Jou Romeo deur Fanie Viljoen: ’n resensie

  • 1

Jou Romeo
Fanie Viljoen

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081210

“Two households, both alike in dignity, in fair Verona, where we lay our scene …”

In Jou Romeo deur Fanie Viljoen kan hierdie aankondiging uit Shakespeare se klassieke liefdesverhaal só vertaal word: “Twee groepe, die dramabrigade en die populêre ‘jocks’ en rasieleiers van die skool, beide stereotipes uit eie reg, van Hoërskool Monument, waar dié Afrikaanse weergawe van High School Musical afspeel …”

Van Romeo en Juliet regdeur Sandy en Danny in Grease tot by Marko en Yvette in Jou Romeo is die storielyn van twee individue wat op mekaar verlief raak ten spyte van die oënskynlik onversoenbare sosiale groeperings waaruit hulle kom, alles behalwe nuut.

Tog werk hierdie kombinasie keer op keer. Dis immers waarom daar van Romeo en Juliet vandag nog films gemaak en boeke geskryf word. So ja, Jou Romeo bevat al die stereotiepe bestanddele van liefdesdramas, van Marko, die skool se aantreklike krieketheld en Yvette, die prinses van die bleeksielige dramabrigade wat op mekaar verlief raak, maar tog is daar ook nuwe bestanddele by hierdie tipiese verhaallyn gevoeg.

Een daarvan is die gebruik van verskillende media in die narratief om die verhaal oor te dra. Daar is die irriterende Mildred, wat ongevraag en onvanpas vir almal wat wil luister of nie wil luister nie die skool se skinderstories wyd en syd op sosiale media uitsaai. Die “oorskakeling” na haar plasings op Facebook, Twitter en vlogs (videoweergawes van blogs) is plek-plek hinderlik, maar dit is kenmerkend van haar inmengerige persoonlikheid. Alhoewel haar kommentaar die gebeure vanuit ’n ander hoek belig, gee haar dialoog die idee van ’n volwassene se idee van die taal wat hulle dink tieners gebruik, miskien nie heeltemal so outentiek nie.

Dialoog tussen karakters word in die formaat van WhatsApp-boodskappe weergegee, ’n tendens wat al hoe meer ook in films gebruik word, soos dan ook te sien in die gelyknamige rolprent waarop Viljoen se boek gebaseer is.

Uiteindelik gaan Jou Romeo oor ’n toneelopvoering van Romeo en Juliet waar die akteurs die aantreklike Marko gebruik net om kaartjies te verkoop. Anders as wat verwag is, is dit die slim aktrise Yvette wat Marko gebruik en nie die “jock” wat háár gebruik nie. In die kreatiewe proses word daar dus ’n film gemaak van ’n toneelstuk en daarna volg ’n boek wat op die film gebaseer is – ’n storie van ’n storie van ’n storie.

In al hierdie genres is show-and-tell, oftewel wys-en-vertel, van die tegnieke wat gebruik word om ’n storie te vertel. Tegnieke wat volgens die Russiese dramaturg Anton Tsjechof baie meer uit wys as uit vertel moet bestaan. “Moenie my vertel die maan glinster nie; wys my ’n glimps van lig op gebreekte glas,” is hoe hy die fyn balans beskryf tussen wat ’n skrywer sê, verduidelik of skryf teenoor inligting wat hy of sy indirek gee deur ’n karakter se aksies, voorkoms of dialoog. In ouer televisiesepies soos Days of our lives was dit gebruiklik dat ’n karakter se gedagtes, dit wat die kyker uit ’n akteur se handelinge sou kon afgelei het, pertinent in ’n buite-raam-stem verwoord sou word. Nog ’n kenmerk van te veel vertel is ’n oordrewe gebruik van byvoeglike naamwoorde waarmee die handelinge van die karakter beskryf word.

Die genre waarin ’n storie vertel word, sal natuurlik die balans tussen wys en vertel bepaal, maar selfs met meer visuele genres soos film en drama moet die wys steeds baie meer as die vertel wees, want dit is waar die geheim van goeie storievertelling lê – om op subtiele wyse ’n grootse verhaal te impliseer.

Waar die uitbeelding van die openingstoneel in Jou Romeo, die film, op ’n natuurlike wyse deur die gebruik van ligte, kostuums, dekor en aksie oorgedra kon word, is die beskrywing van dieselfde toneel in die boek ietwat oordrewe. “Twee skagte lig gloei deur die rook. Dit blink in haar lang rooi hare soos dit met haar rug afkrul oor die swart leotard. Haar gesig is towermooi. Sy is eintlik ’n dramageek, maar dit sal jy nou nie van haar sê nie, want sy ontvou soos ’n skaars blom.” Of ’n ander toneel waar Yvette besig is om haar grimering in haar kamer af te haal: “Hierdie keer is haar mondhoeke gesak en kyk sy treurig vir haarself. Hartseer vir groter hartseer. Lank sit sy na haar spieëlbeeld en kyk. Na haar blou oë wat soms dinge kan wegsteek, wat kan droom en dink en wonder. Wonder oor wat? Romeo and Juliet? Yvette en Tyler?”

Is dit nodig dat die leser presies weet hoe die toneel wat in die film was, gelyk het? Is dit nodig dat ’n leser vertel moet word wat ’n karakter dink, of moet lesers so ’n klein bietjie werk vir hulle kos, of kougom, of wat tieners ook al deesdae in hulle monde prop?

Ten spyte van die narratief wat ietwat te veel na die vertel-tegniek oorhel, is Jou Romeo ’n lekkerlees-tienerboek met kleurryke humor en miskien die enigste blootstelling wat Suid-Afrikaanse leerders in die toekoms met Shakespeare gaan hê as onlangse berigte in die media oor die moontlike weglating van Shakespeare in die 2018-skoolsillabus ’n werklikheid word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top