Jan Smuts – van boerseun tot wêreldverhoog: ’n lesersindruk

  • 0

Jan Smuts – van boerseun tot wêreldverhoog
Kobus du Pisani (hoofredakteur)
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306146

Noem die naam Jan Smuts, die Boeregeneraal uit die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) (1899–1902), en jy kan enige reaksie verwag, van “verraaier” tot “die grootste Afrikaner ooit”.

Oor Smuts (1870–1950) het daar reeds ’n groot aantal boeke verskyn. Die bekende biografie van FS Crafford, Jan Smuts, het reeds in 1943 verskyn, toe Smuts nog gelewe het. Sedertdien het daar te veel publikasies verskyn om hier te lys. Twee interessante onlangse blikke op Smuts se lewe is die joernalis Richard Steyn se boek Jan Smuts: Unafraid of greatness (Jonathan Ball, Jeppestown, 2015), wat ook later in Afrikaans verskyn het as Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, en dan was daar ook ’n heel skaflike dokumentêr getiteld The flawed genius of Jan Smuts, wat ook in 2015 verskyn het. En nog is dit het einde niet. ’n Nuwe boek deur Steyn wat die verhouding tussen Jan Smuts en Winston Churchill (1874–1965) ondersoek, word reeds in die media geadverteer.

Wat is hierdie verwronge genialiteit waarna verwys word? Dit is natuurlik Smuts se rassebeleid, wat vir te veel mense vandag ’n bitter smaak in die mond laat om hulle aan Smuts te wil laat herkou, en Nigel Willis verklaar in ’n resensie van Steyn se 2015-biografie dat niemand nog ooit werklik daarin kon slaag om Smuts se “massiewe foute” te verduidelik nie.1 Jan Smuts: Van boerseun tot wêreldverhoog vul iets van hierdie gaping.

Die boek is nie maar net weer ’n nuwe biografie van Jan Smuts nie. Dit is ʼn kritiese ondersoek na Smuts se publieke loopbaan deur 18 gerekende historici. Biografiese besonderhede is daar wel, maar die fokus val vierkantig op Smuts se openbare lewe, en die boek is in vier hoofafdelings verdeel, onderskeidelik afdeling A, “Smuts se bydraes tot die wetenskap”; afdeling B, “Die militêre Smuts: bevelvoerder in drie oorloë”; afdeling C, “Smuts die politikus”; en afdeling D, “Smuts die staatsman”. Dit word opgevolg deur ’n slotgedeelte getiteld “Smuts, ’n herwaardering” deur die redakteurs van die boek.

Hoewel Smuts, presies nes verskeie van sy medestryders, heldestatus bereik het tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog, het sy beleid van integrasie met Engelse Suid-Afrikaners (in daardie jare is ook die integrasie tussen Engelse en die Boere “rasse-integrasie” genoem) hom uiteindelik in onguns laat verval by ’n invloedryke deel van die Suid-Afrikaanse kieserskorps: die Afrikanernasionaliste. Die feit dat Smuts ʼn boek gepubliseer het met as titel Holisme en evolusie, het ook nie veel bygedra tot sy gewildheid onder Afrikanernasionaliste nie. In die eerste afdeling van die biografie wat hier bespreek word, is daar veral ʼn groot fokus op Smuts se teorie van holisme en hoe dit sy denke beïnvloed het, en ook ʼn hoofstuk oor sy rol in die totstandkoming van die Transvaalse Universiteitskollege, wat later die Universiteit van Pretoria geword het.

Afdeling B, wat fokus op Smuts se militêre loopbaan, bestaan uit drie hoofstukke. In die eerste hoofstuk ondersoek Fransjohan Pretorius Smuts se rol in die Suid-Afrikaanse Oorlog. Dit is interessant om daarop te let dat die skrywers van die boek skynbaar soms uiteenlopende menings oor Smuts huldig. Dit is ’n ekstra pluimpie vir die publikasie, en getuig van die vryheid wat die outeurs geniet het, en dat verskillende perspektiewe tussen die blaaie te vind is. Op bl 385 skryf Dan Kriek byvoorbeeld dat Smuts se samewerking met Brittanje ná die Suid-Afrikaanse oorlog getuig van ’n “ommekeer” in Smuts se denke. Hy verdedig hierdie standpunt deur onder meer te verwys na Smuts se bewondering vir die kultuur van die Duitsers, wat volgens Smuts vergewe moes word vir die vir misstappe van die Wêreldoorloë. Só moes ook Brittanje vergewe word vir die gruwelikhede van die Suid-Afrikaanse Oorlog, soos die verskroeide-aarde-beleid en die kampstelsel, waar tienduisende mense dood is. Maar Pretorius is van mening dat “Smuts se Transvaalse verblyf en die republikeinse invloed wat Kruger op hom gehad het, [...] die anomalie [was], die fase wat uit pas was met sy lewensuitkyk” (162). Pretorius beskryf Smuts se versoeningsbeleid met Brittanje eerder as ’n terugkeer na Smuts se idees van voor die Jameson-inval van 1895. Dit was die Jameson-inval wat die republikeinse vuur in Smuts laat ontvlam het, asook die verraad van Cecil John Rhodes, vir wie Smuts aanvanklik groot bewondering getoon het. Afdeling B word afgesluit met twee hoofstukke deur André Wessels, wat onderskeidelik fokus op Smuts se bydraes tot die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) en die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945), waartydens Smuts internasionale roem verwerf het.

In afdeling C, “Smuts die politikus”, val die fokus op Smuts se lang loopbaan in die politiek. Daar is onder meer hoofstukke wat fokus op Smuts se verhouding met JBM Hertzog (1866–1942), die stigter van die Nasionale Party, eenmaal Smuts se kameraad tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog, maar later sy teenstander in die parlement. Hierdie twee vurige teenstanders het die politieke toneel oorheers ná die heengaan van Louis Botha (1862–1919), die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika. Daar is juis ’n hoofstuk deur At van Wyk wat fokus op die verhouding tussen Botha en Smuts, sowel as ’n hoofstuk wat die verhouding tussen Smuts en die liberale Jan Hendrik Hofmeyr (1894–1948) ondersoek. Smuts het ’n lang, invloedryke en kleurvolle politieke loopbaan gehad, en was betrokke by die administrasie van die Boererepublieke tot by die Suid-Afrikaanse Oorlog, by die stigting van die Unie van Suid-Afrika, en later as eerste minister van die Unie. Daar is ook ’n belangrike bydrae deur Dan Kriek wat fokus op Smuts se hantering van krisissituasies, soos die 1914-boereopstand (ook bekend as die rebellie), die Witwatersrandse mynstaking en die Bondelzwartsopstand.

In die laaste afdeling word daar veral gekyk na Smuts se bydrae tot die ontstaan van die Volkebond (1919) en die Verenigde Volke-organisasie (VVO) (1945). Hoewel hy intiem betrokke was by die konseptualisering van die begrip menseregte, is hy self lelik oor die kole gehaal tydens die sittings van die VVO oor Suid-Afrika se rassebeleid, wat ná die Tweede Wêreldoorlog al meer onder skoot gekom het.

Hoekom in die geskiedenis gaan delf oor Jan Smuts – ’n omstrede en dikwels vergete figuur vir baie Suid-Afrikaners?

Daar is verskeie redes. Smuts se internasionale rol en aansien is alreeds genoeg rede, want sy bydrae tot internasionale staatkundige ontwikkeling word hoog geag. Dan is daar ook sy rol in drie oorloë, sy rol in die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika, asook sy bydraes tot kennis en geletterdheid.

Smuts se lewe en loopbaan is nie een wat eenvoudig begrawe kan word op grond van sy rasbeleid nie; daarvoor is sy nalatenskap eenvoudig te groot. Jan Smuts: Van boerseun tot wêreldverhoog is daarom ’n mylpaal in die Suid-Afrikaanse historiografie. Jan Smuts is vandag grootliks ’n vergete figuur, deels weens sy beleid van “integrasie” met Engelse Suid-Afrikaners, wat hom in onguns laat val het by Afrikanernasionaliste wat hom gevolglik grootliks uit die geskiedenisboeke gehou het. Maar Smuts is hoofsaaklik ’n vergete figuur juis ook weens sy verset teen ’n ander integrasie: die integrasie met swart Suid-Afrikaners, wat Smuts vandag in herinnering bring as ’n koloniale figuur wat swart Suid-Afrikaners onderdruk het. Maar in hierdie publikasie kry die samestellers dit reg om Smuts se groot bydraes te ondersoek sonder dat die boek in ʼn onkritiese heldeverering verval. In die slotopmerkings skryf die redakteurs: “Dit is maklik om uit vandag se perspektief die gebreke van die denke van daardie tyd uit te wys. Ons moet net in gedagte hou dat die huidige bedeling ewe veel gebreke toon, wat in die toekoms uitgewys kan word” (483).

Eindnota

1 N Willis. 2016. Enigmatic Jan Smuts still elusive in new biography. https://mg.co.za/article/2016-02-05-enigmatic-jan-smuts-still-elusive. 5 Februarie. (9 September 2017 afgelaai.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top