Jan Marais-prys 2018: Wenners bekend

  • 0

Die Jan H Marais-prys vir uitstaande bydrae in Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar vir die derde keer toegeken. Die wenners is professore Christo van Rensburg, ’n taalkundige en navorsingsgenoot van die NWU, en Marinus Wiechers, ’n regsgeleerde, voorheen verbonde aan die Regsfakulteit van Unisa en voormalige rektor van daardie instelling. Vanweë die voortreflike nominasies wat die keurkomitee ontvang het, word die prys van 0,5 miljoen rand gelykop tussen professore Van Rensburg en Wiechers verdeel. Elkeen ontvang ook ’n bronsbeeld deur Coert Steynberg, voormalige skoonvader van Marinus Wiechers.

Die Jan H Marais-prys is ’n huldeblyk aan Jan H Marais van Stellenbosch wat sy fortuin in 1915 bemaak het vir die bevordering van Afrikaans en die welsyn van Stellenbosch. Dit is die grootste prys van sy aard in Suid-Afrika.

Die keurkomitee het vandag in Stellenbosch vergader onder die voorsitterskap van Andreas van Wyk, vroeëre rektor van die US. Die keurkomitee het bestaan uit Christoff Heyns van Universiteit van Pretoria se regsfakulteit; Piet Steyn, afgetrede hoof van navorsing aan die US; Johan van Zyl, vorige rektor van UP en tans voorsitter van Sanlam; Hennie van Coller, emeritus uitstaande professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat. Die prys word geadministreer deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die vergadering is ook deur die Akademie se HUB, Dioné Prinsloo, bygewoon.

Die toekennings sal op 30 Mei 2018 by ’n glansdinee te Stellenbosch oorhandig word.

Christo van Rensburg word vereer vir ’n loopbaan in diens van Afrikaans en sy historiese variëteite. Hy het baanbrekende werk verrig oor die herkoms van Afrikaans, in besonder die invloed van Khoi-Afrikaans.

Marinus Wiechers het die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ’n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. Sy seminale werk het ’n model van die Franse Administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ’n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in SA gemaak het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top