John Kannemeyer (31 Maart 1939 – 25 Desember 2011) en die uitgewers

  • 0

Die afsterwe van John Christoffel Kannemeyer op Kersdag 2011 het groot literêre betekenis vir Afrikaanssprekendes. Dit is nie ’n gewone afsterwe van ’n skrywer of literator nie, maar een wat op unieke wyse die oorgang van een tydvak na ’n volgende in die Afrikaanse letterkunde markeer.

Kannemeyer is die verpersoonliking van die toegewyde akademikus wat met onblusbare drif alle beskikbare feite navors ten einde volledig aan die geslagte van die toekoms verslag te kan doen oor die skrywers en skryfwerk wat hulle voorafgegaan het.

Die tumult en wydlopendheid van sy privaat lewe was niks in vergelyking met die felheid van sy aanslag op primêre en sekondêre bronne nie; niks eens naby aan die vitterigheid waarmee hy dinge waaroor daar onsekerheid was onder sy deurpriemende blik gebring het vir verifikasie nie.

Wat werkvermoë betref, had John Kannemeyer baie gemeen met Karel Schoeman. Sy werk getuig nie alleen van erudisie nie, maar ook van die allesomvattende  literêre liefde wat dit aangevuur het. As biograaf het hy in Afrikaans haas geen gelyke nie, met net JC Steyn wat in dieselfde asem genoem kan word.

Kannemeyer was die ideale literêre historikus vir ’n era waarin skrywers dagboeke gehou het en uitvoerig per brief met mekaar gekorrespondeer het. Skrywers wat hul literêre versamelings en private boekerye aan universiteite nagelaat het, het geweet dat die geoefende oog van John Kannemeyer reg sou kon laat geskied daaraan.

Vanweë sy spesifieke geaardheid was dit ook amper natuurlik dat hy veel meer plesier sou put uit die opspoor van vergete feite uit Jan Rabie se Parysse dae of Peter Blum se Londense verblyf as uit die dinge wat makliker vasstelbaar was.

Maar wat ook die aard of intensiteit van sy snuffelwerk was, vir uitgewers was daar geen vraagstuk nie: As Kannemeyer ’n manuskrip voorlê, verdien dit die uitgewer se absolute aandag. Uitgewers wat deur die jare met hom saamgewerk het, sal in my woordkeuse ’n versigtigheid bespeur. Hy had die manier om die uitgewer te betrek by baie dele van die ontstaanproses, sowel banaal as verhewe.

Die koppestamp met uitgewers, waarvoor hy in ’n sekere mate bekend geword het, het in baie opsigte meer hieruit gespruit as die dispute oor vergoeding en so meer wat wel aangeteken staan, en wat dikwels slegs die uiteinde van versuurde betrekkinge was.

Dit is wel so dat elke uitgewer wat met hom te doen had, gou onder die indruk gekom het van die manier waarop John Kannemeyer se koppigheid en halstarrigheid, sy verbete puntenerigheid eintlik gefunksioneer het as ’n soort vangnet. Dit was die ingeboude manier waarop hy die gehalte van sy werk beheer het.

Sy verhoudinge met uitgewers word gereflekteer in sy belangrikste publikasies:

Op weg na Welgevonden, H&R-Academica, 1970
Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, H&R-Academica, 1978/1983
DJ Opperman: 'n Biografie, Human & Rousseau, 1986
Die Afrikaanse literatuur 1652-1987, H&R-Academica 1993
Die Afrikaanse Literatuur 1652 - 2004, Human & Rousseau 2005
Wat het geword van Peter Blum?, Tafelberg, 1993
Langenhoven: 'n Lewe, Tafelberg, 1995
Leipoldt: 'n Lewensverhaal, Tafelberg, 1999
Die lewe en werk van Uys Krige, Die goue seun, Tafelberg, 2002
Jan Rabie: 'n Biografie, Tafelberg, 2004
Leroux: 'n Lewe, Protea Boekhuis, 2008
JM Coetzee: ’n Geskryfde lewe, Jonathan Ball Publishers 2012

Kannemeyer se outobiografie, Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag, is in 1990 deur Jutalit gepubliseer. Dit is nooit herdruk nie, maar bevat darem ’n foto van die andersins minder bekende literêre uitgewer van Jutalit, Chris Pelser.

Die name wat by implikasie deur hierdie lys opgeroep word, is die mense wat dikwels aan die ontvangkant van Kannemeyer se wrewel was, maar waarsonder hy ook nie sy manuskripte gepubliseer sou kon gekry het nie: Koos Human, Hans Büttner, Hannes van Zyl, Danie Botha, Riana Barnard, Alida Potgieter, Nicol Stassen en Chris Pelser.

In al die jare wat hy aktief was, was daar na my wete slegs een baie groot projek wat hy nie gepubliseer gesien het nie, naamlik Kultuurgeskiedenis wat hy tussen 1988 en 1990 vir die RGN saamgestel het. Ná FW de Klerk se dramatiese aankondigings in die parlement op 2 Februarie 1990 was dit duidelik dat hierdie werk, met talle bekende akademici wat daartoe bygedra het, in ’n baie verouderde politiek-kulturele sleutel geskep was. Kannemeyer kon nooit ’n uitgewer daarvoor vind nie.

Kannemeyer het dié teleurstelling gebruik as aansporing en dadelik begin met ’n reeks biografiese publikasies. Dit het begin met Wat het geword van Peter Blum? (1994) en eindig met  JM Coetzee: ’n Geskryfde lewe, wat hy kort voor sy ontslaping voltooi het. Vir hierdie uiters vrugbare periode van sy lewe kan alle liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde baie dankbaar wees. Kannemeyer se werke oor Langenhoven, Opperman (weliswaar uit 1986), Leipoldt, Uys Krige, Jan Rabie en Etienne Leroux, tesame met sy tweedelige Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur en die latere Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004, is van monumentale omvang binne die raamwerk van die Afrikaanse kultuur.

Hy is verskeie kere bekroon: die Ou Mutual-prys vir Niefiksie in 1987 (vir DJ Opperman), die Gustav Preller-prys vir literêre kritiek in 1988, die Recht Malan-prys vir niefiksie (vir die eerste band van sy literatuurgeskiedenis en daarna weer vir sy biografieë oor Langenhoven en Leipoldt). Laasgenoemde het hom ook die gesogte Helgard Steyn-toekenning besorg. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het die NP van Wyk Louw-medalje in 2003 aan hom toegeken. ’n Doktorsgraad, honoris causa, is in 2009 deur die Universiteit van Stellenbosch aan hom toegeken.

JC Kannemeyer se dood bring ’n mens by die punt waar ’n paar bitter feite in ag geneem moet word. Die belangrikste is dat daar geen oënskynlike opvolgers vir JC Kannemeyer die literêre biograaf is nie. Dan moet mens ook in ag neem dat Kannemeyer se gehoor gekrimp het. Waar Langenhoven: ’n Lewe nog herdruk kon word, het dieselfde sedert die Jan Rabie-biografie nie weer gebeur nie.

Maar die grootste verandering lê elders, buite iemand soos Kannemeyer se beheer. Die koms van e-pos en die onbereikbaarheid van e-pos wat deur rekenaars geargiveer word, maak die taak van die literêre biograaf soveel moeiliker as wat dit die afgelope eeu was. Die nuwe geslag biograwe wat binne die paradigma van elektroniese kommunikasie kan werk, moet hulself nog kom aanmeld.

Maar wie hulle ook al is, hulle sal weet dat JC Kannemeyer ’n peil daargestel het wat moeilik nagedoen sal kan word.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top