Jeugfiksie en 'n verkenning van die natuur: ’n onderhoud

  • 0

Ekogeletterdheid verwys na ’n bewuswees van, en ’n verstaan van, die verhouding tussen die mens, ander organismes en die natuurlike omgewing waarin almal saam bestaan. Kan boeke kinders en jeugdiges die geheimenisse van die natuur help verken?

Gesprek van Estelle Kruger met Henriëtte Loubser oor haar artikel: Die ontwikkeling van ekogeletterdheid deur middel van ’n Afrikaanse leesreeks

Eerstens, hartlik geluk, Henriëtte! Jy het pas jou PhD-graad ontvang met die fokus op ekogeletterdheid en jeugfiksie. Hoe het hierdie belangstelling van jou ontwikkel in jou eie lewe?

Baie dankie Estelle en dankie ook vir die geleentheid wat LitNet Akademies aan navorsers soos ek bied om in ons hartstaal te kan publiseer.

My belangstelling in hierdie studieveld spruit uit my passie vir kinder- en jeugfiksie en my lewenslange beheptheid en fassinasie met die geheimenisse van die natuur. Dit was my beskore om ’n lewe na aan die grond te kon leef en ek kon my verlustig in wat Marlene van Niekerk daardie “samespel tussen mens en aarde, die ineengevlegdheid van alles met alles” noem.

Waar kan belangstellende lesers (ouers en onderwysers) die Flixie-reeks waaroor jou studie handel, in die hande kry? Is dit volgens jou kennis in munisipale biblioteke beskikbaar?

Hierdie reeks is destyds (2010) uitgegee deur Ebony Books, maar die uitgewersregte is oorgekoop deur Juta. Corina Pelser is die persoon om daar te kontak (Cpelser@juta.co.za). Die reeks is voortaan by hulle beskikbaar. Nee, ek dink nie dit is geredelik in openbare biblioteke beskikbaar nie.

Verduidelik asseblief die begrip ekogeletterdheid in 25 woorde.

Ekogeletterdheid verwys na ’n bewuswees van, en ’n verstaan van, die verhouding tussen die mens, ander organismes en die natuurlike omgewing waarin almal saam bestaan.

In watter mate dink jy het kinders in stedelike gebiede (met selfone en tablette) ’n begrip van “plek” verloor? Is die stad met sy geteerde of stofstrate en betongeboue nie hulle “plek” nie?

Werklike belewenis van die natuurlike omgewing is nie noodwendig vir kinders in stedelike gebiede beskore nie. Om in ’n digte woud te gaan stap en onbevange daar te kan speel, is deesdae bykans onvoorstelbaar. Dit is juis hierdie soort buitelugervarings wat die jong kind vandag grootliks ontneem is. “Plek” is inderdaad vir stadskinders die betonoerwoud. Dit is dus nie dat die kind sy/haar begrip vir “plek” verloor het nie’ die konsep plek is net gewoon nie meer vanselfsprekend natuurlike, ongerepte omgewing nie.

Hoe kan hierdie leesreeks bydra tot kinders in die stad se waardering van die natuur?

Hierdie leesreeks stel die jong leser aan ekologiese begrippe bekend. Dit wat voorheen vreemd was, word toeganklik. ’n Begrip soos biodiversiteit word byvoorbeeld verduidelik en die belangrikheid van saambestaan in harmonie, ten spyte van verskille, word beklemtoon. Interafhanklikheid van spesies word verduidelik en die plek van die mens in hierdie kringloop van die lewe word duidelik. Hierdie bekendstelling aan natuurlike ruimtes bring die jong kind, al is die ervaring nie eerstehands nie, voor die belangrike besluit om te kies vir die natuur en sodoende vir die voortbestaan van alle dinge.

Elektroniese media is deesdae deel van kinders se kultuur – hoekom sou dit mense “onttroon” soos wat duidelik word in jou artikel?

Die verknogtheid aan elektroniese media is ’n bewys van ons afhanklikheid van tegnologie. Ek is nie seker of elektroniese media die mens soseer as oorheerser van die planeet onttroon nie as wat dit die mens met die bewustheid konfronteer dat ons ons al minder déél voel van die natuurlike omgewing. Dit terwyl ons in werklikheid totaal verweefd is – mens en natuur.

Hoe kan die Flixie-reeks kinders in ’n nuwe millennium opvoed tot “ekologiese verstandigheid” – maw tot probleemoplossingsvaardighede en volhoubaarheid van die natuur, om ekostelsels te verstaan?

Die Flixie-reeks is geskryf en ontwikkel om die huidige omgewingskrisis en die geletterdheidskrisis aan te spreek. Jong lesers en opvoeders word met die reeks bewus gemaak van biodiversiteit en die verantwoordelikheid om vir die aarde te sorg. Deur die ontwikkeling van denkvaardighede met die stories in die reeks behoort die gesprek oor omgewingskwessies aan die gang gesit te word. Dit kan kinders van kleins af aan die dink sit terwyl hulle lees, sodat hulle meer as net die teks verstaan. Verskillende denkvaardighede word in die reeks bekendgestel en toegepas. Denkvaardighede soos vraagstelling, vraend lees, visualisering, die maak van afleidings en verbindings, opsomming, voorspelling en opklaring word ontwikkel. Deur betrokkenheid by die teks, denkend en met beter begrip te lees, ontwikkel daar mettertyd by die kind ’n beter verstaan van ekostelsels, van die natuurlike omgewing, van volhoubaarheid en van verantwoordelike maniere van leef.

In watter mate kan ouers – wat verantwoordelik is vir die kind se eerste jare wat kritiek is vir die aktiewe vaslegging van omgewingsidentiteit – opgevoed word om meer ekologies intelligent te wees en die taal van die natuur te verstaan?

Ouers moet hulle eie verantwoordelikheid teenoor die natuur, maar ook hul eie deelwees van die natuur, besef en erken. Eers wanneer jy as ouer jou verwondering oor en jou eenwees met die natuur omarm, kan jy jou kind lei om nooit sy/haar geaardheid in die natuurlike omgewing te vergeet nie. Onthou, volgens navorsing kom ’n kind in die wêreld met ’n aangebore verknogtheid aan die natuur en dit moet gekoester en in stand gehou word. Om bewustelik te leef, met inagneming van jou voetspoor – dit is wat saak maak en wat van ’n ouer ’n omgewingsopvoeder maak.

Dink jy onderwysers wat omgewingsopvoeding onderrig, is bewus van die begrip ekologiese intelligensie? Motiveer asseblief.

Ek hoop van harte so. Net soos wat ’n opvoedkundige sielkundige moet weet wat emosionele intelligensie is, behoort ’n omgewingsopvoeder te weet wat ekologiese intelligensie is. Ekogeletterdheid impliseer ekologiese intelligensie – daardie vermoë om slim te leef en te doen, met die heil van die natuurlike omgewing as prioriteit. Of omgewingsopvoeders bewus is van hierdie begrip is egter ’n vraag wat ek eerlikwaar nie met sekerheid kan antwoord nie. Meervoudige intelligensies (waaronder ekologiese of naturalistiese intelligensie) is dalk nie ’n studieveld waarvan alle opvoeders bewus is nie. Ek weet nie.

Hoe kan wetenskaponderwysers (wat met fisiese feite werk) gestimuleer en geïnspireer word om ’n letterkundige storiereeks (wat met fiksie werk) in hulle klasse te integreer? Gee praktiese raad asseblief.

Dit is waarskynlik nie maklik vir ’n streng wetenskaplike om ontvanklik te wees vir die idee van die aanwending van fiksie in klaskamers nie. Veral nie waar dit gaan oor die oordrag van wetenskaplike begrippe nie. Tog is dit moontlik en broodnodig.

Lesse behoort beplan te word met aktiwiteite, ondersoeke en die aanbeveling van leesstof oor die onderwerp wat in die klas behandel word. Leesbegrip kan getoets word en spesifieke aktiwiteite om begrip vas te lê kan ingespan word. Die idee van science as inquiry  veronderstel dat die onderwyser deurdagte vrae stel na aanleiding van ’n ekoteks. Dit kan nuuskierigheid by leerders prikkel, kritiese denkvaardighede stimuleer en uitdagings aan die leerders stel. Sodoende, deur die beantwoording van hierdie vrae, kry die onderwyser onmiddellike terugvoer oor die mate van leer wat plaasgevind het.

Neem byvoorbeeld die prenteboek ’n Huis vir Kluisenaarkrap deur Eric Carle (1988). Die verhaal gaan oor ’n hermietkrap wat sy skulphuis ontgroei het en nou in ’n groter een moet intrek. Terwyl hy op die seebodem reis, versier hy sy huis met ander vorme van seelewe, soos die seeanemoon. Hierdie verhaal kan dan byvoorbeeld gelees word saam met ‘n feiteboek soos Next time you see a seashell deur Emily Morgan (2013), wat pragtige foto’s bevat waarmee verduidelik word hoe seeskulpe deur molluske (byvoorbeeld slakke) gevorm word. Die onderwyser kan ook ’n uitstalling van skulpe in die klaskamer hê. Eers kan die feiteboek voorgelees word aan die klas, terwyl daar “ontdek” word met die sortering en uitkenning van die skulpe in die versameling. Verduideliking vind dan plaas na aanleiding van hierdie aktiwiteit van “Kom ons leer van skulpe”, waartydens die onderwyser verduidelikings by ontdekkings met die leerders deel. Uiteindelik kan daar dan voortgebou word op hierdie kennis met die voorlees van ’n Huis vir Kluisenaarkrap. Gelei deur die regte vrae, leer die jong kind ander seediere ken, soos die hermietkrap, en dat krappe nie molluske is nie al leef hulle in skulpe. Dat hulle in werklikheid crustacea soos krewe en krewels is; dat ’n hermietkrap in sy skulp wegkruip teen gevaar en dat sekere hermietkrappe ’n simbiotiese verhouding met byvoorbeeld seeanemone het. Die seeanemoon migreer na ’n nuwe skulp saam met die hermietkrap. Hierdie tipe van simbiose staan bekend as mutualisme en dit beteken dat die lewenswyse tot voordeel van albei die organismes strek.

Op hierdie manier kan die onderwyser fiksietekste in hulle klasse integreer om wetenskaplike feite aan leerders bekend te stel.

Is dit moontlik dat jy ’n reeks werkswinkels kan aanbied om onderwysers en/of ouers te bemagtig om hierdie storiereeks in hulle opvoeding te gebruik?

Dit is beslis ’n moontlikheid vir die toekoms. Nie net om hierdie storiereeks aan te wend nie, maar ook om ander verhalende tekste, wat hulle tot eko-opvoeding leen, in te span. Dus, indien die geleentheid hom voordoen, sal ek dit beslis aangryp.

Jy bied ’n uitstekende ontleding van die stories in die Flixie-reeks. Is daar iets wat jy op LitNet kan laai om bogenoemde bemagtiging van ouers en onderwysers te bewerkstellig?

Aansluitend by die vorige vraag, sou ek baie graag my geesdrif oor die potensiële krag van kinder- en jeugverhale met ander wou deel. Indien die geleentheid hom voordoen, sal ek graag gebruik maak daarvan.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top