Jeugdag 2017: Laat die kinders speel

  • 0

“If you can sing it, you can play it.”

Is musiek nie dalk die wêreld se redding nie? As ’n groep mense – kinders én volwassenes – ’n dag lank oor kultuur- en taalgrense heen vreugde kan vind, is musiek nie dalk die antwoord vir al ons probleme nie?

Ter agtergrond: Die Cape Town Music Academy (CTMA) ’n organisasie sonder winsbejag wat onlangs gestig is, se doel is om geleenthede vir ervare en opkomende musikante skep. CTMA het duidelik besluit dat as jy skiet, moet jy hoog skiet en hulle het Berklee College of Music in Boston, Massachusetts, die grootste onafhanklike musiekkollege in die wêreld, gekontak om uit te vind of hulle ’n uitreik na Suid-Afrika sal doen met ’n fokus op jazz. Ook aan boord was Felicia Lesch, hoof van gemeenskapmusiek by die Universiteit Stellenbosch se Konservatorium en ook dirigent van die US Jazz Band.

In net ’n paar weke is die reëlings getref, die vliegtuigkaartjies is bespreek en geskiedenis is gemaak. Nie net was dit CTMA se eerste internasionale uitreik nie, dit was ook die eerste keer dat personeel van Berklee se City Music-departement ’n uitreik na enige ander plek in die wêreld gedoen het.

Dit was ook die eerste keer dat daar ’n jazz-konferensie by die Konservatorium in Stellenbosch gehou is. Die program vir die konferensie van vyf dae het Saterdag 11 Junie afgeskop toe ’n groep hoërskoolleerlinge van die Kaap ’n dag lank ’n werkswinkel bygewoon het. Krystal Prime Banfield, dekaan van Berlee City Music, en drie personeellede, Ronald Mahdi, David Alexis en Chris Rivelli, was aan die stuur van sake. Een van die bevoorregte leerlinge was my seun, Zac (14).

Ná die verwelkoming en voorstelling van die besoekers, is die 20 kinders na die Fismer, ’n lokaal by die Konservatorium. In die begin het dit rukkerig gegaan. Die kinders, van plekke soos Khayelitsha en Steenberg, moes fyn luister om die Amerikaners te verstaan. Vir die meeste is Engels ’n tweede taal, nevermaaind nog probeer American ontsyfer. Vir die Amerikaners is name soos Matshidiso en Afezekile en Tshepang tongknopers soos min. Babelse verwarring op ’n verhoog in Stellenbosch.

“Wat kan julle speel?” het een van die Berklee-manne gevra.

Tjoepstil. Niemand het geantwoord nie.

“Don’t be scared,” het Ronald gesê, “it’s only music.”

Een van die onderwysers het voorgestel hulle begin met ’n sogenaamde jazz standard en het “Blue Bossa” voorgestel. So hier en daar het ’n kind dit herken, maar jy kon sien die meeste het nie ’n idee gehad nie. Daar was geen musiek voor hulle nie, geen note om te lees nie.

“Pa-da-pa-da-pam …” het David begin sing.

Die kinders het probeer. Kakofonie, om die minste te sê.

“Stop, stop,” het David weer gesê. “Sing the notes with me. Just the first couple of notes. Pa-da-pa-da-pam …”

Die kinders het begin sing. Huiwerig, maar tog.

“Again. Sing it again.”

Weer sing hulle. Hierdie keer bietjie harder.

“Right, now play it,” sê David.

“If you can sing it, you can play it,” sê Ronald.

En daar gebeur dit. Die wysie is daar. Rukkerig, maar daar.

Later word die kinders in drie groepe ingedeel. David, Ronald en Chris kry elkeen ’n groep. Van die kinders ontmoet mekaar vir die eerste keer en elke groep gaan na ’n vertrek in die Konservatorium. Vir elkeen is daar ’n uitdaging: hulle gaan aan ’n musiekstuk of twee werk en aan die einde van die dag gaan elke groep weer in die Fismer kom optree, hierdie keer met professionele klank en beligting.

Ek stap saam met Zac en sy groep. Hy is by Ronald ingedeel. (Ek is later in die dag, ná middagete, mooi deur Zac gevra om assebief iewers te gaan sit en lees. ’n Tienerseun se ma, al is sy daar in haar amp as joernalis, mog asseblief tog nie die hele tyd om hom rondhang nie.)

Ronald is die strengste van die drie onderwysers, maar die wysheid wat hy deel, vergoed daarvoor. Die kinders is nog skrikkerig en op ’n stadium sê Ronald: “You are not going to get to Carnagie Hall by being shy.”

Hulle kies twee stukke musiek en begin oefen. Oefen en oefen en oefen. Hulle leer baie. Hy vertel hoe belangrik toonlere is, hoe jy die hele tyd na musiek moet luister met ’n ander oor. As jy jou toonlere ken, reken hy, sal jy na die klankbaan van ’n fliek kan luister en weet in watter sleutel dit geskryf is. Hy vertel hoe musiek ’n storie is wat vertel word, dat improvisasie ’n gesprek is. “Art is all about contrast and so is music,” sê hy.

Later die middag is almal weer in die Fismer. Daar is reeds ’n gefluister in die gange oor twee jong musikante wat uitsonderlike talent het. Een van hulle is Eshile Valela, ’n 18-jarige saksofoonspeler van Khayelitsha.

“How long have you been playing?” vra ek vir Eshile met die dreads, die brilletjie en die groot glimlag.

“Less than a year,” sê hy.

Ek het seker verkeerd gehoor. Die kind is verstommend goed.

“A year? Less than a year?” maak ek seker.

“Yes,” sê hy, “but I started playing the alto horn when I was six years old. I also play the trombone, piano, bass guitar, trumpet and tuba.”

Thando Xhinti is 17 en van Gugulethu en as hy nie die volgende Hugh Masekela is nie, vreet ek my beste Sondaghoed op. Thando se eerste instrument is die trompet, maar hy speel ook die saksofoon, klavier, tromboon en baskitaar.

Wat is sy grootste musiekdroom?

“To play at the biggest jazz festivals in the world.” Ek glo hy gaan dit regkry.

Die kinders wag om op die verhoog te gaan en gesels onder mekaar. Zac vra vir Afezekili Malonde of hy sy tromboon kan blaas. Hy kry ’n skewe noot uit.

“No, you musn’t blow it like a vuvuzela,” sê Afezekile en lag. Hy maak vir Zac touwys en die note kom minder skeef uit. Die kinders lag en Zac speel nog ’n paar note. Hulle is een in musiek.

Die groepe begin regmaak om op die verhoog te gaan. Ronald se groep is eerste. Hy noem hulle die Fismer All Stars en hy is saam met hulle op die verhoog, maar staan agter hulle en speel die basviool. Hulle begin speel. My hart krimp vir my kind. Hierdie is hoëgraad-jazz vir ’n Afrikaanse kind van Melkbosstrand wat nog nie eens drie jaar die saksofoon speel nie. Maar hy spéél. Ek is dalk nie objektief nie, maar hulle klink goed. Zac doen selfs ’n solo in die een stuk.

Die tweede groep speel, en Eshile en Tando speel asof hulle op ’n verhoog gebore is.

En toe die derde groep, met ’n jong sangeres (ek het ongelukkig nie haar naam nie) wat met gemak agter die mikrofoon inskuif.

Om af te sluit is almal weer op die verhoog om “Blue Bossa” te speel. Dit klink geheel en al anders as die getjommel van vroeër die oggend.

Daar word foto’s geneem en die kinders kry elkeen ’n sertifikaat.

Ek neem ’n foto van Zac saam met Ronald. “He must just carry on,” sê Ronald met sy Amerikaanse drawl. “Focus and practise. If there is one thing that I wanted to teach these kids today, it was that they can do all of this on their own.”

Buite het die reën opgehou. Toe ons uitstap kar toe, groet die kinders mekaar.

“Bye, Zac!,” roep een toe Zac amper in die kar klim.

Hy draai om en waai. “Bye, Pipi!” roep hy en klim in die kar. (Pipi, sou ek hoor, is Esihle se bynaam.)

“Ek hoop ek sien hulle weer,” sê my kind toe ons wegry.

Ek hoop ook so. Ek hoop met alles in my ook so.

* Studente en professionele musikante het die res van die week aan die konferensie deelgeneem. Donderdagaand 15 Junie word daar ’n Showcase-konsert gehou waar die span van Berklee, studente en professionele musikante ’n uitvoering gaan hou. Die konsert is by die Fismer by die Konservatorium en begin om 20:00. Toegang is gratis. Bespreek by luna@iluminarproductions.co.za.

* Vir meer inligting oor die Universiteit Stellenbosch se Jazz Band, kontak Felicia Lesch by fsmlesch@sun.ac.za.

Lees ook

Learning to Live Music: ’n onderhoud met Luna Paige

Menán van Heerden, Luna Paige
Onderhoude

"Ek dink wat my opgewonde maak is die feit dat die werkswinkel gratis is. Dat niemand uitgesluit hoef te word nie. Ordentlike musiekopleiding kos geld, en dit is nie vir alle talentvolle mense beskore nie." Daar vind ’n gratis konsert op Donderdag 15 Junie plaas.

 

Learning to Live Music: ’n onderhoud met Vicky Davis

Menán van Heerden, Vicky Davis
Onderhoude

"Die CTMA fokus op die opheffing van kontemporêre musiek en het ten doel om werkskepping in die musiekveld te vermeerder en die algemene stand van die musiekbedryf te verbeter."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top