Kaaps in fokus-referaat: Verrekening van Kaaps en ander taalvariëteite in die onderwys

  • 1

Simposium aangebied deur die Departemente Linguistiek en Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, 19–20 Julie, Bellville.

  • Bloom (1998) skryf:

South Africa is an intensely anxious society, living with many unresolved fears and collective fantasies, mush repressed anger, guilt, and shame. Many black-white relationships are unstable and ambivalent. The necessary collective healing will have to go far beyond the superficial political processes of reconciliation, reparation, and truth-seeking about the past …

  • Een van die grootste struikelblokke in Suid-Afrika is sy burgers se onverdraagsaamheid teenoor medelandsburgers se taal en kultuur. Veral taal is problematies. Die volgende skema gee ’n beeld van ons land se 11 amptelike tale:

     

(Bron: Praat hard oor taalregte. Die Burger. 22 Februarie 2011 deur Michael Le Cordeur)

Agtergrond

  • ’n Kernaspek in die aflewering van ’n kurrikulum is hóé kennis ontvang, gekonstrueer en oorgedra word.
  • Daar kan dus geargumenteer word dat die taal waarin die kurrikulum oorgedra word, sentraal staan in die kurrikulum-proses.
  • Dit is veral sigbaar in die hantering van Kaaps binne ’n veranderde Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

Probleemstelling

  • Dit is geen geheim nie dat Suid-Afrika se leerders van die swakste vaar ter wêreld en selfs in Afrika.
  • Dit is veral die geval by swart studente, onder andere op die Kaapse vlakte, waar die druipsyfer van leerders baie hoog is.
  • Dit ten spyte van Suid-Afrika se taalbeleid in skole wat stipuleer dat taal nie in die pad moet staan van leerders se akademiese sukses nie.
  • Heugh (2010): Taal is die kern is van Suid-Afrika se onderwyskrisis: “Language is the gateway to culture, knowledge, and people.”
  • Dis uiters belangrik om te besef dat die bemeestering van die taal waarin die vak aangebied word, ’n voorvereiste is om die vak te bemeester.
  • Met dit in gedagte, is die Eurosentriese karakter van ons onderwysstelsel problematies; veral die gebruik van Europese tale is ’n hindernis in die akademiese sukses van die meeste swart leerders (Vilakazi 2002:50).
  • Die leerders wat in Kaaps grootword, ervaar dieselfde probleme.

Navorsingsvraag

  • Die rol van taal (Kaaps) is krities belangrik vir die suksesvolle aflewering van die skoolkurrikulum, want dit impakteer op toelating, akademiese sukses en diversiteit, en hoe verklank ons Kaaps in terme van die Suid-Afrikaanse Grondwet (1996) wat sê elke leerder het die reg tot onderrig in die taal van hulle keuse, waar dit redelik uitvoerbaar is.

Subnavorsingsvrae

  • In hierdie opsig is die kurrikulum ten diepste verweef met die institusionele kultuur en waar laasgenoemde meestal wit en Eurosentries bly, is die institusionele omgewing nie bevorderlik vir kurrikulumverandering nie (Soudien ea 2008). Die twee vernaamste navorsingsvrae is derhalwe:

     

    Het die kurrikulum genoegsaam getransformeer om ’n bydrae te lewer tot nasionale kohesie, die sosialisering en selfagting van die leerders?

    En:

    Is die taal waardeur die kurrikulum oorgedra word, geskik om ’n getransformeerde kurrikulum daar te stel wat sy rol in ’n nuwe Suid-Afrika effektief kan vertolk?

Literatuurstudie

Lank voor die einde van die 18de eeu was die huis- en omgangstaal van baie Kapenaars nie meer Nederlands nie, maar Afrikaans (Deumert 2004:10; Van Rensburg 1989 in Botha 1989:436). Mettertyd is daar drie soorte Afrikaans aan die Kaap gepraat: Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans. Dié dialekte is oorspronklik gepraat deur onderskeidelik slawe, Khoi en die vryburgers en veeboere in die binneland (Van Rensburg 1997:7). Van Rensburg (2012) beskou dié variëteite as die historiese dialekte van die taal.

  • Kaaps speel ’n groot rol in Afrikaans se geskiedenis. In ’n veeltalige kontaksituasie het Kaaps floreer. Kaaps is ook buite die Kaapse gebied gehoor. Die taal van die vroeë vryburgerboere wys ook invloed van Kaaps.
  • Drie voorbeelde wys vroeë Kaaps is ook buite die Skiereiland gepraat. Kaaps in geskrewe tekste kom reeds in 1700 so ver soos in Namibië voor.
  • Louis Trigardt teken ’n woord uit Kaaps in sy dagboek op in die eerste helfte van 1800.
  • In die middel van die 1880’s het Eugène Marais onder andere djou by sy Bolandse skoolmaats gehoor (Van Rensburg 2012).

Die problematiek met Standaardafrikaans

Oor die begrip standaardtaal, en veral oor Standaardafrikaans, is daar al baie gedebatteer. By sommige deelnemers aan die debat is dit duidelik dat dit ’n emosionele saak is wat hervorming benodig.

  • Enige lewende taal vertoon variasie in sy struktuur op verskillende grammatiese vlakke.
  • Deumert (2004:9) sê die standaardisering van Afrikaans was ’n strategiese herskikking van die Kaaps-Hollandse taalvorme en variëteite.
  • Roberge (1990): die geskiedenis van Afrikaans hou ten nouste verband met Afrikaner-nasionalisme en die ontstaan van die apartheidsideologie. Vroeë pogings van standaardisering wou Afrikaans as witmanstaal vestig en deel maak van Afrikaner-identiteit. Ander variëteite van Afrikaans afgemaak as substandaard.
  • Waar variëteite vroeër as minderwaardige vorme beskou is, word daar vandag aanvaar dat variëteite van ’n taal gelykwaardige onderdele van dié taal is (Webb 2010).
  • Standaardafrikaans is dus een van die variëteite van Afrikaans, naas ander variëteite, wat vir die hoër funksies gebruik word.
  • Die standaard- in standaardtaal impliseer nie dat dit 'n beter (of meer korrekte) vorm van die taal is nie (Carstens 2011:282; Ponelis 1993; Van Rensburg 1997:31).

Kaaps, taal van die slawe

Kaapse Afrikaans is hoofsaaklik deur die slawe en hul nasate gepraat en het heelwat Moesliem- en Arabiese invloede bevat. Teen 1808 het Kaapse Afrikaans die grootste getal sprekers gehad – meer as 63 000 (Du Plessis 1935; Le Cordeur 2010) – waarvan die meeste slawe was, afkomstig uit Angola, Guinee, Madagaskar, die Indiese kusgebiede soos Malabar, Koromandel en Bengale, die Oos-Indiese Eilande en die Indiese Argipel. Die slawe het verskillende moedertale gehad en moes Nederlands leer om met hul meesters oor die weg te kon kom. Veral Maleis, die voertaal van Indonesië, het ’n groot invloed op Afrikaans en Nederlands gehad, omdat die VOC die opdrag gegee het dat slawe gedwing moet word om Nederlands te leer. In 1658 is ’n skool gestig waar die slawekinders Nederlands kon leer (Raidt 1991:96). Die slawe het dikwels die kinders van hul meesters opgepas. Dit was vir hulle belangrik om Nederlands te leer, aangesien slegs slawe wat dié taal magtig was, hul vryheid kon terugkoop. Gevolglik was daar teen die einde van die 18de eeu  ’n groot gemeenskap van vryslawe. Baie was ambagslui, soos kleremakers, bakkers, messelaars, skrynwerkers en kokke, en die ambagte is van geslag tot geslag oorgedra. Die meeste slawe kon ’n vorm van Portugees, bekend as Maleis-Portugees, praat. Afrikaans het egter spoedig Maleis-Portugees as lingua franca, die algemene omgangstaal, vervang. Woorde uit Maleis-Portugees wat in Afrikaans behoue gebly het, is onder andere katel, kraal, sambok, bredie, ramkie, tronk, nooi en tamaai (Hugo 2009:17; Van Rensburg 1997:11-12). Die invloed van Maleis is opvallend in die uitspraak van j as “dj”, soos in “djy” en “djille” (jy en julle).

Kaaps as skooltaal

Kaapse Afrikaans is ’n besonder lewenskragtige taal wat vandag nog in die Wes-Kaap en veral die Bo-Kaap gehoor word. Dit dien tot in die 21ste eeu nog as godsdienstaal in die Moesliem-gemeenskap (Hugo 2009:43; Van Rensburg 1989:437).

  • Volgens Van Rensburg (1997:17) was dit juis een van die redes waarom veral sprekers van Kaapse Afrikaans hulle aan die einde van die tagtigerjare van die 20ste eeu sterk uitgelaat het oor die verhouding tussen die soort Afrikaans wat hulle gepraat het en Standaardafrikaans.
  • Van hul besware was dat voorgeskrewe werke ’n ander leefwêreld voorstel as dit waaraan kinders met ’n bepaalde variëteit van Afrikaans bekend was.
  • Kinders wat met Kaapse Afrikaans grootgeword het, moes skielik al hul skoolwerk in ’n ander soort Afrikaans doen (Esterhuyse 1986).
  • Die debat herinner aan die huidige debat oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika, waar kinders ’n Afrikataal by die huis praat en dan in die skool met Engels gekonfronteer word (Ramphele 2009).
  • Ironies is dit nou die Suid-Afrikaanse regering ...wat leerders wat in Afrikaans wil skoolgaan, dwing om te verengels.” (Mediaverklaring, Afriforum, 15.2. 2012).

Die rol van die Kaapse Moesliems

Moesliem-Afrikaans is een van die vroegste soorte Afrikaans aan die Kaap, en een van die eerste Afrikaanse manuskripte was die Moesliems se Heilige Koran. Baie slawe het die Islamitiese geloof aangeneem en uit die Koran geleer om teksgedeeltes en godsdiensgebruike uit te skryf. Daar was in dié tyd ’n hoër persentasie geletterdheid onder Moesliem-slawe as onder die Nederlandse matrose (Raidt 1991:78), aangesien die slawe se Islamitiese godsdiens vereis het dat hulle die Koran en godsdienstige geskrifte moes lees. Die Kaapse Moesliem-gemeenskap begin gevolglik reeds in 1793 met die baie suksesvolle madrassa (Moesliem-skool) in Dorpstraat (Davids 2011:68). Sjeg Abu Bakr Effendi, ’n godsdiensgeleerde van Turkye wat die Kaap in 1860 besoek het, stig in 1862 sy eie madrassa op die hoek van Breë- en Waalstraat met sy vrou Tahora as hoof. Dit was die eerste skool waar in Afrikaans klasgegee is. Moesliem-kinders het hul godsdiensonderrig uit die Koran ontvang met behulp van die sogenaamde koplesboek waarin skryfoefeninge gedoen is in Kaapse Afrikaans, met die Arabiese alfabet (Hugo 2009).

Kaaps: ’n Taal vir alle transaksies

Maar ná Adam Small se eerste bundel, Kitaar my kruis, was daar heelwat kritiek op die gebruik van hierdie taal. Dit sou die bruin mense stereotipeer en was “common”. Die kritiek was ongegrond, want dit was ’n effektiewe taal van verset teen politieke onreg, soos Small se drama Kanna hy kô hystoe (1965) bewys. Small het sy kritici as volg geantwoord:

Ek sê ek praat met djou in Kaaps
Here some van my critics
het nog never in allie djare
my taal hierso geperform nie
ek sê ma net weer net soes lank gelede
die’s g’n Gamat-taal nie.
’n straight en diep taal vannie mense
waar hulle in gebore word en eerste kwyl
en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
en dan, daa' byrie final beacon vannie dood,
in sterwe
en, dja of course djy moet dit sing                     (Uit: Kitaar my kruis,1962)

Transformasie op skoolvlak

Dis duidelik dat verandering nodig is.

  • “Transformation might be understood as a process that has no beginning and no end” (Le Grange 2011:1).
  • Wanneer besin word oor veranderinge aan die kurrikulum, moet eers besin word oor wat onderwys werklik beteken en wat verwag ons moet die kurrikulum die kind leer.
  • Ook ten opsigte van uitdagings op die gebied van diversiteit, gelykheid, taal en gehalte-onderwys.

Verandering moet begin by die gemeenskap: “Building community is an essential part of the change process (Osland 2006:134).

VF+ kla oor Small se drama

Die minister van basiese onderwys, Angie Mot­shekga, het die keuse van Adam Small se drama Krismis van Map Jacobs as voorgeskrewe werk vir skoleverdedig. Anton Alberts, parlementslid van die VF+, het haar gevra of sy bewus is van rassistiese taal, godslastering, sterk taal en swak Afrikaans in die drama. Alberts wou weet wat die drama se opvoedkundige waarde en bydrae tot nasiebou is, of dit wit mense se menswaardigheid benadeel en hoe dit rym met grondwetlikheid om die drama voor te skryf. (Die Burger, 26 Mei 2012)

’n Student van die UWK antwoord die VF+ as volg in ’n opvolgskrywe in Die Burger:

Ditsem! As ’n student van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland stem ek volkome saam met Johann Maarman (“Gun Map Jacobs tog sy Krismis”, Die Burger, 28 Mei). Hy slaan so netjies die spyker op die kop oor Map se Krismis. Krismis van Map Jacobs is een van die min uitstekende dramas wat ons die voorreg gehad het om op skool te behandel. Dit vang, deur die uitstekende gebruik van Afrikaans, die uitsiglose bestaan van al die karakters vas. Die taalgebruik hierin plaas die leser in die middel van die township. Dit sal ’n skande wees as leerders die voorreg ontneem word om hierdie uitstekende drama in hul skoolloopbaan te behandel. (Meghan Lawrence, 30 Mei 2012)

Kaaps binne die raamwerk van die CAPS/KABV-doelwitte

Ons moet seker maak dat die volgende doelwitte in die nuwe CAPS (Curriculum Assessment Policy Statements) aangespreek word:

Om leerders, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond, ras, geslag, fisiese of intellektuele vermoë, toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as burgers van 'n vrye land.

Voorts moet ons vasstel of die volgende beginsels geld:

  • Sosiale transformasie
  • Aktiewe en kritiese leer
  • Hoë kennis , hoë vaardighede, progressie
  • Menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtigheid
  • Sensitief vir kwessies van diversiteit soos armoede, ras, taal, geslag, ongelykheid, ouderdom, gestremdhede ens
  • Waardering vir inheemse kennissisteme
  • Gesonde lewenstyl
  • Geloofwaardigheid, kwaliteit en doeltreffendheid.

Bekende Moesliemwoorde in Afrikaans

Kaapse Afrikaans Etimologiese oorsprong Betekenis
atjar  atjar (Mal)    Vrugteblatjang
barakat   berkat (Mal)   pakkie kos om huis toe te neem
batja  batja (Mal)  bid
bingo  Bingung (Sun)   deurmekaar
boeka       Buka (Sun)      breek die vas
djamang djambun (Sun)      toilet
kanalla karma Allah (Mal)   asseblief
labarang  lebaran (Sun)    omgangstaal vir Eid
lambar  lamar (Mal)    verloof
manien-gal meninggal (Mal) sterf


Kaaps reeds in die kurrikulum

Gedigte: Marius Titus, Peter Snyders, Adam Small.

Meer as 80 Kaapse woorde is reeds opgeneem in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS):

asser (gebedsbeurt), bai (aanspreekvorm vir ouer man), bang (die bilaal – roep ? ons tot gebed), batja (uit die Koran resiteer), boeja (vader), boeka (die vas breek), deen (geloof), djannat (hemel), djoemoea (moskeediens), do’a maak (voorbidding doen), eid (Islamitiese fees), eid moebarak (seëngroet), fietna (iemand wat skinder), gadj (pelgrimstog na Mekka), galaal of halaal (die kos is –), garaam (verbode, varkvleis is –), gatiep (assistent van imam), hadjie (iemand wat die gadj voltooi het), hak-en-tak (stry), handvol (die kinders is vandag ’n –), iblies (die duiwel), imaam of imam (predikant), inkommer, kafier (ongelowige), kanalla (asseblief), kaparrang of kaparring, karienkel (met stemglydings sing), kitaab of kitaap.

Kaapse Meosliem-idiome en uitdrukkings:

  • Aansit: sy kan baie aansit as sy praat (she is very pretentious)
  • Aspris: Jy lewe aspris. (You live without purpose.)
  • Brêggat: Jy kan mos sien hy’s ’n ou breggat. (He is a wimp.)
  • Bus: Sy is bus. (She is very busybody.)
  • Huis: Moenie huisbou nie man, kry klaar. (Do not drag it out.)
  • Kart: Ek het hom ’n kwaai kart geskiet. (I told him a good story.)
  • Ghasegh: Moet tog nie so ghasegh verkoep nie. (... look for favours.)
  • Kop: Waar kry jy daai kop? (You must be out of your mind.)
  • Kwailappie. (Well done.)
  • Laa-die-daa: Hulle is laa-die-daa-mense (... upper-class people.)
  • Laai-laai: My ouma is baing laai-laai (... has a very sharp tongue.)
  • Lag-lag: Ons het lag-lag gewen. (We won easily.)
  • Hy is onner kaarte  (He is full of tricks.)
  • Sy is tog te ougat/poenankies. (She is so cute.)
  • Poep: Hy is ’n poep-op-’n-lappie. (He is worth nothing.)

(Uit: Davids, A. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 – A sociolinguistic study. Reds H Willemse en SE Dangor.)

Opsommend

  • Kulturele kohesie (waarin taal ’n belangrike rol speel) is ’n belangrike komponent van adolessent-ontwikkeling.
  • Die taal-kwessie is ongetwyfeld een van die vernaamste uitdagings wat in die pad staan van akademiese sukses; veral die kind wat met Kaaps grootgeword het, word geraak.
  • Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het nog baie om te doen voordat alle leerders hulle sal tuis voel in ’n ubuntu van taal.
  • Die Departement van Basiese Onderwys behoort taal op ’n baie meer akkommoderende wyse te bestuur as wat tans die geval is.
  • ’n Verdraagsame houding wat taaltrots binne die raamwerk van ’n groter Afrikaanssprekende gemeenskap kweek, is die beste waarborg vir die vreedsame naasbestaan van tale en taalvariëteite.

Die 2012-Hertzogpryswenner Adam Small som Kaaps die beste op met sy nou reeds beroemde woorde (1962):

Dit is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra ... ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe gee in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal.

  • Sonder die politieke wil en geduld vir mekaar se verskille sal die ideaal van ons land se leuse

-!ke e: /xarra //ke,
(eenheid in diversiteit)

net ’n langverwagte droom bly.

 

Bronnelys

Bosman, DB. 1928. Oor die ontstaan van Afrikaans. Amsterdam: Swets en Zeitlinger.
Carstens, WAM. 2011. Norme vir Afrikaans. Enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
Davids, A. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 – A sociolinguistic study. Reds: H Willemse en SE Dangor. Pretoria: Protea Boekhuis.
Deumert, A. 2004. Language standardization and language change: the dynamics of Cape Dutch. Amsterdam: Benjamins Publishing.
DvO (Departement van Onderwys). 2011b. Grade 6 Systemic evaluation baseline assessment of literacy. Pretoria: Staatsdrukkers.
Du Plessis, ID. 1935. Die bydrae van die Kaapse Maleiers tot die Afrikaanse volkslied. Kaapstad: Nasionale Pers.
Esterhuyse,  J. 1986. Taalapartheid en Skoolafrikaans. Emmarentia: Taurus.
Heugh, K. 2006. Die prisma vertroebel: Taalonderrigbeleid geïnterpreteer in terme van kurrikulumverandering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):63–76.
Hugo, D (red). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
Le Cordeur, M. 2010. Bal die vuis vir Kaaps. Die Burger, 17 Maart, bl 11.
Osland, JS. 2006. Building community through change. In Handbook of global management, reds HW Lane, ML Maznevski, ME Mendenhall, J McNett. 2006. Oxford: Blackwell Publishing.
Ponelis, F. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.
Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. 3de uitgawe. Kaapstad: Nasou.
Roberge, Paul T. 1990. The ideological profile of Afrikaans historical linguistics. In John Joseph en Talbot J Taylor (reds). Ideologies of language. 131-49. London: Routledge.
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1996. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Nr 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.
Small, A. 1962. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM.
Soudien C ea. 2008. Report of the Ministerial Committee on Transformation and Social Cohesion and the Elimination of Discrimination in Public Higher Education Institutions. Pretoria: Departement van Onderwys.
Van Rensburg, MCJ (red). 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik.
Van Rensburg, MCJ. 1995. Oor Afrikaans se kreoolse status. In Bosman, N (red). ’n Man van woorde – Feesbundel vir Louis Eksteen. Pretoria: JL van Schaik.
—. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Vilakazi, HW. 2002. African indigenous knowledge and development policy. Indilinga: African Journal of Indigenous Knowledge Systems 1:2.
Webb, V. 2010. Constructing an inclusive speech community from two mutually excluding ones: The third Afrikaans language movement. Tydskrif vir Letterkunde, 47(1):106–120.

  • 1

Kommentaar

  • Elna Ackerman Kunz

    Dankie vir hierdie insiggewende inligting. Ek's gillend mal oor Afrikaans, wil graag die Afrikaanse pad terugstap tot in die kern van sy ontstaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top