Johnny is nie dood nie, Albert Maritz se indrukke

  • 2

Johnny is nie dood nie
Gebaseer op die teaterteks van Malan Steyn
Teks en regie deur Christaan Olwagen
Met Roelof Storm, Ludwig Binge, Albert Pretorius, Ilana Cilliers, Rolanda Marais
Ontwerp: Birrie le Roux
Musiek: Charl-Johan Lingenfelder
Redigering: Ronelle Loots

Aan die suidpunt van Afrika was daar hierdie klein republiek. Dit is beskryf as ‘n polisiestaat waar die minderheid regeer. Die kaliber mense van hier het met unieke ondernemingsgees en verfynde kwaliteite, ‘n skool-“army-draught”-sisteem en ‘n innerlike woede die kommunisme die stryd op die slagveld aangesê op die grens tussen Namibië en Angola.

Helde is gebore. Ontelbare lewens, van huweliksmaats, en van die spruite uit huwelike, is verwoes. Die pyn is vir jare onder die mat ingevee en met soetsappige stemme van die musiektoneel gelawe. Maar ‘n weeklikse koerant, Vrye Weekblad, en ‘n misterieuse protesgees het deur die land gegroei. Dit was tradisioneel voorheen net onder sogenaamde nieblankes, maar dit het amper onderbewustelik gegroei tot ‘n nasionale subversiewe protes – veral waar daar musiek was. Luisteraars het eers nie agtergekom dat selfs David Kramer protesmusiek gesing het nie. Minder bekendes was geeste soos Bernoldus Niemand, wat ‘n broertjie dood had aan die mense met snorre in Pretoria. Laasgenoemdes het in plekke soos Jamesons in Johannesburg, selfs in tjok-en-blok venues in Snor City (Niemand se naam vir Pretoria) protesteer. Intussen duur die oorlog op die grens voort. Die President met sy veragtelike vinger in die lug word deur skerpskertsers en dronk studente as nar uitgebeeld. Die veiligheidspolisie hou met ‘n  ystergreep aan die keel van die gemeenskap, orde.

Toe is daar Piekniek by Dingaan. Koos Kombuis en Ralph Rabie skep saam met die teatergeselskap ‘n unieke, kragtige protesstem. Die mooiste, mooiste Kerkorrel-liedjie, wat snaaks genoeg nooit kommersieel eksploiteer word nie, is in Piekniek. En, soos jy kan verwag van Charl-Johan Lingenfelder, aan die roer van die musiek in Johnny is nie dood nie, diep hy “Donker, donker land” op.

Die koortjie lui:

En dis 'n donker donker land
Die seisoene draai die sterre brand
Die son word rooi ons het beland
Aan die maan se verkeerde kant.

Dis mos poësie! Dit staan mos sy aan sy met die beste van Koos du Plessis en Breytenbach. Die standaard is internasionaal. Die tema sou kon geld vir enige veragtelike regime, enige plek ter wêreld. 

Uit ‘n ander hutspot van pyn, Nazi-Duitsland, kom tog ‘n silwer randjie: Volkswagen. Uit ons eie poefpoelverlede, Olwagen. (Poefpoel? Die fliek draai nie doekies om nie; bring die kinders, maar bring oorpluisies.)

Christiaan Olwagen rys op uit die verwarde verlede, en dié magiër reik met Johnny is nie dood nie so hoog na die sterre; dit lyk of die sagte understatement van die overstated miskien die vuur kan blus. Of die spieël, so hoog gelig, die ander kant van die maan belig. En waar daar lig is ...

Die film het sy een voet in die tydperk toe almal NP (vir die destydse Nasionale Party) gestem het. Die ander voet in die nadraai van daardie verlede. Dit mag wees dat mense wat oud genoeg is om die PW-periode te onthou, meer geraak kan word deur die inhoud van die fliek. Maar Johnny is nie dood nie is ‘n fliek van sulke hoogstaande gehalte dat die aanklank ver en wyd behoort te wees.

Wat een leemte sal uitlig. ‘n Leemte wat niks nuuts is nie. Waar daar nie hoop is nie, is daar nie bioskope nie.

Ek dwaal gou af om die punt te maak. Die fee- en fabelstyltonele in Johnny herinner sterk aan ‘n keurreeks wat op SAUK uitgesaai is, lank voor Olwagen se tyd. Northern exposure is in Alaska geskiet, maar die vervaardigers was Nederlanders. Die hele reeks was besaai van die vreemdste lekkernye in terme van die kyker se smaak in prentjies – kleur, kostuum, storielyn en spel.  En sulke werk, wat so na aan die mens se psige beweeg, en soveel lig gee, moet verder as net jou plaaslike bioskoop gesien word. Volpunte aan die aankopers vir die SAUK destyds.

Johnny mag die hele huidige boksemdaais omkeer. Hoe wens mens nie dit oorskadu loketrekords (al is dit van ander puik produkte uit Suid-Afrika) en skep nuwes nie. Vraag is: Wie gaan dit hier plaaslik sien?

Wys ons Johnny vir die verste plattelandse, Zuma-gesinde statbewoner? Gee ons – soos die ANC met verkiesingstyd – gratis Johnny-T-hemde uit in plakkerskampe – en iets om te eet na almal die fliek gesien het? Wys ons, soos met Faith like potatoes, hierdie belangrike hersiening in kunsvorm in die Mosaiek-kerk, die NG Kerk, die Engelse kerke? Betrek ons die Vrymesselaars? Trek ons Elon Musk, sir Richard Charles Nicholas Branson, Christo Wiese, Cyril Ramaphosa met hierdie  dinamiese projek nader – om te doen wat Mandela sou wou sien?

Dis die kunstige weergawe van mense met mekaar vermeng; die beter weergawe as die mense opmekaarstapel en in kunsmatige wooneenhede mekaar laat infiltreer, wat die ANC sien as nasiebou. Johnny is nasiebou. Nes PG du Plessis se Fees van die ongenooides. Die inhoud hanteer ‘n nasie se psige. Dit kan nie onder ‘n mat in nie. Dis tyd vir oopgooi en deel. Dis wat die akteurs doen in Johnny. Dis wat die akteur onderskei van die voordraer. Dis wat ‘n goeie fliek die gehoor bied. Jy mag maar oopgooi; selfs deel as jy wil.

Die Johnny in Die Mens is net afskuwelik as die goeie Johnny nie son en water kry nie.

Olwagen en sy span bedrewe departementshoofde skep ‘n produk wat jou sal meesleur. Wanneer jy Johnny die tweede keer gaan kyk, kyk dan in besonderhede na die kontras. In Johnny is dit – soos by alle goeie kuns – duidelik.

Die Olwagen-teks is een van ironieë, soos die lewe. Wat jy graag wil sien gebeur – dit wat die sprokie sal teweegbring – word nie waar nie. Terselfdertyd is daar die hoop dat – iemand wat glo Voëlvry kon die gang van ons geskiedenis verander, self eendag alles beter sal maak – deur een daad hoop sal skep! Naturalisme speel af en maak ‘n saak uit vir pseudofilosofieë oor vryheid. ‘n Kommunis sonder bra word bekeer tot ‘n sosialis – iemand wat bra dra.

Chris Vermaak se kamera wys – solied soos die raam om ‘n foto, en gemotiveerd – sonder agting vir bo of onder, dat mure ore het. Hy wys die lens kan deur glas sien en as jy kan fyn skets, mag jy ook breë stroke verf.

Louw Verwoerd se klank weerspieël die bui van film soos nog min vantevore. As jy een is wat glo kuns se kos is besonderhede, sal jy hier tot die sigaretrook proe – trek vir trek.

Olwage is een van min mense op die toneel, ook wat sy regie vir die verhoog betref, wat die waarde besef van die speler, komposisie, en die rol van dié fasette in kontras en teenstelling en in simbiose met mekaar. Wat dit beteken as psigologiese studie; wat die tussenspel tussen die elemente beteken – vir die deelnemer, sowel as die gehoor. Die deelnemer mag dit weet; die gehoor hoef nie. Dis wat die werk betowerend maak. Dis wat Johnny, die fliek, groots maak.

Die Birrie le Roux-ontwerp is “right up” die Christiaan Olwagen-droomstraat. So ook die stelinkleding.

En glo my vry – die klankontwerp is ‘n karakter in hierdie fliek, soos die kamera, kostuums, inkleding, musiek, en soos elke akteur. Vandat Albert Pretorius die klank met die afstandbeheer afsit in die begin, tot verby die doodse stilte in Rolanda Marais se waarheid, tot aan die einde van alles, wanneer ons bederf raak omdat die sterre brand, en ons weet waar donkerte jou laat beland.

Onder die akteurs … take your pick. Of jy hou van “looks”, of jy hou van “butch”. Johnny deel talente van die kaliber van Charlize, die Afflecks, Streeps – noem jou gunsteling – en talle ander sterre van die wêreld, hopelik met die wêreld.

Hierdie alles word saamgebind met die verstandige hand van die redigeerder, Ronelle Loots. Hier en daar trap die teks en redigering ‘n fyn lyn. Maar dis die risiko werd. Omdat alles in sy plek val – na die tyd as jy alles betrag. Van ‘n afstand af. Soos David Kramer in protes gesê het:

And knowing it all
From the distance of headlines
I express my opinion
With a mouth full of dry wine.

Jy kan nie wegkruip vir die kamera soos destyds se NP-stemme en dapper luiperde agter hul snorre nie. Hier staan jy, die ou in die fliek se gehoorsaal, uitgelewer. En, jy het eerste prys. Want jy’s niks saf nie. Dié een kyk jy op die groot skerm. Dis eg, soos die baard agter baardolie. Dié is jou kans. Die land beweeg. Jy kom regop. Jy sien die ander kant. Spring in die Olwagen, op die glybaan na die reënboogkant.

Nie almal sal wil nie. Lees die onderstaande reaksie op ‘n resensent in 2016 vir LitNet.

Herman Bester

2017-03-17 at 03:16

Aag snert! Hierdie film val gemaklik in die middel van niks. Olwagen se pogings om blatant vir Iñárritu na te maak verwyder hom van enige moontlikheid op internasionale sukses en sy gevolglike getrippel om die waarheid van die tyd en sy mense aan die neus lei (is dit Kerkorrel of is dit nie? DIT IS NIE en enige mens met 'n bietjie kennis van die era sal dus nie inkoop op die verdigsel nie) gaan maak dat dit ook plaaslik 'n flop gaan wees. Nou moet jy jouself afvra, indien 'n film geen impak op die internasionale mark maak nie en hy maak minder as 'n half miljoen plaaslik (my voorspelling), is hy suksesvol? Is hy goed? En behoort hy te bestaan?

  • 2

Kommentaar

  • Christo Eloff

    So ’n verligting om iets authentic en honest te sien, veral oor daai tyd. En veral vir ons generasie wat, soos ek, in die middel was. Op Stellenbosch, die Mekka van die suide, ook op Voëlvry by die gewels en 3 arts, en net daarna dienspligtig en in SWA en Angola. Of dit PW laat val het of nie, ten minste het dit ons ’n voice gegee, nou nog. Kerkorrel, Koos, Bernoldus et al. En dit was miskien banaal maar ten minste eerlik en true. ’n Reus van ’n Afrikaanse movie. Vir diegene wat bewus is of bewus wil word. Well done. Ek drink op die een wat sy drome oorleef, op die een wat kry wat hy vra.

  • Die film het my meegesleur. Die akteurs het my oorrompel met OSCAR performances. Elk en iedereen. Van openings- tot slottoneel. Natuurlik sit die musiek mens op 'n trippie. En dan is jou terugvoering ook net so in die kol en hoogs leesbaar, Albert. Hoop en glo dat hierdie stuk kunswerk tog wyer gehore sal tref. En ja, dat ons almal nog ons drome in hierdie tans-skeefdeurmekaar-reënboogland sal beleef ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top