Jan, ek glo jou nou

  • 0

As jy sê Afrikaans verdwyn van verpakkings, of wat ook al, dan verstaan jy daaronder dat Afrikaans besig is om te verdwyn.

Natuurlik groei 'n taal deur ander tale se woordeskat. 'n Taal in isolasie (ek weet nie van so iets nie) sal net groei dmv neologismes. Heeltemal reg: as twee tale naas mekaar staan, groei hulle deur woordeskat oor en weer te ontleen. Kyk maar na Suid-Afrikaanse Engels; dit bevat baie woorde van veral Afrikaans en ook die ander inheemse tale. As jy alle Engels uit Afrikaans verwyder, sal ons skaars kan praat.

Natuurlik het Afrikaans baie neologismes, geskep deur kreatiewe sprekers, maar dit is maar uiters beperk, en heel dikwels is dit geskep omdat die Engelse woord darem te Engels klink. Ek dink nou aan Fanus Rautenbach se “bromponie” ipv “scooter”. Daar hoor ek nou juis hoe een van die Broers sing: "Ek het 'n hoeter vir my skoeter." Dan val “vuurhoutjie” my by wat in oom Lokomotief se dae in Afrikaans “m'etjie” was. O, en dan is daar die pragtige volksetimologieë, soos “baiesukkel” voordat dit vervang is met “fiets” en “witstippelmerrie” voordat ons spoggerig geword het en nou “murg-in-groente” eet. My gunsteling nog is “Die-ou-duiwel-se-slypsteen” vir “Theophilus Shepstone”.

Miskien kan jy vir my voorbeelde gee van die kreatiwiteit waarmee jy so beïndruk is. Ek sê jou Afrikaans brei deesdae sy woordeskat uit slegs met wat van Engels af kom. Ons bekyk die Engelse woord, neem hom netso oor, of ons laat hom so bietjie na Afrikaans klink, of ons skep 'n nuwe woord deur bestaande taalmateriaal. Laasgenoemde gebeur nou selde, en as iemand 'n woord probeer skep, dan is dit een teen tien 'n mislukking. Dink maar aan “knormoer” en “programmatuur” wat min mense ken. "Sagteware” en “aansitter” is bekender.

Wiskunde, logika, word deur taal beskryf, maar taal self is nie logies nie. As een woord 'n ander woord vervang, word die eerste woord gou vergeet, en een plus een is dan gelyk aan een. Enige taal werk algehele sinonimie teen en daarom sal mense nie meer sê iets is “wonderbaarlik” nie. Nee, dit het nou “amazing” geword. (Ek beskryf net wat ek waarneem, voor jy nou weer my kop afbyt en my daarvan beskuldig dat ek dit voorstaan.)
Wat jy dan ook al teen “ontstaan” het, hier in Suid-Afrika het 'n nuwe taal, nl Afrikaans ontstaan, oa deur Nederlandse of dan Hollandse woorde te vervang met Maleis-Portugese en ook Engelse woorde. Dan praat ek nog nie van die Nederlandse taalstruktuur of spelling nie.

Ek kan nie sien dat Afrikaans gaan verdwyn nie, ten spyte van politieke druk, en aanpassing by nuwe omstandighede. Miskien is 'n heeltemal nuwe taal in wording waarvan die naam gaan verander, soos jy voorstel, na Engefrikaans, of dit gaan Afrikaans bly met 'n yslike woordeskat. Verdwyn is nou onmoontlik, want hoe gaan die Afrikaners, die Bruinmense, die Riemvasmakers, die Griekwas, die San en nog meer onderling en met mekaar kommunikeer, as Afrikaans verbied word?
Soos ek dit ook sien, Afrikaans se struktuur het al so gevestig geraak, dat selfs die ou paar Engelse woordjies wat gebruik word, dit nie sal doodkry nie. (Dis nou hoe dit vir my lyk. Moet my asseblief nie daarvan beskuldig dat ek dit goedkeur nie!)

Groete,
Angus

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top