Johannes Calvyn (II)

  • 0

Portret van Johannes Calvyn deur Titiaan (Bron: Wikipedia)

Calvyn in Straatsburg (1538-1541)

Voordat Calvyn se Institusie nog in druk verskyn het, het hy in Italië besoek gaan aflê by Renée, die Franse prinses (hertogin) wat tydelike beskerming verleen het aan godsdienstige vlugtelinge. Gou het sy volkome onder die invloed van Calvyn gekom. Hierna het Calvyn weer na Parys teruggekeer, maar het gou weer na Straatsburg verhuis, waar hy van plan was om met sy skryfwerk voort te gaan. Toe daar oorlog uitbreek tussen Frankryk en Duitsland, was Calvyn verplig om met ’n ompad na Parys terug te keer, en só beland hy toe geheel onbeplan in Genève, waar hy eintlik teen sy wil ingetrek is om die Hervorming daar te lei. Die man wat hiervoor verantwoordelik was, was Guillaume Farel, die hervormer van die Franse deel van Switserland. Calvyn het gaan insien dat, met die Edik van Cousy, wat aan die “ketters” ’n grasie-periode van ses maande gegee het om weer versoen te raak met die RK, daar nou vir hom geen verdere toekoms in Frankryk is nie. En in Augustus van daardie jaar het hy besluit om na Straatsburg te verhuis, ’n meer vrye imperiale stad in die Heilige Romeinse Ryk, en ’n toevlugsoord vir Hervormers soos hy. Hy was egter gedwing, weens militêre operasies, om met ’n suidelike omweg deur Genève in Switserland te reis. Hy wou net een nag in Genève oorbly, maar loop toe vir William Farel, ook ’n oortuigde hervormer, raak.

Terwyl Farel ’n student was in Parys, het hy onder die invloed gekom van Jacobus Faber, alias Lefèvre d’Êtaples (Stapulensis, gebore in die dorpie Etaples). Hulle het saam onder die invloed van Martin Luther van Wittenberg se dissipelskap gekom. Farel is egter gou uit Parys verban, waarskynlik onder die invloed van Desiderius Erasmus, wat hy by geleentheid ’n “nuwe Balaäm” genoem het. In 1530 het Farel die Hervorming uitgedra na Neuchâtel, waar ikonoklasme (die breek van beelde in die RK Kerk vir aanbidding) vir wanorde gesorg het. In 1535 het Guillaume Farel en sy vriend Pierre Viret die Hervorming gaan vestig op Genève. Viret, van die dorpie Orbe, het toe alreeds die Hervorming gaan verkondig in Lausanne, Nîmes, Lyons en Orange. In 1564 het hy, in drie volumes, te Genève sy boek Instruction chrestienne en la doctrine de la Loy et l’Êvangile gepubliseer.

Farel, ’n oudstudent van Lefèvre, en grootliks ook onder die invloed van Ulrich (vir Huldreich) Zwingli, had selfs meer ywer vir die Hervorming as sy eertydse meester self.

Genève het reeds lank gestry om los te kom en onafhanklik te word van die kettings van die hertog Savoy en die RK biskoppe wat finansiële voordele daar getrek het. Europa het toe nog grootliks bestaan uit ’n konglomerasie van onafhanklike stadstate binne aparte taalgroepe. Toe Farel met die Hervorming kom, het die biskop van Genève gou die hasepad gekies, en hy het vanaf Augustus 1535 die “nuwe” Evangeliese prediking vir die volk gebring. In Mei 1536 het die inwoners van Genève afgodediens aan beelde afgesê, en daarna gestrewe om elke dag volgens die Woord van God te lewe.

Calvyn kom na Genève

Dit was dan twee maande later, in Julie 1536, dat Johannes Calvyn sy opwagting in Genève gemaak het, en Farel hom (as reisiger) oortuig het om daar vir die Hervorming te kom arbei. Aanvanklik het hy gehuiwer, maar gou sou dit sy Evangeliese standplaas tot sy dood word. William M Ramsay vertel ons in sy Church History One Hundred One (John Knox Press, 2006, bl 57) dat toe Farel by hom eers tevergeefs aangedring het om hom op Genève by te staan, dié toe aan hom gesê het dat as hy hom nie in hierdie tyd van nood sou wou help nie, God sekerlik sy vrede sal vervloek. Dit het hom bang gemaak en van mening laat verander.

Calvyn het later gesê dit was asof God uit die Hoogte sy hand vir diens daar op hom gelê het. In September van daardie jaar nog het Calvyn sy boekery uit Basel oorgebring na Genève, en lesings in die Katedraal van Sint Pierre oor die Briewe van Paulus begin gee. Aanvanklik was geen bepaalde pos aan hom toegesê nie, maar gou was hy aangestel as professor (“reader”) in die Heilige Skrif. In 1537 is hy ook as “pastoor” gekies, alhoewel hy nooit enige pastorale ordening gehad het nie (vgl Bernard Cottret, op cit, 2000, bl 120). En Calvyn moes nou kerkdienste lei, en troues en dope waarneem (vgl THL Parker, op cit, 2006, bl 80).

In die herfs van 1536 het Farel ’n Geloofsbelydenis vir die kerk van Genève opgestel, terwyl Calvyn verskeie artikels (pamflette) opgestel het oor die Geneefse kerk. Op 16 Januarie 1537 het Farel en Calvyn hul Articles concernant l’organation de l’église et du culte à Genève aan die Verkleinde Geneefse Raad voorgelê met ’n aantal bepalinge om die eertydse godsdienstige reëlings van die stad te hervorm. Om te verhoed dat die Eucharistie (Nagmaal) geprofaniseer word, is bepaal dat diegene wat hulle aan skandalige dade skuldig gemaak het, dit nie mag gebruik nie. ’n Aantal Geneefse burgers van eerbare gedrag is aangestel om daaroor toesig te hou. Vir Calvyn staan die Eucharistie sentraal in die kerklike liturgie omdat dit die dood (en opstanding) van Jesus by die laaste Avondmaal saam met sy dissipels herdenk.

’n Dokument is ook in 1537 opgestel waarvolgens die gelowiges instruksies gekry het oor hoe om hulle geloof te bely. Kinders moes ook onderrig word om Psalms tot lof van God te sing waarby die note aangegee word. Daar is ook bepaal hoe huwelike voltrek moes word, en op welke gronde ekskommunikasie toegepas kan word. En die Raad het dit nog dieselfde dag aanvaar (vgl Bernard Cotrett, op cit, 2000, ble 128–9, en THL Parker, op cit, 1975, ble 74–6).

In April 1538 het daar egter ’n krisis in Genève ontstaan. Uit die groter stad Bern het instruksies gekom hoe om die eertydse godsdiensrites te bly uitvoer wat onder andere bepaal het dat ongesuurde brood vir die Nagmaal gebruik moes word. Dit was in botsing met wat Calvyn en Feral voorgestel het van gewone gesuurde brood, en hulle het geweier om die Nagmaal met daardie Paasfees te bedien. Vroeër reeds het Farel en Calvyn se reputasie met die Stadsraad gekwyn en het hulle ook by vergaderinge gebots. Die Stadsraad was ook teësinnig om Farel en Calvyn se instruksies op die gemeente af te dwing. Verder het slegs enkele burgers in die stad hulle geloofsbelydenis onderskryf. Oproer het in die stad voorgekom, en Farel en Calvyn was gedwing om uit Genève pad te gee.

Farel en Calvyn het hierna na Bern en Zürich gegaan om hul saak te stel. Die Sinode van Zürich het die blaam op Calvyn geplaas as sou hy nie simpatiek genoeg gestaan het teenoor die inwoners van Genève nie. Bern is daarop gevra om bemiddelend op te tree sodat Farel en Calvyn weer tot Genève toegelaat kan word. Genève het egter geweier, en hulle het na Basel uitgewyk. Farel het ’n uitnodiging ontvang om na Neuchâtel te gaan. Calvyn is weer gevra om die Franse hervormende kerk in Straatsburg te kom bedien, waar nou reeds leidende hervormers was soos Martin Bucer en Wolfgang Capito. Calvyn het aanvanklik geweier, omdat die uitnodiging nie ook vir Farel gegeld het nie. Bucer het egter op Calvyn se dienste bly aandring, en hy is uiteindelik oorreed.

Teen September 1538 het Calvyn sy nuwe posisie by Straatsburg opgeneem, en gemeen dat dit nou vir goed was. ’n Paar maande later het hy vir burgerskap aansoek gedoen, wat hom ook toegestaan is (vgl THL Parker, John Calvin: A biography, Oxford, 2006, ble 90–2, en Alister E McGrath, A life of John Calvin, Basil Blackwell, Oxford, 1990, ble 101–2).

Gedurende sy bediening op Straatsburg, waar hy ’n volle drie jaar sou bly, was Calvyn nie aan ’n bepaalde kerkgebou verbonde nie. Hy het opgetree in die Sint Nicolas Kerk, die Sint Madeleine Kerk en die eertydse Dominikaanse Kerk – wat toe herdoop is tot die Tempel Neuf. Al hierdie kerke bestaan vandag nog in Straatsburg, maar is intussen struktureel verander. Calvyn het tussen 400 en 500 gemeentelede gehad. Hy het elke dag gepreek en lesings aangebied by Johannes Sturm se Teologiese Skool, met twee preke (sermoens) op Sondag. Nagmaal is elke maand gevier en die gemeente is aangemoedig tot samesang.

Hy het ook hier aan die tweede uitgawe van sy Institusie begin werk. Hy was nie tevrede met die oorspronklike opset daarvan as net ’n kategismus, dws ’n kortbegrip, oftewel leerboek, met vrae en antwoorde oor die belangrikste Christelike leerstellings, nie. In die tweede uitgawe van sy Institusie het Calvyn toe ook die formaat daarvan drasties verander en die hoofleerstellings van die Bybel eerder sistematies behandel. Die oorspronklike ses hoofstukke het toe 17 geword, en dit is in 1539 gepubliseer.

Calvyn het terselfdertyd ook aan ’n kommentaar op Paulus se Romeine-brief gewerk - die interpretasie van juis daardie Bybelboek wat so baie tot die Hervorming bygedra het. En het hier onmiddellik sy model vir vele toekomstige Kommentare op Bybelboeke geskep: in plaas van om die teks van Hieronymus se Vulgaat te gebruik, het hy dit opnuut uit Grieks vertaal. (Erasmus se Griekse teks van die NT, swak soos dit was, het op 1 Maart 1516 by Johann Froben in Basel verskyn.) Pas daarna het sy noukeurige eksegese en uiteensettinge gevolg. In ’n opdraende voorwoord het Calvyn die werk geprys van sy voorgangers, Philipp Melanchthon, Heinrich Bullinger en Martin Bucer, hoewel hy soms met hulle interpretasies van hierdie Brief van Paulus verskil het. Calvyn het ook ’n Franse Psalmboek gepubliseer.

Saam met sy vriend Martin Bucer, hervormer uit eie reg op Straatsburg, het Calvyn in 1540–41 drie konferensies bygewoon wat vir Lutheraanse en Rooms-Katolieke teoloë gereël is.

Calvyn se vriende het hom intussen aangemoedig om te trou. Calvyn het daarop heel onromanties gereageer. Aan een korrespondent het hy geskryf: “Alhoewel ek so ten gunste van die huwelik is, is ek nog nie getroud nie, en ek weet nie of ek ooit sal trou nie. As ek ’n vrou sou neem, sal dit wees om meer bevry te wees van my bekommernisse, sodat ek my geheel aan die Here kan wy” (vgl Bernard Cottret, op cit, 2000, bl 140). Verskillende moontlike bruide is aan Calvyn voorgestel, onder andere een uit ’n adelfamilie wat Calvyn toe toegestem het om te neem. Daar was egter die voorwaarde dat sy Frans moes kon praat. Die troudatum was al klaar vasgestel vir Maart 1540, maar Calvyn het op die laaste oomblik kop uitgetrek. Hy het later geskryf dat hy nooit werklik daaraan gedink het om met haar te trou nie – “tensy die Here my van my sinne beroof het” (vgl THL Parker, op cit, 1975, bl 87). In Augustus 1540 het Calvyn egter wel getrou, met Idelete van Bure, die weduwee van Jean Stordeur, ’n vlugteling uit Liége. Sy was toe reeds die moeder van twee kinders by haar oorlede man. Calvyn het slegs een kind by haar gehad wat egter as suigeling gesterf het. En sy sou hom ook in 1549 ontval.

Die toestand van die kerk in Genève het in Calvyn en Farel se afwesigheid onstabiel gebly, sowel kerklik (waar die bywoning van eredienste afgeneem het) as polities. En Genève het Calvyn se posisie heroorweeg. Kardinaal Jacopo Sadoleto, as vurige RK geleerde, het hom beywer vir versoening met die hervormers wat wou wegbreek. Hy het in 1539 hieroor ’n brief aan die gemeente van Genève geskryf om hulle terug te bring in die RK kraal. Die Stadsraad van Genève het toe vir Pierre Viret gevra om op die kardinaal se brief te antwoord. Hy het egter geweier en Calvyn gevra om ’n antwoord voor te berei. Calvyn het (teësinnig) ingestem in sy “Responsio ad Sadoletum”, waarin hy nogeens die belangrikheid van kerklike hervorming in Genève beklemtoon het.

Op 21 September 1540 het die Stadsraad een van sy lede, Ami Perrin, afgevaardig om na Calvyn in Straatsburg te gaan en hom te oorreed om terug te keer na Genève. Hierdie afvaardiging het Straatsburg bereik terwyl Calvyn nog aanwesig was by ’n konferensie, oftewel samespraak, tussen kerkleiers oor kerklik-dogmatiese kwessies in Worms. Calvyn se eerste reaksie op hierdie nuwe versoek uit Genève was een van groot ontsteltenis en selfs afsku. Hy het teruggeantwoord dat hy “hom eerder ’n honderd maal aan die dood sal oorgee as om daardie kruis weer op te neem en daagliks meer as ’n duisend maal weer (in lyding) om te kom” (THL Parker, op cit, 2006, bl 105).

Calvyn het egter ook laat blyk dat hy tog gewillig was om die roeping van die Here na te kom as hy moet. Genève het ’n plan opgestel waarvolgens Viret tydelik vir ses maande die kerklike bestuur van die stad sou oorneem waartydens Calvyn en Bucer sou terugkeer om die volgende stappe te beplan. “Daar was geen plek onder die hemele wat ek (toe) meer gevrees het nie,” sou Calvyn later erken. In die somer van 1541 het Straatsburg egter besluit om Calvyn vir ses maande te “leen”. Calvyn het toe op 13 September 1541 met amptelike begeleiding saam met sy hele familie na Genève teruggekeer.

Die Stadsraad van Genève het Calvyn se voorstelle op 20 November 1541 aanvaar in ’n dokument getitel “Ordonnaces ecclésiastiques”. Hierdie ordinansie het vier bepalinge ingesluit: (1) “pastore” moes preek en die sakramente bedien; (2) die “doktore” moes die gelowiges instruksies in die geloof gee; (3) die “ouderlinge” (< Grieks presbúteros, letterlike die ouer mense) moes vir die dissipline in die stad sorg; en (4) die “diakens” (< Grieks diákonos, met aanduiding van ’n gewone dienaar of helper) moet na die armes in nood omsien.

Die Stadsraad het ook gevra vir die stigting van ’n Consistoire. Die Consistorium (latere Kerklatyn) was die vergaderkamer (“plek van vergadering”) van die kerkraad as ’n soort hof van dissipline waar gevalle van ernstige oortreding na die burgerlike Stadsraad verwys is. Calvyn self het geen aangewese amptelike sitplek in die Consistorium gehad nie. Een van die vier syndici, oftewel hoofmagistrate, het altyd die voorsitterstoel ingeneem. (Die woord syndicus is ook Laat-Latyn, juis as ampsterm in Genève geskep.) Calvyn se persoonlike teenwoordigheid het hom egter de facto die leier van sulke vergaderings gemaak. Calvyn was die hoof van die Geneefse kerk en daarmee ook die geestelike leier van die stad self. Hoewel die Geneefse Kerkraad later ook siviele strawwe opgeëis het, is op 19 Maart 1543 besluit dat alleen die burgerlike (siviele) regering van die stad straf mag oplê, ekskommunikasie ingesluit (Bernard Cottret, op cit, 2000, ble 165–6, en THL Parker, op cit, 2006, ble 108–11).

In 1542 het Calvyn ’n kerkdiensboek wat hy op Straatsburg gebruik het, hersien en onder die titel La Forme des Prières et Chants Ecclésiastiques gepubliseer. Calvyn het (net soos Martin Luther) die impak van gesamentlike sang tydens eredienste belangrik geag, waar die gemeente aan die diens meedoen. Calvyn se oorspronklike Straatsburgse Psalmboek het net 12 psalms bevat, gekomponeer deur Clément Marot. Calvyn het nou, in Genève, verskeie toevoeginge self gemaak. Teen die einde van 1542 het Marot ook as ’n vlugteling van Genève gekom en ’n verdere 19 psalms bygevoeg. Louis Bourgeois, nog ’n geloofsvlugteling, het musiekonderrig kom gee in Genève vir die volgende 16 jaar, en nog verdere gesange bygevoeg in die Geneefse gesangeboek, waaronder sy “Ou Honderdste” (Bernard Cottret, op cit, 2000, ble 172–4, en THL Parker, op cit, 2006, ble 112–5).

In 1542 het Calvyn ook sy Catéchisme de l’Eglise de Genève gepubliseer, geïnspireer deur Martin Bucer se Kurze Schrifftliche Erklärung van 1534. Calvyn het reeds vroeër, gedurende sy verblyf op Genève, ’n kategismus opgestel wat grootliks gebaseer was op die “Groot Kategismus” van Martin Luther. Calvyn het sy eerste uitgawe op pedagogiese wyse gerangskik: die Wet eerste, gevolg deur Geloof en Gebed. In sy 1542-uitgawe het hy dit egter op teologiese gronde gerangskik: Geloof eerste, deur die Wet en Gebed.

Historici debatteer nou nog of Calvyn se Genève ’n teokrasie op OT-model was of nie. Calvyn self het ’n duidelike onderskeid gemaak tussen kerk en staat. Feit is egter dat Calvyn se teologiese insigte ’n enorme invloed gehad het op die burgerlike bestuur van die stad. (Vgl hier Mark J Larson, Calvin’s doctrine of the State: A Reformed doctine and its American trajectory, the Revolutionary War, and the Founding of the Republic, Wipf & Stock, 2009, ble 1–20, asook Harro Höpfl, The Christian Polity of John Calvin, CUP, 1985). Calvyn het in sy prediking in opeenvolgende preke sistematies deur die hele Bybel gewerk. Van Maart 1555 tot Julie byvoorbeeld het hy 200 preke gelewer oor die OT-boek Deuteronomium alleen (John D Currid, Calvin and the Biblical languages, Christian Focus Publications, VK, 2006).

Voltaire, die vermaarde Franse skrywer, het by geleentheid oor Calvyn, Luther en Zwingli opgemerk: “Toe hulle die priesterselibaat laat vaar het en die hekke van die kloosters oopgemaak het, het hulle alleen slegs die ganse gemeenskap in ’n klooster omskep. Vertonings en vermaak is uitdruklik in hulle godsdiens verbied. Vir meer as twee honderd jaar is nie ’n enkele musiekinstrument in Genève toegelaat nie. Hulle het ‘voorkamer’-belydenisse veroordeel, maar het tog deelgeneem aan openbare belydenisse. In Switserland, Skotland en in Genève het dit in die openbaar voorgekom net soos "boetedoenings".

Van die persoonlike lewe van Calvyn is helaas bitter min bekend. Sy huis en meubels was die eiendom van die Stadsraad. Sy huis was groot genoeg om sy familie te huisves sowel as dié van sy broer Antoine en hulle bediendes. Idelette, met wie hy skaars nege jaar getroud was, het op 28 Julie 1542 geboorte gegee aan hulle enigste kind, wat vroeg gebore is en toe enkele dae daarna oorlede is. Sy self het in 1545 siek geword en op 29 Maart 1549 gesterf. Calvyn het nie weer getrou nie. Die verdiet oor Idelette se dood hy soos volg aan Viret oorgedra: “Ek is van my beste vriend in die lewe ontneem, iemand wat, as dit so voorbestem was, gewilliglik sou gedeel het in my armoede en in my dood. Gedurende haar lewe was sy ’n getroue helper in my bediening. Van haar het ek nooit die kleinste belemmering ondervind nie” (THL Parker, op cit, 2006, ble 129–30). Gedurende die res van sy lewe het Calvyn verskeie vriendskapsbande volgehou vanaf die vroegste tyd, soos met Montmor, Cordier, Cop, Farel, Melanchthon en Bullinger (Bernard Cotttrel, op cit, 2000, ble 183–4 en THL Parker, op cit, 2006, bl 131).

Die kerklike dissipline in Calvyn se Genève was uiters streng. Oortreders is eers “broederlik” gewaarsku, maar dan goed dopgehou. Die morele kodes van die stad, wat reeds daar was voor Calvyn se koms, is nou strenger toegepas, asook prag-en-praal-wette. Dobbelary, die misbruik van drank en selfs dans is verbied, asook enige ligsinnige singery op straat. Natuurlik het Calvyn van die sogenaamde libertyne teenstand verwag en gekry, maar dit het eerder sy posisie sterker gemaak. Hy is dikwels uitgeskel en het selfs liggaamlike geweld verwag. Maar Calvyn het krisis na krisis oorleef, aangegaan met sy onderhoudende prediking, geskryf, teologiese lesings gegee, en polemieke met sy teenstanders gehad vir wie hy die roede nie gespaar het nie. Hy kon nie alles vir almal in Genève wees nie. Eers in 1455, nege jaar voor sy dood, het hy die finale oorwinning in Genève behaal en heer en meester van die stad geword. ’n Deel van sy sukses was te danke aan die politiek van die dag, soos die feit dat Franse “Hugenote” ter wille van hul Protestantse geloof skuiling by hom kom soek het.

Gedurende sy bediening in Genève het Calvyn meer as 2000 preke gelewer. Aanvanklik het hy twee keer op ’n Sondag gepreek en drie keer per week. Dit was ’n te swaar vrag wat Calvyn moes dra, en in 1542 het die Stadsraad besluit dat hy net een preek op Sondae moes gee. Sewe jaar later, in Oktober 1549, is hy egter weer gevra om twee keer op ’n Sondag te preek en daarby elke weeksdag al om die ander week. Calvyn se preke het gewoonlik meer as ’n uur lank geduur, en hy het sonder enige notas sy predikasies gelewer. Hier en daar is notas gemaak van sy preke, maar min is opgeteken vóór 1549. In daardie jaar is Denis Raguenier aangestel om rekord te hou van Calvyn se preke met gebruikmaking van sy eie soort snelskrif (tachigrafie). THL Parker het ’n ontleding van Calvyn se preke van toe af gemaak, en gevind dat dit weinig oor die jare heen verander het (Parker, The oracle of God: An introduction to the preaching of John Calvin, James Clark & Co, Cambridge, 2000).

Calvyn het ook bitter teenstand ervaar tydens sy bediening in Genève. Teen 1546 het ’n ongekoördineerde en ongeïdentifiseerde groep, waarna Calvyn verwys het as die “libertyne”, maar wat self verkies het om die Spiritueles of Patriote genoem te word, teen hom saamgesweer (Philip Shaff, History of the Christian Church, vol VIII, par 108, en George Park Fisher, The Reformation, Charles Schribner’s Sons, New York, 1912, bl 192). Volgens Calvyn het hierdie mense aangeneem dat nadat hulle deur God se genade gered is, hulle ook bevry is van die enige kerklike en siviele wette. (Dit het nogal gepas by Calvyn se predestinasieleer.) Hierdie groep het bestaan uit die rykes van Genève wat die politieke mag gehad het en van mekaar familie was.

Teen die einde van Januarie 1546 het Pierre Ameaux, die vervaardiger van speelkaarte, in konflik gekom met die Geneefse Consistorium, en Calvyn ’n “Picard” (slegs ’n inwoner van Pikardië) genoem. Dit was ’n epiteton met anti-Franse sentiment, en hulle het hom van valse leerstellinge beskuldig. Ameaux is egter deur die Stadsraad voor stok gekry en gedwing om deur die stad te paradeer terwyl hy God vra om hom te vergewe (Cottret, op cit, 2000, bl 187, en THL Parker, op cit, 2006, bl 126).

Enkele maande daarna het Ami Perrin, die man wat Calvyn van Straatsburg af na Genève gebring het, openlik teen Calvyn gedraai. Perrin het in die huwelik getree met Françoise Favre, die dogter van François Favre, ’n gevestigde ryk Geneefse handelaar. Beide Perrin se vrou en sy skoonvader het voorheen konflik met die Consistorium gehad. Die Stadsraad het bevind dat baie van Genéve se edellui, Perrin ingesluit, die verbod op dans gebreek het. (Hoe uiters kleinlik tog!) Perrin het aanvanklik die Stadsraad geïgnoreer toe hy opgeroep is, maar nadat hy ’n persoonlike brief van Calvyn ontvang het, het hy appèl by die Consistorium aangeteken teen sy “oortreding”.

Die geval Jacques Gruet

Teen 1547 het die opposisie teen Calvyn en die ander “pastore” wat as vlugtelinge uit Frankryk na Genève gekom het, aangegroei tot ’n meerderheid van die syndyci, die hoofmagistrate van Genève. Op 27 Junie 1547 is ’n onondertekende dreigbrief, geskryf in die Geneefse Franse dialek, op die preekstoel van die Sint Pierre Katedraal gevind waar Calvyn gepreek het. Die Stadsraad het ’n sameswering teen die kerk en die (Geneefse) staat daarin gesien. Jacques Gruet, ’n familielid van die Favres, is hierop gearresteer nadat verdoemende getuienis teen hom gevind is toe sy huis deursoek is. Onder marteling het Gruet herhaaldelik erken dat hy die skrywer van die dreigbrief op die preekstoel was. Die burgerlike hof van die stad het Gruet skuldig bevind en hy is ter dood veroordeel, en op 26 Julie 1547 onthoof. Calvyn het nie die siviele hof se skuldigbevinding teengestaan nie (Wulfert de Greef, The writings of John Calvin: An introductory Guide, Louisville, Kentucky, 2008, ble 30–1; Cottret, op cit, 2000, ble 190–1; en THL Parker, op cit, 2006, ble 136–8). Miskien kon Calvyn hier sy hande in onskuld gewas het.

Lees ook:

Johannes Calvyn (I) 

Gerrit van Wyk Kruger 
Seminare en essays 

"Johannes Calvyn was ’n Franse teoloog en regsgeleerde wat verantwoordelik was vir die Groot Hervorming in die 16de eeu in Europa in die Franse wêreld, en wel in die eerste instansie in Franssprekende Switserland in Genève, soos Martin Luther dit in Duitsland was."


Johannes Calvyn (III) 

Gerrit van Wyk Kruger 
Seminare en essays 

"Calvyn het ’n fyn lyn betree tussen die rol van die godsdiens en die gemeenskap en die regte van die staat waarin daardie gemeenskap hom bevind. Calvyn was van mening dat die Bybel hier geen bloudruk vir die mens gee nie."


Johannes Calvyn (IV) 

Gerrit van Wyk Kruger 
Seminare en essays 

"Calvyn het nie lank genoeg gelewe om te sien hoe sy insigte internasionale erkenning gekry het, en selfs ’n beweging van sy eie geword het nie."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top