Kaaps en (her)standaardisering

  • 1

Hierdie onderhoud is gebaseer op twee LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikels:

Menán van Heerden het met Ernst Kotzé gesels oor Kaaps en die reeds lank gedebatteerde kwessie, die herstandaardisering van Afrikaans.

Candice Jantjies argumenteer dat Kaaps deel van die standaard gemaak moet word. Maar volgens Achmat Davids is Kaaps histories vóór Standaardafrikaans as skryftaal aangewend via die Arabiese-Afrikaans skryftradisie van die Kaapse Moesliems. Waarom lyk Standaardafrikaans so anders as Kaaps?

Hoe sou ’n mens Kaaps met Standaardafrikaans as taalvorme kan vergelyk? Kaaps is in ’n groot mate ’n omvattender kode, linguisties gesproke, as Standaardafrikaans, in die sin dat dit, veral leksikaal, ’n samesmelting van twee tale behels wat naas mekaar gebruik word. Dit word uitvoerig ondersoek en ontleed in Kay McCormick se doktorale tesis, “English and Afrikaans in District Six: a sociolinguistic study” (UK, 1989). Die omlyning van die leksikon van die twee variëteite van Afrikaans oorvleuel in sekere opsigte, maar verskil ook grootliks in ander. Daar is byvoorbeeld bepaalde kategorieë in Kaaps waar Afrikaanse woorde deur Engelse woorde vervang is, en die Afrikaanse woorde óf as hiperformeel beskou word, óf heeltemal onbekend is. Aan die ander kant is daar leksikale items in Kaaps, Afrikaanse items, waarvan die semantiese waarde nie presies ooreenstem met wat in Standaardafrikaans verstaan word nie, of ook heeltemal onbekend is. As sodanig is daar dus sprake van sustervariëteite wat in wisselende mate onderling verstaanbaar is, en dus nie optimaal verstaanbaar is vir diegene wat nie Engels magtig is nie. Standaardafrikaans word hoofsaaklik gekenmerk daardeur (1) dat daar vaste reëls vir die spelling van woorde bestaan, (2) dat die leksikon ’n voorkeur vertoon vir woorde van Germaanse herkoms wanneer daar Romaanse ekwivalente bestaan (waarvan heelwat soms verkeerdelik as leenwoorde uit Engels beskou word), asook Oos-Indiese en inheemse tale, (3) dat dit bepaalde reëls vir die grammatika vertoon, en (4) dat leenwoorde uit ander tale óf in die oorspronklike vorm behou, óf reëls vir die transliterasie van sulke leenwoorde gebruik word. Hoewel daar bepaalde voorskrifte vir die uitspraak van woorde bestaan, het dit meestal betrekking op klemplasing, en kom daar ook groot variasie voor. Die kerneienskap van standaardtale (en dus ook Standaardafrikaans) is dat dit oor die grootste moontlike taalgebied gebruik moet kan word en dus onderling verstaanbaar moet kan wees vir die grootste moontlike aantal sprekers (bv as onderrigtaal en medium van wetenskaplike en tegniese diskoers).

Candice Jantjies maak ’n aantal baie geldige stellings oor die probleme om Kaaps vir nie-ekspressiewe doeleindes (dus as akademiese en wetenskapstaal) te standaardiseer. Een daarvan is die “eindelose moontlikhede vir die spelling van slegs een leksikale item in die enorme leksikon van Kaaps”. Dit lê in die aard van ’n standaardvariëteit dat daar groot reduksie moet plaasvind om ’n gemeenskaplike norm te vind. Daar is die bekende voorbeeld van die spelling van baie, waarvoor daar ’n groot verskeidenheid variante bestaan het in Patriotafrikaans en die taal van Ons Klyntji (soos bajangbaiingbaja en ander). Die rede is dat die standaardvariëteit in wese ’n spellingvariëteit is en nie die uitspraak van verskillende sprekers weerspieël nie.

’n Meer spesifieke probleem is die wyse waarop leenwoorde uit Engels in die spelling geakkommodeer sou moes word. In alle tale waar leenwoorde uit verwante tale (bv ook dié wat die Romeinse alfabet gebruik) in die leksikon geïnkorporeer word, is daar ’n neiging om so na as moontlik aan die brontaalvorm te bly, en doen aanpassings om die spelling eerder by die ontvangertaaluitspraak te laat aansluit, taamlik kunsmatig aan. Engelse woorde wat in Standaardnederlands geakkommodeer word, bly byvoorbeeld herkenbaar as komende uit Engels. Daardeur word variasie in die spelling ook grotendeels beperk.

Nog ’n probleem met betrekking tot spelling is dat fonologiese prosesse in die uitspraak van opeenvolgende woorde ook nie in die spelling van die standaardtaal weerspieël word nie. Wanneer sulke fonologiese prosesse wel in die skrifvorm weergegee word, is die doel daarvan gewoonlik (a) om ’n komiese effek te bereik, (b) om ’n sosiale stelling te maak, of (c) om die spreker/skrywer volgens sy/haar uitspraak te lokaliseer/identifiseer. Dit sien ons byvoorbeeld in die spelling van strandhuisname (Kanniklani, Willie meri, ens) of dialoog in verhale (“oppie jop”), ens. ’n Mens sou moes aanvaar dat die aard van ’n standaardtaal nie deur uitspraak bepaal word nie, maar eerder die seleksie van woordeskat en die keuse van bepaalde grammatiese vorme (morfologies en sintakties). Afhangende van die styl van ’n bepaalde teks kan die standaardspelling op ’n hele verskeidenheid maniere uitgespreek word (op z’n Oranjerivierafrikaans, Kaaps, Bolands, Noordelike Afrikaans, Engels-Afrikaans, ens). Die poging om die andersheid van Kaaps te beklemtoon deur die uitspraak deur die spelling weer te gee, is waarskynlik ook een van die redes waarom die verskille tussen die twee variëteite so opsigtelik is. Die wyse waarop ’n bepaalde uitspraak in die skryfvorm van Kaaps weergegee word, is ’n probleem wat ook deur oa Blignaut (2014) en Willemse (2012) uitgelig is.

Omdat standaardtale as spesifieke register van ’n taal oor ’n lang tyd vasgelê (of gekodifiseer) word, en die geskrewe vorm vir die grootste aantal gebruikers toeganklik moet wees, is dit ’n vorm wat in oorleg met alle gebruikers wat daarvan gebruik wil maak (bv as onderrigmedium in skoolhandboeke, wetenskaplike publikasies, taalkursusse, ens), tot stand moet kom. Die skrywers van sulke publikasies moet dus ’n ooreengekome vorm gebruik wat konsekwent oor die hele taalgebied toegepas moet word. In die ontstaansgeskiedenis van Standaardafrikaans is “oorleg met alle gebruikers” kennelik ’n leemte wat ’n hoë prioriteit moet wees by die hantering van taalnormering vorentoe.

Kyk hier na 20 inskrywings vir LitNet se Bybel in Kaaps-kompetisie, met taalgebruik wat van inskrywing tot inskrywing verskil.

Hoe gaan mens prakties te werk om, soos Frank Hendricks en Anastasia de Vries dit stel, ’n heterogene en dinamiese spreektaalvariëteit soos Kaaps skriftelik voor te stel?

Ek is betrokke by die Bybelgenootskap se nuwe vertaling in Afrikaans, getitel Die Bybel: ’n Direkte Vertaling, en daaruit kan ’n mens heelwat lesse oor taalvariasie leer. ’n Opvallende kenmerk van Bybelvertaling in Afrikaans is die wye verskeidenheid vertalings wat beskikbaar is, en wat afgestem is op verskillende behoeftes van die teikenlesers, wat strek van Kinderbybels tot multitalige Bybels en Bybels vir studiedoeleindes. Daarby verskil die tekstipes van die Bybel grootliks van mekaar – van heel ingewikkelde poëtiese passasies en wysheidsliteratuur tot narratiewe, byvoorbeeld die skeppingsverhaal. LitNet se Bybel in Kaaps-kompetisie lê ook hierdie variasiebeginsel bloot, en is vir my nie ’n poging tot standaardisering nie, maar eerder die ontsluiting van die inhoud in ’n vorm wat vir die betrokke teikenlesers toeganklik is. As ’n mens hierdie tekste sou vergelyk met imam MA Baker se Afrikaanse vertaling van die Heilige Qur’an, is dit duidelik dat die styl wat daarin na vore kom, ’n soort standaard nastreef wat op die vlak van spelling nie ’n bepaalde uitspraak probeer weerspieël nie, maar wel die religieuse woordeskat en grammatika van dit wat in die spreektaal bekend is. Die teikenlesers is waarskynlik ook met die Arabiese teks bekend, en verwag dan ook dat die styl moet ooreenstem met dié van die oorspronklike teks. In dié opsig verskil die taalgebruik van die inskrywings vir die LitNet-kompetisie, aangesien dit primêr daarom gegaan het om die inhoud (’n narratiewe teks) as ’n verhaal voor te stel in die spreektaalregister van die teikenlesers. Om skriftelike beslag te gee aan Kaaps, is dit nodig om die voorgenome teks te laat ooreenstem met die register van dit wat gekommunikeer moet word, met inagneming van wat die pragmatiese doel daarvan is (bv om te vermaak, in te lig, geestelik te stig, te oortuig) en wie die teikenlesers is. Dit sal dan die keuse uit die wye verskeidenheid uitdrukkingsmoontlikhede bepaal wat in Kaaps bestaan.

Daarmee saam, hoe definieer jy die herstandaardisering van Afrikaans en hoe gaan mens prakties te werk hiermee?

Herstandaardisering van ’n taal is daarop afgestem om ’n nuwe standaard neer te lê wat ’n reeds bestaande standaard vervang (vgl Ponelis 1992:76). As dit op Afrikaans as unitêre begrip van toepassing gemaak sou word, sou dit beteken dat daar oor ’n aansienlike tydperk gewerk moet word aan die opstel van terminologieë vir die hele spektrum van vakgebiede om die bestaande terme geleidelik te vervang, en dat alternatiewe grammatikaboeke ontwikkel word wat voorsiening maak vir die kodifisering van norme wat aan die nuwe standaard gestalte gee. Dit is uiteraard ’n proses wat oor ’n betreklik lang tydperk plaasvind, en taalpraktisyns sal dan ook die geleentheid moet kry om op hoogte te kom van (aanvanklik) alternatiewe terme en strukture, en dan mettertyd voorkeur te gee aan die nuwe standaard. Aangesien daar ’n aansienlike komponent Engelse woorde geselekteer moet word (as die nuwe standaard hoofsaaklik op Kaaps geskoei word), moet daar ook duidelike riglyne wees watter sodanige woorde die bestaande Standaardafrikaanse ekwivalente behoort te vervang. Dit is ook belangrik vir taalonderrig op skool, aangesien ’n standaardvorm die hele taalgebied moet bedien waarin die taal verstaanbaar is en gebruik word, en daar uiteraard dele van die Afrikaanse taalgemeenskap is waar Engels as spreektaal betreklik onbekend is. Die skoolvlak is waar ’n proses van herstandaardisering sou moes begin, waarna dit dan na alle vlakke deurgevoer moet word. Gegewe die druk wat tans op die onderwyserskorps uitgeoefen word om deur die bestaande leerplan te kom, sal niemand kwalik geneem word wat bedenkinge het oor die potensiaal om in die nabye toekoms ’n effektiewe proses van herstandaardisering van stapel te stuur nie.

’n Alternatiewe benadering is dié van die standaardisering van Kaaps as taalvorm uit eie reg, wat ook voortspruit uit Candice se waarnemings in dié verband. Om prakties te werk te gaan, sou ek dus wou voorstel dat die standaardiseringstappe wat deur Haugen (1974:110) geïdentifiseer is, naamlik (1) normseleksie, (2) formele kodifisering, (3) funksie-uitbreiding en (4) aanvaarding deur die taalgemeenskap, ook hier van toepassing gemaak word.

Hierdie stappe hoef nie noodwendig in die genoemde volgorde gedoen te word nie, maar kom almal op ’n stadium aan die beurt. Om dit te implementeer, moet daar ‘n begin gemaak word met die vasstelling van leksikale en ortografiese norme deur kundiges, iets wat via ’n gesaghebbende publikasie bekendgestel word, en moontlik ook via die media. Die funksies waarvoor Kaaps gebruik kan word (en spesifiek vir formele doeleindes, soos onderrigmateriaal), moet geïdentifiseer word en dan in ooreenstemming met die norme waarop ooreengekom is, beslag kry in die vorm van tekste wat aan die taalgemeenskap beskikbaar gestel word. Die hele proses moet interaktief wees, sodat terugvoering deur die gemeenskap geïnkorporeer kan word en aanvaarding daarmee gepaard gaan. Op so ’n wyse sal Kaaps as gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans nie net as spreektaal nie, maar ook vir nie-ekspressiewe doeleindes deur die grootste moontlike aantal gebruikers daarvan gebruik kan word.


 

Bibliografie

  • Blignaut, J. 2014. ’n Ondersoek na die taalgebruik in Son as verteenwoordigend van Kaaps [Intyds]. Beskikbaar: http:hdl.handle.net/10019.1/86542.
  • Haugen, E. 1974. Dialect, language, nation. In Pride en Holmes 1974.
  • Ponelis, FA. 1992. Standaardafrikaans in oorgang. In Webb (red.) 1992.
  • Pride, JB en J Holmes. 1974. Sociolinguistics. Harmondsworth: Penguin Education.
  • Webb, VN. (red). 1992. Afrikaans ná apartheid. Pretoria: JL van Schaik.
  • Willemse, H. 2012. Soppangheid vir Kaaps: Oor mag, kreolisering en Kaapse Afrikaans. Lesing gelewer tydens simposium “Kaaps in fokus”, 19–20 Julie 2012, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

Lees verder

  • Kotzé, EF. 2007. Die betroubare woord: ’n beskouing van Arabies-Afrikaanse, Maleierafrikaanse en Kaaps-Afrikaanse tekste as fonologiese bloudruk vir hedendaagse Praatafrikaans. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, II(2):107–19.
  • —. 2016. Die historiese dinamika van Kaaps – toe en nou. In Frank Hendricks en Charlyn Dyer,  Kaaps in fokus, ble 37–48. Stellenbosch: SUNMedia.

 

Lees verder op LitNet en Voertaal

  • 1

Kommentaar

  • Dit is uiters vreemd dat Gerda Odendaal se deeglike en onlangse werk ('n proefskrif en etlike akademiese artikels) oor herstandaardisering glad nie hier klink nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top