Jan H Maraisprys 2017: Jaap Steyn se bedankingstoespraak

  • 1

Die Jan H Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal is gesamentlik toegeken aan Jaap Steyn van Bloemfontein en Jan van der Watt van Nijmegen, Nederland. Die prysgeld van ’n halfmiljoen rand as erkenning vir hulle lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans word gelykop tussen die twee pryswenners verdeel en is op 30 Mei 2017 by ’n funksie op Stellenbosch aan hulle oorhandig.

Hier is meer inligting oor die mede-ontvangers.

Hier is Jaap Steyn se bedankingstoespraak.

Geagte prof Van Wyk, vriende

Om ’n mede-ontvanger van die Jan H Marais-prys te wees, is ’n groot eer. Mensewerk is alte dikwels in mindere of meerdere mate vol gebreke. Wanneer ander mense nogtans wys dat hulle waarde heg aan jou werk, dan beteken daardie erkenning baie.

Eerstens bedank ek die keurkomitee van die Akademie vir die toekenning. Daarby wens ek die mede-ontvanger, prof Jan van der Watt, geluk.

Ook bedank ek almal wat die proses moes bestuur en vanaand se geleentheid moes reël: proff Andreas van Wyk, Niel Krige (voorsitter van die Het Jan Marais Nationale Fonds) en Wessel Pienaar, dr Dioné Prinsloo en Martie van der Linde, bestuurder ontwikkeling en alumnisake.

Jaap Steyn

Nadat die aankondiging oor die prys gedoen is, het ek verneem wie my vir die prys voorgestel het: die nomineerders Alana Bailey en Daniel Hugo en die sekondante Christo van Rensburg, Heinrich Matthee en Wannie Carstens. Ek is dankbaar oor hul vertroue.

Daar is talle ou vriende en kollegas wat ek sou kon bedank vir die voorreg om gedagtes met hulle te wissel. Dis onmoontlik om alle name te noem, maar ek is dankbaar oor twee wat vanaand hier is: Lina Spies, ’n oudkollega van die gewese Universiteit van Port Elizabeth, en Chris van der Merwe, een van my kollegas by die gewese Randse Afrikaanse Universiteit.

Die belangrikste om hier te bedank is die trustees van Het Jan Marais Nationale Fonds. Die naam Jan Marais het ek toevallig al leer ken terwyl ek nog op skool was. In my standerd 8-jaar in 1953 het die Nasionale Boekhandel ’n groot advertensie in Die Huisgenoot geplaas van boeke wat hulle uitverkoop.

Jan van der Watt

Een van die boeke was Spykers met koppe van J Steinmeyer, ’n gewese redaksielid van Die Burger. Hy vertel interessant oor die tyd tussen 1904 en 1924.

Sommige hoofstukke gaan oor die oprigting en eerste jare van Die Burger en Naspers. Die skrywer vertel van mnr Jan Marais se groot bydrae – ook hoe daar op ’n kritieke tydstip ’n tweedehandse rolpers gekoop moes word waarvoor daar nie geld was nie en hoe Jannie Marais ’n paar duisend pond voorgeskiet het.

Eers later sou ek verneem van Jan Marais se betrokkenheid by die Universiteit Stellenbosch, reeds in die tyd toe dit nog die Victoria-kollege was en Rhodes as premier van die Kaapkolonie planne beraam het om die kollege ondergeskik te maak aan ’n toekomstige Universiteit van Kaapstad. Jan Marais, sy broers en die Krige-familie was toe van die mense wat met ’n fonds begin het om die kollege te ontwikkel.

Maar Jan Marais word veral onthou oor sy reuse-bydrae tot die totstandkoming van die Universiteit Stellenbosch as ’n Afrikaanse universiteit.

Daarmee het hy ’n diens bewys aan die duisende wat hier op  Stellenbosch kom studeer het, maar indirek ook aan ons wat studente was aan die ander histories Afrikaanse universiteite.

Ek vermoed ’n Afrikaanse Stellenbosch was, soos Potchefstroom, ’n navolgenswaardige voorbeeld vir die universiteite wat nog ’n taalstryd moes voer, naamlik die UP en veral UKOVS. Uit die notules van die raads- en senaatsvergaderings van UKOVS in die taalstrydjare blyk dit dat een argument soms geopper is: dis dat Vrystaatse studente ter wille van die taal liewer na Stellenbosch en Potchefstroom gaan.

Ek en my tydgenote aan die gewese Universiteit van die Oranje-Vrystaat het die voorreg van ’n Afrikaanse opleiding geniet.

Baie van ons het gekom uit plattelandse skole in die sentrale en westelike dele van die land en ons sou baie moeilik die mas kon opgekom het sonder moedertaalonderrig tot op universiteit.

Dit is nog so vir baie studente uit daardie streke. Daarom is dit so harteloos dat verskeie histories Afrikaanse universiteite Afrikaans afskaf of uitfaseer.  Dit het ernstige gevolge vir skole, die gemeenskap en vir Afrikaans as literêre en wetenskapstaal.

Gelukkig word Afrikaans as wetenskapstaal nou ondersteun deur Jan Marais se “nalatenskap sonder einde”, soos Pieter Kapp dit in sy boek se titel noem.

Afrikaans is kwesbaarder as ander tale in lande waar die universiteite al hoe meer Engels invoer. In daardie lande behou die volkstaal belangrike funksies. Dit word gebruik in die parlement, in staatspublikasies, in wette, op die regbank, in die landsbestuur, belangrike werkkringe en vir die openbare uitsaaiers. Afrikaans moet belangrike funksies op hierdie terreine prysgee.

Gelukkig is daar instellings en persone wat werk om Afrikaans as intellektuele en wetenskapstaal te behou. Die intellektuele gedagtewisseling word gestimuleer deur koerante en ander media – soos Rapport Weekliks en die middelbladartikels van die dagblaaie.

Vir Afrikaans as wetenskapstaal werk die Akademie met sy simposiums en tydskrifte, ook ander vaktydskrifte, veral LitNet, uitgewers en die trusts en fondse wat boeke subsidieer, sekere kerklike inrigtings, party verenigings, Solidariteit se onderwysinstellings, soos Akademia en Sol-Tech.

Hierby kom dan die groot bydrae van Het Jan Marais Nationale Fonds.

Soos die res van die Afrikaanse gemeenskap is ek die fonds dankbaar vir wat hy vir Afrikaans doen en voel geëerd om die Jan H Maraisprys te mag deel. Ek bedank die Akademie en Het Jan Marais Nationale Fonds van harte daarvoor.

  • 1

Kommentaar

  • Wat het ons Afrikaanse kultuur ons nagelaat? Paul Kruger se boere-oorlog. Die Nasionale Party se Apartheid. Die NG Kerk se nare godsdiens-indoktrinasie. Taal is slegs 'n vorm van kommunikasie en as dit uitrafel moet dit aanvaar word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top