Jakkalsjag

  • 1

 

Net ná nege die aand ry ons veld toe om die jakkals te gaan soek. Ons ry met die ou vaal Ford-bakkie, want die Nissan het te veel blinkgoed wat aandag kan trek. Pa agter die stuur, ek met die .243 skuins oor my linkerbeen sodat die loop by die oop ruit uitsteek.

Dis ’n goeie jaar. Die gronddam het Desember twee keer uitgeloop. Die naglug ruik na gekneuste skaapbos. Iewers tjierrr ’n naguiltjie. ’n Dorperooi skrik vir die bakkie se ligte, haar oë ’n oomblik lank twee vaalgroen spieëls, en draf stywebeen-stywebeen weg, ’n vet langstertlam blêrend agterna. In die huiskamp is my pa se stoettroppie; groot ooie met fris agterstewe, en die ram wat hy op Prieska op ’n veiling gaan koop het en waaroor ma daardie een Junievakansie ’n hele week lank omgekrap was toe sy uitgevind het wat die stoetdier gekos het.

Dis my eerste vakansie ná universiteit, die eerste keer dat ek verlof moet neem om plaas toe te kom.

“Mastag, maar dis lekker om jou by die huis te hê!” sê Pa en wissel die bakkie se ratte vir die keerwalletjie.

Ek glimlag en versit die geweer toe ons oor die walletjie gaan, sodat die teleskoop nie teen die deur kap nie. “Dis lekker om weer ’n slag huiskos te eet. En braaivleis.”

“Nou vir wat braai jy nie vir jou vleis nie? Dis dié dat jy so dun geraak het. Ons stuur mos genoeg vleis saam, en ons het nie verniet vir jou die vrieskas gekoop nie!” baklei hy kamma.

“Dis nie dieselfde in die stad nie,” probeer ek verduidelik.

So in die ry maak Pa die bruinpapiersak langs hom oop. Die skerp speseryreuk van gekerfde biltong laat my mond water, al het ons pas ’n halfuur terug klaar geëet.

“Die verpesting het gisternag twee lammers hier in die leegte gevang. Dawid sê hy’t hom gisteroggend vroeg hoor roep ook. Ek dink ons moet hier rond stop. Die wind is nou stil, maar as hy stoot, sal hy tien teen een suid staan.”

Deesdae aanvaar ek dit byna verwonderd as my pa sulke opsommings maak – dis eers die afgelope jaar of twee dat ek skielik besef het hoe min ek eintlik van die veld en die plaaslewe weet, al het ek hier grootgeword, al ken ek elke klipkoppie, draadheining en sandsloot. My pa draai van die pad af. Die bakkie skud oor graspolle en bossies tot op ’n oopte. Die dieselenjin se gedreun word stil.

Pa skakel die kajuitliggie aan. “Die tape is daar voor in die cubby hole.”

Ek maak die knip oop en kry die kassethouer tussen ’n klompie kleingeld, sleutels en my pa se ou skaapgetalleboeke. Die kasset se etiket voel vetterig en die woorde daarop is onleesbaar.

My pa klim uit en haal die skietlig uit. “Dit was nou ’n lekker Kersgeskenk,” sê hy vir die soveelste keer.

“Ek het gedink Pa sal daarvan hou.”

“Een miljoen kerskrag.” Hy sit die bakkie se ligte af. ’n Oomblik lank is alles stikdonker. Dan skakel hy die skietlig aan. Die lig klief ver die donker in. My pa speel daarmee oor die gras en lae bossies. Die rooi sellofaan wat oor die voorkant geplak is, laat die lig onheilspellend lyk. Ek glip die kasset in die bakkie se speler en draai die klank harder. Daar is net ’n gesuis.

“Is Pa seker die tape werk nog?”

“Gee kans.” Hy maak die lig op die dak staan. Ek kan hoor hoe hy iewers in die donker sjorrend water afslaan.

Meteens is daar ’n oorverdowende, bloedstollende skreeu. Dit vul die hele bakkie. Ek verstyf ’n oomblik lank. Ek het al vergeet hoe aardig die geluid is. ’n Haas wat doodgebyt word, het my pa destyds verduidelik toe die mense met dié manier van jakkalsjag begin het. As daar jakkalse in die omtrek is, kom hulle nader, want hulle dink daar was iewers ’n vangs. Dié geluid word afgewissel met die getjank van ’n jakkalsmannetjie.

Pa klim terug in die bakkie. “Maak oop daai bottel soetwyn,” sê hy. Die soetwyn is eintlik ons tradisie vir wintertyd se springbokjag, maar die afgelope winter was die eerste wat ek nie huis toe kon kom nie. Ek kon eers ná ’n jaar by die koerant verlof neem. Ek gee die bottel vir pa aan. Hy vat ’n sluk.

“Wil jy skiet?” vra hy en gee die bottel wyn vir my aan.

“Nee, skiet Pa.”

Tussen ons skree die haas weer. Die hemel weet wie dit opgeneem het en wat hulle aan daardie haas gedoen het, want in die agttien jaar wat ek op die plaas gebly het, het ek nooit ’n haas so ’n geluid hoor maak nie. En tog, dit werk. Pa het al hóéveel rooijakkalse so gelok en doodgeskiet.

Ek vat ’n sluk van die wyn en kry daardie kleintydgevoel van iets verbode. Ma was nooit mal oor die idee dat ons drank saamvat jagveld toe nie, al sou pa nooit te veel drink of iets onverantwoordeliks aanvang nie. Deesdae is deel van die verbodenheid om te weet dis goeie, dúúr soetwyn wat ek en hy sommerso uit die bottel drink.

Behendig vat hy die geweer aan, haal die pakkie patrone uit die nessie langs die stuurwiel en laai die geweer. Die slot klik toe en hy skuif terug teen die sitplek.

Tyd vir die gewag om te begin. Dit kan tot laatnag aanhou. ’n Voël skrik iewers op en vlieg ’n vaal streep deur die ligstraal. Dan is alles weer doodstil, afgesien van die luidsprekers se gesuis.

“Jy was gelukkig om so vinnig werk te kry,” sê Pa met ’n gedempte stem. “Goeie werk is darem maar skaars deesdae. Ek hoor hoe praat die mense. Baie jongmense sukkel. Dis ’n goeie ding jy’s nie ook oorsee destyds ná matriek nie. Daai kinders moet ook maar onder begin as hulle terugkom.”

“Hmmm. Het Pa al gehoor hulle noem dit die nuwe diensplig, dié oorseeganery?”

Stilte.

“Tannie Berta het laas toe hulle kom kuier het vir ma van jou koerantstories saamgebring. Sy knip alles uit.”

Ek lag verleë.

Ons wag vir die haas se volgende skreesessie om te eindig.

Pa vat ’n hand vol biltong. “Jy’t al met belangrike mense gepraat, sien ek. Ma het vir my een stuk gewys waar jy met een van die sepiemense gepraat het. Wie’s sy nou weer, daai een wat in die koffiewinkel werk?”

“Dis maar die soort stories wat ons junior ouens doen. Hof en kampus en vermaak. Die senior verslaggewers kry die ernstiger stories, politiek en misdaad en so. Ons politieke verslaggewer was laas maand ’n ruk lank siek, toe het hulle my darem ’n paar beter stories gegee. Ek het my eerste voorblad gekry, oor daai korrupsieskandaal by die onderwysdepartement.” Ek noem die name van die politici met wie ek onderhoude gevoer het.

Hierdie keer is dit die getjank van ’n jakkals wat oor die luidsprekers dreun, darem minder onheilspellend as die haas se doodskrete.

“Wie’s daardie laaste een nou weer?”

“Wie?”

“Daardie laaste naam wat jy genoem het?”

“Die minister, Pa.”

Hy maak ’n verleë keelgeluid. “O ja, dis reg. Mens verloor deesdae so tred met al die name wat jy op die nuus hoor.”

Die stilte is gemaklik. Elke nou en dan word dit verbreek deur die skaars hoorbare geluid as een van ons ’n hand in die sakkie biltong steek. Ek vat nog ’n sluk van die soetwyn.

“Toe Pa so oud soos ek was, was Pa al klaar met die grens, nè?”

“Ja. Nogal snaaks om te dink.”

’n Berekende stilte.

“Hoe was dit regtig daar, Pa?”

Ek is nie seker of dit uitgekom het soos ek bedoel het dit moet nie. Dit moenie klink asof ek hom dit lankal weer wou vra nie. Dieselfde vraag wat ek al kleintyd soveel kere gevra het, maar wat hy telkens ontwyk het met sy arsenaal van humoristiese voorvalle uit sy tyd in Angola.

Hy begin iets sê, maar die getjank van die jakkals val hom in die rede. Ek weet dit gee hom tyd om rondom my vraag te swenk.

“Ag, jong, daar was maar die lekker en die sleg. Die slegste was om jou en jou ma hier op die plaas agter te laat. Sy was nog ’n rou dorpsjapie en jy was net drie maande oud. Jou oupa-hulle moes daardie tyd uithelp. Maar ons het baie sports ook gehad. Het ek jou al vertel van die keer toe ons vis gevang het –”

“– deur handgranate in die rivier te gooi. Ja, Pa het. En Pa het al honderde kere vertel van die rooibokke wat julle skelm gejag het. En van die ou in julle tent wat net Barbra Streisand geluister het tot julle een middag teiken geskiet het op sy tapes. Maar Pa het nog nooit vertel van die oorlog nie. Pa laat dit altyd ... dit klink altyd soos speletjies. Pa het nog nooit gesê of julle mense geskiet het nie. Het mense op julle geskiet? Moes Pa ooit iemand doodskiet? Het julle –”

Die haas se geskree doof die res van my vraag uit. Ek kry skielik skaam omdat ek my pa in ’n hoek probeer vaskeer soos ek geleer het ’n mens maak as jy ’n onderhoud doen met ’n politikus wat draaie om jou vraag gooi of ’n gladdebek-sakeman wat jou aandag wil aflei van die bewerings van bedrog.

“Daar was ’n keer of wat,” sê hy toe dit weer stil is. Sy stem verraai niks. “Dis anders as wat jy dink. As jy daar is ... dit voel ... hoe sal ek sê? Dit voel nie gevaarlik nie. Dit voel net soos al die maande se oefensendings. Jy kry nie kans om regtig die mense te sien op wie jy skiet nie.” Hy bly ’n ruk lank stil, maar nie lank genoeg sodat die stilte iets kan begin beteken nie. “Ons het een of twee keer op ’n paar ters se lyke afgekom. Dan sal ’n paar ouens maar grappe maak en ’n paar sal ná die tyd ’n ruk lank stil wees. En dis maar al.” My pa se stem is lig. “Jy soek verniet ’n storie. Daar was nie regtig ’n storie nie.”

“As Pa so sê ...”

Hy lag sag.

Ek vat nog ’n paar stukkies biltong. Die haas se geskree dring deur murg en been. Ek is skielik lus om die klank sagter te draai. Ons kan net sowel huis toe gaan. Ek het ’n voorgevoel daardie jakkals gaan hom nie vanaand laat nader lok nie.

  • 1

Kommentaar

  • Skerp. Dankie baie geniet. Wat daar bo gebeur het bly daar maar die seerplekke word nie lekker gesond nie. Dis asof die rowe net nie vatplek op die wond kry nie. Ons loop met ons rowe onder ons baadjies; daar is baie van ons met rowe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top