jong latte op die strand

  • 7

hulle baljaar
vergaar onwetend
herinneringe
tussen korrels

die jong latte

hulle toets die waters
verskuif grense
sit vreesloos voort
op hul laggende ekspedisies

die jong latte

spottend die stemme
genadeloos die mededinging
hulle voete van rots
hulle hare goud soos die sand

die jong latte

argeloos hardloop hulle
soos voëlvrye vlieënde meeue
histeriese gehoon
klink op vanuit hul swerme

die jong latte

eb en vloed wys op hul lywe
mae wat kabbel
donker haartjies babbel
bo-oor swembroekrek
adonis gluteus, gastrocnemius, bisep
brander en brandend
bruin geëts belowe
gloeiende bevryde stemme
die konsep van remme
vreemd en vreesaanjaend

die jong latte

hul modieuse broeke
(blou met seilskepe, rooi met stoombote, groen met seekompasse)
hang arrogant ver suid van navel (naval?) en kruip egoïisties duskant noord op dy
hul Zoeloe-kraalbandjies
(swart pitjies, pienk saadjies, bruin spikkels)
glinsterend en weerkaatsend
op sout, sand, sening

die jong latte

hang aan, staan bo-op, lê plat
brander, plank, meisie
talm, terg, vryf
skulp, dop, dier
sien, voel, ruik
son, brand, room

die jong latte
se gebeentes nog weerbarstig teen vel
se oë nog ver bespiedend teen horison
se asems nog gereed teen vloedaanslag
se hande nog sterk teen rusie

julle jong latte

al is julle strandbestand
al is julle veilig in jul bikini-toppie poppie se omhels
al vind julle vertroosting in haar warm mond en arms
al dink julle die rotse sal meegee onder julle wil

kos dit ‘n klein blonde-haar, blinkoog tjokkertjie-dogtertjie
om met haar ongeartikuleerde koppie-met-foppie
te besef:

julle jong latte, 
die see
sal julle tog almal nog onherroeplik,
verrinneweer.

En jul liggame van rots,
sal deur die eeue-oue wyse branders
tot onderdanige sandkorrel
verbrokkel.

  • 7

Kommentaar

  • Johann de Jager

    Iets van Uys (Dalk Wilma ook?) eggo in die okerneut op my skouers, want toepaslik, eggo ook `n eie jeugadonis Narcissus terug en op byna 8o weet Adonis wat die simboliek van `n see is wat jong rotsvaste latte sand maak, al noem ons die ou see iets anders, Lekker man.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top