Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs: Steward van Wyk vertel

  • 0

Aansoeke word ingewag vir die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs. Naomi Meyer het met Steward van Wyk, mede-professor en voorsitter van departement Afrikaans Nederlands aan die UWK, gevra watter skrywers die geleentheid kry om in aanmerking te kom. Steward dien in die algemene bestuurskomitee wat die fonds hanteer, en in die beurskomitee wat aansoeke oorweeg en aanbevelings aan eersgenoemde komitee maak.

Hallo Steward, dankie vir die geleentheid om te gesels. Dis weer tyd vir alle skrywers om hul ore te spits en hul voorleggings in orde te kry vir die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs wat jul universiteit vriendelik daarstel. As daar enige van ons lesers is wat nog nie hiervan gehoor het nie, sal jy asseblief vertel waaroor hierdie ongelooflike geleentheid handel?

Die beurs het tot stand gekom uit die testament van wyle Marjorie Wallace wat die Universiteit van Wes-Kaap aangewys het as die erfgenaam van haar en wyle Jan Rabie se boedel. Die bepalings was dat die opbrengs van die boedel in ’n aparte fonds deur die universiteit bestuur moet word en uit die rente-opbrengs moet ’n beurs elke tweede jaar beskikbaar gestel word vir ’n skeppende skryfprojek in Afrikaans. Indien daar nie ’n geskikte projek is nie, kan die universiteit dit oorweeg om die beurs aan ’n kunstenaar beskikbaar te stel.

In hierdie ekonomiese tyd glo ek jul sal oorval word deur aansoeke. Hoe lyk ’n uiteensetting van die beurs? Hoeveel geld is ter sprake en wat moet die skrywer vanuit hierdie befondsing delg?

Die beursbedrag aan die vorige twee ontvangers was R350 000 en dit is ook die bedrag wat vanjaar beskikbaar is. Dit word in die vooruitsig gestel dat die bedrag in die toekoms verhoog kan word, afhangend van verbetering in die ekonomiese situasie. Die doel van die beurs is om ’n skrywer vir ’n tyd lank vry te maak om aan ’n skryfprojek te werk. Ons wil graag in die projekplan ’n aanduiding kry van hoe lank die aansoeker aan die skryfprojek gaan werk, watter onkostes in die vooruitsig gestel word, en watter maatreëls getref gaan word om die projek tot uitvoering te bring.

Maar dis nie net skryf, skryf, skryf nie. Daar is ook ’n lesingreeks en seminare om aan te bied. Word dit vooraf bepaal en uiteengesit, of beïnvloed die skrywer aan wie die beurs toegeken word, en sy manuskrip se tema, hierdie ander geleenthede?

Dit word van die beurshouer verwag om die Jan Rabie & Marjorie Wallace Gedenklesing te lewer en deel te neem aan seminare en voorlesing by die universiteit. Dit is egter baie min en word gewoonlik met die beurshouer onderhandel.

Moet ’n skrywer voorheen gepubliseer het om in aanmerking te kom?

Dit is nie ’n vereiste nie. Indien ’n aansoeker reeds gepubliseer het, wil ons graag voorbeelde van die werk sien.

Dis duidelik dat gevestigde skrywers ook kan aansoek doen, as mens kyk na wie voorheen die beurs ontvang het. Is die boodskap wat die beurs uitstraal dus: Ons is oop vir almal; ons het begrip daarvoor dat alle skrywers ook mense is wat nodig het om maandeliks te oorleef? Of enigiets wat jy hieraan wil toevoeg of verander?

Die aansoekproses is oop en enige persoon kan aansoek doen. Die beoordeling geskied op grond van die oortuigingskrag van die dekkingsbrief en die projekvoorstel en -plan.

Is daar enigiets spesifiek, enige kriteria wat jy kan uitsonder, waarop diegene wat wil aansoek doen moet let om ’n beter kans te hê?

Die omvattendheid en oorredingkrag van die projekvoorstel en -plan sal deurslaggewend wees.

Dink jy dis ’n goeie idee as ’n skrywer reeds ’n ent met ’n manuskrip gevorder het en dan ’n voorlegging maak? Of kan ’n skrywer ewe veel in aanmerking kom deur sy idees alleen voor te lê?

Dis eintlik om ’t ewe, alhoewel ek die gevoel het dat as iemand alreeds met ’n manuskrip besig is, die opwinding dalk al uitgeskryf is.

Het jy terugvoer gekry van enigeen aan wie die beurs al in die verlede toegeken het oor wat die beurs prakties vir hul beteken het, en sien jy kans om dit met ons lesers te deel?

André Brink het reeds by die publikasie van Philida gesê dat hy sonder die beurs die boek met groot moeite sou klaargeskryf het. Die beurs het hom net daardie kans gegee om broodnodige navorsing te doen. Die tweede ontvanger, Willem Anker, kon met die beurs vir hom waardevolle skryftyd loskoop uit sy dosentepos by die US.

Die skrywersbeurs is in 2011 aan Willem Anker toegeken. Mag jy dalk enigiets verklap van die verloop van sake gedurende hierdie tydperk?

Tydens sy laaste ontmoeting met die bestuurskomitee waarin hy verslag moes lewer oor die vordering met die manuskrip, het hy aangedui dat dit vroeg volgende jaar by die uitgewer afgelewer word. Hy het reeds dele daarvan aan hulle voorgelê.

Jy dien in die algemene bestuurskomitee wat die fonds hanteer – en is ook seker maar in die spervuur, soos dit gaan as baie mense almal om één bedrag geld meeding. Maar wat is lekker van die aansoeke wat jy ontvang? Is daar voorleggings wat jou met die eerste oogopslag werklik opgewonde maak?

Dit is lekker om al die wonderlike voorleggings te lees en ’n idee te kry van die kreatiewe energie van ’n verskeidenheid mense. Net jammer ons kan nie vir almal ’n beurs gee nie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top