Kaaps is nie 'n joke-taal – Robert J Pearce antwoord Nathan Trantraal

  • 2

Ek reageer graag op Nathan Trantraal se uitsprake in gesprek met Danie Marais (By,  Saterdag 3 Augustus 2013, bl 3).

Ja, Nathan, ek kan nie genoeg met jou saamstem nie: “Kaaps is nie ’n joke-taal.” Ja, Joan Hambidge is ook verkeerd om dit ’n “gangster taal” te noem. Ek kan vereenselwig met jou argwaan teen Joan Hambidge, want ek as oud-Gautenger, tans in Port Elizabeth, veg ook al jare dat die taalteoretici net kan aanvaar dat “Flaaitaal” nie ’n “Tsotsitaal” is nie, maar ook taal van die Township Intellectuals. Dit daar gelaat.

Nathan, jy is verkeerd as jy die twee gekanoniseerde swart Afrikaanse skrywers Adam Small en Peter Snyders soos volg beskuldig: “En dit is wat ek teen (die bruin skrywers) Adam Small en daai Peter Snyders het … hulle het dit ’n joke-taal gemaak. Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n f****n coon taal.”

Inteendeel, as jy net ’n bietjie van die swart Afrikaanse literatuurwetenskap opgelees het, sou jy uitvind dat Adam Small verkies om as swart Afrikaanse skrywer bekend te staan en Peter Snyders as ’n kleurlingskrywer. Verder sou jy ook uitvind wat albei te sê gehad het oor die Kaapse Klopse en ook oor Kaaps. Adam Small skryf in die naskrif in sy bundel Kitaar my kruis, 1987 (bl 83):

Ek wil net sê, by herhaling (want ek moes dit, na die verskyning van Kitaar my kruis, meermale reeds onder die aandag bring) dat Kaaps nie is wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey (sou mens dit so spel?) noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gammat-taal noem nie. Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: die volle lot, hulle volle lewe met alles wat daarin is; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skree in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.

Peter Snyders se gedigte in die mooiste Kaaps in sy bundels ’n Ordinary Mens (Of hoe?) en Waarskynlike Mens (Moedertaal) spreek boekdele van sy erns met Kaaps. Hy het ook by al drie die swart Afrikaanse simposia sy stem duidelik uitgebring vir Kaaps as ’n volwaardige taal.

Oor die Kaapse Klopse (Coons) het jy dit ook mis. Hulle maak mooi musiek, hul kostuums is pragtig en hulle is ’n aanwins vir die Suid-Afrikaanse kultuur – niks negatiefs soos wat jy insinueer nie.

Ten slotte, Nathan: Kaaps is nie net ’n krutaal nie. Gaan soek na die ongeslypte diamante daarin en lees gerus die skrywes van Leonard Koza, Diana Ferrus, Willem Fransman, Anastacia de Vries, Andrè Boezak en Patrick Petersen.

Ek dink ook jy verwar Adam Small se “Kô laat ons sing” uit Kitaar my kruis, later gebruik in sy drama Kanna hy kô hystoe as ’n Klopseliedjie – nee, dit is die Moseslied.

Skrywersgroete

Robert J Pearce

Lees "poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantraal oor Chokers en Survivors

Lees Joan Hambidge se resensie van Chokers en survivors.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top