Jou troudag: Kompetisiewenner aangekondig

  • 0

Hier verskyn die inskrywings wat ontvang is vir LitNet se skryfkompetisie.

Vir meer inligting oor die kompetisie, besoek Skryfkompetisie: Jou troudag.

Die wenner van die kompetisie is Clari Niemand. Baie geluk! Klik hier om haar inskrywing te lees.


 

Hier is al die inskrywings wat ontvang is. Klik op die deelnemer se naam om die inskrywing te lees.

Antoinette Lourens, 2 Junie
Linda du Plessis, 2 Junie
Clari Niemand, 6 Junie
Marinda van Niekerk, 12 Junie
Hantie Gregory, 13 Junie
Tanya du Plessis, 19 Junie
Anna-Marie le Roux, 20 Junie


 

Antoinette Lourens

Trou is nie perde koop nie ... Dis mos hoe die spreekwoord lui.

As romantikus gaan ek niemand toelaat om my seepbel te bars nie.

Almal droom van daai sprokiestroue op ’n afgeleë eiland, ma’ ongelukkig help dit nie as jy sjampanjesmaak het, ma’ net ’n biersalaris verdien nie. Ons skik dus vir dit wat wel bekostigbaar is, binne ons begroting. Slegs naaste intieme familie en vriende sal uitnodigings ontvang.

Die troukaartjies sal ontwerp word om in ’n glasbotteltjie met ’n kurkproppie geplaas te word. Die word dan persoonlik afgelewer.

Gaste word versoek om volgens die seetema aan te trek. Swemdrag of seerower/matroosklere.

Die hele trouseremonie sal afspeel op ’n seiljag se dek, wat net buite die hawe sal anker. Versierings sal die seetema beklemtoon. Die seiljag vertrek om twaalfuur die middag en die makietie sal aanhou tot laatnag.

Kostafels gaan kreun onder eksotiese seedisse en vir diegene wat nie vis eet nie sal daar slaaie, koue vleis en vrugte wees. Tafels het eilandname. Die voorgereg sal bedien word in skulpbakkies.

Nageregte is koue poedings en vrugteslaai. Die troukoek is van roomys, versier met aarbeie en/of sjokoladesous. ’n Kontantkroeg sal beskikbaar wees en op die tafel sal vrugtesappe, pons en vonkelwyn bedien word. Met ys!

Visnette, ankers en skulpe, sal as tafel versierings dien.

Elke gas sal toegelaat word om ’n persoonlike boodskap vir die bruidspaar op ’n lang seildoek te skryf. Die doek sal geraam word as aandenking.

’n Professionele fotograaf sal foto's neem. Alle gaste sal teen sononder saam met die bruidspaar afgeneem word, en kry dan later die foto as aandenking.

Die tradisionele kousband en ruikergooi-storie is heeltemal taboe. Gaste sal deelneem aan ’n skattejagsessie op die seiljag. Gaste mag elk een skat huis toe neem. Skatte sal bestaan uit kostuumjuwele en skulpe wat vooraf versteek word.

Agtergrondmusiek sal deurgaans opklink. Kitaar- en vioolmusiek. Die bruid sal aangestap kom vanaf die kajuit, terwyl "Thinking out loud" van Ed Shereen in die agtergrond speel.

Haar handruiker sal bestaan uit pampoenskulpies, gevleg in die vorm van ’n hartjie. Dit is die bruidspaar se dag en geen vervelige blommemeisies, strooijonkers of hofknapies sal gebruik word nie.

Die bruidegom lyk soos ’n seerower, kleure soos rooi, blou, wit en swart word gebruik. ’n Swart driepunthoed en stewels sal sy uitrusting afrond. Met ’n silwer swaard aan sy sy.

Haar droomrok sal lyk soos die rokkie van die sprokieskarakter Wilma, Fred se vrou, vanuit die animasieprent Flintstones. ’n Spierwit, kort rok met een kaal skouer. Eenvoudig, noupassend met punte by die soomlyn. Kaalvoet, met blomme in haar hare en om haar enkels. Minimum grimering om haar sonbruin vel op sy beste te beklemtoon.

Ek glo nie aan die something borrowed, something blue-tradisie nie.

Met sononder sal skemerkelkies met soutkoekies en vispatee bedien word.

Lanterns sal aangesteek word sodra die son sak. Elke gas sal ’n ryspapierlantern ontvang wat sodra die son sak in die donker vrygelaat word, met hul wense dat hul diepste drome bewaarheid word.

Die dominee sal lees uit Korintiërs, die hoofstuk wat die liefde besing. Heildronke sal slegs op die bruidspaar en hul ouers ingestel word. Die seremoniemeester sal die gaste vermaak deur hul aan te moedig om saam met die gaskunstenaars se musiek te dans en te sing (karaoke).

Om die sprokiestroue mee af te sluit sal die seerower sy bruid wegvoer om middernag, wanneer hul wegvaar op hul eie reddingsbootjie. Gaste sal hul vaarwel wuif. Vir hul wittebrood sal hul Mauritius toe vlieg.


 

Linda du Plessis

Liriek

My huwelik in  ’n liefdesneutedop

As ons in die maanlig in mekaar se arms staan onthou jy ...

My bruid, ek het soveel jare vir jou gewag
gebid vir hierdie spesiale dag
toe jy met die paadjie afstap aan jou pa se sy
was ek verseker jy is die vrou vir my
jy haak nou by my in en nou staan ons saam voor God
om vir ewig trou aan mekaar te beloof as huweliksgebod

Vandag is ons troudag, my lief
jy, my grootste hartedief
waar ons aan mekaar trou beloof vandag
jy met jou mooi oë en hemelse lag
              my ring is ’n teken van my liefdetrou
              as die kaptein om ons huwelikskip altyd getrou te hou

Ek kyk nou so diep in jou blou oë en ek weet 
dat ek die oomblik nooit ooit sal vergeet
gee mekaar die regterhand en jou hande so fyn
ek beloof aan jou my ewige samesyn
ek neem jou as my wettige vrou om lief te hê
as ons saam ja antwoord en so ons lewe in God se hande lê

Vandag is ons troudag, my lief
jy, my grootste hartedief
waar ons aan mekaar trou beloof vandag
jy met jou mooi oë en hemelse lag
              my ring is ’n teken van my liefdetrou
              as die kaptein om ons huwelikskip altyd getrou te hou

Die bruid is klaar en gereed  
die woelige blommemeisie het die trouringe in haar hande beet  
die bruid opgetooi en in spierwit skoonheid gesluier   
terwyl die Pa buite vir oulaas met sy sigaret kuier

Bruidegom staan senuweeagtig voor die preekstoel    
onmoontlike boetman is oudergewoonte aan die woel   
gaste wag al ongeduldig vir die pa en die mooie bruid 
onverwags begin stoute klein Jan ’n deuntjie fluit   
die orrelis sit met vingers op die troumars   
en die dominee draai die mikrofoon effens dwars   

Vandag is ons troudag, liefie
vandag net ons twee s’n alleen
vandag is ons troudag, liefie
vandag kry ons ons troudag-seën
              my ring is ’n teken van my liefdetrou
              as die kaptein om ons huwelikskip altyd getrou te hou

Die teken word nou gegee 
die deur gaan oop en al die gaste erewag vir haar eerste tree
bruidegom trek sy strikdas reg en glimlag nou breed
ma's sug van verligting en pa vee vir oulaas af sy sweet
die fotograaf trippel vooruit en die kamera bly kliek
die troumars speel en die bruid en gevolg pragtig soos in ’n fliek
Pa haal die sluier af, gee haar ’n soen, gee die bruidegom ’n handdruk   
preek, vra vrae, hul sê ja, die ring insteek, bruid moet teen trane sluk 
word man en vrou verklaar en nou mag jy die bruid maar soen  
die konfetti gestrooi byna val die bruid van haar hoë hakskoen 

Vandag is ons troudag, liefie
vandag net ons twee s’n alleen
vandag is ons troudag, liefie
vandag kry ons ons troudag-seën
              my ring is ’n teken van my liefdetrou
              as die kaptein om ons huwelikskip altyd getrou te hou

Almal ry nou in gelit na die onthaal
wag buite met sjerrie in die hand en stap in die mooi deftige saal    
ou kennisse druk en jare laas gesien en die familie   
groet, druk, deel nuus uit en wie's jy want ons kan mekaar nie mooi onthou nie     
die paartjie arriveer en die seremoniemeester      
op sy stukke met heildronke, glasies klink met voorgereg bedien en ete later   
paartjie sny die troukoek en bruidegom soek en bruid gooi die kousband en ma's pink ’n traan   
tafel vol geskenke en die bruidspaartjie open die dansbaan   
na die gelukwense begin die nuwe mnr en mev groet     
die wittebrood wag en met blikkies agterna verdwyn hulle toot-toot   
              my ring is ’n teken van my liefdetrou
              as die kaptein om ons huwelikskip altyd getrou te hou

Hilda en Riaan Slabbert se troudag op ons plaas Anker Bultfontein


 

Clari Niemand

"Maak dit dan maar pienk!"

So, Sofiatjie, een van die dae gaan jy seker begin trouboeke deurblaai en onthaalfasiliteite google.

Laat Ma jou vertel van ons selfdoen-bruilof ’n kwarteeu terug.

“Plaas-chic” soos mens in vandag se glanstydskrifte sien, was nie de rigueur in die vroeë 90’s nie, maar ek het gedroom ...

Op Groenvlei is daar hierdie rytjie akkerbome in die middel van nêrens. Iemand het seker ’n paar generasies terug die familieplaas se ingang daar beplan, maar Hoëveld-kliprantjies dikteer die kom-en-gaan en die plaaspad het lê gekry teen ’n sagter hoogte af. Moet nou nie kop-prentjies kry van Stellenbosch-eikelanings nie. Hierdie was ’n ry windverwaaide bittereinders tussen gras en mielielande.

Daar wou ek trou: kaalvoet in ’n trourok van ongebleikte linne en oorlede Ouma Poppie se hekellappies. Vir blomme arms vol tamboekiegras en daai pers blomme wat so wild langs die paaie groei. Ek ken nou nog nie hulle naam nie – sulke growwe olyfgroen stingels met donkerpers vingers. Ek dink dis een-of-ander onkruid maar dis pragtig, veral in massas.

Lang tafels vol melktert en koeksisters, gemmerbier en toebroodjies met koue skaapboud en tamatieskywe. Termosflesse vol tee en koffie. Piekniekkomberse.

Jou ouma Emma se grootste beswaar was: “Waar gaan die mense as hulle wil toilet toe?” Wel, ja. Ons kon seker ’n tydelike kleinhuisie opslaan so ’n ent van die laning af? Of die trekker en sleepwa kon al om die uur ’n badkamerrit aflê plaashuis toe?

Sofiatjie, jou Ma gee maklik in. Ons is toe maar eerder getroud in daai mooi NG Kerk oorkant Loftus. Elfuur die oggend van Werkersdag 1993. Ons het sommer in die kerksaal langsaan tee gedrink na die diens en troufoto’s in die kerktuin geneem.

Niks van die troue het soos enige van my kopkiekies gelyk nie. Maar weet jy, net oor een ding is ek spyt: dat ek nooit genoeg dankie gesê het vir elkeen wat my gooi-bymekaar-troudag spesiaal gemaak het nie. My drie skoonsussies wat hulle omtrent disnis gewerk het omdat ek amper te laat besef het “selfdoen” is net moontlik as ander mense saamdoen!

My eie twee sussies wat orrel gespeel en ’n spesiale trouliedjie geskryf en gesing het. My vriendinne Wendy en Christelle wat mekaar agter my rug leer ken het sodat hulle kon saam konkel om die strooimeisielose bruid af te rond! Oom Frans met die Mercedes. Vriend Neels wat ge-dominee het.

Mens lees van “sakpas-troues”... ek glimlag altyd by myself. My selfgemaakte designer trourokkie se drie meter lap (teen R5/m) het ek ’n paar jaar terug sommer maar gekoop, want dit was mooi ... en goedkoop. ’n Bellville Sassoon-patroon (moet ek darem bylas) waaraan ek die aand voor die troue tot eenuur die oggend gesit en pêrelknopies op die rug aangewerk het.

Ek wou swaardlelies hê. Net wittes. Toe hou hulle begrafnis vir Doktor Treurnicht daardie week, en in die hele Pretoria bly nie ’n enkele wit lelie oor nie. Bosse pienkes en geles het ons self gaan koop op die blommemark voordat ons Pick n Pay toe is om te shop soos ryk mense; patees en kase en konfyte saam met die tafels vol tuisgebakte brode wat jou Tannie Phia gebak en laat bak het. Ek self het ook darem help bak: ’n halfdosyn papawersaadkoeke en die “troukoek” – dosyne hartvormige Duitse stroopkoekies, versier met ons voorletters en twee-twee vasgestrik aan dankiesê-kaartjies.

Iemand moet dalk ’n boek skryf: Hoe om Pragtig te Trou op Een Maand se Paycheck. Ek kan beproefde idees bydra! Maar Sofiatjie, wanneer jy begin droom en beplan, geniet dit voluit. Dis mos een-keer-in-’n-leeftyd.

Onthou net die dag gaan eintlik oor die huwelik, en nie oor die bruilof nie.


 

Marinda van Niekerk

Geloof, hoop, liefde

Hulle trou op ’n voorwinterse middag in NG-Universiteitsoord waar hulle nog studente is.

Jare later onthou sy die laataandgesprekke in die koshuis: koffiebekers, beskuit, The Bridal Magazine en vonkelnuwe verloofringe. Drome.  Sy staan op om te gaan slaap, kyk terug voordat sy uitstap. “Dis waar ek gaan trou. NG-Universiteitsoord, die vier-manuaal orrel en die troumars. Mendelssohn se troumars.”  

As sewentienjarige het Felix Shakespeare se Midsomernagdroom gelees en binne ’n jaar ’n ouverture daarvoor gekomponeer, hoor sy in die musiekgeskiedenisklas. ’n Meesterwerk: bowêrelds, engelagtig en onsterflik. Sestien jaar later komponeer hy die troumars in dieselfde gees as die jeugdige ouverture.

Met Shakespeare onder die arm stap sy die musiekbiblioteek binne. “Kan ek asseblief na Mendelssohn se "Midsomernagdroom" luister?”

“Sekerlik, soek onder komponiste. Daar is ’n platespeler beskikbaar.”

Sy luister en lees die verhaal. Dieselfde atmosfeer moet neerslag vind in haar huweliksbevestiging, besluit sy. Wat van die trourok? Blomme?   

Die reëlings is gedetailleerd, vol fieterjasies; jonk-verlief.  

Op die dag word sy vroegoggend wakker, stap kombuis toe vir ’n koppie koffie. Die huis is doodstil. Toe die ketel kook, gooi sy haar beker vol en proe aan die stomende koffie. Daar is baie wat gedoen moet word. Die soet blommegeur wat die huis vul, laat haar onthou die blomme moet nog kerk toe en die verwelkomingsnotas moet op die sitplekke kom.                

Die bruilofsgaste wag in die kerk toe sy laatmiddag arriveer. Sy klim uit die Mercedes, trek aan die sleep en plaas die gerf rose in die waai van haar arm. Die koster verskyn in die wye houttoegangsdeure, betrag die bruid en stap binnetoe om vir die orrelis die teken te gee  ̶  die bruid is hier. In die tregtervormige voorportaal se effense skemer staan sy wagtend op die fortissimo-fanfare. Asemrowend! Toe loop sy die paadjie af, na haar bruidegom.    

Familie en vriende staan op, hier kom die bruid. Versluier in eenvoudwit. Voor wag die bruidegom haar in met ’n senuweeagtige glimlag om sy mond. In die bruin oë lees sy wat sy daar verwag: liefde. Skuins agter hom, beide kante van die kansel, die ligspeling van die twee roospers kruisvormige vensters.     

Hy kom nader, vou die sluier oor die Juliet-kappie en fluister: “Jy lyk baie mooi.”  Sy haak by hom in, kyk op en glimlag. Die gerusstellende warmte van sy baadjiemou voel sy deur die dun kantmou. Hulle klim twee trappies tot voor die wit betonkansel. Dominee Hanekom glimlag eers vir hulle, verskuif dan sy blik dan na die huweliksgaste. “Welkom by die huweliksbevestiging van Pieter en Marinda.”  

Elke jaar, op dieselfde voorwinterse middag, vul Mendelssohn hulle huis. Sy sweef die kerkpaadjie af tot by haar bruidegom. Namate sy ouer word, is die huwelik toenemend ’n onderwerp wat haar met verwondering vervul. Sy bieg, na twee-en veertig jaar verstaan sy nog minder daarvan as toe hulle jonk was.


 

Hantie Gregory

Baie onlangs het my geliefde die jawoord gevra en ’n blink stukkie metaal aan my vinger gesteek en nou is dit die opwindende fase van begin droom en beplan. Ek ’n gebore en getoë plaaskind, hy ’n stadsjaap en ons albei onderwysers van beroep. 

Die oggend wil ek graag in my ouerhuis wakker word en koers kies veld toe. Daar sal ek my op my sitklip gaan tuismaak en die nuwe dag inwag. Skielik sal die doudruppels in wuiwende graspluime in skitterblink kandelare verander.  Dan is dit tyd om die brandende vars lug diep in te asem en my oë te sluit.  Die ou gewoonte sal nuwe betekenis kry. Ek sal die Skepper se grootsheid besing en Hom bedank vir oorvloedige seën. Ek sal vra dat ons huwelik geseën mag word, as dit Sy wil is. En my gebed sal voortduur soos van voor ons saam was: Dat Hy, as dit Sy wil is, ons harte styf in die holte van Sy hand sal hou, ons nader aan mekaar sal groei, totdat die vesels verstrengel en ons harte een word.

Dan sal ek gereed wees.

Ek wil graag ontbyt eet saam met my naaste vriendinne, omdat net Sussie en aanstaande Skoonsussie strooimeisies sal wees. Eg aan my herkoms droom ek van kleins af van ruikers vol verskillende grassade, en vandat ons op ’n kleur besluit het, pas dit so mooi in.  Dieprooi en donkerblou (Geliefde reken vir ’n kunssinnige is my verduideliking van kleure skrikwekkend …) Ek sien al hoe mooi grassade op lapelle gaan pryk. Baie flambojant en opwindend!

Daarna sal ons self gaan inkleur en met Sussie se hulp my haredos tem. Eindelik sal ons die stofpad na die pragtige klipkerk aandurf, na waar Geliefde op my wag!

Die belangrikste van die kerkdiens is dat die fotograaf nie tydens die diens moet foto’s neem nie. Ons is in die Huis van die Here om ewige trou aan mekaar te beloof en daar sal respek vir die grootsheid wees.

Sodra ons die belofte voor ons Skepper afgelê het, kan die gaste stoetsgewys plaas toe en hulle sal stadig oor die klippe aankruie en sug oor stuiwende stof.

Ons kan begin met ’n tafelgebed en sodra elkeen sy voorgereg het kan ons tjoef-tjaf die formaliteite van die aand afhandel.

Ons is reeds besig om ’n speellys saam te stel wanneer ons saam radio luister. Ek gaan met elke tweede snit ’n in lagbui uitbars, omdat ek die gesprek sal onthou wat tot die keuse gelei het. Ons het ’n unieke sin vir humor en al word dit oorvertel sal ander nie noodwendig verstaan nie.

Ek verf self die tafelplasings en uitnodigings. Slegs loof, met paraffienlampies en kersies. Moederlief beplan wanneer sy groente sal plant, en Vader sal so ’n week vooraf die skaap uitkies en slag. Die kerktannies kan toor met kos, en wat ’n bonus dat Moeder bedryfsingenieur en boervrou is!

Aan die einde van die dag sal dit perfek wees, net omdat dit juis Geliefde is wat op my sal wag en dat ons kan belowe om vir ewig getrou sy aan sy sal staan deur al die mooi en minder mooi wat voorlê. En as die mense wat ons lief het dit saam met ons dit kan vier deur lekker saam te eet, dans en te kuier sal dit ’n absolute bonus wees.

Wanneer die son dan weer oor die golwende aarde sy knipogie al groter oopmaak, sal ek veilig rus in die wete dat ek nou amptelik en vir altyd ’n ander helfte het wat my waardering vir die mooi in die lewe en my passie kan deel en ook my oggendgebed kan aanvul.


 

Tanya du Plessis

Nina se geluk

“Moenie die bruid laat stress nie, maar daar is glo ’n klein probleem met die troukar,” fluister die een blommemeisie vir die ander sonder om die bruid agterdogtig te maak.

“Dames, hoe lyk ek?” Nina draai in haar spierwit trourok.

Die blommemeisies gee almal komplimente aan die bruid.  Die vier blommemeisies kyk na Marie en sy weet dis beter as Nina weet wat gebeur het.

“Nina, daar is dalk ’n problem,” lui Marie se stem en sy vertel dat daar nie meer ’n troukar is nie. Die battery van die motor is gesteel op die bure se plaas.

Nina haal diep asem. Sy vra vir Marta, wat in die hoek staan, om Petrus te vra vir hulp. Hy is die werker wat vinnig nuwe planne maak indien daar iets skeef loop.

Marta gaan haal vir Petrus en vertel hom wat gebeur het. Sonder om te skroom gaan haal Petrus vir Mara, sy grys donkie uit die kraal en saal haar op.

“Nina, kyk mooi na hom, hy issie lekke die laaste ruk. Al wat hy doen is vreet en slaap,” Petrus oorhandig Mara vir Nina.

Nina ry rustig uit by die plaashek met Mara, skielik begin die donkie se asemteue vinniger en vinniger word. Nina klim van die donkie af, net betyds om te sien  Mara het in kraam gegaan.

“Ek is hier tussen niks en nêrens en my troue is om die draai. Die donkie het verseker die regte tyd gekies om in kraam te gaan!” vul Nina se stem die stilte terwyl sy probeer sin maak van alles.

Mara begin buk van die pyn en Nina is in trane. Tussen die twee se geraas het die gemeenskapsveearts, Hein, sy verskyning gemaak op sy swart hings.

“Nina, kry jou gat langs my broer se lyf en los die donkie vir my,” groet Hein en begin Mara kalmeer.

Nina ry die salpetersout uit die hings, in die hoop dat sy betyds sal wees vir haar  troue. Sy stop sekondes voor vier by die deur van die kerk.

Nina neem ’n oomblik en stap in by die kerkdeure asof niks haar nog ooit gepla het nie. Die gaste sien Nina se rok is rooi van die grond, haar hare staan asof sy vinnig probeer vasmaak het in ’n vreemde styl en haar grimering is gesmeer oor haar gesig.

Nina kalmeer die oomblik wat sy haar bruidegom voor die kansel sien staan ... Net vir ’n oomblik.

“Dominee, dis my skuld dat ons nie ringe het nie,” kom die woorde uit die  bruidegom se mond sag nadat Dominee gevra het dat die ringe na vore gebring word.

Dominee kyk geskok na die paartjie voor hom en vra die bruidegom om homself te herhaal.

“Dis nogal problematies. Kom ons kyk wat kan ons doen.

Gemeente en vriende ons het iets uniek hier; het enige iemand ringe wat ons kan leen? Die ringe is ongelukkig nie tans hier nie.”

Eers word daar onderlangs gefluister ... toe skaterlag almal in die kerk. Tussen die gelag deur het die bruidegom se ouers hul ringe geleen vir die beloftes om afgelê te word.

Gelukkig vir die paartjie het nie veel meer skeef geloop nie, net die dominee het verskik aan die ring wat aan Nina se vinger moes kom. Die bruidegom is lomp, niks meer hoef oor die saak gesê te word nie. ’n Lukrake weerligstraal het die onthaal aan die brand geslaan. Gelukkig het die gemeenskap ingespring en die troukoek was laat.

Jare later is Nina en haar man steeds saam, en die hele gemeenskap lag oor daardie onvergeetlike dag.


 

Anna-Marie le Roux

My ideale troudag sal ’n lente-sprokiestroue wees. Met die perskebome vol bloeisels, soos ons liefde vir mekaar bloei.

Bloedrooi en spierwit sal my kleurskema wees.

Ek wil ’n lang sleep aan my wit trourok hê, met my sluier en ’n kroontjie op my hare, want ek is mos die prinses. My bruidskar sal ’n donkiekar wees, opgemaak met rooi en wit linte, rooi en wit ballonne.

Wit donkies sal so pragtig wees met rooi ballonne wat wapper aan hul tuie.

Ek sal op die agterste bankie van die donkiekar, met my spierwit trourok sit, wat versier is met silwer blinkers en mooi fatsoenlik toe tot bo my borste. My rooi roos-en-angelier-handruiker sal ek op my skoot vashou. My donkiekarbestuurder sal met sy rooi langmouhemp en wit roos, saam met sy wit langbroek op die voorste bankie sit en my stadig in  Gordonsbaai se strate af vervoer tot by die kerk. Agter my sal ’n wit Mercedes Benz met rooi linte en wit ballonne opgemaak ry waarin my twee strooimeisie met rooi rokke en my pa, getooi soos my donkiekarbestuurder sit. Ek soek dan ’n klein bruidjie en bruidegompie getooi soos ek en my aanstaande.

By die kerk sal die klein bruidjie en bruidegompie eerste instap op "You raise me up". Daarna sal my troumars speel en dan sal ek ingehaak aan my pa se arm instap. Baie stadig in die paadjie wat opgemaak is met rooi en wit rose en angeliere. My strooimeisies sal agter my lang sleep loop. Hul sal kort-kort my sleep regtrek sodat dit mooi kan vertoon.

By die laaste kerkbank sal my pa my sluier oplig en hy sal my  soen en vir my aanstaande man oorgee met ’n handdruk. Gert sal in my oë kyk en vir my sê: "Jy lyk pragtig, my bruid."

Na die trou-formulier sal die dominee sê:  "Gee mekaar die regterhand." Ons ringdraertjie sal ons ringe aangee, wat op ’n wit ringkussinkie met linte vas gemaak is. Ek sal my man se ring aan sy ringvinger steek en hy sal my trouring aan my ringvinger steek. Dan sal my troustel volledig wees.

As meneer en mevrou Van Niekerk stap ons konsistorie toe om die trouregister te gaan teken. My pa en sy ma sal vir ons as getuies teken dat ons wettiglik getroud is.

Ons staan in die kerkdeur om tussen ons gaste deur te stap wat ons met wit en rooi konfetti gaan strooi.

Die kerk het ’n pragtige tuin waar ons ons foto's van die "groot dag" neem.

Stadig vervoer die donkiekarbestuurder vir meneer en mevrou agter in die bruidskar deur die strate, na die onthaalsaal buite die dorp. ’n String motors van ons gaste volg ons.

In die saal wat getooi is met rooi rose, angeliere en ballonne by die wit tafeldoeke en stoeloortreksels, gaan sit ons aan die bruidstafel. My ouers sit aan my man se regterkant en sy ouers sit aan my linkerkant. Al die gaste en ons gevolg sit langs die mure af, by lang tafels. Dis ’n vingerete vir 50 gaste.

In die hoek is die orkes se tromme en kitare gereed. Ek en my man open die dansvloer op "Ek wil oud word saam met jou". Ons dans en lag saam met familie en vriende. Ongelukkig moet ons hulle 10 uur verlaat na ons bespreekte "honeymoon".  Wat my man  vir my ’n verrassing hou.

Ons sal dan ’n gelukkige huwelik hê, met twee kinders, ’n seun en dan ’n dogter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top