Johannes Calvyn (III)

  • 0

Saint-Nicolas Church, Strasbourg, waar Calvin in 1538 gepreek het (Foto: Riccardo Speziari, Wikipedia)

Die geval Michael Servetus

Michael Servetus, gebore in Tudela in Navarre, het eers in Saragossa in Spanje en daarna in Toulouse in Frankryk studeer, voordat hy na Italië en Duitsland vertrek het waar hy Philipp Melanchthon en Martin Bucer ontmoet het. Hy het opreg en eg belanggestel in die Christelike godsdiens en ’n deeglike studie van die dogma daarvan gemaak. Hy het egter vroeg tot die gevolgtrekking gekom dat hy die Drie-eenheidsleer van die kerk nie kan aanvaar nie (wat die RK en die Protestante gemeen gehad het), en ook nie die kinderdoop nie. In Julie 1530 het hy met Johannes Oecolampadius hieroor in Basel gestry, en is uiteindelik uit dié stad verban. Daarna het hy na Straatsburg gegaan, waar hy ’n pamflet oor die Drie-eenheidsleer gepubliseer het. Martin Bucer het dit in die openbaar weerlê en Servetus is gevra om ook dié stad onmiddellik te verlaat.

Nadat hy uit Basel teruggekeer het, het hy sy uitdagende, maar eerlik-oortuigde verhandeling De Trinitatis Erroribus Libri VII in 1531 gepubliseer. Hierdie verhandeling het sy Christelike vriende terdeë geskok, RK sowel as Reformatories. Die Spaanse Inkwisisie het sy arrestasie aangevra. Daarop het Servetus na Parys gegaan en hom as mediese dokter bekwaam. Tussen 1541 en 1553 was hy die persoonlike geneesheer van die aartsbiskop van Wene.

Intussen het hy ’n geheime korrespondensie met Calvyn in Genève gevoer. Hulle het mekaar vir die eerste keer in 1546 ontmoet deur bemiddeling van Jean Frellon van Lyons, en briewe aan mekaar begin skryf. Calvyn het om een of ander rede onder die pseudoniem Charles d’Espeville aan hom geskryf, en self het Servetus nooit sy briewe onderteken nie (vgl Christianismi Restitutio, deel 4, hierna, wat die 30 briewe bevat wat Calvyn aan Servetus geskryf het). Uiteindelik het Calvyn besluit om die korrespondensie nie verder voort te sit nie. Calvyn was in die besonder ontstig toe Servetus hom ’n kopie van sy Institusie stuur wat hy hewig in die kantlyn geannoteer het om op argumentasiefoute daarin te wys.  Toe Servetus melding maak dat hy van plan is om Genève self te besoek, het Calvyn op 13 Februarie 1546 in ’n brief aan Farel geskryf dat as hy sou kom, en dit in sy mag is, hy nie weer lewend daar sal uitkom nie (Cotrett, op cit, 2000, ble 216–7; THL Perker, op cit, 206, ble 147–8; en Leonard W Levy, Blasphemy: verbal offense against the sacred from Moses to Salman Rushdie, 1995, bl 65).

In 1553 het Servetus sy Christianismi Restitutio gepubliseer waarin hy weer die Christelike Drie-eenheidsleer verwerp, asook Calvyn se praedestinatio.

In dieselfde jaar het Calvyn se segsman, Guillaume de Trie, briewe aan die Franse Inkwisisie gestuur om Servetus aan die pen te laat ry, waarin hy hom ’n “Spaanse-Portugees” noem wat onlangs uit die Joodse geloof bekeer is. De Trie het sy eintlike naam weergegee as Michael (Spaans Miguel) Servetus, ’n man wat toe as geneesheer praktiseer onder die naam Villeneuve, en dat hy vir ’n tyd in Lyons vertoef het, maar nou in Wene bly. Toe die Franse inkwisisie-generaal hoor dat Servetus in Wene “wegkruip”, en volgens Calvyn dat dit ’n pseudoniem is, het hy kardinaal François de Tournon, die sekretaris van die aartsbiskop van Lyons, gekontak en hom gevra om die saak dringend op te neem. Servetus is gearresteer vir ondervraging. Sy briewe aan Calvyn is as bewys voorgehou van wie hy werklik is, maar hy het ontken dat hy daardie briewe geskryf het, en dat dit ook nie heeltemal sy handskrif is nie. Servetus het toe by die Heilige Evangelie gesweer dat hy Michel de Villeneuve is, ’n mediese dokter van beroep, en 42 jaar oud is, geboortig uit Tudela in die koninkryk Navarre, ’n stad onder die bestuur van die keiser. Hy het ook gesê dat alhoewel hy nie Servetus is nie, hy die naam Servet aangeneem het om met Calvyn te korrespondeer. Die Rooms-Katolieke owerhede het hom in absentia ter dood veroordeel om deur “stadige verbranding” op die brandstapel te sterf. Calvyn het egter reeds vroeër Servetus se anti-Drie-eenheidsiening in besonderhede gerepudieer.  

In 1553 het Servetus se eintlik groot werk oor die onderwerp anoniem verskyn onder die titel Christianismi Restitutio waarin hy sy siening volledig uiteengesit en verdedig het. Hy het die Drie-eenheidsleer ontken basies op grond van die feit dat hy Jesus alleen as ’n ware en opregte mens gesien het. Dit was niks nuuts nie. Arius (ca 250 – ca 336) was van dieselfde mening – wat juis in die somer van 325 nC met die Konsilie van Nicea tot die finale formulering van dié ortodokse leerstuk gelei het toe Jesus as homo-oúsios (“van dieselfde substansie/wese”) met God self verklaar is. Servetus het net twee elemente in die synskonstruksie van Jesus gesien, naamlik dat hy ’n menslike liggaam gehad het (gemodelleer op die Lógos) en ’n siel (as lewensbeginsel). Die Spaanse Inkwisisie het hierdie werk van Servetus onmiddellik as kettery verklaar, en hy is in die tronk gestop. Maar hy het ontsnap en sou na Calvyn se ortodokse Genève verhuis om daar skuiling te soek (waarheen ook baie ander godsdienstig-beswaarde Protestante gevlug het in dié tyd). Maar hy het hom deeglik misgis met die humanitas van Calvyn – wat vooraf reeds laat blyk het dat hy nie weer lewend daaruit sal kom nie.

Onderweg na Italië het Servetus toe na Genève vertrek om “D’Espeville” (Calvyn) te gaan besoek. Hier is hy onmiddellik herken en in hegtenis geneem. Calvyn se sekretaris, Nicholas de la Fontaine, het die aanklagte teen Servetus opgestel en aan die hof voorgelê. As amptelike aanklaer is Philibert Berthelier, ’n Geneefse Libertyn en lid van die invloedryke “Patriotiese” familie in die stad, aangewys, en die sessies is deur Pierre Tissot, Perrin se swaer, gelei. Die Libertyne wou die saak so lank as moontlik uitrek, tot irritasie en treitering van Calvyn. Hulle probleem was egter dat Servetus se reputasie die hele Europa vol gelê het.

Op 21 Augustus 1533 het die Stadsraad van Genève besluit om ook ander Switserse stede te nader vir hulle oordeel oor die saak (sodat hulle nie alleen die blaam sou dra vir die onvermydelike teregstelling van Servetus nie). Terwyl die Raad gewag het, het Servetus laat blyk dat hy die oordeel van Wene en Genève sou vertrou. Trouens, hy het gesmeek om in Genève te bly.

Op 20 Oktober 1533 het die Stadsrade van Zürich, Basel, Bern en Schaffhausen laat weet dat hulle Servetus skuldig bevind aan uiterste kettery. Die volgende dag is hy dan ook in Genève deur verbranding op die brandstapel tereggestel. Daar is diegene wat beweer dat Calvyn eerder teregstelling deur onthoofding voorgestaan het as minder barbaars. Sy pleidooi is egter geweier en op 27 Oktober 1533 is Servetus lewend verbrand op die Plateau de Champel buite Genève – ’n skouspel tot waarskuwing van diegene wat dogmaties in die openbaar van die amptelike kerkleer sou verskil (vgl Alister McGrath, A live of John Calvin, Basil Blackwell, Oxford, 1990, ble 118–20; Bernard Cottret, op cit, 2000, ble 222–5; en THL Parker, op cit, ble 150–2). Die lewende verbranding was ’n residu van die religieuse mentaliteit van die Donker Middeleeue wat dit voorafgegaan het, en waaronder Calvyn se reputasie, heel tereg, vandag nog ly.

Die geval Sebastianus Castellio

Sebastianus Castellio is in die dorpie Savoy gebore. In 1840 het hy na Straatsburg verhuis, waar hy Johannes Calvyn ontmoet het. Calvyn het hom oorgehaal om Protestants te word, en hom later gehelp om die pos as rektor van die Geneefse kollege te bekom. Sy sterker humanistiese oortuigings het hom egter gou in botsing met Calvyn gebring. Dit het daarop uitgeloop dat hy die Hooglied van Salomo as deel van die kanon verwerp het. Hy het ook ’n onortodokse interpretasie van die neerdaling van Jesus Christus in die hel verkondig.

Castellio het toe na Basel verhuis waar hy in 1551 ’n nuwe Latynse vertaling van die Bybel uitgegee het: Biblia Sacra Latina. Castellio se doel was om die nuwe vertaling van die Bybel ’n groter klassieke elegansie te gee. In die proses het hy egter die eenvoudige trefkrag van Hieronimus se Vulgaat geweld aangedoen. Veral die Anotationes wat sy vertaling vergesel het, het die Calviniste nie aangestaan nie. Hy was nie alleen onkerklik nie, maar het ’n perkelose godsdienstige verdraagsaamheid voorgestaan. In 1552 het hy professor in Grieks by Basel geword. In 1554 het sy De Haereticis verskyn waarin hy die teregstelling van Michael Servetus veroordeel het, en weer eens vir groter verdraagsaamheid van kerkleiers gevra het. Castellio het gemeen dat Calvyn minder ydel oor die teologie moes wees, en meer klem moes lê op die moreel-etiese in die Nuwe Testament. Castellio het toe die teorie van godsdienstige verdraagsaamheid op Bybelse gronde gefundeer. Sy breuk met Johannes Calvyn en Teodore Bezae (de Bèsze) was hiermee finaal. In 1555 het hy nogeens ’n Franse vertaling van die Bybel uitgegee wat egter minder suksesvol was. Sy groot werkywer rondom die Bybel het egter beïndruk. Twee van sy werke teen Calvyn is eers na sy dood uitgegee vanweë die anti-Calvinistiese sentimente daarvan, naamlik Contra Libellum Calvini (1612) en De Praedestinatione (1578). Vgl hier F Buisson, Sébastien Castellion, sa vie et son oeuvre 1515–1563 in Étude sur les origines du protestantisme libéral français (in twee volumes, 1892).

Die geval Jérôme-Hermès Bolsec

Hieronimus Bolsec was oorspronklik ’n Karmelitiese monnik van Parys. Hierdie godsdienstige Orde was teen 1154 deur sint Berthold gestig op die berg Karmel in ou Palestina en hulle het selfs daarop aanspraak gemaak dat hulle direkte afstammelinge was die Ou-Testamentiese profeet Elija (II Konings 2). Die primitiewe reglemente daarvan is eers in 1209 opgestel deur Albertus van Vercelli, wat toe die Latynse patriarg van Jerusalem was. Na die mislukking van die Europese Kruistogte in die 11de tot die 13de eeu het baie van die lede daarvan na Europa gemigreer. Hulle het uiters asketiese lewens gelei deur afsondering van hierdie wêreld, gereeld te vas, die eet van vleis te vermy, voortdurend te kontempleer en voorbidding te doen, en die ideaal om niks te besit nie, nagestreef. Hulle het wit mantels met bruin skapuliere (skouerklede) gedra. Hulle was van die eerste teoloë wat die Maria-latrie, die Moeder van die Kind Jesus, ingevoer het en die Onbevlekte Ontvangenis van Jesus verkondig het. As gevolg van die vervolging van die Protestante in Europa het hulle na Italië gevlug, waar hulle beskerming verleen is deur die hertogin van Ferrara. Hier het Bolsec as dokter begin praktiseer in Chablais, waar hy kennis gemaak het met Calvyn en geïnteresseerd geraak het in sy leerstellinge. Gou het hy egter van Calvyn verskil oor sy uitverkiesingsleer, en Calvyn ook op 16 Oktober 1551 hieroor in Genève aangevat. Hy het gemeen dat Calvyn met sy leerstelling God uiteindelik ook die oorsaak van die sonde gemaak het van dié wat vir ewig verlore sou gaan. Die Stadsraad het toe die sekulêre owerhede aangesê om hom te arresteer. Die naburige stede Basel, Zürich en Bern het egter maar heel gematigde ondersteuning vir Genève gegee. Nietemin het Calvyn se Genève hom op 22 Desember 1551 vir goed uit hul stad verban.

Enkele ander twispunte wat Calvyn moes trotseer

Pierre Caroli, ’n Protestantse pastor van Lausanne, het Calvyn, sowel as Viret en Farel, van Arianisme beskuldig. Arius, ’n teoloog van Libiese geboorte, het gaan redeneer dat die Persoon van Jesus ondergeskik is aan dié van God, ’n kwessie wat eers, soos reeds hier bo genoem, met die Konsilie van Nicea besleg is. Dit was geheel ongeregverdig, hoewel hy God die Skepper vooropstel in sy Institusie – dan eers gevolg deur Jesus Christus as Herskepper. Nietemin het Calvyn homself verdedig in ’n monografie onder die titel Confessio de Trinitate propter calumnias P Caroli (vgl Cottret, op cit, 2000, ble 125–6, en Richard Gamle, “Calvin’s controversies” in The Cambridge Companion to John Calvin, 2004, bl 199).

In die daaropvolgende jaar het Joachim Westphal, ’n Geneefs-Lutheraanse pastor van Hamburg, Calvyn en Zwingli weer as “ketters” verklaar omdat hulle die brood en die wyn by die Eucharistie as simbolies en nie ’n werklike ervaring van Jesus se liggaam en bloed gesien het nie. In 1555 het Calvyn hom geantwoord in nog ’n monografie onder die titel Defensio sanae et orthodoxae doctrinae de sacramentis (vgl THL Parker, op ci., 1975, bl 163, en ook Richard Gamble, op cit, ble 193–6).

In 1556 het Justus Velsius, ’n Nederlandse afvallige, Calvyn weer in die openbaar in Frankfurt aangevat en die mens se vrye wil teenoor Calvyn se predestinasieleer verdedig.

Calvyn oor die Joodse “probleem”

Geleerdes verskil oor die posisie wat Calvyn teenoor die Jode van die dag ingeneem het. Daar is dié wat sê dat hy die mins anti-Semities was van al die hervormers, veral in vergelyking met die uitgesprokenheid van Martin Luther. Ander het weer beweer dat hy op grond van bepaalde uitsprake anti-Joods was (vgl Calvin Augustus Parer, “Calvin, the Jews, and the Judaic Legacy” in EJ Furcha (red), In honor of John Calvin: Papers from the 1986 International Calvin Symposium, Montreal) en Salo Baron, “John Calvin and the Jews” in Leon A Feldman, Ancient and Medieval Jewish history, New Brunswick, New Jersey, 1965/1972). Almal is dit egter eens dat ons moet onderskei tussen Calvyn se siening van die Ou-Testamentiese (Bybelse) Jode en die moderne Jodedom in sy teologie. Calvyn maak geen onderskeid tussen God se Verbond met ou Israel en die Nuwe Bedeling van Jesus nie. Sy uitspraak was dat “alle kinders van die Belofte, herbore in God (die Vader), het die verordeninge van die geloof in liefde nagekom, en behoort (dus ook) tot die Nuwe Verbond sedert die ontstaan van die wêreld (vgl hier Calvyn se Institusie, II.11.10). Maar dit impliseer tog dat die Jode die Jesus van die Nuwe Bedeling eers ook moet aanneem (vgl G Sojin Pak, John Calvin and the Jews: his exegetical legacy, Washington, 2009, bl 25). Vgl hier ook, in Afrikaans, PA Verhoef se “Wat van die Jode?” van 1945.

Die meeste van Calvyn se uitsprake oor die Jode in sy tyd was polemies. By geleentheid het hy geskryf: “ Ek het baie gesprekke met Jode (van my tyd) gevoer, maar ek het nooit enige druppel piëteit of ’n greintjie waarheid of oorspronklike vernuf by hulle gevind nie. Ek het (teologies) nog nooit enige gewone verstand by hulle aangetref nie” (vgl Calvyn se Kommentaar by Daniël 2:44–45). In hierdie opsig verskil Calvyn weinig van die Protestantse en die Room-Katolieke teoloë van die dag. In sy bestaande geskrifte handel Calvyn alleenlik oor die vraagstuk van die Jode en Judaïsme in sy monografie Ad Questiones et Obiecta Iudaei cuisdam Responsio Ioannis Calvini (vertaal deur R Susan Frank, PhD-proefskrif, Temple University, Philadelphia, 1987, ble 220–61). Hierin argumenteer Calvyn dat die Jode hulle eie geskrifte verkeerd gelees het, juis omdát hulle nie die eenheid van die Ou en Nuwe Testament kon raaksien nie.

Calvyn en die politiek van die dag

Calvyn het ’n fyn lyn betree tussen die rol van die godsdiens en die gemeenskap en die regte van die staat waarin daardie gemeenskap hom bevind. Calvyn was van mening dat die Bybel hier geen bloudruk vir die mens gee nie. Hy was sekerlik ’n demokraat, maar dan ’n demokraat op Christelike beginsels. Uiteindelik het hy dus van sy Genève ’n soort teokrasie gemaak. Tog het hy politieke stelsels onafhanklik laat fungeer, met dien verstande dat heerskappy oor die mens ’n plig is wat God aan die regeerders gee wat, as hulle dit nie op Christelik-godsdienstige wyse nakom nie, van hulle verwyder en hulle van alle gesag ontneem moet word. Niemand in die staat kan egter gedwing word om ’n Protestant te word nie (vgl Jan Weerda, “Calvin” in Evangelisches Sosiallexicon, kol 221; en Otto Weber, “Calvin, Johannes” in Die Religion in Geschichte und Gegenwart, 3. Auflage, Band I, 1957, kol 1598).

Met betrekking tot die finansiële wêreld was Calvyn veel meer liberaal as Martin Luther. Beide was gekant teen woekerwinste, maar Calvyn het tog minimale rente op geleende geld as geregverdig gesien. Om te werk was die mens se plig. Immers na Adam se val in die Paradys sou hy sy kos “in die sweet van sy aangesig moes verdien”. Die gebruik van die Middeleeuse bedelary (soos by sint Francis van Assisi) het Calvyn verfoei. Die idee dat ekonomiese sukses ’n sigbare teken van God se welwillendheid is, het feitlik geen rol by Calvyn gespeel nie. In die latere, meer gesekulariseerde tye met die opkoms van die kapitalisme het Calvinisme vir Max Weber ’n geregverdigde vertrekpunt geword.

Calvyn se posisie in Genève het al sterker gegroei. Uiteindelik, na twee jaar, is die Libertyne met die Stadsraad-verkiesings van Februarie 1555 verslaan. Calvyn is nou beskou as die “verdediger van die Christendom”. Baie Franse geloofsvlugtelinge het na Genève oorgekom en natuurlik vir hom gestem nadat hulle burgerskap bekom het. In die Consistorium het hierdie syndici nou die meerderheid gevorm.

Die Libertyne wou egter nie gaan lê nie. Op 1 Mei het ’n groep besope Libertyne die strate van Genève binnegevaar en amok gemaak. Hulle wou die huis afbrand waar ʼn klompie Franse vlugtelinge glo tuisgegaan het. Die syndicus Herni Aulbert het probeer tussenbeide tree, maar Perrin het sy bâton van gesag by hom afgeneem. Die skare het gou gedink dat ’n coup d’état op hande is, maar dié is tot ’n einde gebring toe ’n ander pro-Calvynse syndicus dit weer oorgeneem het en sake tot orde gebring het. Perrin en sy geesgenote is geforseer om uit die stad te vlug. Met die toestemming van Calvyn is die ander samesweerders wat agtergebly het, gearresteer, voor die hof gebring, en tereggestel. Calvyn was nou in 1555 die absolute meester van die stad – maar die hande was, helaas, nie bloedvry nie. Die Geneefse Consistorium het onafhanklik geword. Die wette vir die stad is met meer presisie gedefinieer. Vrye (demokratiese) verkiesings is gereeld gehou. Die politieke seggenskap van die Stadsraad het onder die vaandel van Calvyn gestaan. Daar is verder veral aandag gegee aan opvoeding à la Calvyn.

Dit was die ideaal van Calvyn dat Genève sy eie collège vir hoër opvoeding sou kry, maar ook goeie opvoeding vir die kinders – waar die grondslae wat hy begeer het, reeds vroeg beslag sou kon kry. Ligging vir sy skool is reeds op 25 Maart 1558 verkry. Hoewel dit ’n enkele instelling was, was Calvyn se skool in twee afdelings verdeel: die collège of schola privata self en die académie of schola publica. Calvyn het twee professore beroep wat aanvanklik nie daarvoor kans gesien het nie: sy ou Latynse leermeester en vriend, Mathurin Cordier van Lausanne, en Emmanuel Tremelius, regius professor in Hebreeus aan die Universiteit van Cambridge in Engeland. (Dit herinner presies aan die lot van die Stellenbosse Kweekskool in 1859 toe twee Nederlanders eers as professore beroep is.) Maar Calvyn kon Theodore Beza oorhaal om as rektor te kom optree. Binne vyf jaar het die junior skool 1 200 leerlinge gehad en die collège 300 studente. Die collège is na Calvyn vernoem, ’n instelling waaruit die Universiteit van Genève later gebore is. En dit het vanaf 1558 het die Akademie van Genève geword, die plek waaruit sy alumni aanstons Calvinisme oor die hele Europa sou uitdra.

Calvyn was ’n man met ’n vurig humeur (“die wilde bees in hom”, het hy dit self genoem), en altyd ernstig. Tog het hy hom hier en daar ’n vrye tydjie gegun en op uitstappies gegaan. Reeds in sy vroeë veertigerjare het sy gesondheid begin agteruitgaan. Waarskynlik deur ooreising het hy liggaamspyne begin ontwikkel. Maar hy het onvermoeid voortgegaan om dag en nag te skryf: kommentaar op die Bybel, allerlei verhandelinge, pamflette, en briewe aan heersers, biskoppe en studente oral. Tot sy Institusie van die Christelike Geloof (Institutio Religionis Christianae) het hy voortdurend toevoeginge gemaak, waarvan die laaste uitgawe van 1559 vyf keer groter was as die eerste uitgawe van 1536, wat dit eintlik ’n nuwe werk gemaak het van 80 hoofstukke uit die oorspronklike 21 hoofstukke (toe alreeds vroeër self hersien). Hierin het Calvyn nie soseer nuwe onderwerpe (dogmas) behandel nie, maar eerder die bestaande stof meer eksplisiet, omskrywend uitgebrei. Hy het ál sy werke in Latyn, die akademiese taal van die tyd, geskryf. Baie daarvan is egter in volkstale oor die hele Europa heen vertaal.

Calvyn se eksegese het net berus op wat in die Skrif self staan: sola scriptura was die wagwoord van die Hervorming. Daar is al gesê dat Calvyn te veel Ou-Testamenties gedink het – immers die Ou-Testamentiese teokrasie was sy model, terwyl dit die Nuwe Bedeling was wat hy moes verkondig. Henri Clavier het toe uiteindelik, in sy Êtudes sur le Calvinisme van 1936, die Bybel-verwysings in Calvyn gaan tel, en gevind dat Calvyn 3 098 keer na die Nuwe-Testamentiese teks verwys, terwyl hy maar net 1 755 keer die Ou-Testamentiese teks aanhaal. Hy het die Christelike godsdiens as ’n Besondere Openbaring gesien wat deur Israel heen progressief tot die (lokale?) mensheid gekom het. Hy het God gesoek in die geskitter van die sterre (Algemene Openbaring), en die “verlossing” van die mens deur daardie God se predestinasie, vasgelê reeds voor die grondlegging van die wêreld (hê katabolê tês gês) – wat vandag deur baie, heel tereg ook, as ’n decretum horribile beskou word.

Calvyn het die (Christelike) kerk, die Ou-Testamentiese qâhâl Jahwe(h) as universeel sigbaar én onsigbaar gesien (wat oa ook ’n argument vir Suid-Afrika se apartheidbeleid was saam met die uitspraak in Handelinge). Hy was in sy denke veel verskuldig aan Augustinus van Hippo in Afrika. Calvyn het met die hervormers Martin Bucer en Heinrich Bullinger van Zürich noue kontak gehad, maar, veelseggend genoeg, nie met Martin Luther (en Philipp Melanchthon) nie.

Lees ook:

Johannes Calvyn (I) 

Gerrit van Wyk Kruger 
Seminare en essays 

"Johannes Calvyn was ’n Franse teoloog en regsgeleerde wat verantwoordelik was vir die Groot Hervorming in die 16de eeu in Europa in die Franse wêreld, en wel in die eerste instansie in Franssprekende Switserland in Genève, soos Martin Luther dit in Duitsland was."


Johannes Calvyn (II) 

Gerrit van Wyk Kruger 
Seminare en essays 

"Toe daar oorlog uitbreek tussen Frankryk en Duitsland, was Calvyn verplig om met ’n ompad na Parys terug te keer, en só beland hy toe geheel onbeplan in Genève, waar hy eintlik teen sy wil ingetrek is om die Hervorming daar te lei."


Johannes Calvyn (IV) 

Gerrit van Wyk Kruger 
Seminare en essays 

"Calvyn het nie lank genoeg gelewe om te sien hoe sy insigte internasionale erkenning gekry het, en selfs ’n beweging van sy eie geword het nie."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top