Jangseung – die kuns van die groteske

  • 0

Dit was in 'n klein landelike dorpie oos van Andong in Suid-Korea waar die wêreld van groteske kuns vir my aansienlik verbreed het, my binnegedring en daar nes geskop het.

Is dit nodig, na meer as ’n eeu se 'moderne' kuns om nog onsself te herinner dat kuns nie altyd mooi en strelend hoef te wees nie. Laat ons onthou dat 'mooi kuns' maar ’n tradisie van ’n paar honderd jaar is. Vroeg in die 20ste eeu het dié opvatting ’n knou gekry. Al het hy die invloed in sy kuns half ontken, is Picasso se vroeë skilderye deurtrek met die invloed van die groteske, soms steurende maskers van Afrika. Die gedagte dat kuns ook die groteske bestryk, is so oud soos die mensdom self.  Die kuns van Afrika en talle lande die hele wêreld deur getuig daarvan.  Uiteindelik gaan die debat oor die perke wat ons aan die woordkuns stel.

Die jangseung van Korea, myns insiens, dring aan dat die ou grense van ons denke oorskry word en dat beperkinge af gesabel word.

Die vorm beslaan houtstompe waaruit groteske gesigte uitgebeitel word.  Elkeen is skrouend lelik, aards en skokkend. Dié wat hulle uitbeitel, wedywer met mekaar oor wie die afskuwelikste voorkoms kan skep ̶ die kwaai uitpeuloë, die oordrewe baktande, wigvormige gesigte. Verlangs, en meer verfynd, is daar die verwoede krygers in Chinese skilderkuns wat ook Japanese en Koreaanse skildertradisies beïnvloed het ̶ ’n sterk motief in die Ooste.

Die jangseung is natuurlik ’n volkskuns. Die grense van landerye word enersyds met die figure afgebaken en bose geeste andersyds daarmee besweer. Die beelde het my ook laat dink aan die Notre Dame-katedraal in Parys se drakekoppe waar duiwels die duiwel moet verdryf. Soortgelyke duiweltjies het ek ook op die riwwe van die kruldakpaleise in Seoel gesien. Die beginsel om bose geeste bang te maak, te verjaag, is ook die grondslag van die Afrika-masker, iets wat deur onkundige of nougesette mense nie verstaan word nie.

Die jangseung is onverfynde kuns, oordonderend en ná aan die Koreaanse hart, al beskou die moderne Koreaan dit meer as tradisie as iets anders en geniet dit met ’n knypie ironie. Tradisioneel tref jy die beelde ook aan by die ingang van dorpies. Dis iets om te aanskou.  By die Internasionale Maskerfees in Andong, het ek toegekyk hoe tieners en jonger kinders hulle eie jangseung ywerig uit stompe met hamers en beitels kap dat die skerwe spat.

 

Maar dit was by Hahoe (Ha-Wê) waar ek my treffendste ervaring gehad het.  Hierdie dorpie, in wese ’n handvol primitiewe huisies, sommige bloot pondokkies wat my aan rondawels laat dink het, word hoog opgegee in die Koreaanse geskiedenis.  Volgens oorlewering het die jin-jang-simbool in die agste eeu (ná Christus) in Hahoe ontstaan, seker onder die mentorskap van Chinese leraars, ’n vorm wat voorgestel word deur die kronkel van die rivier wat mens van ’n hoogte bo Hahoe duidelik kan sien.

 

Hier langs Hahoe se grondpad, is dosyne jangseung-beelde lukraak neergesmyt, die rede hiervoor duister.  Ek het op ’n dag alleen tussen die groteske beelde met hulle skreeuende bekke, massiewe tande, bultende oë en verwronge gesigte gestaan. Elke beeld is anders,  elkeen meer grotesk as die vorige, hipnoties en skrikwekkend. My belewenis van die beelde was iets besonders –  iets wat my na ’n bangmaak-fantasiewêreld voer, waar basstemme dreunsing.

 

Tussen die groteske gesigte het twee ikone gedempter aangedoen. Hulle staan as die Hahoetal bekend. Die tal in die woord slaan op masker. Die Hahoetal straal seën en welwillendheid eerder as verskrikking uit.  Die een is manlik, die jangban, die woord vir adel, en die vroulike is die bruidsmasker wat dikwels aan bruide geskenk word, ’n geliefde erfenis.  Die jangban-masker is amper ’n ikoon vir Korea self.

Ek het my medereisigers in Andong agtergelaat om op ’n tweede besoek na Hahoe foto’s te gaan neem. Ek gooi duim en kry by ’n man wat Coca-Cola aflewer ’n geleentheid. Hy is ywerig om sy Engels af te stof en geïmponeer dat ek in Koreaanse kultuur ’n belang het. Dit was vroeg, die landskap stil en die landerrye bedou. Ek stap die toe toeristekantoor verby en betree die 'tuin' waar die jangseung, langs die grondpad, sonder seremonie gestort is.  

Met niemand in sig neem ek foto’s vir die vale, verbaas dat die plek so ontoeristies is.   ’n Ma en haar dogtertjie haas hulle op die grondpad verby en dit val my op dat die vrou die kind se knaende belangstelling in die jangseung kuis versmoor. Ek frons, maar verstaan tog.

Van die groteske figure se fallusse is oordrewe uitgebeeld. Ek meen dat dit ook ’n produk van ’n aardse humorsin is. Tradisioneel, die wêreld deur, het die uitbeelding van genitalieë te doen met vrugbaarheid. Die Koreane was nog altyd ’n klein nasie vergeleke met die menige Chinese en tog hartstogtelik onafhanklik. Vrugbaarheid was die hoeksteen van hulle voortbestaan. Ek het dit interessant gevind dat die moderne Koreane vrugbaarheid tog beperk en die Chinese met hulle een-kind-per-gesin beleid volg.  Maar selfs in die jaar wat ek in Korea deurgebring het, was dié gesindheid aan die kwyn.  Mens sien steeds die falliese simbool in verskeie openbare plekke in Suid-Korea, sommiges soos groot soos ’n mens. Dit is anders as in die Weste waar falliese simbole verdoesel word en openbare vertoning hiervan as smaakloos, ongewens, selfs obseen beskou word.

Die jangseung is nie almal se koppie groen tee nie. Maar vir my is dit ’n treffende openbaring van vitaliteit en energie wat steeds in die Koreaanse gees te vinde is, iets wat ’n spontane skeppingsdrang toon. Ek meen dat dit ’n ouer tradisie is as selfs die Boeddhisme wat 300 jaar ná Christus uit China die Koreaanse skiereiland bereik het. Ek hoor tromme van die voor-geskiedenis.

Ek het elders in Korea ook die jangseung gesien ̶ buite museums, selfs in restourante ̶ maar nooit weer met dieselfde trefkrag as daardie saamgebondelde figure, ’n ruwe, deurmekaar, wonderlike konvensie. Ek meen daar was nie ’n enkele bose gees in daardie streek nie.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top