Karel Schoeman (1939–2017) – herinneringe aan die buitestander

  • 6

In 1970, toe ek in my tweede jaar op Stellenbosch-universiteit was, het ek Albert Camus se L’Étranger (1942) in Engels in so ’n grys Penguin-boekie gelees, gesidder en diep verstaan – het ek tóé gedink. Dit was die tyd toe ek Gauloise wou rook en swart rolkraagtruie gedra het. Ongeveer dieselfde tyd het ek Colin Wilson se The Outsider (1956) ontdek, ’n boek wat my mateloos geboei het. Ek wou óók ’n outsider wees.

Op Kersdag 1954 het Wilson die plan vir sy boek gekry:

It struck me that I was in the position of so many of my favourite characters in fiction: Dostoevsky’s Raskolnikov, Rilke’s Malte Laurids Brigge, the young writer in Hamsun’s Hunger: alone in my room, feeling totally cut off from the rest of society. It was not a position I relished ... Yet an inner compulsion had forced me into this position of isolation. I began writing about it in my journal, trying to pin it down. And then, quite suddenly, I saw that I had the makings of a book. I turned to the back of my journal and wrote at the head of the page: “Notes for a book The Outsider in Literature”.

Toe ek einde 1972 op ’n onderwerp vir my MA-skripsie moes besluit, het die invloed van Camus en Wilson plotseling saamgeval met my enorme bewondering vir Karel Schoeman se werk: die twee novelles in Veldslag (1965) en die vyf romans wat hy tot in daardie stadium gepubliseer het:  By fakkellig  (1966), ’n Lug vol helder wolke (1967), Spiraal (1968), Op ’n eiland (1971) en Na die geliefde land (1972). Schoeman was nie een van die Sestigers nie, nie naastenby so ’n “modieuse” onderwerp vir studente as Brink, Breytenbach en Ingrid Jonker nie. Maar op sy eie manier was hy uiters intrigerend en sy deinende sinne pragtig. Tussen die MA-bedink deur het ek ’n ruk by Die Burger gewerk en Schoeman soms in Kaapstad gesien. Ek onthou ’n dag toe hy in ’n ligte linnepak met lang treë verby Mavis se kafeetjie in St Georgestraat gestap het.

My ontvanklikheid vir Colin Wilson se werk het my laat besluit dat my teoretiese belangstelling (om te probeer bepaal watter karakteriseringsmetodes karakters in romans sentraal stel en hoe) goed gekombineer kan word met ’n ondersoek na Schoeman se opvallend onopvallende hoofkarakters.

Hoe sou Schoeman te werk gaan, het ek gewonder in my inleiding tot die skripsie (wat ek nogal inderhaas voor ek Europa toe is onder DJ Opperman se leiding geskryf het):

In alle boeke van Schoeman word gefokus op karakters wat op uiterlike vlak nie ooglopend indrukwekkend is nie. Sogenaamde “sterk karaktertrekke” en die eienskappe van die tradisionele held, wat dikwels oppervlakkige aanduidings van hoofkarakterskap is, ontbreek hier. In Schoeman se verhale moet die leser soek na dié middele wat selfs ’n daadlose randfiguur die hoofkarakter kan maak.

Die nou nie so verbysterend-verrassende slotsom waartoe ek gekom het in my nogal skoolse skripsie, was:

Ten spyte daarvan dat Esther, Pieter, David, Kobus, Anton, Ruud en George nie oor uiterlik-indrukwekkende kwaliteite beskik nie, blyk dit dat selfs die mees daadlose karakter deur ’n subtiele samespel van karakteriseringsmetodes ’n hoofkarakter kan wees. (159)

In Sluiswagter by die dam van stemme (Protea Boekhuis, 2002; reds Willie Burger en Helize van Vuuren), waarin uitstekende stukke oor Schoeman opgeneem is, sien ek toe later dat “Die karakterisering van hoofkarakters in die verhalende prosa, met verwysing na werke van Karel Schoeman” (1974) die allereerste MA-verhandeling was wat oor Schoeman se werk geskryf is. Die eerste proefskrifte het in 1984 (GA Jooste) en 1998 (Renée Marais) gevolg.

Vir sy onvolprese reeks blokboeke het Koos Human my genader om oor By fakkellig (1977) en Op ’n eiland (1982) te skryf. Dit was boeiende uitdagings en my eerste publikasies. As ek nou na die lys skrywers van die blokboeke en reuse-blokboeke kyk, is dit trouens interessant om te sien hoe Human vir die “jongklomp” van destyds (byvoorbeeld staan Helize van Vuuren, Daniel Hugo, Dorothea van Zyl en Louise Viljoen se name agter op my 1982-boekie) die kans geskep het om sy aan sy te publiseer met die destydse “prof dr”-swaargewigte (oa CJM Nienaber, E Lindenberg, JC Kannemeyer, AP Grové, M Nienaber-Luiting en André P Brink).

Wanneer Koos ná jaarlikse besoeke aan die Frankfurter Buchmesse ook Amsterdam aangedoen het, het hy my gereeld vir ete genooi. By destydse restaurante soos die Bali in die Leidsestraat en ’t Swarte Schaep op die Leidseplein. Op ’n keer is ek saam toe hy vir Schoeman frokkies en sokkies (van sy, meen ek) gaan koop het by Nieuw-Engeland, ’n deftige winkel op die Koningsplein waar nou die Albert Heijn is.

In 1984 het ek aangesluit by Wits se Departement Afrikaans en Nederlands. Saam met Gerrit Olivier is ek een aand na ’n partytjie in ’n nuwe huis van JC Kannemeyer. In die loop van die aand het Kannemeyer kom sê dat Karel Schoeman my wil ontmoet. Hy blyk toe in ’n sykamer van Kannemeyer se enorme biblioteek tussen boekrakke te sit en het ’n paar mense een vir een op ’n soort oudiënsie uitgenooi. Wat ons spesifiek tydens die kort gesprek vir mekaar gesê het, weet ek nie meer nie. Ek onthou dat hy gevra het na my aanpassing in Johannesburg ná die tien jaar wat ek in Utrecht en Amsterdam gewoon het.

Tydens dié Nederlandse verblyftyd het Karel Schoeman my al soms gekontak – ek vermoed dit was via Koos Human – om hom met inligting te help. Hy het byvoorbeeld op ’n keer gevra dat ek in die telefoongidse van Haarlem en Drente soek na vanne wat baie in dié streke voorkom. Tussen my papiere is dalk nog lysies met name. Ek wonder nou of dit ten behoewe van karakters in ’n Ander land (1984) was. Ek sal moet soek.

Soos wat ek ook nou aan die rondsoek is in die korrespondensie wat ek en Karel Schoeman tussen 13 Desember 2005 en 6 Desember 2011 gevoer het. Ons het 138 briewe uitgewissel. Dit het begin met ’n navraag van my oor Anna Barry. As bibliotekaris in Kaapstad was Schoeman verantwoordelik vir die oordra van die Reitz/Barry-argief aan die Vrystaatse Argiefbewaarplek en ek het geweet dat hy en sy ma in dieselfde Koning Eduardstraat in Bloemfontein as die Reitze gewoon het.

Ek het daarna dikwels as tussenpersoon opgetree vir die betaling van dokumente wat hy geskandeer wou hê by die Nationale Archief in Den Haag. Op 29 Mei 2008 skryf hy: “Ek hou my op my oudag steeds onledig met VOC-navorsing, wat heelwat onskuldige genoegdoening gee. Hoe ’n rol dit in my afgeskaalde lewe speel, besef ek telkens weer wanneer die krag af is of die rekenaar onklaar raak.” Dit was nadat hy op dieselfde dag gevra het dat ek vir hom in “Het derde deel van de Brieven en Papieren, overgekomen van Cabo de bonne Esperance in 1707” (inventarisnummer 4057; folio 1030-1050) sou bestel “Geschrift door Adam Tas en veertien andere vrije landbouwers aan de Caap opgestelt en getekent houdende aen de vergadering der Seventiene”. ’n Ander keer, in Februarie 2010, het hy gevra na ’n dokument uit “Civile en crimineele processen van Batavia 1735-36” oor “Overspel tussen Anna Maria Keppelaar & Alexander van Bougis”. Later was onder meer dokumente oor Simon van der Stel vir hom belangrik.

Dikwels skryf hy stukkies van sy briewe in Nederlands en sê op 3 Junie 2006: “Het by die huis van ’n vriendin se dogter in Bftn vandag Nederlands gepraat met die honde (soos altyd met diere en klein kinders), en besef hoe lank laas ek dit gepraat het en as hoe ’n gemis ek dit ervaar.”

Hy het gereeld oor sy direkte omgewing geskryf. Byvoorbeeld na aanleiding daarvan dat ek op 1 Februarie 2006 my herinnering beskryf het aan ’n keer in die jare tagtig toe ek op Trompsburg was. Dadelik skryf hy terug:

My huis is in ’n lyn met die (tans swart) hoërskool, aan die rand van die dorp, in die laaste blok na die N1 se kant, met ’n onbeboude blok plus windpomp oorkant die straat en veld (tans stralend groen) aan die agterkant. Ek sou die Spiegelgracht graag weer wil sien, maar kyk op daaglikse basis tog liewers na die windpomp.

Op 18 April 2006 stuur ek vir hom twee digitale foto’s van die sneeubedekte Rijksmuseum-torings geneem uit my werkkamer en vra hom toe of hy vir my die windpomp kan stuur. Dadelik skryf hy terug: “Dat is echt het RM, hoor! Ek is diep beïndruk en ontroer.”

En verder: “Ek beskik helaas nie oor die tegniese kundigheid of apparaat vir die windpomp nie, ouderwetse woorde sal maar moet volstaan (tensy ek met my hande mag beduie).”

Uit die sy- en voorvensters van my werkkamer. Nou wag ek vir die windpomp.

Halfnege die volgende oggend land die beloofde “ouderwetse woorde” oor sy uitsig in my Inbox:

’n Reguit stofstraat met stowwerige sypaadjies, net van betonrandstene en -geute voorsien; die oorkantse berm en sypaadjie dig groen oorwoeker met onkruid na die herhaalde swaar reën van die afgelope maande. Niemand kom egter ooit hier verby nie behalwe die ou tannie met rooierige hare wat ’n paar keer per dag baie vinnig in ’n groot ou Mercedes op en neer jaag, en die nog ouer oom wat ’n paar keer ’n dag die blok af stap of strompel tot by die hoek om oefening te kry. Die huis tussen ons in, wat drie erwe volstaan, is reeds twee of drie jaar leeg en verwaarloos heeltemal.

Oorkant my venster is daar ’n groot, eweneens verwaarloosde en eweneens oorwoekerde erf waar enige jare gelede ’n bouvalle huis gesloop is en die vrugtebome en wingerdprieel intussen doodgegaan het; en hier, op die hoek, staan die windpomp, reg oor my venster, met een wiek half afgebreek sodat hy ’n klapperige geluid maak wanneer hy vinnig draai. Op die ander helfte van die blok daaragter is ’n kwekery aangelê en sien ek net gespande groen skadunet, en vandaar op ’n afstand slegs die bome van die dorp, tans besig om vinniger as gewoonlik te verkleur, met hier en daar ’n dak of verdere windpomp daartussen. Omdat my huis teen ’n effense helling staan, aan die rand van die dorp met die dorpsgrond vlak daaragter en op die hoogte bokant die spruit, sodat ons eerste die koue en die ryp vang, kan ek ook oor die bome die rante sien aan die uiteinde van die wye oop kom in die middel waarvan die dorp lê, ylblou, opalisserende heuwels, rondom kleinkatoog se blou, langs die N1 Bloemfontein toe 15 km ver. maar vandag, op ’n koue, nat, armetierige dag van modder, verstrooide blare en uitrafelende bome, is hulle wasiggrys in die verte en byna onsigbaar teen die silwergrys hemel.

Het Rijksmuseum is het nou bepaald niet; maar alles is veel voor wie niet veel verwacht, en een kinderhand is licht gevuld. Ook het Isaac en ou Elias sopas opgedaag vir hulle weeklikse sessie tuinwerk, alhoewel daar vandag nie veel te doen is nie. Die kwepers is gepluk, die rose is uitgeblom en verreën, en nou wag net die duik in die diep, roerlose donker poel van die Vrystaatse winter terwyl jy ginder kaalvoet dans in die bollevelde, tot stigting en vermaak van Duitse toeriste met kameras. Aanstaande maand sou jy die Mei van Gorter by Lisse kan opvoer, met voordrag.

Oor daardie windpomp het hy dikwels geskryf. Ek het dit self ook gesien toe ek op die oggend van 10 September 2008, ná ’n kongres by Maselspoort, besluit het om van die N1 Kaap toe af te draai en via Philippolis en Trompsburg te ry. Skielik het ek Karel Schoeman diagonaal oor einste daai “onbeboude blok plus windpomp” aangestap sien kom. Regop en rustig, met ’n wandelstok in sy hand, geklee in ’n kakiebroek met bruin baadjie, serp om en hoed op. Die vriendin saam met wie ek gery het, was stomverbaas toe ek koes en haar vra om rustig verby te steek. In die dorp het ons hom weer gewaar, by die ingang na ’n kafee. Weer het ek opsy gekyk. Die laaste wat ek sou wou doen, was om op hom af te stap en sy privaatheid te skend.

Dit was dalk een van sy laaste dae op Trompsburg. In die Kaap aangekom, het ek sy e-pos gelees waarin hy op 9 September 2008 laat weet het van sy nuwe adres in Bloemfontein.

In byna elke brief het hy iets oor die weer geskryf:

Hier was Saterdag weer onmoontlik, die hitte en gloed op die middag soos ’n vyandige mag wat die skemeragtige huis belaer. Teen die aand was daar ’n sterk, vermoeiende rukwind wat blare en stof aangewaai het en nie minder ontmoedigend was nie; maar toe ek Sondagoggend wakker word, het dit sag en innig gereën en feitlik die hele dag so aangehou, en die Suid-Vrystaat lewe weer. Maar sedertdien is dit koel en selfs kou [sic] hier op die hoogte bokant die spruit, die ligval het verander en die kwepers word al hoe intenser goud tussen die blare: die herfs het begin. (7 Maart 2007)

Na ’n warm en dorre somer skielik herhaalde reënbuie oor die afgelope maande, en ons belewe opnuut ’n pragtige herfs, met oorvloedige blomme, verkleurende bome en groot, stralende wit Vrystaatse wolke buite my venster waar ek sit en tik. En tog verlang ek dikwels na Nederland. (14 April 2008)

Besonder guur hier, na ongebruiklike verdere reën; hierdie weer laat my nie soseer dink aan Van Gogh in Nuenen nie as negentiende-eeuse afbeeldings van die Drentse heide. (29 Mei 2008)  

Steeds guur-Skotse weer in die Vrystaat met ongebruiklike reën. (3 Junie 2008).

Op 14 April 2008, wanneer hy vra dat ek dokumente oor Ryk Tulbagh vir hom soek, laat hy weet:

Ek skryf op die oomblik oor Michelangelo, net ter afwisseling, aangesien die boeke oor die VOC ophoop terwyl hulle wag op publikasie (men staat er in ZA niet juist om te springen); maar ek kan nie wag om na hierdie geliefde en vertroude onderwerp terug te keer nie, hoe interessant die Renaissance an sich ook is.

So nou en dan verwys ek na ontstellende nuus uit Suid-Afrika en beelde op die BBC, soos op 20 Mei 2008. Minute later reageer hy:

Maar op hierdie wasige, stil, ligdeurstraalde Vrystaatse laatherfsdag het daar nie eers ’n rokie van genoemde brand verby my venster getrek waar ek voor die rekenaar sit en werk nie. Ek sien geen televisie of koerant nie (behalwe af en toe die opskrifte van die Volksblad in die Sonskynkafee wanneer ek melk koop) en hoor geen radio of gerug, dus is ek salig onbewus van wat dit ook mag wees wat jou in die verre Amsterdamse lente ontstel (ten spyte van die feit dat ek oor die algemeen steeds swaar dra, en deesdae al hoe swaarder, aan die gedoemde waarheid wat niemand vra).

Vandag wonder ek baie bewuster as toe wát dié “gedoemde waarheid” was “wat niemand vra”. Oudword? Die dood?

Oor Elisabeth Eybers (hy het ’n tyd lank die onderste verdieping van haar huis aan die Van Breestraat bewoon) het ons so goed as nooit geskryf nie. Wel het ek een keer verwys na haar gedig “1 Desember” om ’n skitterende Amsterdamse sonsondergang te beskryf (24 Februarie 2006). Hy moes sekerlik geweet het dat ek ’n boek oor haar werk geskryf het, Afstand en verbintenis, en dat ek met haar bevriend was. Intuïtief het ek geweet dat ek my posvriendskap met hom nie in gevaar wou stel deur te verwys na my gereelde besoeke aan haar nie. Sy het immers in Rymdwang (1987) “Vir Karel, i.p.v. ’n brief” geskryf waarin sy verontwaardig reageer op ’n verjaarsdagwens van hom. Sy móés geweet het dat hy self die gedagte aan oudword ondraaglik gevind het. Hy móés haar gedig as kwetsend ervaar het.

Hoe moet ek terugskryf as jy keer op keer
my “moed en sterkte” toewens weens die smaad
van oud word, wat jy steeds “vernedering” noem?
Deur salwende meewarigheid gedoem
en onverbiddelik geprogrammeer
vra ek my af op watter leeftyd vind
mens louter opheffing? ’n Blote kind
moet hom soms snikkend teen vernedering weer:
Van meet af aan is die liggaam ’n riool
en bowendien ’n broeikas vir geluk.
Verkrop jou meely. Laat ons stuk vir stuk
die dae aandurf, uitkryt of gedoog
terwyl ons wag op wat nog moet gebeur.
Vernedering skuil in die aanskouersoog,
As jy lank genoeg leef word jy dalk frivool.

Eybers was 72 toe die gedig gepubliseer is en sou 92 jaar oud word. Schoeman was toe 48.

Op 19 Februarie 2007 skryf ek vir Schoeman (ek het hom soms op sy voornaam aangespreek, veral direk nadat hy myne weleens in ’n vorige brief gebruik het) dat ek Hierdie lewe en Merksteen aan die herlees was vir my lesingreeks aan die UvA oor Suid-Afrikaanse families. Ek bedank hom vir die vreugde en plesier wat ek reeds jare aan sy boeke beleef, vertel hom dat ek ontroer is deur die Eliot-aanhaling in Merksteen:

We die with the dying:
See, they depart, and we go with them.
We are born with the dead:
See, they return and bring us with them.

Minute later antwoord hy: “Dankie vir die vriendelike woorde.” En dan stel hy hom voor hoe ek by die “cv” (centrale verwarming) sit:

Met die geliefde land kan jy momenteel die beste kennis maak dmv boeke by die cv op die Weteringschans, want hier is die daaglikse werklikheid vaal, stowwerig en mistroostig. Daar was in Augustus ontydige reën en koue, en sedertdien sover ek onthou slegs twee reënbuie, die kwaaiste droogte wat ek self nog meegemaak het. Op die oomblik betrokke, vaal en koel, maar vir Woensdag word ’n temperatuur van 35 glo voorspel. Veel plezier voor de cv.

’n “Running gag” in ons briefwisseling was sy voorstelling van ’n wapperende serp wat ek sou dra terwyl ek “kruis en dwars oor die aardbol” fietsry. Hy moes dink, het hy op 18 April 2006 geskryf, aan Ethel Portnoy se gedig “Holland is headscarves wappering in a stiff breeze”. ’n Jaar later, op 14 April 2007, skryf ek, met verwysing na ’n boektitel van Oek de Jong: “Ondertussen is dit al weer binnekort Mei en onthou ek ons korrespondensie van vorige jaar in die lentetyd toe jy dag dat ek wel met opwaaiende somerjurk deur die blombollevelde sou gaan fiets.” Onmiddellik antwoord hy: “Nee, dit was met headscarf wappering in a stiff breeze. Veel plezier!”

Hy het geweet dat ek met navorsing besig was wat sou uitmond in Soos familie, dat ek inspirasie geput het uit die manier waarop hy Armosyn van die Kaap oor slawerny aangepak het. Hy begin my steeds meer vertel oor sy huiswerker:

Elisa, wat oor ’n maand ’n baba verwag en reeds in die nogal deftige MediClinic in Bftn bespreek is, het vanmiddag iets kom haal wat sy Saterdagoggend hier vergeet het, vergesel van die pleegdogtertjie Pontsho en ’n vriend, wat albei die swart hoërskool bywoon, en klein Tokelo, in Graad 3 by die blanke skooltjie; Elisa het ’n geleende motor bestuur, en gekla oor die handrem wat nie behoorlik werk nie. Tussen die rookwalms gaan die lewe in die Nuwe SA onverbiddelik voort, swaar belaai met simboliek. (20 Mei 2008)

Op 14 Februarie 2010 skryf hy:

Elisa en Jemina is susters; eg. se seuntjie Tokelo gaan na die blanke primêre skooltjie op Tr en sê vir my “oom”; Botle is die dogtertjie, nou agttien maande oud. (Het die laaste paar maande op my dubbelbed lê en slaap wanneer Elisa kom werk, en as sy lastig was nadat sy gedrink het, het ek dan met haar in die gang op en af gestap sodat Elisa kan aangaan met haar werk.) Jemina se seun Gaorate het sopas matriek geskryf; haar dogter Palesa het ’n dogtertjie Naledi net so oud soos Botle, ’n besonder stug, meditatiewe kleuter, wat ook al ’n slag kom kuier het. Al die voordele van familie sonder die nadele of verpligtings!

’n Ou dame (Engelssprekend SA) wat in die twintigerjare aan die Sorbonne gestudeer en later as geskeie vrou en moeder op die vroueplaas Boschetto by Harrismith gewerk het (trekker bestuur ens), het HL gelees en is getref deur die juistheid van ’n opmerking in die boek in die trant van “ons het nooit daaraan gedink dat ons bediendes kon liefhê nie”. Ek vrees dié instelling en mentaliteit sterwe stadig uit en is steeds onder ons.

Die motto van die eerste hoofstuk in Soos familie is ’n pragtige aanhaling uit Hierdie lewe:

Dit was dus ons gesin; maar daar was ook nog ou Dulsie, van wie ek amper vergeet het, soos mens maar geneig is om van die bediendes te vergeet, alhoewel sy by ons was so lank soos wat ek kan onthou. […] daardie gedurige aanwesigheid waaraan ek skaars nog name of gesigte kan koppel.

Gereeld het hy gepraat oor Elisa en Jemina met wie hy sy laaste reis onderneem het, na Lesotho, kort voor sy dood. Die kontak met hulle en hulle kinders was ontsettend belangrik vir hom, soos blyk uit van die laaste foto’s wat van hom geneem is.

Die laaste brief wat ek van Karel Schoeman ontvang het, was op 6 Desember 2011, na aanleiding van my dankiebrief vir die “Samevatting”-epos oor sy laaste Europese reis. Ek het dit geskryf net voor ek met vakansie Kaap toe sou gaan. Dieselfde dag het hy teruggeskryf en sy laaste woorde aan my was: “Ook vir jou ’n prettige reis en verblyf, sonskyn, hitte en gloed, en goeie wense vir die nuwe jaar. Geniet jou jeug tog terwyl jy dit het!” Ek was toe 60.

In ’n e-pos met die mooi onderwerp “Soms op ’n Dinsdag” gerig aan Francois Smith op 22 Januarie 2012 (dit was kort nadat ek vir Francois in Kaapstad ontmoet het), het Schoeman nog ingegaan op iets waaroor ek hom maande vantevore ’n keer uitgevra het: Johannes Smiesing se aantekeningboekie in die Kaapse Argief. Francois het waarskynlik aan Schoeman genoem dat ons mekaar in die Kaap gesien het en via Francois het Schoeman nog hierdie boodskap aan my deurgegee:

As jy kontak met EJ het, sê asb vir haar Rob Shell en Archie Dick het die aantekeningboek onlangs uitgebreid getranskribeer en bekommentarieer, en RS het dit vir my as Aanhangsel gestuur, maar ek het helaas vanmiddag al my ou pos uitgewis – ek probeer steeds my lewe vereenvoudig, en maak dit steeds gekompliseerder.

Die beste wat sy kan doen, is om met RS in verbinding te probeer tree: rshell@iafrica.com.

Vriendelike groete vir haar.

Ons het nie weer vir mekaar geskryf nie. Die korrespondensie was afgerond so.

Ek sal hom altyd dankbaar bly vir die gulheid, bedagsaamheid en ja, dikwels ook frivole opwinding wat uit sy briewe gestraal het, die verlange wat hy uitgespreek het: diep in die nag wanneer hy hom verbeel hoe ’n laatnagtrem op die Weteringschans onder die platane verbyskuif en die klok in die toring van die Rijksmuseum slaan terwyl die windpomp ruis langs sy huis op Trompsburg, of saggies sug, met die oop veld wyd onder die hoë sterrelug daaragter.

  • 6

Kommentaar

  • Ena, Karel Schoeman verwys in sy brief na 'n gedig uit Nuwe Verse van NP van Wyk Louw:
    Moet ek vir iemand nog iets sê
    in hierdie land
    wat luid van alle stemme is
    en blink en brand?
    of, waar die goue lug al lank
    die aasvoël dra,
    koud 'n gedoemde waarheid weet
    wat niemand vra?
    Gedurende my kortstondige vriendskap met Schoeman in Bloemfontein het hy Oek de Jong se Opwaaiende Zomerjurken vir my present gegee, met die afwysende woorde: "Nog 'n Nederlandse roman oor moederbinding en kanker." Was hy so neerhalend omdat die verhaal dalk te na aan homself gekom het - ek bedoel die deel van die moederbinding?

    • Baie dankie, Daniel! Ek besef opnuut dat ek Louw se werk nie goed genoeg ken nie. Heerlik tog dat daar altyd soveel is om nog te lees, leer en waardeer.

      • Wat het Louw volgens jou bedoel met die 'gedoemde waarheid'?
        Interessant ook wat jy vertel van Opwaaiende zomerjurken wat Schoeman vir jou present gegee het; sy opmerking kan inderdaad slaan op sy eie moederbinding.

  • Dankie dankie Ena vir hierdie onthullende en roerende huldeblyk! Alles maar alles wat Karel Schoeman vir my is, is hier verder onthul. Ek is so dankbaar dat hy jou vriendskap kon beleef en sekerlik soveel waarde daaruit kon put.

  • Wonderlike herinneringe aan 'n wonderlike skrywer. As iemand ooit 'n rede gehad het vir moederbinding was dit Schoeman.

  • Sien nou net in Die laaste Afrikaanse boek (2002 - p. 501) KS haal die gedig daar aan. Hy skryf dat dit baie by hom opgekom het terwyl hy gewerk het aan Na die geliefde land. En praat dan oor angs, onsekerheid en onkunde in SA: 'emosies wat soos kanker vreet'.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top