Isabella deur Mariël le Roux: ’n FMR-resensie

  • 0

Isabella
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081371

Ek gesels graag oor Mariël le Roux se Isabella, uitgegee deur Tafelberg. Van haar het reeds verskyn: Wilhelmina: kampkind op Java wat in Nederlands vertaal is as Sterretje; daarna Die naamlose, wat pas heruitgegee is; en toe het gevolg Klara.

Isabella vertel haar verhaal in die eerste persoon. Sy dra haar eie gedagtes en emosies oor, beskryf hoe sy teenoor ander optree en dramatiseer die talle gebeurtenisse oor 300 groot bladsye heen. Hier gebeur inderdaad baie. Ek was nie verveeld nie. Alles word duidelik ingedeel in tonele wat tipografies geskei word. Die leser weet dadelik waar die karakters hulle bevind ná ’n tydsverloop. Nuwelinge word voorgestel.

Iets wat besonder voortreflik gedoen word, is die slotsinne van die tonele. Dit dra ’n sekere finaliteit oor. Die sinne is sober en oorwoë. Twee voorbeelde:  

Toe die psigiater my medisyne ná weke verminder, vra Gideon hom of hy nie ’n bietjie haastig is nie. Ek val hard aarde toe.

Ek stap kamer toe, sluit die deur agter my en gaan sit in die verste hoek op die vloer, my rug teen die muur, onseker, bang vir myself.

Isabella beskryf haar kleintyd as “verflenterd”. Haar Britse pa was ’n boekhouer. Wanneer hy met iemand bots, of as daar te veel geraas in die omgewing is, onttrek hy hom nors in sy slaapkamer, moet daar ’n kers agter ’n swart sambreel brand, want hy ly aan migraine. Net Queenie, die oudste dogter, weet hoe om hom snags te troos. Sy en hul moeder laat nie vir Isabella daar toe nie. Hierdie verwerping deur die gesin is dan die begin van Isabella se sielkundige probleme.

Queenie sal telkens deur die roman heen heerssugtig optree. Sy kom baie duidelik oor as ’n onaangename persoon. Jare later laat Isabella en haar man, Gideon, nie toe dat Queenie hulle baba help oppas nie. Woedend vertrek sy:

Die volgende oggend toe dit begin lig word, trek my suster brullend in die vroegoggendse stilte voor ons huis weg. Gruisklippies spat onder haar wiele uit tot op ons voorstoep.

Oor Isabella se persoonlikheidsprobleme is daar ’n sterk verhelderende toneel vroeg in die roman. Wanneer Gideon Malherbe, die rugbyspelende myningenieur in die Noord-Kaap, haar vra om met hom te trou, voel Isabella vasgekeer. Dit herinner haar aan die onderhoud wat ’n gryskopvrou by ’n verplegingskollege met haar gevoer het:

Ek was in ’n hoek, het dit my gevoel. ’n Gryskopvrou se woorde in die laaste weke van die tweede semester het in my kop gedreun.

“Dis die klein jakkalsies,” het sy daardie dag afgemete begin praat. “Dis die klein jakkalsies, juffrou Dickson, wat jou in die hakskeen byt, wat jou van die spoor af stamp. En klein jakkalsies word groot.” Sy het haar lywige agterstewe verder na agter op haar sitplek geskuif, haar borste op die lessenaar geanker en in die lêer met my naam op die omslag geblaai. [Leestekengebruik so in boek:] “In ons beroep...” sy het die lêer toegemaak, dit in my rigting oor die lessenaar gestoot en aan die swaar gelaaide epoulette op haar skouers gevat, “in die verpleegberoep is daar ook ’n gevoelsinhoud waarin jy, volgens jou verslae, nie slaag nie. Jou sosiale vaardighede is afgeskeep.” Sy het haar asem diep ingetrek, haar bril van haar neus afgehaal en my in die oë gekyk. “By jou, juffrou, vermoed ek, lê die versperring stewig en diep geanker en is die jakkalse uitgegroei. Dit gaan jou pootjie in jou lewe. Jy kan wel bietjie beheer toepas, maar net as jy kan toneelspeel. En dan moet jou vertoning uitmuntend wees.” Die vrou op die stoel oorkant my het my geroskam. “Jy staan kil teenoor jou medemens. Ek hou jou al ’n ruk dop. Jou skrifte bly feitlik foutloos, maar ek sien nie dat jy deur die skans om jou probeer breek nie. Dit laat jou stom. Jy sal jou vertoning moet opknap.” Toe het sy my met haar hand uit haar kantoor gewuif.

Deur die roman heen beleef ons dan Isabella se onvermoë tot uitreiking, maar ook hoe sy tog sukses daarmee het. Die radikaalste, die ontstellendste voorbeeld daarvan is ná die geboorte van haar en Gideon se Nicola, ook Nicky genoem. Isabella is oorval met wat die psigiater gediagnoseer het as postnatale of puerperale psigose. Sy had hallusinasies van swerms katte en ’n stem wat haar byvoorbeeld aanspoor om die kind terug te gee vir Jesus. Die kussing waarmee sy dit wou doen, die versmoring, sou lank nog ’n skrikbeeld wees.

Soms kan sy net nie so ver kom om iemand te antwoord nie. Of die ander ignoreer haar.

Ná die dood van Gideon is daar ’n toneel met hul kleindogter Donnie:

Ná ’n paar minute hoor ek gedempte snikke. Ek weet wat ek behoort te doen, maar ek draai rond, trek die gordyne toe en sluit die voordeur. Daarna eers stap ek tot by haar kamerdeur, lig my hand om te klop en laat sak dit weer. Toe gaan lê ek op my sy op die bed waaruit ek en Gideon die oggend opgestaan het en trek sy kussing nader; dit ruik na hom. Ek lê doodstil met my arms om my man se kussing, tot die snikke uit Donnie se kamer stil raak. Toe staan ek op en klop liggies aan haar kamerdeur. Ek kry nie antwoord nie en maak die deur op ’n skrefie oop. Donnie lê op haar maag. Sy is vas aan die slaap. [eie beklemtoning]

Nou ’n voorbeeld waar Isabella wel kontak maak. Nicky bel vanuit ’n tehuis vir ongehude moeders in die Kaap. Sy praat eers met haar pa. Isabella probeer luister.

Ek staan ’n oomblik vasgenael, stom, voor ek op die ingewing van die oomblik die foon by hom neem. “Jy moet vasbyt, Nicky. Jy kan hierdeur kom. Ons weet jy kan.” Toe trek ek my asem diep in. “En onthou dat ons baie lief is vir jou.”

“Ek weet, Ma,” huil sy. “Nag, Ma.”

My hele lyf ruk. Ek het dit reggekry, juig dit in my. Ek het dit reg gedoen. Hierdie keer.

Daar is nog vele gebeurtenisse in die roman. Die seun wat opgehang is ’n boom met die voete wat so swaai. Die stryd met skuldgevoelens oor al die leuens om ’n tienerswangerskap weg te steek.

Erotika word dikwels humoristies oorgedra. In die myndorpie is daar byvoorbeeld die omie wat met graagte plesierig verkeer met grasweduwees, dws dié wie se mans opgeroep is vir militêre diens of op ’n rugbytoer is. En daar’s ook die begeerlike Tulip wat ’n byna nudistiese vertoning vir die manne lewer.

Teen die einde van die roman is dit Donnie wat baie doen om Isabella weer rus en geluk te laat vind. Donnie vertrek Londen toe. Die slottoneel volg. Dit is ook ’n voorbeeld van die helder natuurbeskrywings in Isabella:

Die see is dae lank al onstuimig, in pas met my eie rusteloosheid sedert ek Donnie ’n week gelede by die lughawe afgelaai het. Die dag is verby. ’n Rukkie gelede het miswolkies soos ’n string wattebolletjies op die horison tussen die berg en Robbeneiland kom lê. ’n Vaal dynserigheid het daarna opgesteek. Toe die eiland uit die oog verdwyn, word die wind koud en my gesig voel klam in die sproei van die brandergeweld wat springgety bring. Dis tyd om huis toe te gaan.

My besluit is geneem. Dis tyd vir my om ook te vervel. My skimme en spoke moet ek verjaag en dit finaal gaan afskud.

Môre gaan ek ’n tas koop. ’n Troeteldier wat langs my sal loop, een met vier pote, want ek moet baie klere inpak. Dis bitter koud en nat in Engeland, het Donnie gister oor die foon gesê.

Lees hier ’n uittreksel uit Isabella in die Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie.

Hierdie resensie is oorspronklik op 19 Julie 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top