Karel Schoeman: Uit NALN se argiewe

  • 0

Onderstaande teks is gedruk op 'n brosjure aangaande Karel Schoeman wat by NALN in Bloemfontein beskikbaar is en met NALN se toestemming op LitNet gepubliseer word. Die foto's en afdrukke uit die voormalige tydskrif, INSIG, word ook met NALN se vergunning en toestemming gepubliseer.

Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 op Trompsburg in die Vrystaat gebore waar sy ouers ’n hotel bedryf het. Hy voltooi sy skoolopleiding in 1956 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl. In 1959 behaal hy ’n BA-graad aan die UOVS met die hoofvakke Engels, Afrikaans en Nederlands.  In dieselfde jaar verander hy van kerkverband en word Rooms Katoliek. Daarna is hy na die Katolieke Seminarie in Pretoria en uiteindelik na Killarney en Galway in Ierland.

Hy keer in 1964 na Suid-Afrika terug om ’n Hoër Diploma in Biblioteekkunde aan die UOVS te verwerf.

Hy woon ’n tyd lank in Europa, o.m. in Amsterdam (1968–1973) waar hy in ’n biblioteek werk, en in Glasgow (1974–1976) waar hy as verpleër werk. Sy omswerwinge neem hom selfs na die eiland Kreta. Teen die einde van 1976 keer hy weer na Suid-Afrika terug. Hy werk aanvanklik in Pretoria as vertaler, van 1977 tot 1981 by die Vrystaatse Biblioteekdiens in Bloemfontein en daarna in Kaapstad by die Suid-Afrikaanse Biblioteek.

Alhoewel Schoeman eintlik bekendheid verwerf as prosaskrywer van veral romans en novelles, het hy ook talle verwerkings en vertalings gedoen van onder meer dramas soos Friedrich Schiller se Maria Stuart, Anton Chechov se Die Kersieboord en Herman Heijermans se Op hoop van Seën. ’n Aantal televisiereekse verskyn uit sy pen, onder meer Besoek, Die Somerpaleis en Die Jare. Hy verwerk ook etlike Ierse legendes in Afrikaans.

Schoeman is verder veral bekend as navorser van formaat en as kenner van die historiese Bloemfontein en die Vrystaatse argitektuur, soos blyk uit publikasies soos: Bloemfontein: Die ontstaan van ’n stad (1846–1946), Die dood van ’n Engelsman en Vrystaatse Erfenis.

Hy is ook redakteur van die Vrijstatia-reeks wat handel oor die negentiende-eeuse Vrystaatse geskiedenis.

Met sy skeppende skryfwerk sluit Schoeman aan by die tradisie en styl van skrywers soos Jan van Melle en CM van den Heever. Wat sy romans en novelles betref word hy as een van die belangrikste skrywers ná 1960 beskou. Die temas waaroor hy skryf sluit egter aan by dié van sy tydgenote. Hy slaag daarin om die tipiese outsider-figuur of introverte karakter binne ’n bepaalde omgewing te situeer, onder meer in Na die geliefde land, By Fakkellig en Hierdie Lewe. Hy debuteer in 1965 met twee novelles in die bundel Veldslag. Beide Veldslag en In Ballingskap handel oor die ontwrigting wat die Anglo-Boereoorlog meegebring het. ’n Ander tema wat hy by herhaling in sy romans verken, is die gekompliseerdheid van menslike verhoudings en die verwydering wat onbegrip tussen mense tot gevolg het, soos in By Fakkellig, Spiraal, Op ’n eiland, Na die geliefde land en ook in Hierdie Lewe.

Schoeman is reeds in 1972 bekroon met die CNA-prys vir Na die geliefde land, en later vir Hierdie Lewe, asook met die WA Hofmeyr-prys vir ’n Ander land (1985), die Recht Malan-prys vir Vrystaatse Erfenis (1983), Dogter van Sion (1998) en Armosyn van die Kaap (2002).

Hy kry die Hertzogprys drie keer, nl vir By Fakkellig, ’n Lug vol helder wolke en Spiraal in (1970), vir ’n Ander land in 1984, en vir Hierdie Lewe in 1995.

In 2003 word sy outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, bekroon met die Recht Malan-prys. In 2004 – 2011 volg nog werke oor die vroeë Kaapse geskiedenis uit Karel Schoeman se pen. Etlike van sy werke is vertaal in Engels, Nederlands en Duits. In 2006 ontvang hy ’n toekenning van die Departement van Kuns en Kultuur vir sy lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde. Hy sterf op 1 Mei 2017 in Bloemfontein.

 

Karel Schoeman se huis op Trompsburg

 

Teks en visuele materiaal: verskaf deur NALN

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top