinderteaterproduksies soos Die Pikkewouters van Amperstamperland en die teaterstuk Potparanoia, ’n Romeinse klug. Alles heerlike projekte wat my horisonne verbreed het. Ek skryf meestal my eie musiek en lirieke vir al my albums. Musiekskryf vir my albums is vir my ’n spontane proses, wat hoofsaaklik gelyktydig met die liriek geskep word. Meestal, maar nie altyd nie!

Aktrise

Karin het al tien verhoogproduksies en eenvrouvertonings gedoen. Sy was reeds besig met die toneelspelery voordat sy VSA toe is – op skool in The Sound of Music en op universiteit in ’n Afrikaanse TV-tienerreeks Rieksie Rautenbach, Baasspeurder. Toneelspel het egter eers erns geraak in een Herman van Veen se verhoogproduksies, The First Lady, waar sy die rol van Jackie Kennedy gespeel het in ’n eenvroustuk. (En dis voordat Amerika enigsins op haar radar was!) Toe volg nóg ’n eenvroustuk, Mata Hari, waarin sy al die dialoog in Nederlands moes doen.

Karin in The First Lady (Foto: Peter Thomsen)

Wat is die grootste uitdagings?

“Vir my as aktrise is die grootste uitdaging om die Karin Hougaard-persona te laat verdwyn en myself as ’n nuwe karakter te herskep. Ek vind dit heelwat makliker om hierdie transformasie te vermag wanneer die rol ook anderstalig is, om byvoorbeeld Jackie Onassis te kon speel met haar Amerikaanse aksent of die Nederlandstalige hoofrol in Mata Hari.

Digter en skrywer

Karin het ook in 2008 vir die eerste keer ’n digbundel gepubliseer: Woorde sónder wysies. In 2014 het sy die digbundeltjie Wegkaner die lig laat sien. Sy het twee kortverhale in die bundels Amfiteater (“Die biologie van onthou”) en Skrik op die lyf (“Sterkind”) gepubliseer. Sy droom van ’n boek skryf, maar meen haar konsentrasiespan is nie lank genoeg nie …

Jy druk jouself ook in skilderkuns uit?

“Skilder is die beste manier vir my om van die wêreld te vergeet. Ek benader dit intuïtief en elke merk en lyn lei tot die volgende ene. Ek het nie noodwendig altyd ’n eindproduk in gedagte nie; soms is die finale produk ook vir my ’n verrassing. Ek kan myself op ’n ander manier uitleef in skilder as in musiek en ek is waarskynlik minder “precious” oor my skilderwerk as oor my musiek.

“Die skildertalent kom van my ma se familie se kant; my oom skilder, my tannie illustreer en daar is ook ’n kleinniggie of wat wat suksesvolle skilders is. Ek was ’n vakleerling by die bekende Suid-Afrikaanse skilder Michèle Nigrini en het ook ’n jaar lank kuns aan Unisa studeer totdat my sangloopbaan te veel ingemeng het met my klasse! Ek het my eerste solokunsuitstalling in 2008 gehou.

“Ek skilder hoofsaaklik met akriel, omdat ek hopeloos te ongeduldig is om te wag dat die verf moet droog word, sou ek in olies skilder. Ook dink ek terpentyn is nadelig vir ’n sanger se longe. Ek skilder hoofsaaklik landskappe of blomme; ek skilder nie werklik realisties nie en gebruik graag ’n baie vergrote skaal om die oog weg te lei van die onderwerp en die kyker meer te laat fokus op merk en kleur. In my boek Woorde sonder wysies het ek onder meer van my grafiese werke asook skilderye ingesluit en die boekie Wegkaner se omslag is weer ’n scaper board-tekening.

“Ek werk aan ’n skilder-opdragwerk wat handel oor vier die seisoene; dis nogal ’n ding, want ek moet elke seisoen afwag en dan dieselfde plek weergee op doek. Lekker uitdaging!”

Jy vervaardig ook video’s, soos jy reeds genoem het. Wat behels die kreatiewe proses?

“Ek het musiekvideo’s vir Anna Davel en Clarabelle van Niekerk (en, myself, natuurlik) vervaardig. Anna se musiekvideo van “Soek na jou” se beeldmateriaal is opgeneem in Rosendal en toe na my via die internet aangestuur in Amerika. Daar het ek die beeldmateriaal “gespoeg en plak” – oftewel geredigeer – tot die finale produk. Natuurlik help dit dat Anna sag op die oog is; dis moeilik om ’n lelike video van haar te maak!

“Clarabelle woon in Pennsilvanië en ons het dié video ook langafstand aanmekaar gesit. Die musiekvideo was ’n eksperiment om te kyk waarmee ons vorendag kon kom met baie beperkte beeldmateriaal. Ons het ontsettend baie pret gehad met die oor en weer geskype!

“Ek geniet redigering ontsettend. Dis ’n wonderlike kreatiewe proses met oneindig baie moontlikhede. Hopelik sal ek in die komende jaar nog ’n paar video’s maak. Daar is natuurlik reeds ’n paar selfvervaardigde YouTube-video’s beskikbaar.

“Videoredigering is ’n fassinerende kunsvorm. Dit verg begrip van tyd, ritme, spanning, hoe jy ’n skoot knip of uitrek of vries. Boonop verg dit kennis van die programmatuur en tegniese uitsaaivereistes. Ek is verknog aan tegnologie en vind dit heerlik om agter my rekenaar te sit en myself met hierdie soort werk besig te hou – hetsy dit ’n CD- omslagontwerp, boekuitleg, boekomslag of musiekvideo is wat ek maak. Hiermee blyk dit ek het matelose geduld. Vir my as introvert vereis dit weinige interaksie met mense: ’n droomjop vir my, dus.”

Stemkunstenaar en uitgewer

Karin is die uitgewer en stemkunstenaar van die tweede uitgawe van 25 Shakespeare Sonnette – vertaal deur Anna Neethling-Pohl. Karin doen ook die voorlesings. Dit sal na verwagting in 2018 uitgereik word.

Wat behels dié proses?

“Ek is verantwoordelik vir die bundel se nuwe bladuitleg, asook die voorlesings en meng. Die stemopnames het ek gedoen by Hennie Maas se ateljee in Pretoria. Chris van der Westhuizen, wat my in Suid-Afrika en Nederland begelei het, skryf en speel die agtergrondmusiek vir die CD. Hy bespeel vir die projek onder meer die Keltiese harp, die hurdy-gurdy, Armeense herdersfluit en basblokfluit! Anna Neethling-Pohl se kleindogter, Anna Lennox, doen die omslagontwerp. Ek is toestemming verleen vir die projek deur Cobus (OJO) Ferreira, wat die kopiereg van die sonnette besit. Hierdie is ’n hartsprojek wat ek werklik net vir my eie plesier aangepak het

“Stemwerk, soos radio of voorlesings, is vir my weer ’n heeltemal ander manier van omgaan met my stem as om te sing. Ek vind die plasing van my stem lê op ’n ander plek; selfs die klankkleur is anders. My Afrikaanse, Engelse en Nederlandse stemme klink ook verskillend – ook as ek sing.”

Toekennings

Sedert Karin die ATKV se Crescendo-prys as algehele wenner in 1980 verower het, is sy gewoond aan erkenning. Naas talle FNB Vita- en Sama-benoemings is sy bekroon vir belowendste sangeres, beste album, beste musiekproduksie, beste kostuumontwerp en die inspirerendste vroulike kunstenaar by die KKNK. Sy spog met ’n Springbokradio/Sarie (1983), die KKNK se Herrie- en Kanna-pryse, ’n Aardklop- en ’n Vita-toekenning. In 2013 is haar lied “Bij mij” as een van die 21 Nederlandse liedjies met ewigheidswaarde bekroon.

Wat is die waarde van toekennings – én hoe hanteer jy kritiek?

“Toekennings is aanmoediging, ’n aansporing. Dit bevestig dat jy iets ‘reg’ doen, of ten minste dat jou werk iets bydra – binne ’n spesifieke nis natuurlik – wat gesien word as prysenswaardig. Pryse maak jou nie ryk nie, dit maak jou wel dankbaar dat jou werk raakgesien is.

“Kritiek is maar altyd moeilik. Ek reken omdat die werk wat kunstenaars doen, regtig uit hulle lywe kom en eintlik onlosmaaklik deel is van wie jy is, raak dit jou wanneer iemand afkeurend is oor wat jy doen. Ek het grootgeword met jare en jare se deelname aan kunswedstryde. Dit het my wel geleer om na opbouende kritiek te luister.

In ’n loopbaan van 30 jaar moet daar ongetwyfeld hoogtepunte wees?

“Ja. Vir my is dit die album Bly – om eie sentimentele redes. Die verhoogproduksie en album Metamorph – om die baanbrekende aard daarvan. Elke produksie saam met Herman van Veen – omdat dit my kop oopgemaak het en my my vlerke laat sprei het! Die ervaring om Jackie Onassis te kon vertolk onder regie van Van Veen en sy vertroue in my om die bykans 95-minute-toneelstuk te bemeester was vir my grensverskuiwend. My grootste uitdaging was waarskynlik die rol van Anna in Mata Hari, ook deur Van Veen. Die stuk het vereis dat ek die rol in Nederlands speel. Die wete dat sou ek my woorde kwytraak ek met moeite sou kon improviseer, was ontsettend spannend. Genadiglik was dit nooit nodig nie. En dan: Alien sky (2013). Dié album is in die VSA gebore en handel oor vervreemding, diaspora wees en oor afstand en verbintenis van huis en mense.”

Karin as Jackie O (Foto: Peter Thomsen)

Helaas, laagtepunte ook?

“Natuurlik is ’n loopbaan in die musiekbedryf nie sonder teleurstellings nie. Genadiglik kon ek daardeur leer, vorentoe beweeg en is die mooi dinge wat gebeur het oor die afgelope 30 plus jaar net soveel meer as enige laagtepunte. En teleurstellings of verliese, hoe ingrypend ook al, word weer die bron van nuwe inspirasie, nuwe woorde, nuwe wysies, nuwe beginne.”

Hoe ernstig versus ligsinnig is jy?

“Ligsinnig, nee, dit is ek nie – ek gebruik humor wel as skans. Ek is geneig om ernstig te wees, en diep binne-in my self weg te kruip.”

Wie is Karin in verstand, hart en siel?

“Introvert, wroeger, dromer, loner.”

Karin se liedjies, boeke, gedigte, skilderye is in effek haar kinders en dit is haar wens dat dit die toets van tyd sal deurstaan.

“Hopelik bly hulle behoue om my verhaal te vertel. Niks hoogdrawends nie, maar ’n universele storie wat oor ’n honderd jaar steeds sal kan vertel van iemand wat opkyk na die sterre en soek, iemand wat opkyk na die sterre en droom, iemand wat opkyk na die sterre en verlang.”

Wat is jou lewensfilosofie?

“Om teenwoordig te wees in elke oomblik en voluit te leef!”

Karin Hougaard se oeuvre

Albums

  • Eerste afspraak – 1983
  • Herontmoeting – 1986
  • Hoogtepunte – 1997
  • Bly – 1994
  • Muse – 1998
  • This is as love (enkelsnit) – 1998
  • Trying to surrender (enkelsnit) – 1998
  • Metamorph – 1999
  • Karin Hougaard sings Queen – 2003
  • Hartstukke – 2006
  • Omnibus – 2007
  • Jou verhaal (enkelsnit) – 2008
  • Quiet love – duet-opname met Franse sanger Philippe Elan – 2010
  • Alien sky – 2013
  • Lukas – duet-opname met Ashton Nyte – 2014
  • Karin Hougaard sings Cohen’s Hallelujah – 2016
  • 25 Shakespeare Sonnette vertaal deur Anna Neethling-Pohl en voorgelees deur Karin Hougaard – 2018

Verhoogproduksies

  • Bly – 1993 (SA)
  • Muse – 1998 (SA)
  • Metamorph – 1999 /2000 (SA, VK)
  • The First Lady – 2003/2004 (Nederland, België, SA)
  • Karin Hougaard sings Queen – 2003 (Nederland, SA)
  • Mata Hari – 2005 (Friesland, Nederland, Frankryk, Duitsland, SA); 2007 (Engeland)
  • Omnibus – 2007 (SA)
  • Hartstukke – 2006 (SA), 2008 (Nederland)
  • Een dag in September (België 2009)
  • Alien sky – 2013 (SA), 2014 (Nederland)

Toekennings

  • Algehele wenner – Crescendo 1980
  • Sarie – 1983 vir Eerste afspraak
  • Verskeie nominasies vir albums, FNB- en Sama-toekennings
  • Herrie – 2000 KKNK – Beste musiekproduksie vir Metamorph
  • Aardvark – 1999 Aardklop – Beste musiekproduksie vir Metamorph
  • Vita vir Beste kostuum-ontwerp vir Metamorph (2000)
  • Kanna 2006 – KKNK – Inspirerendste vroulike kunstenaar by fees
  • Lied “Bij mij” in 2013 aangewys as een van die 21 Nederlandse liedjies met ewigheidswaarde.

Treffers en video’s

Bekendste liedere sluit in:

  • Lui, lui telefoon
  • Swaeltjie
  • Gly op die reënboog
  • Sweef soos ’n arend
  • Hier in my droom
  • Bly
  • Kruietuin
  • Storm
  • This is as love as love is gonna get
  • By my – onderskeidelik opgeneem in verskillende tale deur Karin Hougaard, Herman van Veen, Paul de Leeuw en Anne van Veen
  • Los dit – onderskeidelik opgeneem in verskillende tale deur Herman van Veen en Jannemien Cnossen

Werk as aktrise

  • The sound of music (as kind)
  • Rieksie Rautenbach baasspeurder (TV) 1982
  • Aanbieder van onder meer Tekkies (TV) 1982/83
  • The First Lady (Engelstalig 2003 en 2004)
  • Mata Hari (Nederlandstalig 2005)
  • Een dag in September (2009)

Publikasies

  • Woorde sonder wysies (2008)
  • Wegkaner (2014)
  • Amfiteater (kortverhaal, 2008)
  • Skrik op die lyf (kortverhaal, 2015)
  • 25 Shakespeare Sonnette (vertaal deur Anna Neethling-Pohl), voorgelees deur Karin Hougaard (2018)
  • Verskeie opdragliedere vir kunstenaars, onder andere Herman van Veen, Jannemien Cnossen en Willie Strauss

Skilderkuns en uitstallings

  • 2008 twee solo-uitstallings: Johannesburg en Port Elizabeth
  • Verskeie enkelwerke by groepsuitstallings.
  • 1

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    Fantasties. Lieflike mens en kunstenaar en stem. Ek sien uit om haar weer te beleef op die verhoog.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top