Kaaps: deel van die standaard?

  • 7

Candice Jantjies

Ek gaan met die deur by die huis inval; die huidige standaard van Kaapse Afrikaans as skryf- en akademiese taal maak my bang. Met ons gebrek aan gestandaardiseerde taalnorme en -reëls, hoe kan ons akademies voortbou en Kaaps as onderrigtaal in skole implementeer? As ons kyk na die diverse en invloedryke nalatenskap van hierdie simbiotiese taalvariëteit van Afrikaans, behoort ons onsself vir ons nalatigheid teenoor Kaaps te skaam.

Om enige misverstande te vermy: ek is ʼn Kaapse patriot met ʼn gewortelde liefde vir my moedertaal – Kaaps. Natuurlik is die vooruitgang daarvan vir my van groot belang, maar so ook is die gehalte en volhoubaarheid van daardie vooruitgang. Nie net vir my nie, maar vir elke moedertaalspreker van Kaaps met die behoefte aan en die reg op kwaliteitonderrig in hulle moedertaal.

Kaaps is nie net ’n simbiose van die Afrikaanse taal en kultuur nie, maar ook een van die oudste variëteite daarvan. Met dit gesê, bring dit my tot die volgende vrae: Waarom is Kaaps so onderontwikkeld as skryf- en akademiese taal? Waarom is daar nog nie ʼn stel gestandaardiseerde spel- en taalreëls daarvoor ontwikkel vir die toepassing daarvan as skryf- en onderrigtaal nie? Word die waardigheid van Kaaps as skryf- en akademiese taal dan so ondermyn, ten spyte van die ryk invloed daarvan op die Afrikaanse kultuur? Van die mees akademies gevorderde tale, soos Engels en Arabies, het ʼn invloed uitgeoefen op Kaaps, maar steeds verskyn dit op skrif in ʼn lukrake grammatika.

Dit is my probleem met Kaaps as skryftaal – baie skrywers van Kaaps volg weinig spel- en taalreëls na en maak staat op die manier waarop hulle praat. Maar is die manier waarop hulle skryf werklik ’n korrekte refleksie van Kaaps as omgangstaal?

Jolene Blignaut (2014:49) noem ook met verwysing na Willemse (2012:5) dat die huidige gebruik van Kaaps in die geskrewe vorm die waardigheid daarvan as skryftaal ondermyn. Willemse verwys hier volgens Blignaut (2014:49) spesifiek na die gebruik van die oogdialekstrategie in die Kaapse literatuur, waar woorde nie ’n “presiese fonetiese transkripsie is nie”, maar eerder ’n “idiosinkratiese skepping van die skrywer om die klem op die afwykende taalgebruik van sy karakters te laat val”.

Ek stem saam dat die gebruik van Kaaps as skryftaal in sy huidige formaat die waardigheid daarvan ondermyn, maar ons kan nie regtig skrywers daarvoor blameer as hulle nie eers ’n gestandaardiseerde platform vir die skryf van Kaaps het om mee te begin nie. Ek sê dit met ’n swaar hart, maar die waardigheid van Kaaps as skryf- en akademiese taal word ondermyn as gevolg van ons gebrek aan ’n standaardformaat. Dit laat my twyfel of ons hoegenaamd gereed is om Kaaps as onderrigtaal in skole te implementeer. En indien Kaaps wel in sy huidige formaat as onderrigtaal sy begin kry, wat word van die strengheid op spelling en grammatika wat kenmerkend is aan die skolekriteria vir Afrikaans? Val dit deur die mat? Vir my as iemand wat my belangstelling in en liefde vir Afrikaans ontwikkel het deur deelname aan spelkompetisies, is dit moeilik om te aanvaar. Vergewe my as ek voorkom as net nog ’n “Jan Rap”, maar na my mening is dit op die gebied van spelreëls waar Kaaps se grootste gebrek aan standaard lê. Met soveel subvariëteite en dialekvariasies is daar eindelose moontlikhede vir die spelling van byvoorbeeld slegs een leksikale item in die enorme leksikon van Kaaps. Al manier waarop ons sprekers van alle subvariëteite kan akkommodeer en waarde aan Kaaps kan heg as skryf- en akademiese taal, is deur ’n standaardformaat. Maak Kaaps deel van dié standaard – Standaardafrikaans. Dit is die gedagte waarmee ek my argument vir eers laat, in die hoop dat dit gesonde debat sal uitlok by diegene met ’n gevoel teenoor die onderwerp.

 

Bronnelys

Blignaut, J. 2014. ’n Ondersoek na die taalgebruik in Son as verteenwoordigend van Kaaps [Intyds]. Beskikbaar: http:hdl.handle.net/10019.1/86542.

Willemse, H. 2012. Soppangheid vir Kaaps: Oor mag, kreolisering en Kaapse Afrikaans. Lesing gelewer tydens symposium Kaaps in fokus, 19-20 Julie 2012, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

 

 

 

  • 7

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Candice, dankie vir jou sinvolle pleidooi in uitstekende Standaardafrikaans. Willemse se 2012-toespraak is hoofstuk 5 (p 71-82) in die bundel, Kaaps in fokus (Stellenbosch: Sun Media, 2016, 145p, R225), met Frank Hendricks en Charlyn Dyers as redakteurs. Met die oog op die oorlewing van Afrikaans is dit noodsaaklik dat Kaaps van sy groot Engelse komponent ontslae moet raak. Dan sal Kaaps in groter mate in Standaardafrikaans aanvaar kan word.

  • Gaan standaardisering nie die kreatiwiteit van Kaaps beperk nie? Dis mos juis sy aantrekking.

    • Wilhelm Fourie

      Standaardisasie sal nie kreatiwiteit beperk nie. Natuurlik het alles voor- en nadele. Dis soos 'n een-persoon-maatskappy wat baie suksesvol is. Om te kan groei moet die maatskappy strukture skep en sake formaliseer. Die besigheid kan ook kies om die status quo te handhaaf wat dit dinamies maak, maar nie groei bo 'n sekere punt moontlik maak nie.

  • Wilhelm Fourie

    Dis 'n uitstekende artikel! Kaaps kan die heel belangrikste dialek van Afrikaans word en baie invloed op Standaardafrikaans uitoefen. Dit moet egter 'n mate van stadaardisasie deurgaan. Dit sal die skryf van letterkunde in Kaaps 'n ongelooflike hupstoot gee.

  • Kaaps ebonetics in Amerika ideologies opgestel teenoor Standaardafrikaans soos AP Brink gesê het. Dit kan eers gedy as taal wanneer daar van die politiese neiging ontslae geraak word. Dit sal opoffering van sy sprekers vra om die spelling te standaardiseer.

  • Kaaps was nog altyd die taal aan die Kaap. Afrikaans het daaruit ontstaan agv standaardisering. Anglisismes is uitgeroei; jy mag nie meer praat van 'n juts nie, nee, dit het nou 'n regter geword, ens. 'n Grammatika en woordeboeke is vir Afrikaans geskryf, asook spelreëls. En siedaar! jy het 'n AB-taal wat ook sommer een van die amptelike tale geword het.

    Tot 'n mate het kreatiwiteit daaronder gely, want gedurig wonder die spreker of hy nou reg of korrek gepraat het. As 'n Engelse woord inglip omdat hy nie die korrekte Afrikaanse woord kan onthou nie, dan word daarvoor om verskoning gevra: "verskoon tog die woord."

    Kaaps is so gemaak, en so gelaat staan; dus nie 'n dialek van Afrikaans nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top