Karakterbou in Stephanus Muller se repliek op Marlene van Niekerk

  • 3

Onlangs antwoord Stephanus Muller op Marlene van Niekerk se stuk van Julie 2016. Die versoeking om die antwoord op sy tuisveld van hoogdrawende strooimanrepliek aan te vat, is groot, en die voorbeeld wat die stuk stel, maak dit, ironies genoeg, ’n maklike taak. Maar in stede daarvan sal ek poog om die elemente van lesersresepsie waarop hierdie verdraaiing van Van Niekerk se kommentaar staatmaak, op toeganklike en bondige manier bloot te lê.

Van Niekerk se bydrae word hier vermink en op volkome onherkenbare wyse dan weer opgedis. Die huigelagtige toepassing van dekonstruksie herinner eerder aan die kosfoefie van dieselfde naam as aan Derrida.

Hierdie literêre tegniek word saam met die vernuftige gebruik van herhaling as beklemtoningsmeganisme ingespan vir karakterbou met die oog deursigtig daarop om Van Niekerk se geloofwaardigheid te vermorsel. Oorkoepelend word daar by die leser tuisgebring dat Van Niekerk eintlik maar ’n histeriese ou tannie is wat haar hier (indien haar uitgangspunt nie veel meer sinister is nie) lompweg in ’n gesprek bo haar vuurmaakplek begewe het, ’n gesprek waarvoor die betrokke komiteelede veel beter gekwalifiseer is; en dat dit vir die besluitnemers nie nodig is om haar oningeligte posisie te oorweeg nie. Hierdie leitmotiv van die stuk is sekerlik die begryplike verdediging wat ’n mens kan verwag dat die argetipiese Redelike Man teen Van Niekerk se oordrewe beheptheid met haar eie lewensverhaal sou bied.

Die stuk weerspieël in die verbygaan die bedenklike veronderstelling dat ’n outeur se identiteit en magsposisie terloops is en nie by ’n ernstige debat ingesleep behoort te word nie; dat dít die kommentaar van die hoër vlak van die politiese sou afrem na die kombuisvlak van die persoonlike. In die proses word Van Niekerk se kenmerkende vermenging van registers implisiet as swak punt voorgehou. Die teoretiese ommekeer blyk doelbewus (en vlietend) te wees. Hierdie is die eerste instansie waarin dit sekerlik relevant is dat die skrywer besonder goed geskoold is in identiteitspolitiek, en met selfvertroue op die chauvinistiese aannames van voorspelbare lesers kan speel. Van Niekerk se persoonlike geskiedenis word nou vir die skyndoelwit van ’n meer objektiewe bespreking gestroop van haar verwysings na magsverhoudinge, ruimtelike struktuur of temporale konteks wat ’n mindere intellek as polities sou kon verstaan.

Die volgende elemente van gedrag laat die seniele Van Niekerk gestalte neem:

  • Van Niekerk kruip (lank reeds) onder haar lessenaar weg
  • Van Niekerk lewe in vrees
  • Van Niekerk gebruik gereeld die internet
  • Van Niekerk vermy vergaderings
  • Van Niekerk lees nuus
  • Van Niekerk bepleit die plant van groente
  • Van Niekerk beskryf hedendaagse studentepolitiek as populisties, intellektueel verarm, en antiorganies
  • Van Niekerk kyk YouTube.

Bogenoemde eienskappe word nie as standpunte aangebied nie, maar as onweerlegbare feite soos gesteun deur die herkonstrueerde direkte aanhalings uit Van Niekerk se eie vroeëre bydrae.

Die metaforiese rol van die verskillende karaktertrekke word nou kortliks onder die loep geneem.

In die oorvertelling is die aanvanklik funksie van die toutologiese verwysings na ’n karakter wat in vrees onder haar lessenaar wegkruip, oënskynlik om te toon dat die karakter lagwekkend is, maar kort op die hakke daarvan, dat sy waansinnig en bejammerenswaardig is.

’n Voorkeur vir gereelde internetgebruik bó die bywoon van vergaderings herinner enersyds aan ’n kluisenaar of geïsoleerde huisvrou. Hier is sy moontlik nog ’n moederfiguur vir wie die leser selfs met simpatie mag bejeën, maar nie bekwaam moet ag om aan gesofistikeerde gesprekke deel te neem nie. Hierdie kant van die karakter word verder bevestig deur haar irrasionele verwagting dat groot getalle volwasse mense, studente ingesluit, hul eie groente behoort te plant eerder as om dit aan te koop. (Laasgenoemde aanspraak is ’n manhaftige vertolking Van Niekerk se voorstel van ’n moontlike skolevoedingskema.)

Die karakter se mees anachronistiese gebruik, naamlik om nuus te lees, word andersyds ontplooi om die beeld van ’n eksentrieke oujongnooi by die leser tuis te bring. Agterdog kan nou begin posvat dat die karakter nie bloot uit voeling is met jongmense nie, maar gevolglik ook deel vorm van ’n behoudende ou garde wat geen verandering wil beleef nie.

Terselfdertyd word die spinnerakke nou op uitgeslape wyse – slegs tussen die lyne – van daardie mees onsmaaklike figuur, die Afrikaanssprekende linkse, afgestof. Die bitterheid oor die vermoedelike selfvoldaanheid van hierdie groep lê in Stellenbosch nie te diep begrawe nie. Destyds het hulle gedink hulle weet so baie, maar nou steun hulle blykbaar op YouTube vir hulle inligting. Hoe kan ’n geletterde mens wat weet hoe om die integriteit van bronne te beoordeel, hulle enigsins ernstig opneem?

Met die boustene van weersin gerieflik vasgelê, is die volgende sprong nie meer te ongemaklik nie. Die agterdog kan nou geskep word dat daar onder die progressiewes dié is wat terugverlang na ’n periode toe hulle as voorbeeld voorgehou en spesiaal geag is. Dít moet dan verklaar waarom Van Niekerk teleurstelling uitspreek oor die populistiese postuur wat hedendaagse plaaslike studentepolitiek inneem, eerder as om die gety sy stroom te laat stroom. Die moontlikheid van ’n spesifieke, inheemse, medemenslike toekomsvisie kan nou maklik van die tafel afgevee word. Die humanisme self is altemit reeds gediskrediteer.

Die suksesvolle insinuasie dat die karakter teenrevolusionêr is, kan nou uitgebuit word om die leser se bejammering met minagting te vervang, waarna die aantyging van teenrevolusionariteit uiteindelik veilig eksplisiet gemaak kan word. Die aanval is toe by uitstek ’n persoonlike een, wat boonop ’n bevoorregte begrip van identiteitspolitiek goedkoop maak.

My eie siening oor taal aan Stellenbosch-universiteit is hier: https://www.ipetitions.com/petition/nege-punte.

Lees ook

Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate

Marlene van Niekerk
Universiteitseminaar | University Seminar

"I think the plot has been completely lost, and with it the spirit of imaginative transformation. You have not understood yet that there is a very modern, pedagogically sound and intellectually progressive basis for promoting mother-tongue education and linguistic diversity and for developing and protecting minority languages."


A response to Marlene van Niekerk’s contribution to the Stellenbosch University language debate

Stephanus Muller
Universiteitseminaar | University Seminar

"I have taken a long time to write a response to Marlene van Niekerk’s contribution to the Stellenbosch University language debate, published on 20 July 2016."


In praise of the community of dirty hands: a response to Robert Greig, Marlene van Niekerk and Stephanus Muller

Johann Rossouw
Universiteitseminaar | University Seminar

"May the speakers of Afrikaans, and all other languages, who together with Ngũgĩ wa Thiong'o understand that the world begins at home, be granted the grace and courage to build new institutions of higher education that deepen a sense of community with ourselves and the other."


Robert Greig on the language debate at Stellenbosch University

Robert Greig
Universiteitseminaar | University Seminar

"Perhaps those who cherish Afrikaans, speak it, write it and exist in it would be better off considering new mechanisms to preserve it through action."

  • 3

Kommentaar

  • Etienne Viviers

    Wat op des aarde beteken "hoogdrawende strooimanrepliek"? Daar was nie 'n "strooiman" waarmee Muller gestry het nie. Hy het met Van Niekerk gestry. En daar is ook niks fout met "hoogdrawend" skryf nie. Jan Alleman se taal is nie noodwendig die ware taal nie.

  • Marianne de Jong

    Dankie vir hierdie ontleding van die onderliggende venyn in Muller se repliek op Van Niekerk. Ten minste verklaar dit iets omtrent 'n essay (Muller s'n) wat so selfbewus met sy eie struktuur speel dat dit eintlik geen werklike argument opbou nie. Gelukkig waarsku Groenewald ons ook om nie hierdie gebrek aan dink met dekonstruksie te verwar nie.

  • Puik ontleding van Muller se persoonlike aanval op Van Niekerk - toeganklik, bondig en in die kol!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top