Kaalvoet oor die highway

  • 1

Die skrywers Clinton V du Plessis en Afred Schaffer het mekaar by Cradock se Olive Schreinerfees raakgeloop en 'n gesprek het posgevat wat eenvoudig op LitNet voorgesit moes word ... Hulle durf die tog kaalvoet oor die highway aan.

Alfred:

Hallo Clinton!

Dit is nou kort terug wat ek op Cradock se Olive Schreiner-fees mog optree, maar dit voel na ’n leeftyd terug. Tyd gaan vinnig when you’re having fun. Ek onthou die pragtige, liewe hond in die Victoria Manor, en die vuurmaakplek, die heerlike wyne en die bitter koue. Maar ek onthou ook jou stories, oor dat daar steeds ’n skeiding is in die lewensomstandighede, met die ryk (wit) woonbuurt, en die swart en die bruin woonbuurt. Oor die probleme waarmee jongmense daar sukkel, ook al is dit minder sigbaar as in byvoorbeeld Kaapstad. Jy is binnekort weer in die Kaap – op ’n manier ’n ander wêreld. Hoe voel dit vir jou om te bly waar jy bly? Wat beteken Cradock, die Oos-Kaap en die Karoo vir jou en vir jou gedigte? En eet jy eerder by die Wimpy, of by Steers?

Clinton:

Alfred, dit was inderdaad opwindend om na jou te kon luister, fabrieksgeheime te hoor! Ek is rustig en gelukkig waar ek woon, in die ou bruin buurt. Ek het nie die post-’94-eksodus na die sogenaamde dorp gevolg nie. Hier woon ek tussen mense wat nie noodwendig die beamptes in beheer gaan bel as jou hond in die nag bietjie erg blaf nie – ek het geleer om daardeur te slaap. En sou die buurman se boom effe blare mors oor die heining, dan sny jy net die oorhangtak af, en geen haan kraai daarna nie, of as die appelkoosboom na jou kant toe oorhang, dan pluk jy die vrugte.

Ek onthou altyd, tydens my verblyf en werk in Johannesburg, die terugvlieg na Port Elizabeth, en hoe die landskap verander as jy inkom oor die see om te land. Daarna die reis per motor of trein binneland toe. Dit is soms goed om weg te gaan, want jy waardeer die ooglopende meer as jy vir ’n tyd sonder dit moes gaan. Die isolasie op die platteland, dan Cradock, werk positief in op my skryfwerk, veral gedigte, terwyl ’n stadsmilieu my prosa stimuleer.

Dan is daar ook die wye hoofpad deur Cradock, wat veral op Sondae daardie beeld oproep waarvan David Kramer sing in “Hekke van Paradise”:

The streets are wide, there’s always room to park
Ja this is where I spent my teens
In this dirty town
That the council cleans.

Ek hou daarvan om in ’n plek te eet waar ek ’n uitsig het, na mense en hul eienaardighede kan kyk, en by Steers (op Cradock altans) het jy definitief ’n beter uitsig.

Maar jy is self ook ’n man tussen twee wêrelde?

alfredb240Alfred:

Tussen twee werelden inderdaad, dus eigenlijk in niemandsland. Nou ja, dat valt ook wel weer mee, maar ik hoop dat ik over een paar jaar niet meer zo rusteloos ben. In my geval is rusteloosheid nie ’n goeie plek om uit te skryf nie – ek meen, ek skryf, maar die proses is baie fragmentaries. Dit klink vir my eintlik baie lekker om soos jy daar op Cradock te kan sit en jou werk doen, die ruimte om jou, en die nabyheid van die kosmos. Die kosmos is darem al baie nader aan Kaapstad en die omgewing hier, met sy berge en see, as in Nederland. Daar is nul komma nul kosmos, alhoewel, daar is tog wel dele waar nie huise is nie, met ’n bietjie bos, netjiese rye bome, en velde. Die duine daar en die sogenaamde Waddeneilanden is eintlik nog die mooiste – nie so idillies nie, maar wel mooi, woeste natuur. Ek mis eintlik veral, as ek wel in so ’n bui is, die groter Europa – Berlyn, Brussel, Istanbul en veral Parys. Dis ook ’n soort van kosmos, tog. Met mensehande gemaak, maar op ’n volkome mitiese wyse, asof dit altyd al daar was. Daar is ’n klein plekke in die Rue Gay Lussac waar ek altyd gesit en skryf het – te midde van mense en geraas maar ook weg van dit. En dan om te dink dat daar skrywers is wat die luukse het van twee of drie huise regoor die wêreld – heerlik, man!

Dis amper asof mens heeltyd ’n bietjie dronk is as jy tussen wêrelde beweeg, en veral tussen tale, en dan veral tussen Afrikaans en Nederlands. Ek is nou juis besig met die laatste paar maande skryf aan my nuwe boek, en partykeer dink ek: Is dit Nederlands of Nederkaans?

Ek begin ook merk dat my literêre smaak verander van sterk hermetiese digkuns na meer “toeganklike” tekste; miskien hang dit ook met die taalkwessie saam. In Nederland word baie divers geskryf, maar die meer “hermetiese” poësie het wel ’n sterk tradisie. Dit bly mooi en interessant, maar dit voel asof ek dit, hier, met my Afrikaanse studente en net ’n tree weg van Elsiesrivier, Grassy Park of Delft, nie meer kan verantwoord nie.

Maar ag, dis alles fases nè. Daar kom seker ook nog ’n fase waar ek van koeksisters gaan hou en van rugby. Alhoewel, ek ondersteun tog wel vir die Cheetahs! Ek het hulle onlangs gaan kyk in Nuweland. Maar toe het “ons” nogal verloor teen Province – ek kon nie altyd lekker uitmaak wat aangegaan het op die veld nie, maar ek het die telling darem baie goed verstaan.

Is jy ’n sokkerman of ’n rugbyman – of is pingpong meer jou game?

Clinton:

Om by jou laaste vraag te begin. Ek het nog na rugby geluister (toe dit op radio uitgesaai is), dit op televisie gekyk en noukeurig gevolg toe die manne vir 80 minute enduit kon speel. Spelers is nie elke tien of twintig minute omgeruil nie! Maar dit was dan ook die era voordat dit ’n voltydse beroep kon wees, voor die borge en die tjekboeke die spel onvoorwaardelik verander het. Geld neuk baie dinge op. Die spel het sy bekoring vir my verloor. In my hele lewe was ek nog net een keer by ’n toetswedstryd – destydse King's Park in Durban. Dit was ’n Suid-Amerikaanse span en Naas Botha het toe nog vir Suid-Afrika gespeel. Ek hou meer van sportsoorte waar jou sukses afhang van jou inset as individu en nie saamhang met ’n spanpoging nie. Seker maar die ding van outsiderskap – ook in my skryfwerk. Ek hou veral dan van atletiek. Ook die marathon-atleet. Die lang ure alleen se oefen op die pad teen die steiltes sluit vir my aan by die sit by die lessenaar en die stoei met woorde se ewe steil op- of afdraande.

Jy praat ook oor die hermetiese digkuns. Amanda Lourens het in ’n Versindaba-resensie oor my bundel, Rangeer, geskryf dat ek ’n “verteerbare soort poësie” skryf. Ek het dit nie teen die hermetiese poësie nie, maar vind dat dit soms gebruik word om die poësie in ’n akademiese, afstandelike ivoortoring geïsoleer te hou, asof dit dan net vir ’n sekere tipe leser toeganklik sou kon wees. Daar is ruimte vir albei – ek probeer meer “gewone” lesers bereik.

Jou opmerking oor die rusteloosheid – die weifel tussen twee tale. Ek het dieselfde verhouding met Afrikaans, juis omdat die bruin sprekers altyd so ’n effe eenkantstaan-benadering tot die taal gehad het. Ek is in my diepste wese Afrikaans, maar ek kon my nie noodwendig ten volle uitleef binne die Afrikaanse konteks nie. Jy deel ’n taal, maar jy mag nie noodwendig hoort, behoort nie. Dit doen dinge aan ’n mens, maar later verwerk jy dit tog, op ’n manier.

In die veronderstelde “kleurlose ruimte” van ’n Nederland, het jy as iemand van ’n “gemengde afkoms” daardie selfde tipe skisofrenie ondervind?

Alfred:

Ja nee, ek hoor jou oor die ooreenkoms tussen die stryd en alleenpad van ’n atleet en die van ’n skrywer. Self is ek mal oor sokker – ek het vroeër gedink ek gaan ’n professionele sokkerspeler word. Ek het nog ’n heel kort tydjie by ’n klub uit die eerste divisie se jeugafdeling geoefen – FC Den Haag. So, die skrywery is vir my eintlik ’n bietjie aweregs – ek hou eintlik van team sports, alhoewel die skryfproses ’n baie dierbare en ernstige saak is. Toe ek in die onlangse jare weer in Amsterdam gebly het, het ek nog in ’n band gespeel – Naar Tevredenheid – op klavier. Ons het bekende Nederlandstalige gedigte op eie komposisies gesing en opgetree. Dit was vir my soveel lekkerder, om saam iets te kreëer. Ek het self ook nog ’n liedjie vir die band gekomponeer, op ’n gedig van die Nederlandse digter Nachoem Wijnberg, met die titel “Liedje”.

Om saam met die ander die stemme en die arrangemente te bedink, dit was gewoonweg fantasties.

Liedje

Hoe kan ik laten zien
dat ik mij herinnerd heb
hoe jij bent, kijk maar
hoe ik je kan nadoen.

Niemand die mij ziet
denkt dat ik jou ben
maar zo denk ik aan jou
en verder aan niets.

Terloops, ook Wijnberg word gereken as ’n min of meer “hermetiese” soort van digter, maar ek hou ook nie van die terme nie. Daar is gedigte (en kuns in die algemeen) wat op ’n assosiatiewe wyse ontstaan, en kuns waarby die maker min of meer ’n prentjie het van wat hy wil gaan maak. Die uiteindelike produkte verskil uiteraard van mekaar, maar ’n goeie gedig bewys homself van binne uit, nie van buite af nie, of dit nou ’n maklike teks of ’n moeilike een is.

En neem nou hierdie fragment:

All along it was a fever
A cold sweat hot-headed believer
I threw my hands in the air, said “Show me something,”
He said, “If you dare come a little closer.”

Dit is aanvanklik nie heeltemal duidelik wat dit presies is wat ons hier lees nie. Daar is min konteks, maar die gevoel is tog wel duidelik. Seker as jy dan die hele song daarby hoor (“Stay”, van Rihanna).

Ek ken baie slegte “moeilike” gedigte, en net so baie slegte “toeganklike” gedigte. Die leser van “hermetiese” poësie verskil dalk nie so baie van ’n leser van meer “toeganklike” gedigte of direk verstaanbare gedigte nie; net dat die leser van die moeiliker tipe vers meer geduld sal moet wys. Sy of haar geduld moet dan wel beloon word – die leser moet aan die einde van die dag nie for a ride gevat word nie.

Nee wat, dis appels en pere. Soos om jou af te vra wie is beter: Rembrandt, Bacon, Picasso of Richter. Of Bob Dylan of Radiohead. Ek probeer in my kolleges in elk geval uitwys dat die plesier van tekste lees voorop moet staan, of dit nou maklik is of moeilik.

Hier in die Afrikaanse diskoers is/was die onderskeid meer op praatvers / metriese vers; in Nederland, en dalk ook in Vlaandere, wás die aksent in literêre-poësie-debatte eerder op toeganklik versus moeilik. Maar dit is, glo ek, ook weer verby. Gelukkig. Die hele scene is uiteindelik ook te marginaal om vir ‘n lang tyd sulke debatte te hê. Asof die klub van posseëlversamelaars ’n jare lange debat hou oor of jy posseëls moet plak in die regterhoek bo of in die regterhoek onder. Dit maak dié klub net nog meer wêreldvreemd.

Ja, Nederland. Dit het in soverre soms skisofreen gevoel wanneer ek geboelie is oor my huidskleur (ligbruin, nie eers so donker nie) terwyl ek tog gewoon ’n Nederlander is. So ook my ma, wat ’n Arubaanse Nederlandse was, en amper swart van kleur. Sy het in die jare sestig toe sy na Nederland gekom het, ook redelike pesterye ondervind, maar sy was ’n baie sterk vrou, tot aan haar dood, en sy kon die mense hel gee as hulle opmerkings maak oor haar velkleur. Nee, ’n kleurlose ruimte is dit glad nie (al is daar genoeg Nederlanders wat dit graag so sou sien, en kleur sluit dan ook in politieke, geografiese en religieuse kleur).

Weet jy, dit maak mens partykeer wel eensaam – dat jy wil behoort, maar ander sê vir jou “gaan weg”. Ek het dit nou die dag nog ervaar, toe iemand by ’n partytjie in die stad vir my begin sê hoe sterk my aksent nog is as ek Engels praat, het ek dit dan nog altyd nie geleer nie, maar julle Nederlanders is mos ook maar baie stadig met tale en aksente, nè – jis, dit was só vyandig, ek die hele aand daarna so uit gevoel. En dit is ’n verhewigde gevoel van wat ek in elk geval maar voel, tussen twee plekke, “uit”, terwyl ek “in” wil voel. Of in elk geval aanvaar word soos ek is.

Maar oor die algemeen kan ek natuurlik nie kla nie. En ek wonder altyd hoe dit vir my of vir my ma sou gewees het onder die apartheidstelsel. Sou ons maar net aanvaar het dat ons as “anders” gesien word, of sou ons opstandig gewees het? My pa en ma sou in elk geval nie eers saam gewees het nie, ’n wit man en ’n swart vrou.

Ek voel baie met jou saam, oordat jy jouself nog nooit ten volle kon uitleef binne die Afrikaanse konteks nie. As ek dit nou vir myself indink, met Nederlands, dit is afgrondelik! Dat jy ’n taal deel, maar nie noodwendig behoort nie. Gelukkig dat dit jou nie en nooit ontmoedig het om te skryf en, veral, te publiseer nie. Alhoewel, jy kies bewus daarvoor om soveel as moontlik buite die hoofstroom te bly – jy is op ’n manier natuurlik wel deel van die sisteem, maar daar is ’n groot haat-liefde-verhouding daar, is ek reg? Hoe werk dit vir jou, en het jou bewuste posisie as relatiewe buitestander (as skrywer) organies ontstaan, of het jy inderdaad radikaal gekies hiervoor? En hoe is die situasie met ’n volgende digbundel – sal jy dit ook weer publiseer in eie beheer?


Clinton:

Toevallig dat jy juis na Nachoem Wijnberg verwys – ek was bevoorreg om na hom te kon luister op ’n fees, jare gelede, in Nijmegen! Daar was ook ander formidabele digters, oa Judith Herzberg, Wilma Stockenström, Hester Knibbe, Jo Gisekin, Anneke Brassinga en Gerrit Kouwenaar. Maar dit net terloops.

Ja, daardie haat-liefde-verhouding met Afrikaans ... hierdie land doen dinge aan mens. Ek dink aan Wopko Jensma se gedig:

Spanner in the works

i was born 26 July 1939 in ventersdorp
i found myself in a situation
i was born 26 July 1939 in sophiatown
i found myself in a situation
i was born 26 July 1939 in district six
i found myself in a situation
i was born 26 July 1939 in welkom
i found myself in a situation
now, when my mind started to tick
i noticed other humans like me
shaped like me: ears eyes
hair legs arms etc ... (i checked)
we all cast in the same shackles:
flesh mind feeling smell sight etc ...
date today is 5 april 1975 i live
at 23 mountain drive derdepoort
phone number: 821-646, post box 26285
i still find myself in a situation
i possess a typewriter and paper
i possess tools to profess i am artist
i possess books, clothes to dress
my flesh; my fingerprint of identity
i do not possess this land, a car
much cash or other valuables
I brought three kids into this world
(as far as i know) …
i prefer a private to a public life
(i feel allowed to say)
i suffer from schizophrenia
(they tell me)
i'll die, i suppose, of lung cancer
(if i read the ads correctly)
i hope to live to the age of sixty
i hope to leave some evidence
that i inhabited this world
that i sensed my situation
that i created something
out of my situation
out of my life
that i lived
as human
alive
i
i died 26 July 1999 on the costa do sol
i found myself in a situation
i died 26 July 1999 in the grasslands
i found myself in a situation
i died 26 July 1999 in the kgalagadi
i found myself in a situation
i died 26 July 1999 in an argument
i found myself in a situation.

Die feit dat ek bly skryf het, het seker iets te doen met ’n soort houding – hoe kan ek dit stel? – ’n mentaliteit, soos vasgevang in daardie mooi titel van Charles van Onselen se werk, The seed is mine. Julle mag die land maar hê en al sê of doen julle wat, hierdie taal is ook myne, miskien verál myne!

Daar was egter ook, iewers in 2010, my Breytenbachiaanse afskeid van, of rugkeer op, die taal – Fokofafrikaans, ’n swanesang. Maar soos ek later erken het, Afrikaans is ’n basterhoer van ’n verleidelike taal met die mooiste dye. So hier is ek weer, twee bundels later.

Oor die keuse van uitgee onder eie beheer: daar is ‘n hele aantal redes.

Onlangs, na die verskyning van Rangeer, het ’n toonaangewende uitgewer my genader vir ’n manuskrip. Ek sit nou met ’n dilemma. ’n Goeie skrywersvriend vertel hoe hulle jare gelede, toe die deure in die teaters begin oopgaan vir anderskleuriges, met dieselfde issues moes worstel. Bly jy nougeset ideologies hardegat en skop die deur weer toe, of beweeg jy, met ’n plooibare benadering, na binne? Soos hy dit stel, jy moes altyd optree in slegte venues met swak beligting en vrot akoestiek, bedenklike klankapparaat, en hier is die kans nou. Die hele establishment se stage is joune! Die persone wat buite gebly het, het, volgens hom, nêrens in die lewe gekom nie. Dié wat deur die deur binnetoe gegaan het, het wel iets bereik.

Nou is die nuwe bundel klaar en ek sit en broei daaroor ... en ek maak my somme, kyk na die debiete en die krediete van die saak. Pos dit vir ’n wyle, soos ons dit in die rekenmeesterberoep noem, na ’n “suspense account” in die grootboek.

Oor daardie gevoel van “uit” wees. Dit is miskien ’n skokkende ding om kwyt te raak, maar ek kan deal met blatante, in-your-face rassisme – jy weet onmiddellik waar jy met die ander persoon staan. Dit is die subtiele, gekamoefleerde, genuanseerde rassisme wat die moer in my suur maak.

Kom ek vertel jou ’n staaltjie of twee.

Nadat ek in 1984 my debuutbundel gepubliseer het, gaan ek na ’n bank hier op Cradock om vir my ’n spaarrekening te open. Die teller (wit) help my en toe ek die aansoekvorm moet onderteken, vra sy my op haar mooiste gekultiveerde Afrikaans, “Kan jy skryf?”

By ’n Skrywersgildeberaad (ook daar in die tagtigs) word iets wat betrekking het op bruin skole op. En ek sit daar en luister. Daar is tyd vir vrae en nie veel gebeur nie. Toe die sessie om is, kom ’n linkse feministiese skrywer na my: “En ons wag die heeltyd dat jy iets hieroor moet sê.”

Ek was nogal geskok – ’n geval van “hierdie was ’n bruin issue, so jy as bruin mens (nie as kleurlose skrywer nie) moet hieroor ’n eier te lê hê” – dit was, in die destydse politieke opset, asof ek net oor “eie sake” mog praat!

Maar bietjie weg van die modderige politiek.

Ek het jou ook onlangs hoor vertel dat jy nog waaragtig eers met die hand skryf voordat jy die teks op ’n rekenaar sit. Dit is nogal vir my iets wat raar is, aangesien ek presies die teenoorgestelde doen.

Alfred:

Dit is wragtig ’n ongelooflike reël, eintlik, daai “I suffer from schizophrenia (they tell me)”. Ek het in Melville laas jaar ’n tweedehandse boek van hom gekoop, pragtig uitgegee, ook nie hoofstroom nie, daai meneer Jensma, juis nie, maar juis daarom so oorspronklik. Aansprekende werk, soos ook die gedigte van Johan van Wyk. “Ic ben schreeuwen om dat daar monsters sijn”, so iets, glo ek.

Ek moes eintlik wel lag oor daai “Kan jy skryf?” Dit is darem só ‘n dom opmerking, dit is ook snaaks. Maar sekerlik nie op daai oomblik nie. Ek sou haar seker wou geklap het! Maar ek is ’n groot pasifis. Ek was ook nooit in die weermag nie. By die eerste keuringstoets die oggend, twintig of meer jare gelede, moes ek ’n gehoortoets doen en op ’n knoppie druk as ek ’n piep in my oor deur die koptelefoon hoor. Toe die piepe al hoe sagter begin klink, het ek nie meer die knoppie gedruk nie – toe skrik hulle omdat ek so doof is. Oor my regteroor klaar sleg is (van geboorte af) was hulle bang dat as ek in die weermag moet dien en iets gebeur met my linkeroor, ek bykans doof sal wees. Ja, hulle het nie baie mense nodig gehad in die Nederlandse weermag begin jare neëntig nie. My pa (wat juis wel in die weermag wou dien toe hy ’n jong man was net na die Tweede Wêreldoorlog) (my pas van 1921 en 52 toe ek gebore is) was effens teleurgestel toe ek so vroeg in die oggend weer terug is uit Delft (in Nederland) waar die keuring was. (Ek was darem by die Padvinders ...)

Ja man, skryf gaan nog heeltemal op die outydse wyse. Skryf is soos ’n ambag, soos om ’n goeie vuur te maak. Nadeel is, ek kan partykeer self nie meer mooi uitmaak wat ek nou neergeskryf het nie, my handskrif is ’n nagmerrie. Maar voordeel is dat jy baie gouer redigeer. Ek skryf ’n vel vol met sinne, invalle, dele van wat ’n gedagtestroom of beeld sou kon word, dan gaan ek streep en met pyltjies en nommers ’n volgorde maak en dan skryf ek die “skoon”, nuwe versie op ’n nuwe blad, en dan is daar weer van alles wat nie werk nie, of uit moet of na die begin van die teks moet en dan kom daar weer nommers en pyltjies en strepe en dan word dít weer  ’n nuwe, skoon versie, ensovoort. Partykeer het ek so 30 velle van dieselfde gedig gemaak, wat al hoe korter en minder woorde bevat. Die hand is mos maar lui, dit soek altyd die kortste pad, so dit tel baie makliker clichés en aspekte op wat redundant is. Soos wanneer jy dronk en naar is en die kortste pad weet na die toilet. Ook die little darlings verdwyn partykeer op hierdie wyse – die hand is eerlik.

Op die skerm sien ek nie so vinnig of iets werk of nie, dit lyk altyd goed, veral met Garamond 11 pt.

Dis dalk outyds, en ek het nie Twitter of Gesigteboek nie, maar ek het darem ’n kar en ’n yskas en ’n slimfoon. So, I’m with it man.

Ek is juis in dié stadium besig om my nuwe digbundel te voltooi – en my invalle en aantekeninge by tekste oor Shaka Zulu probeer ek nou ook weer ontsyfer – dis ook alles met die hand geskryf. Dit gaan eers ook weer 20 gedigte wees wat elk 30 handgeskrewe versies gehad het, so 300 velle handskrif altesaam. Gelukkig het ons ’n vuurmaakplek in die huis.

Ek dink dis amper tyd om te waai, die nag kom nader, dit raak koud, die slaap begin my roep, saggies nog.

Die boek verskyn begin volgende jaar en hopelik het ek genoeg geld om weer Amsterdam toe te gaan, vir die bekendstelling. Maar ek is ook maar ’n arme Afrikaan deesdae, so ons sal sien. Sal wel lekker wees om weer daar te kuier vir ’n slag – ou vriende te sien. Dit is so eienaardig eintlik om te besef dat ek waarskynlik nooit meer daar sal woon nie, maar dit is tog nie ’n baie hartseer gevoel nie.

Ek sal die berge hier ook te veel mis.

Juis vandag het ek in die derdejaarsklas ’n bietjie gepraat oor Vlaamse en Nederlandse “postmoderne” poësie, onder andere van  ’n fanatieke postmoderne digter, Dirk van Bastelaere. Maar kyk hoe mooi dit kan wees, die sogenaamde moeilike gedigte, soos hierdie reël uit sy gedig – miskien moet ek daarmee groet:

Als je ooit naar een berg hebt gekeken, kijken de bergen voor altijd terug.

(En moenie van daai suspense account vergeet nie – ek sou dit doen, origens.)

Clinton:

Alfred, dit was werklik lekker, hierdie deel van gedagtes, oor ou en nuwe tuistes, oor hoort en nie hoort nie. Hierdie vreemde nuwe plek vir jou, wat nou huis is. Hierdie land met ryk kaalvoete in die supermarkte en mense wat highways kruis (soos jy vertel het op Cradock, ‘n kultuurskok vir jou). Ons is ‘n unieke klomp hier – effe mal, meestal met letsels wat verwoord kan word uit ‘n reël uit daardie Jensma-gedig. Mag die woorde altyd met jou wees:

             Het zweet stroomt langs m’n rug ik heb opeens geen teks.

Outsider-groete.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top