Jeugdag 2017: Jonkheid in die kunste

  • 0

Die grootste uitdaging vir jeugdiges in Suid-Afrika is om “soms oorsensitief te voel in ’n onsensitiewe land”. Christiaan J de Swardt gesels met ’n aantal jong kunstenaars oor die rol van die jeug in die kunste.

Die stemme wat ’n verskil maak in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf word al hoe jonger. Hul boodskap verkondig aanvaarding en versoening, maar hulle is nie blind, doof en stom vir die realiteite van ons reënboogland nie.

Die kunste is ’n weerspieëling van wat op ’n gegewe oomblik in ’n samelewing gebeur. Hier gesels ’n aantal jong kunstenaars prontuit oor hoe die kunste die toekoms ten goede kan verander.

Jason Jacobs

Die bekroonde teatermaker Jason Jacobs. Foto: Gantane Kusch

“Wat jonkheid in Suid-Afrika verg, is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ons land is groot; ek was nog net tot in die Oos-Kaap. Ek weet wel daar is geleenthede om nuwe werk te skep; selfs al is dit soms met ou idees wat weer ’n kans kry. In jou jeug mag jy foute maak, danksy mentors by wie jy kan aanklop vir advies. Dis ’n uitdaging om as bruin jong teatermaker voort te gaan, wanneer jy daagliks die verlede in die gesig staar. In die werk wat ek doen, kry ek kans om deur my trauma te werk. Dit is egter ’n weelde wat nie elke ander jongmens beskore is nie. Die jeug is nie ongesond nie; ons leef egter in moeilike tye,” meen die 23-jarige boorling van Kharkams, Jason Jacobs. Sy veelsydige talent en sonderlinge kultuurstem is vanjaar met die KKNK se Kunste Onbeperk-toekenning vir sy eiesoortigheid bekroon. Dié teatermaker, skrywer, dramaturg, ontwerper, akteur en regisseur voeg ’n dinamiese en belangrike nuwe stem aan die Suid-Afrikaanse teaterbedryf toe. Hy het ’n honneursgraad in teater en uitvoering aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Wanneer hy skep, wil en moet jy luister en kyk. Sy produksietrilogie – Kalahari Swaan, Stof Rooi en In wag van – het hom ook Kanna-toekenning as beste nuweling besorg.

Die elemente (water, sand en vuur, die son, sterre en die maan) en die mites, die tradisies, die kultuur, die taal, die liedjies, die danse, die lyf- en gebaretaal – die siel – van die Khoi en die San herleef met ’n brandende begeerte wat die gehoor ontroer, meevoer en tot nadenke stem.

Jason skryf oor die dinge waarvan hy weet; met eerlike, rou meevoeling.

In kwalik drie jaar is Jason se stem gevestig. Kunstefeeste, benoemings en toekennings oral – van Grahamstad se Nasionale Kunstefees tot die US Woordfees, Suidoosterfees en die KKNK. Hy is die wenner van die Theatre Arts Admin Collective-beurs vir jong opkomende teaterregisseurs, betrokke by die Magnet Theatre Early Years Company en die Mothertongue Youth Arts Project in McGregor, die stigter en kreatiewe hoof van KleiSand Produksies, projekte vir onder meer ASSITEJ, Theatre for Children & Young People en die Desmond & Leah Tutu Legacy Foundation.

Hy is ’n gemeenskapsverryker en glo aan teater van genesing.

Gershwin Mias, Courtney Smith en Gantane Kusch in In wag van. Foto: Lumico

Dustin Beck in Stof rooi. Foto: Nardus Engelbrecht

Courtney Smith, Kaylin Coetzee, Jason Jacobs en Dustin Beck in Kalahari Swaan. Foto: Nardus Engelbrecht

Wat strem die pad na volwasse volhoubaarheid?

“Black tax” is steeds ’n realiteit wat baie bruin en swart jong entrepreneurs te bowe moet kom. Ons word nog te dikwels tot stemloosheid of stilswye gedwing. Dit is ontsettend frustrerend, veral as jy weet jy kan deur jou werk verandering help bewerkstellig. Dikwels word jongmense – ter wille van aanpassing en oorlewing – té vinnig groot en boet daardeur sorgeloosheid en onskuld in.

Dit is ’n uitdaging om jou eie voete te vind: huur, kos en selfs teater is duur. Dis moeilik om te oorleef, maar moenie die jeug onderskat nie! In die kunswêreld het ons goeie jong leiers wat nuwe idees bring. Shout out to InZync Poetry en Lingua Franca, wat byvoorbeeld, vernuwende maniere kry om die jeug bymekaar te roep vir veranderinge om plaas te vind.

Is daar ’n werkbare oplossing?

Aksie, met ’n daadwerklike bydrae. Ons maak egter merendeels swak keuses, maar hoe dan anders? Ons laat dan toe dat ons leiers ons in die wildernis laat rondhol!

Ek voel gegrond hier. In die dele van ons land waar ek myself bevind, is ek heppie. Vryheid kom met groot verantwoordelikhede. Ek mentor af en toe jonges en kan sien hoeveel leiding ons nodig het. Hoewel daar geleenthede vir ontwikkeling is, stel baie jonges bloot nie belang nie! Ek en my vennoot, Dustin Beck, werk onverpoosd en ontwikkel ons produksiehuis KleiSand Produksies in ons pogings om jongmense deur middel van teater en dans te inspireer om beter keuses te maak.

Watter rol kan kuns en vermaak speel om alle Suid-Afrikaners saam te snoer?

Kuns en vermaak probeer reeds erg hard en doen al baie om tot versoening by te dra. Die betrokke rolspelers verdien meer erkenning. Ek was onlangs in Italië by die Labaracca Testoni Ragazzi in Bologna met die kinderteaterproduksie Ekhaya. Amper vanuit die wiegie word die kind daar in die teater groot. Hulle kom luister, kyk en speel op mammie se skoot. Ek droom van so ’n instelling hier by ons, waar teater weer deel word van ons grootwordjare. So kweek ons ’n toekoms waar die jeug dalk beter besluite maak, die media minder hoef te skryf oor moord, verkragtings en inbrake. En dan kan storievertellers soos ek met waardering en volle ondersteuning ons werk doen.

Ek is ook betrokke by die Mothertongue-projek in McGregor. Ons lei die jong teatergeselskap in teater vir kinders 0–7 jaar op. Hulle toer tans die hele Langeberg plat en tree vir hierdie ouderdomsgroepe op. Ons verstaan nog nie teater vir babas en kinders so lekker nie, maar dit is juis hier waar liefde vir teater en kuns moet begin. Die kunste leef en kan daarom in digkuns, dramas en selfs goeie televisie gebruik word om mense op te voed. Die relevansie van die inhoud daarvan verg gebalanseerde eerlikheid wat kinders kan help om die regte keuses te maak. Dit bly egter die gebruikers se besluit wat hulle daarmee wíl maak. Die kunste kán opsies bied ... Ek hoop dat ek oorgenoeg finansiële ondersteuning sal ontvang om KleiSand Produksies en die visie wat ons vir ons land het, ’n werklikheid te maak: ’n algehele, onvoorwaardelike aanvaarding van mekaar en jouself. Ek skryf en skep en werk vir genesing.

Vian Singleton

Die elfjarige Vian Singleton in Fiela se kind

”Al is ons klein, kan ons gróót droom – sónder om bang te wees, want ons word deur ons ouers beskerm. Ons breine is nog lekker vars ... Dit help om skoolwerk en tekste vinniger te leer en te onthou. Ons weet nie eintlik wat stres beteken nie. Tegnologie is glad nie vir ons ’n uitdaging nie en ons word nie so gou moeg nie. En ons kan kaalvoet skool toe gaan!” juig die elfjarige Vian (wie se naam “vol lewe” beteken). Vian is ’n graad 6-leerder aan die Laerskool Midvaal op sy tuisdorp, Meyerton. Hy is reeds ’n gesoute akteur en is nou saam met onder andere Shaleen Surtie-Richards te sien as die klein Benjamin in Frans Swart se verhoog-omwerking van Dalene Matthee se roman Fiela se kind.

Vian het in 2015 in Los Angeles aan ’n talentkompetisie deelgeneem, waar hy as junior akteur van die jaar en model van die jaar aangewys is. Sedertdien het hy in talle TV-advertensies, in die Suid-Afrikaanse oorlogfliek My Father’s War en vanjaar in die internasionale rolprent Resident Evil: The Final Chapter opgetree. Hy het vroeër vanjaar aan die South African Championships of Performing Arts deelgeneem, waar hy 18 medaljes ingepalm het, onder meer agt goues vir modelwerk en toneelspel.

Vian verfilm tans steeds aan ’n reeks van 130 episodes van ’n opvoedkundige TV-reeks, The Epic Hangout, wat op SABC2 uitgesaai word.

Vian is ook ’n kranige ATKV-redenaar, skaakspeler, atleet – én ’n Dux-leerder. Hy is ook aangewys as Mr Face en ambassadeur van die antiboelieveldtog SWITCH.

Wat is die uitdagings van kindwees?

Die Suid-Afrikaanse jeug is so gesond soos wat hul ouers hul toelaat om te wees. Maar dit verg dissipline. Dissipline begin in die ouerhuis en dit sal altyd so bly. Kinders ly erg onder groepdruk en sukkel met die behoefte om “êrens” in te pas. Dan raak hulle dikwels die slagoffers van boelies. Die vermoë om die groter wêreld buite jou omgewing raak te sien en veilig te ondersoek, is die hoogste hekkie wat jongmense moet aandurf.

Is daar ’n oplossing?

Daar is áltyd ’n oplossing – in die ouerhuis. Ouers moet meer aanwesig wees in hul kinders se lewens. Wees daar. Sit ’n dag se verlof in. Gaan kyk hoe jou kind rugby speel of aan ’n redenaarskompetisie deelneem. Wees betrokke. Gee genoeg liefde, maar meer belangrik: leer kinders die vaardighede wat nodig is om hulself op alle gebiede te kan laat geld. Ouers moet saam met hul kinders droom; elke welslae én elke teleurstelling moet gevier word. Dit is alles geleenthede om sáám te groei. Dié geleenthede moet aangegryp word en ouers moet hul kinders daarin ondersteun en beskerm.

Waaroor is jy veral bekommerd?

Boelies. Hier is dit die jongmense wat self moet inspring met ’n daadwerklike “geen verdraagsaamheid”-houding teenoor boelies. Benut die “buddy”-stelsel en versprei die kultuur dat dit nie cool is om ’n boelie te wees nie. Staan saam téén boelies. As ambassadeur vir SWITCH (Standing With Individuals To Change Hurt, ’n antiboelieveldtog wat deur Mevrou Gauteng, Shelby Moura, gestig is) bly my motto: “It’s nice to be cool but it’s much cooler to be nice!”

Hoe maak jy ’n verskil?

Dit is ’n voorreg om jonk te wees in só ’n pragtige land. Ek wil graag deur my eie voorbeeld vir kinders en jongmense, en selfs die ouer geslag, wys dat daar wel ongelooflike geleenthede is vir ons kinders in Suid Afrika – ongeag ras, taal of kultuur. Ook deur middel van die uitvoerende kunste. Dis vir my lekker om vir maats te wys dat ’n sportman en akademikus ook met behulp van teater, film en TV ’n kragtige boodskap kan oordra. Die produksie Fiela se kind roer die hartsnare. Dit is vir my lekker om al die tannies, maar meestal die ooms, se rooigehuilde oë ná ’n vertoning te sien. Ek glo ons is almal steeds diep binne-in tog nog maar net ’n kind ... Niemand kan ’n beter jy as jy self wees nie!

Vian Singleton en Shaleen Surtie-Richards in Fiela se kind

  • Ondersteun die antiboelieveldtog hier.

Kry Fiela se kind hier:

  • 20 Junie – 2 Julie: Emperor’s Palace, Theatre of Marcellus, Kemptonpark
  • 5–8 Julie: Innibos-kunstefees, Nelspruit
  • 18–22 Julie: Vrystaat-kunstefees, Bloemfontein
  • 22–27 Augustus: Baxter-teater, Kaapstad
  • 29 Aug – 3 September: Atterbury-teater, Pretoria
  • Besoek fielasekind.co.za vir meer inligting.

Des-lee McKenzie

Des-Lee McKenzie in Ir(RAS)sioneel

Een van die grootste voordele van om jonk te wees in ons land is dat jy as ‘t ware saam met Suid-Afrika grootword, meen die 23-jarige kunstenaar Des-Lee McKenzie, wat spog met ’n graad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het in kabaret gespesialiseer.

Dié veelsydige kunstenaar is onlangs vir haar spel en teks vir ’n Kanna-toekenning as beste opkomende kunstenaar benoem. Sy en haar mede-aktrise, Lisa-Marie Richardson, se opspraakwekkende kabaret Ir(RAS)sioneel by vanjaar se KKNK is ook vir ’n Kanna as beste Uitkampproduksie benoem.

Dié stuk ondersoek ras, identiteit, geslag en skoonheid aan die hand van roerende karaktersketse – waarin lag en huil mekaar gewetenloos in ironie koggel.

Wat bied Suid-Afrika aan jeugdiges?

Suid-Afrika is nog ’n jong demokrasie wat elke dag groei en ontwikkel. Daarom groei en ontwikkel ek ook elke dag – mét drome en aspirasies. Wanneer geleenthede jou kant toe kom, kán jy hierdie geleenthede met albei hande aangryp. Jy is immers fisies en psigies daartoe in staat. Jy mag maar eksperimenteer in die soeke na ’n eie identiteit. Dit is piekfyn om foute te maak. Só leer ons. Ek dink jou jeug is juis die enigste tyd in ’n jou lewe waar die wêreld meer genadig teenoor ander mense – én hul foute – is.

Wat is die uitdagings?

Om mense op te voed en van hul onkunde te verlos. Mense wil nie meer gedefinieer word deur hul ras, seksualiteit of geloof nie. Ongelukkig speel hierdie drie faktore ’n groot rol in ons hedendaagse samelewing (veral nou; ook in wêreldpolitiek). Ek sien baie jongmense om my wat veg vir gelykheid en om mense te laat besef: ja, mense verskil, maar uiteindelik het ons ’n verantwoordelikheid om almal met respek te behandel en te aanvaar vir wie en wat hulle is.

Wat is die beperkinge?

Nie almal sal in jou drome en aspirasies glo nie. Daarmee moet jy vinnig vrede maak. Die harde werklikheid skop in: jy is nie so spesiaal soos wat jy gedink het jy is nie. Ons soek álles kits: kitskos, kitsboodskappe, kitsliefde, kitsverhoudings ... Dit veroorsaak dat alles nie noodwendig langtermyn en/of volhoubaar is nie. Tog is jong Suid-Afrikaners se psigiese gesondheid op ’n baie goeie plek. Hulle is gemotiveerd om hulself te verbeter en verandering mee te bring – én hulle is nuuskierig oor die toekoms.

Wat is jou bydrae tot versoening?

Dat ek kan wees wie ek is. Ek, as Des-Lee McKenzie, kan onbeskaamd myself wees en my boodskap deel. Ek is in ’n bubble grootgemaak van alles is mooi, ons lewe is in harmonie, almal is gelyk. Dan word jy groot en besef dit is net ’n illusie. Die kunste bied jou die geleentheid om iets omtrent hierdie ongelykhede te doen. Ons moet taboes takel. Jy doen jouself en ander mense ’n onreg aan as jy daaroor swyg.

Ek gebruik my platform om mense in te lig en hulle te laat verstaan ons is almal verantwoordelik vir hierdie land, maak nie saak in watter spektrum van die samelewing jy jou bevind nie. Ons is almal – die ek, die jy, die ons en die hulle – aanspreeklik, want ons is álmal Suid-Afrika. Suid-Afrika is nie nét ons land nie; Suid-Afrika is óns. Met die kunste – ’n weerspieëling van die werklikheid - kan ons mense die waarheid laat “sien”.

Gideon Lombard

Gideon Lombard in Die reuk van appels. Foto: verskaf

“Die jeug in die kunste is vreesloos! Ons bevraagteken politieke strukture en ons omhels en waardeer diversiteit. Daar is baie om te sê en baie om van kuns te maak,” meen die akteur Gideon Lombard (31), wat vanjaar die Kanna-toekenning as beste akteur vir sy spel in die opspraakwekkende solostuk Die reuk van appels bekroon is.

Met beeldrykheid en ontstellende metafore vertolk Lombard ’n elfjarige seun, Marnus, wat tydens die apartheidsjare grootword. Onder die juk van politieke, militêre en godsdiensindoktrinasie en patriargale oorheersing moet hy sy menswees, sy kindwees, sy manwees en sy seksualiteit ontdek. Die lewe is veronderstel om mooi, snaaks en kosbaar te wees, maar dit is ook onverstaanbaar en vreeslik. ’n Skokkende ontdekking breek deur die oppervlak van die alledaagse om alles onherroeplik te verander. Van daardie oomblik af kleef die reuk van appels – suur en vrot – aan alles waaraan Marnus raak.

Dié veelsydige teater-, TV- en rolprentmaker (akteur, skrywer, regisseur, stel-, klank- en beligtingontwerper) is in Namibië gebore en het daar en in New York, Kalifornië, Nederland en Kaapstad skoolgegaan. Hy het filosofie en letterkunde studeer en het daarna in 2011 ’n graad in drama as regisseur (cum laude) aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Wat is die slaggate?

Die onsekerheid van die land en die wêreld se politiek en ekonomie. Om met die toekoms van huidige korrupsie te lewe. Om soms oorsensitief te voel in ’n onsensitiewe land.

Hoe gesond of ongesond is die Suid-Afrikaanse jeug?

Ek dink, soos met enige komplekse vraag, is die antwoord waarskynlik net so kompleks. Om ’n gesonde jeug te skep en te handhaaf, verg baie moeite en geduld – van die samelewing in sy geheel, en van die jeug self. Baie jeugdiges probeer gesond, oop en holisties na die wêreld kyk, maar baie van hulle is steeds vasgevang in verouderde strukture wat hulle, sónder persoonlike interpretasie, net so aanvaar het. Om gesond te bly, verg moeite en ’n konstante bewussyn. Baie keer is die bedoeling reg, maar die uitvoering nie.

Wat is die uitdagings?

Hoe internaliseer en verstaan ons ’n baie gewelddadige en onregverdige geskiedenis waarvan ons nie altyd deel voel nie? Hoe vind Suid-Afrikaners ’n gemeenskaplike woordeskat om mee te kommunikeer? Hoe luister ons meer en beter? Hoe behou ons menslike interaksie en konneksie te midde van ’n tegnologiese evolusie wat dit teenwerk?

Wat is jou benadering tot probleemoplossing?

Ek self probeer om gewoon meer te luister en om meer geduld met myself en my medemens te hê. Te midde van al die uitdagings, roetines en druk wat gepaard gaan met jonk wees in Suid-Afrika, voel dit asof dit ’n ongelooflik opwindende tyd is. Die moontlikheid vir werklike verandering voel tasbaar. Soms gevaarlik, intimiderend en ongemaklik, maar wel werklik. Ek sou graag ’n kultuur van luister en stilte wil kweek en koester; om stil te raak sodat ons mekaar een vir een duidelik kan hoor en verstaan. Om ’n kultuur van liefde te kweek, veral wanneer ons verskil.

Kry Die reuk van appels hier:

  • Grahamstown National Arts Festival, Grahamstad (29 Junie – 9 Julie)
  • Vryfees, Bloemfontein (18–22 Julie)
  • Daarna verskuif die produksie na die Staatsteater in Pretoria (die hele September) en die Fugard-teater in Kaapstad (middel-Oktober tot middel-November).
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top