Jonk en trots Afrikaans

Amanda de Stadler

Afrikaanse studente en hoërskoolleerders is baie minder bekommerd oor die toekoms van die taal as die ouer geslag.

Leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch wat saam met studente en ander liefhebbers van Afrikaans deelgeneem het aan ’n gesprek oor Afrikaans, glo die taal is springlewendig mits dit toeganklik is vir almal.

Die organisasie Vriende van Afrikaans het die gesprek gereël as deel van ’n reeks van vyf gesprekke die afgelope jaar waartydens brandende kwessies soos rassisme en ook vrae soos "Waarom sit ek my kind in ’n Engelse skool?" en "Wat het ek vir Afrikaans gedoen?" hanteer is.

Ter afsluiting van die jaar se gesprekke het Vriende van Afrikaans by die jonger geslag gaan kers opsteek om te hoor wat die jeug van Afrikaans verwag, wat gedoen moet word om Afrikaans te laat groei en waarom Afrikaans behoue moet bly.

Danny Titus

Danny Titus, van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), wat die gesprek met die jongmense gefasiliteer het, sê daar bestaan ’n groot mark in die land om Afrikaans te laat groei ten spyte van die negatiewe persepsies wat daar by baie mense oor Afrikaans bestaan.

Hy het onder meer verwys na die groot aantal jong swart mense in die land wie se huistaal Afrikaans is en die groot aantal mense uit ander lande in Afrika wat graag Afrikaans aanleer as hulle in Suid-Afrika kom werk.

Volgens Titus het Afrikaans op verskeie gebiede ’n leierskapsrol om te speel wat ook ander Afrikatale kan help bemagtig.

Al die deelnemers aan die gesprek het hulle sterk uitgespreek ten gunste van moedertaalonderrig.

Mercia Kannemeyer

Mercia Kannemeyer, ’n derdejaarstudent in drama- en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit is noodsaaklik dat al Afrikaans se vele gesigte erken en gevier word. “Afrikaans het verskeie variëteite en Afrikaanssprekers moet dit omarm en deel maak van hulle kultuur.”

Kannemeyer, wat Saterdae ook ’n gemeenskapsprogram op MFM 92.6 aanbied, sê haar belangstelling in Afrikaans is gegrond in die feit dat sy lief is vir haar moedertaal. “Dit is vir my baie opwindend dat daar soveel fasette aan Afrikaans is!”

Frederik van Dyk

’n Regstudent en voormalige voorsitter van die Adam Tas-studentevereniging vir Afrikaans, Frederik van Dyk, sê studente moet self eienaarskap van Afrikaans opeis.

Van Dyk, wat ook HK-lid is by Helshoogte-manskoshuis, sê as studente aan die Universiteit Stellenbosch self eienaarskap van Afrikaans opeis, dinge op die kampus aansienlik anders sou gelyk het.

Michael Jonas

Die hoof uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Michael Jonas, het gepleit dat Afrikaanssprekendes empatie en verdraagsaamheid aan die dag moet lê.

Hoe word mense in die Afrikaanse gemeenskap verwelkom? wou hy weet. “Is dit nie soms die hekwagters van Afrikaans wat so baklei wat dikwels die grootste skade aanrig nie?”

Hy sê daar moet maniere gevind word om Afrikaans in ’n veeltalige konteks so te bevorder dat daar by almal ’n liefde vir die taal gekweek word.

Jonas sê Engels is besig om by baie mense die taal van aspirasie te word. Dit kan teëgewerk word slegs as daar deur middel van lees- en ander projekte ’n liefde vir Afrikaans gekweek word wat die belangrikheid van moedertaalonderrig by Afrikaanse mense sal laat posvat.

Die vraag is hoe ons die diversiteit van Afrikaans se geskiedenis in ’n veeltalige konteks vier.

Verskeie deelnemers aan die gesprek het hulle uitgespreek ten gunste van veeltaligheid en die erkenning van diversiteit.

Vernita Beukes

Vernita Beukes, wat verantwoordelik is vir die onderrig van Afrikaans vir alle internasionale studente aan die Universiteit Stellenbosch, sê sy is passievol oor Afrikaans.

Sy sê baie van haar studente kom net vir ses maande Suid-Afrika toe, maar wil graag ’n basiese kennis van Afrikaans bemeester om die land se kultuurerfenis ten volle te ervaar. “Hoe meer tale jy ken hoe meer toeganklik is jy vir meer mense.”

Danie van Wyk

Danie van Wyk, ’n oudonderwyser, sê dit is belangrik dat die jeug eienaarskap van Afrikaans neem. Die jonger geslag moet ’n passie vir die taal ontwikkel. Hy sê daar is ’n wanpersepsie dat Afrikaans as onderrigtaal minder belangrik is. Dit sal ernstig aandag  moet ontvang.

Die meeste skole in Mitchells Plain is besig om heeltemal te verengels, maar volgens Van Wyk is die enkele skole waar Afrikaans nog die onderrigtaal is, se uitslae ’n bewys van die belangrikheid van moedertaalonderrig.

Liezel van Beek

Liezel van Beek, ’n jong entrepreneur wat onder andere sewe jaar lank skoolgehou het in die Ooste, sê mense wat omgee vir Afrikaans moet baie minder opinies hê en meer luister na ander mense se stories.

“Ons kan nie meer die reëls maak nie en moet die bagasie van die verlede afskud.”

Vriende van Afrikaans se bestuurder, Amanda de Stadler, sê die "grootmense" sal haar vergewe as sy sê die deelname van die studente en leerders was veral vir haar indrukwekkend en van groot belang.

De Stadler sê hulle hoop om in die toekoms meer van hierdie soort gesprekke te fasiliteer om groter begrip onder landsburgers te bewerkstellig.

Hierdie gespreksgeleenthede is strook met die Nasionale Ontwikkelingsplan se strewe na ’n sterk burgerlike gemeenskap wat selfstandig kan dink.

Vriende van Afrikaans het die afgelope jaar mense uit verskillende samelewingsfere en van verskillende ouderdomme genooi om te kom saamgesels oor Afrikaans.

 

Maryke van Schalkwyk

Ben Malan

Elin Swanepoel

René Cloete

16-10-30-atkv-vva-8497-kira-alberts

Kira Alberts

Christopher Banda

Gerda Odendaal

Adinda Vermaak

Benjamin Bock

Zian Blignaut

Jean Oosthuizen

Santjie van Vuuren

Andri Malan

16-10-30-atkv-vva-8482-robin-hendrikse

Robin Hendrikse

16-10-30-atkv-vva-8481-loraine-de-waal

Loraine de Waal

Nicola Bekker

Desmond Painter

Foto's: Izak de Vries

Kommentaar

  • Vernita Beukes

    Dit was 'n voorreg om aan hierdie gesprek deel te neem. Die jongmense het my veral verras met hulle sienings en menings.

  • Henri Craemer

    Afrikaans word deur INSEAD (een van die top nagraadse besigheidskole in Frankryk) as internasionale taal erken. Waarom sal Afrikaans dan bedreig voel tov bestaansreg?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top