Jannie du Toit chante/sings/sing/zingt Brel

  • 0

Die verhaal van twee loopbane in 22 chansons

Europeërs voel sterk oor herdenkingsdatums; konferensies en publikasies word jare vooruit rondom die simboliek van ’n datum beplan. In die geval van Jacques Brel, die Brussel-gebore sanger wat van die mooiste, treffendste chansons in die genre geskryf het, is daar onder andere die geboorte- en sterfdatums (1929, 1978): kaartjies kan nou reeds bespreek word vir die historiese 9 Oktober 2018-vertoning van die Jacques Brel is alive and living in Paris-musiekblyspel in Londen se Charing Cross Theatre; Musicalweb werk op die oomblik aan ’n nuwe Brel-musiekblyspel vir die 2018-19 seisoen. Vele ander produksies sal waarskynlik nog die lig sien, hopelik ook in Suid-Afrika.

Twee jaar voor die amptelike herdenkingsdatum, in September 2016, is Jannie du Toit se nuutste Brel-geïnspireerde CD, Jannie du Toit chante/sings/sing/zingt deur JNS-musiek vrygestel. Enersyds word die kultuurlewe ter plaatse nie in dieselfde mate deur ’n kalender gereguleer nie (sonder ’n doeltreffende ministerie van kultuur, streeksrade en ’n uitgebreide netwerk van publieke teaters soos in Europa, word besluite deur Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse kunstenaars op ’n veel meer pragmatiese basis geneem). Andersyds hou Jannie du Toit, wat (ook) bekendheid verwerf deur die sing van ander sangers se treffers, hetsy in die brontaal of in vertaling, rekening met sy eie kalender waarop historiese en simboliese datums van persoonlike belang omkring is. Met die taaldebat wat nog fel woed (hoewel dalk meer in hofsale as op dorpspleine) is hierdie CD ’n waardevolle herinnering aan die hoogtes wat deur ’n Afrikaanse sanger oor ’n periode van byna 40 jaar bereik is. Die kabaret-genre (wat die Franse eerder, en geensins op zijn Frans nie, music-hall noem), wat floreer in Frankyk, Duitsland en Nederland, het vir dekades ’n bloeitydperk in Suid-Afrika beleef danksy musici soos Jannie du Toit, wat ook in Nederland en Vlaandere ’n gewilde en gerespekteerde vertolker van Nederlandstalige “kleinkunstenaars” is. Hierdie CD (speeltyd 78 minute) is dus ’n versamelaarsitem, om verskeie redes: een van die belangrikste redes vir my is dat dit meertaligheid en die gepaardgaande multi-kulturaliteit meesleurend en met oortuiging vier. In die lig van die verskraling van die plaaslike taalaanbod illustreer Jannie snit ná snit dat Afrikaans moedertaalsangers ander tale met uitstekende diksie kan sing, en dat Afrikaans die weg voorberei om met ’n bietjie moeite en baie toewyding ’n waardevolle bydrae te kan lewer tot die Nederlandstalige chanson.

Brel self het natuurlik ook in Nederlands gesing, nie net in Frans nie: behalwe vir die bekende "Marieke"-refrein, bestaan daar opnames in die handel van "Laat me niet alleen", "De apen", "Men vergeet niets", "Mijn vlakke land", "Rosa", "Als men niets dan liefde heeft", "De burgerij" en "De nuttelozen van de nacht". Die onderskeid wat Brel egter tussen Vlaams en Nederlands tydens ’n onderhoud[1] gemaak het, sou noodwendig aanstoot gee:

’n Tweetalige land is nie ’n eentalige land nie. Daar’s Frans met al sy dialekte. En dan is daar Vlaams, wat nie ’n taal is nie. Dis Nederlands, die taal wat Hollanders praat. Maar hier (in België) word daar ’n ondergeskikte soort Nederlands gepraat wat Vlaams genoem word.[2]

"Les Flamandes", ’n lied oor Vlaamse vroue se gewaande materialisme, onderdanigheid aan die Katolieke kerk en ambisieuse program vir sosiale en ekonomiese vooruitgang, het hom ongewild in Vlaandere gemaak, maar hy het dit nogtans (moedswillig) tydens ’n optrede voor ’n taalgevoelige studentegehoor in 1960 aan die Universiteit van Leuven[3] herhaal. Met "Marieke" het Brel ’n liefdeslied geskep waarvan die refrein ideaal in Nederlands gesing moet word. Brel was ’n diksieperfeksionis, iets wat hy en Jannie du Toit in gemeen het. In ’n poging om standaard-Nederlands te sing, het Brel dikwels kers opgesteek by Nederlandstaliges eerder as Vlaamstaliges, ’n keuse wat die volgende opmerking by die ander bekende Brusselse chansonnier, Johan Verminnen[4], ontlok het:

Vir my is dit ’n rariteit, Jacques Brel wat in Vlaams sing. Om die waarheid te sê, hy sing in Nederlands, eintlik in Hollands, en die Belgiese kant van die saak het min of meer verdwyn. Want eintlik moes hy dit eerder gedoen het in ’n taal wat meer deel uitmaak van ons land.[5]

Die beginsel van meertaligheid was egter gevestig, en hoewel Brel nooit self in Engels gesing het nie, het hy die Engelse vertaalregte van sy bekendste chansons aan Mort Shuman verkoop, wat tot 1968 die musiekblyspel Jacques Brel is alive and living in Paris gelei het. Jannie bring ook hulde aan Shuman se Engelse vertalings deur "Amsterdam", "The old folks" en "Next!" by die CD in te sluit.

Die CD is natuurlik in die eerste plek ’n bestekopname van Jannie du Toit se eie loopbaan: dit is ’n kombinasie van nuwe opnames (soos die tongknoper "Les prénoms de Paris") en historiese opnames, dikwels met sentimentele waarde, soos wanneer Christa Steyn (Jannie se verhoogmaat van baie dekades) haar talent as sensitiewe begeleier illustreer in "Een vriend zien huilen" (1994), "Madeleine" (1990), "Le prochain amour" (2006), "De nuttelozen van de nacht" (1994), "Liefde van later" (1990) en waarskynlik een van Steyn se laaste optredes voor haar dood in 2012, ’n lewende opname van "Amsterdam" in die Brooklynteater, Pretoria in 2010. Enersyds maak lewende opnames die luisteraar deel van die teaterervaring; andersyds luister jy op ’n ander manier na die lewende opname van ’n kunstenaar wat nie meer met ons is nie. Dit is asof die kunstenaar vir ’n vlietende oomblik deur tegnologie opgewek word. ’n Ander (ook lewende) versamelaarsnit is "Next!", waarvan die begeleiding vir akkordeon verwerk en uitgevoer is deur die legendariese Sergio Zampolli.

Wanneer ’n mens na die titels op Jannie se CD kyk, is die meeste van die bekendste Brel-chansons deel van die lys van 22 opnames, soos "Madeleine", "Le moribond" ("Die sterwende"), "Amsterdam" en "Le plat pays" ("Mijn vlakke land"). Daar is ook twee chansons wat op die laaste, 1977 Brel-album verskyn, naamlik "Jojo" en "Voir un ami pleurer" ("Een vriend zien huilen"). Laasgenoemde album is in dieselfde kategorie as Leonard Cohen se You want it darker, opnames wat gemaak is toe die sanger baie siek of selfs sterwend was. Hierdie albums kan as testamente in liedvorm beskou word, en die empatiese luisteraar soek onwillekeurig na verwysings na die dood, die sin van die lewe en die sanger se verhouding met die Godheid. Sommige resensente beskryf die liefdesgedigte op You want it darker as “sekulêre gesange oor die Groot Verlange en alles wat dit voorafgaan én volg”[6]. Jannie, wat ook bekendheid verwerf het as sanger van geestelik geïnspireerde liedjies soos "Laat u koninkryk kom", "Gebed" en "Gee ons vrede", sou op die 1977-album tevergeefs gesoek het na liedjies oor versoening met God. ’n Chanson soos "Le bon Dieu" ("Die goeie God") bevat byvoorbeeld die volgende reëls[7]:

Mens,
Was jy God wat bestier
Het bejaardes geswier
En gewals
Mens,
Was jy God in beheer
Het jy armes trakteer
Op jou bals 

Mens,
Kon jy iets daaraan doen
Was die lenteseisoen
Onbegrens
Maar
Jy beoordeel te na
Bly jou menslik gedra
Jy’s te méns! 

Ja, jy’s te méns!

Indien Brel te kort skiet by die eerste gebod, kan dit nie van die tweede gebod gesê word nie: lief vir sy medemens was hy beslis; lief vir sy goeie vriend Jojo (Georges Pasquier, na wie Brel se vliegtuig ook vernoem is), die vriend wie se trane erger sou wees al die euwels van die wêreld (in die gelyknamige chanson), sonder twyfel. Dit is hierdie twee chansons wat vriendskap besing, selfs tot na die dood, selfs wanneer Jacques en Jojo albei ses voet onder die grond sal wees, wat Jannie hier aangrypend in sy twee hartstale uitvoer, in die Nederlandse en Afrikaanse vertalings van Wilmink en Morgan/Odendaal onderskeidelik. In vergelyking met ander vertolkers van hierdie laaste twee liedjies, insluitend Brel self, is Jannie se aanslag baie meer klassiek; sekere fraserings herinner eerder aan lieder-vertolkings as aan die chanson-genre. Die diksie is koor-perfek: die vokale is gerond, die konsonante klankryk, skerp en duidelik; waar chanson-sangers soms byna praatsing, verleng Jannie in ’n paar gevalle die laaste note, wat in ’n effense vibrato eindig. Dit is ’n individualistiese aanslag, en een wat herinner aan sekere loopbaanbesluite wat Brel self in 1966 geneem het. Toe die 37-jarige sanger op die kruin van sy gewildheid was, het hy tot sy vele aanhangers se skok aangekondig dat hy nie meer in die openbaar sou optree nie. Inderwaarheid het die chanson-genre hom begin frustreer: die gemiddelde lengte van 2-3 minute was te beperkend, en die inhoud te liggewig vir iemand wat die siel van ’n digter gehad het. In Frankryk en in ander Franssprekende lande word sommige van sy chansons, soos "Le plat pays", dan ook gereeld by die hoërskool poësie-sillabus ingesluit. Wat sou Jacques Brel van die liedjieskrywer Bob Dylan se Nobelprys gedink het, wonder ’n mens? Christa Steyn se begeleiding vir "Een vriend zien huilen" is innoverend en altyd getrou aan die gees van die lied; sy kies om, anders as in die oorspronklike opname, die laaste strofe na ’n hoër toonaard te transponeer, sodat die strekking van die lirieke deur ’n meer fragiele register beklemtoon word: die weerloosheid van ’n vriend wat tot trane gedryf word, word sodoende gelykgestel aan die magteloosheid van die toeskouer-sanger.

In "Jojo" hoor die luisteraar ’n hartverskeurende dialoog tussen stem en tjello (die briljante Susan Mouton, op klavier ondersteun deur Matthys Maree). Die oorspronklike Brel-opname het eenvoudige kitaarbegeleiding, terwyl die begeleiding hier uitgebou word tot ’n ambisieuse enscenering van die teks. Dit is musikaal ryk en kompleks; die tjello volg die strekking van die treffende lirieke (een van Bernard Odendaal se suksesvolste omdigtings) en gee deur middel van improvisasie ’n sielvolle uitbeelding van die gesprek tussen ’n (nog) lewende en ’n reeds gestorwene. Dit is net ’n tjello wat daardie soort klank en emosionele intensiteit kan produseer, en Mouton speel haar instrument met die meelewing van ’n solis. Hier, soos in ander Brel-chansons, druk Jannie ook sy stempel af deur die refrein effens te wysig. Die Afrikaanse vertaling van die laaste refrein lees:

Selfs ses voet diep, Jojo, misluk die dood
Selfs ses voet diep, Jojo, gaan liefhê voort

In Jannie se weergawe eindig die lied met "Bly sing jy voort", wat enersyds aansluit by die idee van ’n lewe na die dood wat ’n spieëlbeeld van die lewe op aarde is, en andersyds die fokus verskuif van Jojo na Brel self, want hy is die sanger wat “ses voet diep” sou wou voortsing; Jojo was die chauffeur, die luisteraar. Die lied sluit af met ’n rou, gevoelvolle frase deur die tjello.

In die oorspronklike 1977-opname word net die klassieke kitaarspel van Michel Gésina gehoor. Brel se stem klink veel donkerder as op sy vorige albums, nie as gevolg van sy siekte nie (hoewel hy ’n jaar later aan longkanker sou sterf), maar omdat hy die vorige paar jaar nooit gesing het nie. Die stem is ’n spier, en hoewel Brel se register tydens repetisies vir sy laaste album effens hoër geword het, het die timbre somber gebly. Daarenteen het Jannie du Toit nooit ophou sing vandat sy loopbaan as lid van die Afrikaanse folk-groep Trilogie in die 70’s in Johannesburg begin het nie. Dit is ’n interessante oefening om die meer gelate (hoewel steeds empatiese) toon van sy interpretasie met die reddeloosheid van die oorspronklike te vergelyk.

Franse weergawes

Die eerste snit op ’n nuwe CD is ’n belangrike keuse. Jannie lei hierdie oorsig van ’n dekadelange verbintenis met Jacques Brel in met "Les prénoms de Paris" ("Die name van Parys") wat teen ’n vinnige tempo en in Frans aangepak word. Van die vier tale waarvan daar op die CD sprake is, trek die opnames in Frans die meeste aandag, omdat Jannie twee van die vinnigste chansons in die Brel-repertorium ingesluit het: "Les prénoms de Paris" en die moedswillige tongknoper, "La valse à mille temps". Clinton Zerf (klavier) en Susan Mouton (tjello) voer in "Les prénoms de Paris" ’n besielde musikale gesprek wat selfs ’n paar mate se blikklavier (honky tonk)-improvisasie insluit. Hoewel Brel vroeg in sy loopbaan sy heil in Parys gaan soek het, het sy ryk, rollende r’e duidelik Belgies gebly. Die luisteraar vind iets hiervan terug in Jannie se deeglike artikulasie (veral die r’e) en aansteeklike entoesiasme vir die Franse hoofstad. Hierdie lied bied groot uitdagings vir die sanger wat betref tempo, beeldspraak en emosionele intensiteit; Jannie moet veral gekomplimenteer word op sy uitspraak, wat hier byna foutloos is.

Selfs die uitdaging van ’n duiselingwekkende accelerando en die woordryke lirieke van "La valse à mille temps" was nie altyd vir Brel voldoende nie. Hy het soms lirieke na aanleiding van die sake van die dag aangepas, soos toe die prys van beesvleis skerp in Frankryk gestyg het en die titelreël byna ongemerk verander is na "La vache à mille francs": dus nie meer die Wals in 1000-slagmaat nie, maar die Koei wat 1000 frank kos. Die begeleiding van hierdie heerlik guitige lied word gekenmerk deur klassieke samespel deur Clinton Zerf (klavier), Susan Mouton (tjello) en twee talentvolle violiste, Lizelle le Roux en Evert van Niekerk. Dit is een van die snitte op die CD wat perfek is vir tuisbeluistering, omdat hierdie kaliber musici om logistieke en finansiële redes nie altyd as ensemble vir ’n verhoogproduksie beskikbaar is nie.

Nog ’n Franse snit is "Le prochain amour" ("Die volgende liefde"), ’n 2006-opname met Christa Steyn voor die klavier. Daar het tien jaar verloop tussen hierdie opname en "Les prénoms de Paris": Jannie het gedurende hierdie tyd hard gewerk aan sy Franse aksent, wat in die 2006-opname nog klanke bevat soos averté (in plaas van averti), daardie ou kalant du wat soms word en ’n paar infinitiewe (faire, dire) wat op zijn Provensaals uitgespreek word as fai-ruh en di-ruh. Hoewel laasgenoemde ’n voorbeeld van diërese is (die melodie vereis twee lettergrepe), moet die uitspraak van die tweede lettergreep steeds onderbeklemtoon word. Jannie se stem is egter op sy liriese beste in "Le prochain amour", en Christa Steyn volg hom noot vir noot tot by die gevoelvolle einde.

’n Onverwagse keuse op die CD is "Il neige sur Liège", ’n lied oor een van België se universiteitstede waar Brel graag opgetree het. Die uitdaging vir Brel was om ’n rymwoord te vind vir Liège (neige voldoen nie heeltemal aan die verwagting nie). Clinton Zerf se atmosferiese, byna onheilspellende begeleiding komplementeer Jannie se keuse van lae register. Die eenvoudige, dog treffende melodiese lyn illustreer die sentrale beeld van sneeu wat so dig oor ’n stad val dat dit nie duidelik is of dit van bo na onder of van onder na bo val nie. Die vlokkies wat neersif, word nageboots deur die klavier en deur ’n dialoog tussen die strykers: die Impressionistiese beeld van ’n stad in die sneeu word geleidelik ’n musiekdrama in die kleine, iets soos ’n kamermusiekgedig.

"Quand on n’a que l’amour" ("As ons niks buiten liefde gehad het nie") is nog ’n 2016-opname wat op die CD ingesluit is. Soos in "Les prénoms de Paris", is Jannie se uitspraak hier byna foutloos, terwyl Clinton Zerf ’n moderne, gesinkopeerde begeleiding uit die klawers tower.

Afrikaanse weergawes

Brel se ode aan sy kinderdae ("Mon enfance"), verskyn ook op hierdie CD, met begeleiding deur Matthys Maree, wat hier sy inspirasie kry by François Rauber, een van Brel se twee[8] bekende, klassiek-opgeleide pianiste. Die verskeidenheid begeleiers wat op die CD gehoor kan word, is nog ’n rede om dit aan te skaf. Die verskillende benaderings is insiggewend vir musiekstudente of pianiste wat oor ’n toekoms as begeleiers droom en alle moontlikhede van ’n lied musikaal wil ontgin.

Een van Brel se mees meesleurende melodieë is "La bière" (in ’n land waar daar meer soorte bier is as dae in die jaar, was dit seker onvermydelik?), wat Jannie hier in die Afrikaanse vertaling as "Drinklied" van Morgan/Odendaal sing, met geïnspireerde begeleiding deur Matthys Maree (klavier) en ’n ligte, ritmiese aanslag deur Sergio Zampolli (trekklavier) in ’n toonaard wat Jannie se stem perfek pas. Een van die mees geslaagde opnames op die CD.

Clinton Zerf se keuse van ’n Alberti-bas as agtergrond vir "Le moribond" ("Die sterwende", Afrikaanse vertaling Morgan/Odendaal) is ’n vonds – die buitengewone notekombinasie word getransponeer en dramaties uitgebou soos die verhaal ontvou en die tjello uiteindelik toetree tot die musikale gesprek. As ’n spesiale toegif word die kitaarspel van Mauritz Lotz ook in die laaste strofes gehoor. Hierdie is seker een van die mooiste, mees geslaagde opnames van die lied in enige taal. Die Afrikaanse vertaling is baie naby aan die oorspronklike; aanhangers van Terry Jacks se "Seasons in the Sun", wat letterlik net die melodie gebruik en die Franse woorde vervang het met die verhaal van ’n jong man wat aan leukemie sterf, kan gerus na hierdie snit luister om te weet wat werklik in die bronteks staan. Die temas van Brel se œuvre het min verander oor die jare: hy het byvoorbeeld dikwels oor ontroue vroue geskryf. In hierdie geval is die verteller net spyt dat sy sterwensdag sy vriend Antoine (en sy vrou se minnaar) se geluksdag sal wees. Puriste wat nie van vertalings hou nie en nie Frans verstaan nie, kan om hierdie rede na hierdie vertaling luister.

Engelse weergawes

Wanneer ’n mens na ’n snit (5, op die CD) soos die Engelse vertaling van "Amsterdam" luister, met meester Zampolli op trekklavier, is dit moeilik om te glo dat jy na Jannie du Toit luister. Sy stem is byna onherkenbaar: dit is diep, om by die lae toonaard aan te pas, en sy diksie en interpretasie sou nie onvanpas gewees het in ’n Amerikaanse of Britse produksie van Jacques Brel is alive and well and living in Paris nie.  Nog ’n Engelse vertaling is "Tenderness", wat Jannie hier in ’n pragtig liriese toonaard sing, met sensitiewe klavierbegeleiding deur Matthys Maree. Musiekblyspele word spontaan met Brittanje geassosieer: die instrumentale kommentaar in hierdie opname, wat wissel tussen majeur en mineur toonaarde en eintlik ’n narratief op sy eie is, verleen ’n verhoogmatige kwaliteit daaraan en laat die lied na ’n uittreksel uit ’n musiekblyspel klink, ’n indruk waartoe Jannie se dramatisering van die lirieke, skepping van ’n karakter en afsluiting op ’n besonder hoë noot ryklik bydra. Dieselfde chanson verskyn in Afrikaans (vertaling Morgan/Odendaal) as ’n lewende opname (snit 22) wat die CD afsluit.

Die Engels/Nederlandse weergawe van "Marieke" (Blau/Van Altena) is die enigste opname op die CD wat deur Jannie self verwerk is. Dit is ook die mees veeltalige lied, siende dat die laaste strofe in Frans gesing word (die "u"-klank in Frans is altyd ’n uitdaging: dit word as ’n "uu" in Afrikaans uitgespreek, nie met die "oe"-klank wat hier gehoor word nie).

"You don’t forget" is nog ’n Engelse vertaling (deur Helen Austin) wat Jannie met gemak sing, pragtig begelei deur Matthys Maree op klavier en Susan Mouton op tjello, terwyl en ’n begeesterde Sergio Zampolli die trekklavier laat dartel en dans.

"The old folks" ("Les vieux") word algemeen beskou as ’n lied wat Brel vir sy eie ouers geskryf het. Jannie se interpretasie is sensitief en roerend; hy word ondersteun deur Matthys Maree, Susan Mouton en Sergio Zampolli. Soos in die meeste van die ander opnames op die CD, is die indruk een van ’n kamermusiek-ensemble eerder as van ’n stem met begeleiding; sanger en instrumentaliste is hier op gelyke voet.

Bewonderaars van die kuns van Sergio Zampolli moet verseker luister na Snit 21, net trekklavier en stem in "Next!" ("Au suivant"), ’n opname wat uitstaan omdat Jannie se keuse van orkestrasie gewoonlik meer kompleks is. Zampolli se begeleiding is so ragfyn en opwindend dat dit die regte keuse was om dit met geen ander instrument te kombineer nie. Hierdie is ook een van die mees treffende interpretasies van die liedjie wat die luisteraar sal hoor. Die opname-kwaliteit is ook uitstekend – die klank van die trekklavier is volrond, en selfs die sagste nootjie word gehoor.

Nederlandse weergawes

"Madeleine" is een van daardie chansons wat gesien en nie net gehoor moet word nie. Christa Steyn se dartelende begeleiding en veral haar gelykmatige lopies oor verskeie oktawe in hierdie 1990-opname laat die luisteraar plek-plek dink aan musiek vir ’n stilfilm of sirkus (Madeleine se geduldige bewonderaar herinner uiteraard soms aan ’n nar wat ten spyte van terugslae altyd iets vind wat hom gelukkig maak). Die tydsberekening tussen Christa Steyn en Jannie du Toit is perfek: haar aanslag en improvisasies komplementeer sy kleinkuns-benadering en inkarnering van die verskillende karakters in die verhaal. Die snit sluit af met ’n paar mate jazz op ’n klavier wat waarskynlik vir sy gepaste, effens blikkerige klank gekies is.

"Le plat pays", oftewel "Mijn vlakke land", die lied wat die naaste kom aan die gedigte wat Brel sou wou skryf en wat selfs op ’n stadium oorweeg is as nuwe Belgiese volkslied (in die plek van die "Brabançonne"), word hier volledig in Nederlands gesing in ’n vertaling van Ernst van Altena, met die buitengewone instrument-kombinasie van kitaar en tjello, in plaas van die kitaar en byna spookagtige Martenot-golwe wat in die oorspronklike opname gehoor word. Coenraad Rall se trekklavier gee ’n Belgiese kleur aan die laaste paar mate. Jannie sing soos gewoonlik die Nederlands moeiteloos en klankryk.

’n Ander snit wat pure luisterplesier is, is "Les paumés du petit matin" of "De nuttelozen van die nacht", waarin Christa Steyn haar verbysterende talent as pianis en improviseerder ten toon stel: haar ligte, speelse, soms spottende aanslag komplementeer perfek die satiriese lirieke wat Jannie met gutturale plesier artikuleer. Hierdie is vertaling, begeleiding en kabaret op sy heel beste, en hoef nie terug te staan vir enige ander bestaande Nederlandse weergawe nie, insluitend die Nederlandse opname van die lied deur Brel self.

’n Gestroopte weergawe van "Ne me quitte pas" in Nederlands, "Laat me niet alleen", kombineer die talente van Coenraad Rall op klavier en Susan Mouton op tjello. Luister veral na die laaste mate waarin die titel ten minste vier maal herhaal word en die instrumente die nodige afwisseling moet verskaf – die klavier en tjello verskaf ’n roerende interpretasie van die lirieke sonder om die aandag af te trek van die eenvoudige smeekbede waarmee die lied afsluit.

"Liefde van later" ("La chanson des vieux amants") is nog een van daardie kosbare opnames uit ’n verre verlede (1990) wat die luisteraar daaraan herinner dat Jannie al lank ’n vertolker van Jacques se chansons is. Die instrumentkombinasie is dieselfde, maar toe was dit Christa Steyn op klavier en David du Plessis op tjello.

Ter afsluiting, iets oor die verpakking van die CD: dit bevat ’n oorsig van Jannie du Toit se assosiasie met Jacques Brel in Afrikaans en Engels, foto’s uit sy lang loopbaan, faksimilees van die Brel-verwante plakkate vir kabarette, ’n lys van die musici wat oor die jare by die Jannie du Toit/Jacques Brel-vertonings betrokke was, asook ’n lys van die 22 chansons met vertalings van die titels in Afrikaans en Engels, die name van die vertalers en die jaar van opname: uiters waardevolle inligting vir toekomstige navorsers. Wat Jannie du Toit met ’n CD soos hierdie vermag, is nie net om Jacques Brel se klassieke chansons lewend te hou onder die Suid-Afrikaanse publiek nie (sy Bonjour Monsieur Brel-vertoning sal ook in 2017 tydens die Oppie Water-kunstefees te sien wees). Die gebruik van weergawes in vier tale behoort alle sensitiewe luisteraars te laat nadink oor die rol en kuns van vertaling: behoort Brel in Frans beluister te word, al kan die luisteraar nie Frans verstaan nie? Is dit ’n openbaring om danksy die vertaling te verstaan wat Brel sing, of ’n ontgogeling? Bly Brel se belgitude of Belgiesheid nog herkenbaar in ’n taal soos Engels, of is die effek dieselfde as Spielberg se veramerikaniseerde interpretasie van Tintin/Kuifie in The adventures of Tintin: the secret of the Unicorn? Nederlands en Afrikaans is uiteraard nader aan die Belgiese sfeer ...

Die sukses van ’n literêre werk word dikwels gedefinieer deur die aantal vertalings daarvan. Is dit dieselfde met chansons, of behoort dit anders beoordeel te word, omdat musiek as ’n universele taal beskou word? By nuwe interpretasies van ’n ou gunsteling luister ’n mens nie net na wat behou is nie, maar ook na wat nuutgemaak is, soos die uitsonderlike begeleiding en Jannie se verhoogbenadering tot die opnames (dit is nie soveel luistermusiek as opvoermusiek nie). Daar is puriste wat in beginsel nie na vertalings luister nie, en dit is so dat ’n mens na musiek kan luister sonder om te verstaan wat gesing word. Maar dit maak tog ’n verskil wanneer die emosie wat die luisteraar ervaar nie alleen aan die melodie toegeskryf kan word nie, maar ook aan die woord- en beeldgebruik en aan ’n tematiek wat veral in die geval van Jacques Brel ontwikkel deur die loop van een van die mees uitgebreide œuvres in chanson-geskiedenis. Voeg daarby dat Jannie nie probeer om die oorspronklike opnames na te boots nie, nie wat uitvoering, begeleiding, tempo en selfs hier en daar melodie betref nie.

Brel het in latere jare chansons opgeneem wat net in opname-ateljees gehoor is; die aanslag is meer intiem, minder gedramatiseer. Jannie du Toit is reeds vir 40 jaar ’n uitvoerende kunstenaar; hy is tuis op die verhoog en op toer. Hy benader elke chanson as ’n klein drama, ’n geleentheid om ’n kamee-rol te gee aan ’n kleurvolle of deerniswekkende karakter. Sy diksie en aandag aan uitspraak val op. Hierdie CD is ’n waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse Brel-repertoire, en ’n kosbare herinnering aan sy nuutste vertoning wat 40 jaar se bewondering vir Jacques Brel vier.

[1] Brel, France. J’aime les Belges. DVD. RTBF, 2008.

[2] Un pays de deux langues n’est pas un pays d’une langue. Il y a le français avec les patois que ça comporte. Et puis tu as le flamand, qui n’est pas une langue. C’est du néerlandais, qui est la langue que parlent les Hollandais. Alors on parle un sous-néerlandais qui s’appelle le flamand.

[3] Seghers, René. Jacques Brel – de definitieve biografie. Tirion, Utrecht, 2012. pp127-8.

[4] Brel, France. J’aime les Belges. DVD. RTBF, 2008.

[5] Pour moi, c’est une curiosité : Jacques Brel qui chante en flamand. En fait, il chante en néerlandais, plutôt hollandais, et le côté belge est un peu parti. Parce que, en fait, il aurait dû faire ça dans un langage qui appartient plus à notre pays.

[6] Grundling, Erns. So long, oupa van die lewe in Volksblad, 12 November 2016, p12.

[7] Vertaling Morgan/Odendaal.

[8] Rauber is later vervang deur Gérard Jouannest.

 

  • Naòmi Morgan, Afdeling Frans, Universiteit van die Vrystaat
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top