Johannes Calvyn (I)

  • 0

Johannes Calvyn deur Hans Holbein die Jongste (https://en.wikipedia.org/wiki/John_Calvin#/media/File:John_Calvin_by_Holbein.png)

Johannes Calvyn was ‘n Franse teoloog en regsgeleerde wat verantwoordelik was vir die Groot Hervorming in die 16de eeu in Europa in die Franse wêreld, en wel in die eerste instansie in Franssprekende Switserland in Genève, soos Martin Luther dit in Duitsland was.

  1. Die vroeë lewe van Calvyn (sy geboorte; 1509–1536; die eerste komposisie van sy Institusie)

Calvyn is op 10 Julie 1509 in Noyon in Pikardië gebore as Jehan Cauvin en sterf op 27 Mei 1564, op 54-jarige ouderdom, in Genève, betreklik jonk nog. Hy was die oudste van vierde seuns van Gérard Cauvin, die katedraal-notaris van Noyon en sekretaris van die kerklike kapittel (die vergadering van monnike) van die Katedraal van Noyon. Calvyn se moeder, wat gesterf het toe hy nog baie jonk was, was Jeanne, die dogter van Jean Lefrank, ‘n afgetrede hotelier van Cumbrai wat toe in Noyon gaan woon het. Dit is onbekend waaraan Calvyn se moeder Jeanne dood is. Sy was egter ‘n beeldskone vrou en baie godsdienstig. Na haar vroeë dood het pa Gérard weer getrou. Twee van Calvyn se drie broers is jonk dood, en die ander een, Charles, was ‘n gewone klerk in Noyon. Nadat Charles kerklik geëkskommunikeer is (as volgeling van sy broer se kerkhervormings) sterf hy in 1537. Pa Gérard is reeds in 1531 dood, nadat hy vir twee jaar testikulêre kanker gehad het. Hy wou dat sy drie oorlewende seuns, Charles, Jean en Antoine, eendag al drie priesters moet word. Die kinders van Jeanne het, soos hul moeder, die gene in hulle gehad om jonk te sterf. Sy jonger broer, Antoine, en een sy twee halfsusters, Marie, het ook met Calvyn se kerkhervorming saamgestem en hom na Genève gevolg. Soos dit destyds die gebruik onder akademici en geleerdes was, het Calvyn (toe nog Cauvin), sy familienaam gelatiniseer tot Calvinus.

Calvyn het reeds vroeg tekens van groot intelligensie getoon. Hy het sy eerste skoolopleiding ontvang aan die huis van die edelman Adrien de Hangest, met wie se seun Claude, later ab (kloostervader) van die monnike op Noyon, hy ook groot vriende geword het. Aan hom sou hy ook sy eerste boek (sy kommentaar op Seneca se De Clementia, in April 1532 gepubliseer, toe hy maar 23 jaar oud was) opdra. Charles de Hangest was toe ook die biskop van Noyon.

Hierna is Calvyn as leerling ingeskryf in die Collège des Capettes, ‘n seunskool op Noyon. Gérard Cauvin se wens was dat Calvyn, soos sy ander broers, ‘n priester in die Rooms-Katolieke (RK) Kerk moes word. In sy 12de jaar het Calvyn dan ook ‘n benefisie, oftewel kerklike beampte sonder ‘n vaste plig, op Noyon geword, en selfs sy tonsuur (kaalgeskeerde topkop) gekry – as simbool van sy toewyding aan die RK Kerk. Op 14-jarige ouderdom, in 1523, het hy saam met drie van die jong Hangest seuns, én hulle tutor, as studente gaan inskryf aan die Universiteit van Parys. Hier het hy toe student geword aan die Collège de la Marche (as deel van die Universiteit van Parys, vandag nog ‘n kollegereëling soos by Cambridge en Oxford in Engeland). Hier het hy veral sy klasse by sy Latynse dosent, Mathurin Cordier, geniet – ‘n man wat later, op sy oudag, by sy teokratiese gemeente in Genève sou aansluit. Calvyn het in sy vroeë studiejare ook die ruim ondersteuning van die invloedryke familie Montmors geniet, volgens Bernard Cottret, Calvin: A Biography (1995, uit Frans vertaal deur M Wallace McDonald, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan, 2000, ble 8–12), asook THL Parker, Calvin: An introduction to his thought (Geoffrey Chapman, Londen, 1995, ble 17–20.

Calvyn het hierna aan die meer beroemde Collège de Montaigu in die filosofie verder gaan studeer. Noël (< novel: natualis dies, “verjaardag”) Beda, die eertydse hoof van hierdie kollege, het hier bly klasgee, en ‘n groot konserwatiewe invloed gehad op die jong Calvyn toe hy dosent geword het in die teologiese fakulteit van die Sorbonne. Onder hierdie einste Noël Beda is die Duitse hervormer Martin Luther reeds twee jaar vroeër genadeloos aangeval. Beda het Calvyn die kuns van logika geleer, maar het nie Calvyn se latere lewensuitkyk beïnvloed nie.

Calvyn was reg van die begin af hoogs begaafd en ‘n uiters hardwerkende student daarby. Sy tydgenote op universiteit was eintlik ietwat ouer as hy. Sy biograaf (en opvolger in Genève), Theodorus Beza (Théodor de Bèze), vertel dat Calvyn baie krities was teenoor sy medestudente as hulle sou fouteer. Hy is as ‘n ou Romeinse Censor gesien. Hy sou die grammatikale bynaam gekry het van die “Akkusatiewe Naamval”, komende van die Latynse en Griekse verbuiging van die selfstandige naamwoord - dié naamval wat veral idiomaties in Grieks spesifiek gebruik kon word naas aangawe van die direkte voorwerp. Waarskynlik het hy die rasionaal van die gebruik van hierdie naamval as een van verwysing (“ten opsigte van”) goed begryp. Hierdie bynaam vir Calvyn kom egter eers in 1633 vir die eerste keer voor. As student het Calvyn ‘n lojale vriendekring opgebou ondanks sy vaste, eng en streng sieninge.

In 1526 en 1527 het vader Gérard Calvyn laat onttrek aan die Collège de Montaigu en hom in die regte laat inskryf aan die Universiteit van Orléans. Volgens sy tydgenootlike biograwe Theodore Beza en Nicolas Calladon het Calvyn se vader toe gemeen dat hy meer geld sal verdien as ‘n regsgeleerde in plaas van ‘n priester (vgl THL Parker, John Calvin, Tring, Hertfordshire, 1975, bl 15).

Dit wil voorkom of Calvyn reeds sedert 1527 daaraan begin twyfel het of hy die regte loopbaan gekies het, en of sy geloof sterk genoeg was. Daarom het hy in die regte begin studeer op Orléans en later Bourges. Op Orlèans het hy studeer onder Pierre l’Êtoile, een van die grootste Franse juriste van sy tyd. Dit mag ook wees dat sy vader Gérard sy regshulp nodig gehad het in ‘n geskil destyds met die Katedraal van Loyon. Calvyn was toe maar nog net 18 jaar oud. Ook hiervan het hy ‘n groot sukses gemaak. Veral was hy beïndruk deur sy leermeester in Grieks, Melcior Wolmar, ‘n Duitser met simpatie vir Luther se teologiese denke, wat hom ook ingelei het in die Nuwe Humanisme van die dag. Die humanisme was ‘n Europese intellektuele beweging van die tyd wat die studie van die Griekse en Latynse klassieke lewe en letterkunde voorgestaan het. Toe die Italiaanse humanistiese interpreteerder van die wet, Andrea Alciati, op Bourges aangestel is, is Calvyn onmiddellik daarheen om sy lesings te gaan volg. Maar toe Alciati, volgens Calvyn se oordeel, Pierre l’Êtoile onbillik aangevat het, het Calvyn onmiddellik sy eertydse leermeester op Orléans verdedig – sou ons eers later ontdek in die voorwoord wat hy (Calvyn) vir ‘n boek van Nicolas Duchemin geskryf het. Vroeg in 1528 het Calvyn sy meestersgraad in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte verwerf. Gedurende die 18 maande wat Calvyn aan die Universiteit van Bourges studeer het, het hy ook ‘n studie gemaak van Koinê-Grieks, die Griekse volkstaal waarin die NT geskryf is (sien Bernard Cottret, op cit, ble 20–4, en THL Parker, op cit, 1975, ble 22–5).

Dit is waarskynlik dat Calvyn teen daardie tyd reeds besluit het om eerder die regte sy loopbaan te maak, maar met die vroeë dood van sy vader in Mei 1531, was hy weer oortuig dat hy na sy eerste liefde, die teologie, koningin van die geesteswetenskappe, moet terugkeer. In 1532 het Calvyn egter sy lisensiaat in die regte ontvang. Hierna het hy tog eers sy doktoraat in die regte verwerf, en besluit om hom met die klassieke letterkunde (die groot impetus vir die Renaissance) besig te hou. In April 1532 het Calvyn toe sy eerste onafhanklike werk gepubliseer: die reeds genoemde kommentaar op Seneca se De Clementia (“Oor Genadebetoning”), gemik teen die Franse koning van die tyd (Francis I) om groter humanitêre genade aan die opkomende Protestante te betoon. Dit was ‘n regsbeginsel wat hy aangespreek het. Die etiek van die Bybel self kom feitlik nie daarin voor nie, maar hy het met hierdie eerste publikasie van hom bewys dat hy deeglik vertroud is met die klassieke Griekse en Latynse letterkunde.

André Malan Hugo, die ontydig-gestorwe hoogleraar in klassieke tale aan die Universiteit van Kaapstad (vroeër van Stellenbosch), het in 1957 aan die Rijksuniversiteit te Utrecht gepromoveer op ‘n proefskrif Calvijn en Seneca: Een inleidende studie van Calvijn’s Commentaar op Seneca, De Clementia, anno 1532. Dit is ‘n uiters briljante inleiding in die denke en persoon van die jong Calvyn. In 1969 het EJ Brill van Leiden se Calvin’s Commentary on Seneca’s De Clementia: With Introduction, Translation and Notes verskyn waarin Hugo saamgespan het met die Amerikaanse klassikus Ford Lewis Battles. Weer eens, ‘n grootse stuk werk van 448 bladsye. Beide is kort daarna aan kanker oorlede. Calvyn het sy Seneca-kommentaar in fyn-afgewerkte Latyn geskryf. Hy bewonder die klassieke Stoïsisme hierin, staan redelik afsydig teenoor die tydgenootlike humanisme, en verkies die Christelike lewensuitkyk.

Calvyn se lewensuitkyk het hierna, waarskynlik in die herfs van 1533, drasties verander en rigting gekry. Hy het waarskynlik ‘n skielike diepgaande bekering ondergaan, waarvan ons die oorsaak of oorsake vandag net kan raai. In die inleiding van sy Kommentaar op die Psalms van 1557 vertel hy ons kortliks daarvan: “Omdat ek hardnekkig vasgeklou het aan die bygelowe van die pousdom, en dit moeilik was om uit so ‘n verskrikking te ontsnap, het God skielik my hart tot rus gebring – steeds hardnekkig vir my ouderdom: ‘n gedwee, onderdanige en gedienstige bekering (metánoia). Toe ek eers die smaak van die goddelike ondervind het, was ek onmiddellik aangevuur om ware kennis van God te bekom” (vgl James Anderson se vertaling [Grand Rapids, Eerdmans, 1948], inleiding by ble xl-xli).

Hierdie “bekering” van Calvyn het plaasgevind toe hy (eensklaps oortuigend) begin glo het dat die RK Kerk op die dwaalspoor is, en hy geroepe gevoel was om weer die ware Christenskap van die kerk in sy oorspronklike suiwer vorm in te stel. (Só volgens Bernard Cottret, op cit, 2000, ble 68–70).

In sy die tweede verslag van sy “bekering” praat Calvyn weer van ‘n lang innerlike onrus, gevolg deur psigiese en geestelike angs van ontreddering. “Ek het toenemend ontsteld geraak van verlorende ellende waarin ek verval het, veral in die lig van ‘n ewige dood. Ek voel (nou) daartoe gedwing om my (sondige) verlede te veroordeel – helaas nie sonder ‘n gesug en trane nie. Wat nou vir my oorbly, o God, is nie om my te verdedig nie, maar om U ernstig te smeek om my, ellendige, nie te oordeel met die verlatenheid van die Woord nie – U Woord waaruit U wonderlike goedheid my uiteindelik gered het” (vgl Bruce Gordon, Calvin, New Haven, Londen, 2009, bl 34).

  1. Die vroeë hervormingsjare van Calvyn tot 1538

Oor die werklike aard van die bekering van Calvyn is al hewig bespiegel. Bruce Gordon, een van die biograwe van Calvyn, meen dat hierdie twee beskrywings van Calvyn se bekering nie mekaar noodwendig weerspreek nie, en dat die antiteses nie teenoor mekaar sou staan as sou Calvyn se geheue hom hier in die steek gelaat het nie. Hy meen dit is maar twee maniere om dieselfde werklikheid mee uit te druk (vgl. Gordon, op. cit., p. 34). Aan die ander kant, as hy sy bekering skielik ervaar het, sou hy vers en kapittel kon aangetoon het. Volgens Alexandre Ganoczy, Genèse et evolution de sa vocation réformatrice, F Steiner, Wiesbaden, 1966, bl 302, het Calvyn se “volle” bekering oor etlike jare heen gekom, en is dit nie as ‘n biografiese (kronologiese) moment aan te dui nie.

Natuurlik was hy daarvoor voorberei deur die groeiende humanisme in Frankryk (waarvan Desiderius Erasmus, die Rotterdammer, die leier in Holland was). En hy is ook aangespreek deur Jacobus Faber, beter bekend as Jacques Lefèvre d’Êtaples (Stapulensis) se uitkyk oor die RK Kerk van die dag. D’Êtaples was ‘n eg Franse humanis wat die klassieke tale in Parys bestudeer het en in 1492 na Italië gegaan het waar die oud-Griekse wysgere druk bestudeer is, veral Aristoteles (wat die Europeërs in die 12de eeu herontdek het uit ‘n Arabiese vertaling). Die kloosterhoof van Sint Germain-des-Prés, wat vroeër een van sy studente was, het hom die pos van bibliotekaris aldaar aangebied, wat hy aanvaar het. Hy het toe sy sekulêre studies oor vir eg geestelike studies verruil. In 1512 het hy ‘n kommentaar op die Briewe van Paulus gepubliseer. Twee kritiese opstelle oor die NT se Maria Magdalena (onderskeidelik in 1517 en 1518) het hom egter in onguns by die Sorbonne in Parys gebring, omdat hy ook daar simpatie met die opkomende hervormers getoon het, waarna hy na Straatsburg moes vlug. Die koningin van Navarra (‘n Franse koninkrykie in Spanje) het haar egter oor hom ontferm. Hy het egter die Hervorming nooit voluit aanvaar nie. Hy het die predestinasieleer nie aanvaar nie, en ook nie dat regverdiging alleen deur geloof kan plaasvind nie. Hy het die NT, Psalms en later die hele OT uit Hieronymus se Vulgaat in alledaagse Frans vertaal.

Dit was mense soos hierdie wat ‘n toenemende invloed op Calvyn gehad het. Toe Nicolas Cop as rektor van die Sorbonne aangestel is, het hervormingsgesindes en mense wat humaniste soos Erasmus bewonder het, en selfs Luther aangehaal het, hom sy intreerede help skryf. Dit was voortydig vir die Hervorming, en Cop moes daarna vlug vir sy lewe. In Januarie 1535 het Calvyn hom in Basel (‘n stad wat in dié tyd menige boek die lig laat sien het) gaan aansluit by Cop. Calvyn het gaan ingesien dat selfs die matige humanisme nie deur die ortodoksie aanvaar kan word nie, terwyl hulle self reeds die spoor totaal (deur tradisie op tradisie) kwytgeraak het.

Calvyn het hierna besoek gaan aflê by die bejaarde Lefrèvre, wat nou onder die beskerming van koningin Margaretha te Nérac was. Van hierdie ontmoeting het ons geen duidelike rekord nie. Maar die teerling was gevel. Op 4 Mei 1534 het hy afstand gedoen van sy eertydse benefisies by die RK Kerk. Hierna sou ‘n hele ketting van gebeurtenisse volg. Calvyn het die pous in Rome gerepudieer en met groot ywer aangesluit by dié wat ware Evangeliste was. [Euangéllion: die “Blye Boodskap” (“Gospel” < Engels “good spell”).] Hy was nou 25 jaar oud – en vandag weet ons dat net ‘n skrale verdere 20 lewensjare op hom gewag het. Hy kon nie verder stilbly nie. Hy het vir kort periodes in Parys, Poitiers, Angoulême en Orléans gebly. Hy het Voorwoorde geskryf vir Bybelvertalings in Frans (wat almal kon lees en nie net die kerklike uitverkorenes met hul Latyn nie). Hieronder was ook ‘n voorwoord vir sy neef Pierre Robert Olivier, ook bekend as Olivétan, se vertaling vir die Waldense, met ‘n gans nuwe definisie van die Heilige Skrif (Neuchâtel, Junie 1535). Hy het die bynaam Olivetanus gekry omdat sy oliekersie altyd tot middernag gebrand het. Hy het sy Hebreeus en Grieks in Straatsburg geleer.

Merkwaardig is dat Calvyn in hierdie kort tydjie sy magtige Institutio Religionis Christianae opgestel het. Die eerste druk daarvan het in Maart 1536 in Basel verskyn. Calvyn sou hierdie werk vir die res van sy lewe hersien en aanvul. Dit het ‘n uiters duidelike uiteensetting van die geloofsbelydenis van die Europese hervormers uitgemaak, in elegante Latyn geskryf. Terwyl Martin Luther die meer menslik-pastorale begeleier was, het Calvyn ‘n beredeneerde verslag geskryf, sterk intellektueel gegrond. Calvyn se Institusie was in die eerste plek ‘n apología (verdededingsrede) van die oortuigde geloof, maar het ook die (hersiene) dogmatiese uitgangspunte van die Hervormers daargestel. Dit was überhaupt ook bedoel as ‘n elementêre inleiding vir elkeen wat geïnteresseerd was in die Christelike geloof.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top