Italië vir die randarm-reisiger

  • 0

Fotobron: www.jenatadnes.com

Italië is een van die wêreld se gewildste reisbestemmings en as jy daar kom, sien jy gou hoekom. Met ’n sigbare geskiedenis wat byna drieduisend jaar terug strek, is dit die bakermat van die Westerse kultuur. Dis ’n bestemming soos geen ander nie.

Eers as jy Italië se geboue, beeldhouwerk en kuns gesien het, kan jy werklik die Westerse begrip van skoonheid begin verstaan. Bygesê, dis ’n skoonheid van oordaad, maar danksy die Italianers se onberispelike styl is dit nie kitsch nie.

Op ’n minder verhewe vlak: la dolce vita is nie net ’n uitdrukking nie, dis ook letterlik die soete lewe met al die Italiaanse soetgoed, fyngebak en gelato. O, die gelato! Besluit sommer by voorbaat om jou elke dag met ’n skep roomys te beloon; die prys is vergelykbaar met die randprys en is dus spotgoedkoop. Vergeet van banting, met ons wisselkoers gaan jy nie gou weer die hemelse plesier van egte Italiaanse roomys kan beleef nie. Buitendien gaan jy die lafenis nodig hê, want die somerdae is vrek warm.   

Fotobron: lovelakegarda.net

Die ou Romeine was bekend as briljante ingenieurs en meesterbouers. Voeg daarby die beste klipmesselaars, beeldhouers, skilders, tuinontwerpers en nog ’n horde vakmanne, en jy kry ’n argitektoniese tradisie en erfenis wat van lank voor die Christelike jaartelling strek.

Italië se stede, veral Rome, vertoon ’n ongelooflike superponering van bouwerke wat strek van die ou Romeinse Ryk van die keisers tot die oorheersing van die Katolieke Kerk in die Middeleeue en die Renaissance-tyd van die vooruitstrewende stadstate.

In Milaan was die heersers die Visconti- en Sforza-families en in Florence die Medici’s, terwyl Rome altyd oorheers is deur die Vatikaan. Dis amusant om by toergidse te merk hoe Milaan en Florence steeds met mekaar meeding, maar niemand probeer eens met Rome meeding nie, want die Ewige Stad is presies dit – no contest! Venesië is iets uit ’n ander wêreld. Wie op aarde sou nou daaraan gedink het om ’n klomp eilandjies met pale aanmekaar te sit om ’n vesting omring deur water te vorm?

Venesië (foto: wallpaperscraft.com)

Dat die Italiaanse stadstate van ongeveer die 1100’s tot die 1500’s die rykste gebied in Europa was, kan ’n mens aan hul bouwerke sien. As ’n ander beroemde Europese bouwerk versier is met soveel torinkies, nisse en beelde, is die Italiaanse bouwerke versier met dubbeld soveel, want hulle kon net soveel meer kunstenaars en vakmanne bekostig. Die belangrikste stede het elkeen ’n sentrale katedraal wat jou asem wegslaan, almal ewe indrukwekkend, maar in ’n heeltemal eiesoortige styl: Rome se St Peter, Florence se Santa Maria, San Marco in Venesië en, hoewel seker die onbekendste, Milaan se pragtige Duomo.

Dis met piëteit dat ’n mens besef dat die Italianers se voorouers van die vroegste tye tot vandag steeds vir hulle sorg, want die land kry sy grootste inkomste uit toeriste wat van oraloor (gróót toergroepe uit die Ooste) kom om sy manjifieke kultuurskatte te sien. Geen wonder dat familie een van die hoekstene van die Italiaanse leefwyse is nie.

Tog knaag die tand van die tyd meedoënloos: al word die ou geboue voortdurend sorgsaam gerestoureer, kan die munisipaliteite die onderhoud al minder bekostig. In vroeër tye het die rykes en magtiges geld teruggegee aan hul stad deur bouwerke te laat oprig waarop almal trots kon wees – “Ek is van Florence,” kon selfs ’n stalkneg spog en van “Leonardo” praat (Leonardo da Vinci is die nasionale held en Italianers gebruik inderdaad net sy naam om na hom te verwys). Vandag is daar steeds skatryk families, maar hulle hou hul geld vir hulleself, hulle gee nie terug aan die maatskappy nie, sê ’n Italiaanse vrou vir my in ’n lughawegesprek.  

Soveel mense, soveel menings, soveel maniere van reis. Hier is my wenke om ons miserabele rande te rek:

  1. Soos met feitlik alles in die lewe maak ’n mens se ingesteldheid die grootste verskil. My motto is: Ek kan nie alles sien nie, en ek gaan nie eens probeer nie. Dan kan ek ontspan en nie elke besienswaardige ding of plek najaag nie, my reis geniet vir wat dit is en dit meet aan ervaring eerder as bestemming.
  2. As jou rande min is, kán jy eenvoudig nie alles wat ’n land bied gelykwaardig beleef nie: die kos en wyn, teater en musiek (opera in Italië), kuns en museums. Elke mens het sy of haar eie liefdes en belangstellings – ek prioritiseer daarvolgens. In Rome is die Vatikaanstad en die Colosseum ewe duur; ek kies die Colosseum. In Florence gaan ek na die Uffizi vir klassieke kuns, beeldhouwerk en om die besonderse gebou te sien; in Rome gaan ek na die uitstekende museum vir moderne kuns neffens die Villa Borghese. In Milaan bekyk ek die Duomo van buite (die wêreld se grootste Gotiese katedraal) en die Sforza-kasteel van binne (waar Umberto Eco se begrafnisdiens gehou is).
  3. Hou die oë oop vir konserte, museums of uitstallings met gratis toegang. In Venesië het ek nie die gevierde kunsbiënnale se hoofuitstalling besoek nie (dit sou al my tyd opslurp), maar ek het gratis die wonderlikste kuns oral in die stad gesien wat deel was van die “randfees”. Danksy Google het ek ’n puik stadstoer in Milaan beleef, aangebied deur Frog Walking Tours; hulle gebruik nagraadse studente om die toere te lei en jy betaal met ’n donasie.
  4. Omdat kos en wyn nie my grootste belangstelling is nie, is dit waarop ek bespaar as ek reis. ’n Sjokolade-croissant en ’n espresso vir ontbyt by ’n restaurant eerder as ’n driegang-aandete, ’n piekniekmiddagete van supermarkkos, ’n pizzaskyf of ’n geurige, vullende schwarma van Donor Kebab. En ek troos my daaraan dat ek terug by die huis weer duur en deftig kan uiteet, die Kaap het ook wonderlike restaurante.
  5. Nog iets waarop ek spaar, is verblyf. As jy ’n kamer deel met vier of ses ander mense, is hostelle vir rugsakreisigers die heel goedkoopste, met geriewe soos ’n yskas en mikrogolfoond. Ek gebruik booking.com en kies net vrouekamers. Ontbyt ingesluit is gewoonlik nie die ekstra euro’s werd nie.
  6. Ondervinding het my geleer: bly eerder in ’n duiwehokkie ín die stad as in ’n driester-hotelkamer ’n halfuur buite die stad. Wat jy spaar op laasgenoemde, gaan jy in elk geval uitgee op vervoer. Ek het ’n treurige sin vir rigting en ek kon nog nooit ’n vreemde stad se busstelsel onder die knie kry nie, dus bly ek sentraal en vertrou op dapper en stapper. Waar ek in Italië gereis het, het net Milaan ’n behoorlike moltreinstelsel en buitendien is stap ’n goeie teenvoeter vir al die gelato’s.
  7. Deur minder plekke in ’n land te besoek en ’n kleiner afstand te dek, spaar jy ook; ek bly ten minste vier nagte in ’n stad. Ek het nie suid van Rome gereis nie, al is Pompeii en Napels op my wenslys (hopelik eendag). Omdat kuns en argitektuur my grootste belangstelling is, hou ek by die groot stede en reis per sneltrein tussen hulle. Bespreek jou kaartjies voor die tyd op die internet, dis goedkoper en bespaar jou baie moeite en tyd.

Dus: al het ons rand so gekrimp, is Italië ’n land wat die reisliewende móét sien. As jy lief is vir geskiedenis, is dit verpligtend – daarvan getuig die land se 51 Unesco-erfenisgebiede, die meeste in die wêreld.   

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top