Johan Degenaar: Filosoof in opdrag van die vreugde, die woord en die Woord

  • 0
degenaar_linaenchris

Lina Spies en Chris Jones (foto: Jean Oosthuizen)

Lina Spies het op 1 Augustus aan Johan Degenaar hulde gebring by die geleentheid wat deur Departement Filosofie gereël is. Sy deel haar bydrae met LitNet.

Op grond van ’n matriekopstel van my het my pa gesê dat ek filosofie as een van my vakke aan die Universiteit Stellenbosch moet bestudeer. Ek het ’n sterk band met my pa gehad en aan die begin van my studie het ek sy woorde onthou en ’n filosofielesing bygewoon om uit te vind wat die vak nou eintlik is. Of dit ’n lesing van prof Kirsten of dr Degenaar was, kan ek nie meer onthou nie, maar ek het ná dié lesing nooit vir een enkele oomblik oorweeg om ooit my studie in die vak filosofie te laat vaar nie; inteendeel, ek het heeltemal versot daarop geraak. Dit het my hoofvak geword naas Afrikaans en Nederlands, en kyk ek terug op my lewe, glo ek dat ek waarskynlik nooit ’n digter sou geword het as ek nie juis op Stellenbosch kom studeer het nie. By Johan Degenaar in die filosofie en by DJ Opperman in die Afrikaanse en Nederlandse poësie het ek geleer wat metafore is: dat die digter se sterkste uitdrukking deur middel van die taal van die poësie die metafoor is en dat ’n mens net in metafore oor God kan praat.

Wat ek later in my lewe aanvanklik nooit kon begryp nie, is dat Johan Degenaar beskou is as iemand wat studente kon “verwar” en dus “gevaarlik” was. Vandag begryp ek dit in ’n sekere sin wel en is ek Anton van Niekerk dankbaar dat hy dit in sy “forum”-artikel in Die Burger oor Johan Degenaar uitdruklik noem en duidelik omskryf. Ek hoef dus nie daarby stil te staan nie. Al wat vir my belangrik is betreffende die sogenaamde gevaarlikheid van Johan Degenaar, is dat my andersdenkendheid waarvoor hy verantwoordelik was, ’n bron vir my poësie geword het waaruit ek vir my hele oeuvre kon put, vanaf my debuutbundel, Digby vergenoeg (1971), tot my tiende en jongste bundel, Tydelose gety (2010). Johan Degenaar was lief vir die woord en die Woord en het dié liefde in my versterk en vrugbaar gemaak vir my digterskap. Die meerderheid van die verse waaroor ek die blyste is dat ek hulle kon skryf, is deur Johan Degenaar geïnspireer.

Ek gebruik willens en wetens die woord “bly(ste)”, want dit was ’n woord wat onvervreembaar deel was van Johan se daaglikse woordeskat en wat sy handel en wandel gekenmerk het. Blydskap was die grond van sy geloof in en vreugde aan die aarde en ons liggaamlike aardse bestaan. Dit het ’n kardinale rol gespeel in my geloofs­oortuigings wat my al hoe meer weggelei het van die verkondigde Christus, die gekruisigde Verlosser, wat vir ons die hiernamaals verseker, na die historiese Jesus wat in sy lewe grense oorskry het tussen Skrifgeleerdes en eenvoudige vissers; tussen Jood en Samaritaan; en wat omgegee het vir die statusloses van sy samelewing, vrouens en kinders. Ek verstout my dus om te sê wat ek sedert Johan se dood aanhoudend dink, naamlik dat Johan Degenaar vir my die naaste is aan die voorstelling wat ek vir my kan maak van wie Jesus, die lewende mens, was. Johan Degenaar was in sy diepste wese soos Jesus, die Joodse rabbi, ’n grensoorskryder, omdat hy alle mense ernstig opgeneem het: dié wat met hom saamgestem het en dié wat met hom verskil het. So wou hy begrip wek tussen die ek en die jy wat ’n “ek is wat nie ek is nie” om hulle in hul gesamentlike menswees te laat deel.

Ek het reeds in my studentetyd ’n kind aan huis geword by Johan en Jettie Degenaar by Van der Stelstraat 20. Ek kan nie aan Johan dink sonder om ook aan Jettie te dink nie. Sy was jare lank die sekretaresse by die Departement Afrikaans en Nederlands en het my MA-tesis en my doktorale proefskrif vir my getik, sonder om my ’n sent daarvoor te vra. Meer nog: sy het ook my gedigte vir my getik, wat nie deel van haar werkopdrag was nie, en dus streng gesproke ontoelaatbaar. Sy was ’n besonder mooi vrou, sjarmant en met ’n volkome Nederlandse pretensieloosheid. Wie met hulle bevriend was, kon die sterk band en die harmonieuse verhouding tussen Johan en Jettie aanvoel. By hulle aan huis kon ’n mens nie anders as om volkome ontspanne te kuier en heerlik te gesels nie. Nadat ek dosent en later professor geword het aan die Universiteit Stellenbosch, het ek gereeld by hulle middagete geniet en altyd het Johan sy tafelgebed afgesluit met die woorde: “En maak ons bly.”

Die titel van my tiende bundel is ’n neologisme wat Johan geïnspireer het: Hiermaals. Ek het die bundel dan ook aan hom opgedra met as motto ’n sitaat uit Gilbert K Chesterton se Orthodoxy: “But I was frightfully fond of the universe.” Van dié aanhaling af het ek reeds as student by die boek gekom, en spesifiek by die hoofstuk waaruit Johan aangehaal het, “The Ethics of Elfland”. Sy lewensfilosofie, sê Chesterton, het hy in die kleuterskool uit sprokies geleer, en wat hy toe geglo het, glo hy nog steeds met onfeilbare sekerheid, naamlik dat die aarde en die natuur betowerd is: “These tales say that apples are golden only to refresh the forgotten moment when we found that they are green. They make rivers run with wine only to make us remember, for one wild moment, that they run with water.” Dié beskouing van Chesterton is identies met dié van Degenaar, wat ’n klas studente verbyster het met die vertel van die sprokie van Rooikappie en die wolf soos hulle dit nog nooit gehoor het nie. Ek het Orthodoxy vir my gekoop en letterlik stukkend gelees, en tallose impulse vir my gedigte het uit “The Ethics of Elfland” gekom.

Aanhalings wat nie direk verband gehou het met sy formele lesings nie, was van die meevallers wat studente van Johan Degenaar present gekry het. Van sy uitstekende lesings het ek die letterlike inhoud grotendeels vergeet, maar die aanhalings onthou ek asof ek hulle pas gehoor het – twee daarvan uit liefdesgedigte: een van EE Cummings: “thy fingers make early flowers”; en een van WH Auden: “my dear one is mine as mirrors are lonely.” En van Van Wyk Louw uit sy gedig “Die doper in die woestyn”:

 O God, U is my duisternis;
 ek gryp verwilderd en dis U
wat in my leë hande is.

Ek is nie ’n geleentheidsdigter nie. Ek kan nie “besluit” om ’n gedig te skryf nie. Die gedig vir Johan Degenaar se 80ste verjaarsdag het “gebeur”; dit is nie uitgedink nie; dit was ’n geskenk aan hom wat aan my gegee is om te skryf:

Johan Degenaar

Filosoof van die hiermaals 80

Hy het my laat besef
dat die vreugde ’n opdrag is;
dat God die hande wat ons ophef
na Hom as ’t ware wegstoot
om die aarde te omklem.

Woorde om nooit te vergeet nie
het hy aangehaal en sedertdien
glo ek soos Chesterton dat God,
ons Vader, jonger is as ons
en soos ’n kind nooit moeg word nie,
maar elke oggend die son beveel om op te kom.

Ek het van Johan Degenaar geleer
dat al maak jy jou nie sonder klere skeur
los uit die knelgreep van dogmas nie,
al moet jy jou telkens ontswagtel
uit die grafdoeke van leed en verlies,
jy altyd weer soos ’n Lasarus
in die lig van die hiermaals op kan staan.
                           (Tydelose gety)

Johan Degenaar se dood het my gekonfronteer met die wrede finaliteit van die blywende afwesigheid van al die mense wat in my leeftyd die grootste aandeel gehad het aan my vorming as mens. Maar hoe kan jy getrou wees aan Johan Degenaar se geestelike nalatenskap as jy nie weer opstaan in die lig van die hiermaals nie?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top