#Is ek Charlie?

  • 5

Vrydag, en ons is op pad Stanford toe waar die erfenispraktisyn aan ’n projek werk. Tydens sy afspraak gaan ek deur die strate stap en die historiese strukture bewonder.

Net voor ons vertrek skakel die leraar en vra of ek iets sal skryf oor Charlie. Deur ons kort gesprek herroep hy die kerk by Amalienstein en die feit dat die struktuur met sy terracottakleure in ’n Wilde Weste-prent sou kon verskyn.

Teen die tyd dat ons Hermanus binnery, verby die nuwe moskee (op ’n Vrydag biddend) in die hoofstraat, gevolg deur die verlate sinagoge verder af in die straat, berou ek my instemming tot hierdie opdrag. Wat op aarde het my besiel – is ek mal? Hierdie is stof vir politieke ontleders, teenterreurspesialiste, geloofsleiers en CNN-aanbieders soos Cooper Anderson; mense wat seepglad tussen hedendaagse kwessies kan inskuif en beleërde strate met die kalmte en pose van ’n Hollywoodster op die rooi tapyt kan hanteer.

Ek is ’n tree hugger van Bettysbaai; politiek irriteer my, asook geweld  en organised religion. Ek hou van Charles M Schulz, Carl Giles  en Honoré Daumier. Hierdie Charlie Hebdo ken ek nouliks, al pryk  “#Je Suis Charlie” op my Facebook-muur – ek het dit van my ouer suster gedeel. Sy is agnosties en sy weet altyd eerste van alles.

Daardie aand slaap ek skaars; droom van mense wat mekaar nie in die oë kan kyk nie,  droom van Algerië, al was ek nog nooit daar nie. ’n Swart-en-wit kat vang  die voëls in ons tuin en al wat oorbly, is vere. Teen dagbreek sing niks nie.

“Ons gaan ry fiets,” sê die erfenispraktisyn. “Dit sal perspektief gee. Fietsry is balans en vorentoe beweeg.”

Ons trap ’n mankolieke Tour de France tot by die see, waar ons gewoonlik eers swem voor ons terugry.

Tussen die branders breek dit: 24 uur en 24 maniere om ’n storie te begin. Daar is nie ’n middel nie en die einde lê in die Père Lachaise-begraafplaas.

Zohra Bensemra, And if there was no sea. Digitale foto, 2006

 

#1
Draadloos langs stroom die stemme van vroegdag af in;  hulle kom van heinde en verre en sluit deskundiges in, sowel as die persoon op straat: “Moord is onwettig, vryheid van spraak nié.” “Charlie was uittartend lasterlik en as jy met vuur speel gaan jy brand.” “Dis eenvoudig: party mense hoort in Parys en ander hoort in die woestyn.” Een het dit oor siele – die siele in Afrika vs die Siel in Europa wat dieselfde waarde behoort te hê. Ongelukkig nié, Max – wishful thinking.

#2
Dis te warm om deur die strate te loop en ek gaan wag in die biblioteek. Dit is oop tot vyfuur – ’n tipiese plattelandse biblioteek met die geklets van dorpelinge wat boetes kom betaal vir boeke wat laat is. Afrikaans is groot op die rakke. Ek soek die woord  “Islam” in een van die ensiklopedieë op die rak. Niemand praat oor Charlie nie – dit kan hulle skynbaar nie skeel nie. Die bibliotekaresse gesels oor winterhout en ’n erf wat op die mark is.  In ’n verslete rooi leerstoel sit ’n vrou met ’n bont kopdoek; haar voete rus net halfpad in die deurgetrapte sandale. Sy praat van iemand in die dorp wat onlangs dood is.

Ek soek die woord “satire” en lees daar dat Osip Mandelstam deur Stalin gelikwideer is vanweë smaadskrif.

Dan begin ek lees aan Malene Breytenbach se Bloedgrond.

#3
Was dit werklik net as gevolg van ’n karikatuur oor die profeet Mohammed?

#4

Die 1225-weergawe van die Magna Carta, uitgereik deur Henry III, Nasionale Argief, Verenigde Koninkryk

 

#5

Karikatuurskets van koning Louis Philippe as Gargantua, wat Honoré Daumier op 23-jarige ouderdom ’n 6-maande-gevangenisstraf gekos het.

 

#6
Vra ’n imam, ’n rabbi; vra vir Marita of Franse vriende. Vra jou Facebook-kennisse; ag hel – hulle reaksie was so vrot, omtrent net  15 likes vir ’n post oor Charlie. Meeste van hulle verkies kiekies van honde en babas, selfies, resepte en aankondigings oor kinders se matriekuitslae.

 

Lien Botha, Parys, Frankryk, 1990

 

#7
Vra die Franse Hugenote.

#8
Newsfeed op CNN/BBC/Al Jazeera:

Pings detected in AirAsia search
Jackie Chan’s son jailed in China
Coca-Cola to cut 1 800 jobs …

#9
Blast in Maiduguri, Nigeria, twelve people killed – Al Jazeera.

#10
Iewers aan die suidpunt van Afrika word daar vandag [Saterdag 10 Januarie] makietie gehou; dit is iets wat dié land se regerende party goed kan doen terwyl hulle honger volgelinge kwylend gaan toekyk hoe die koek gesny en opgevreet gaan word.

#11
Die Deen Morten Storm lyk meer  soos  ’n Skandinawiese boer as iemand wat blykbaar as klandestiene agent onder radikale Moslems gewerk het. Hoe lyk ’n boer? ’n Terroris? ’n Spotprenttekenaar? ’n Christen?  ’n Jood?  ’n Ateïs?

Die artikel se kommentaarstroom maak my naar en ek beland genadiglik by die oudste diere wat ooit geleef het:

Wisdom die albatros, 62
Thomas die skilpad, 130
Georgie die reusekreef, 140
’n Baardwalvis, 200
Hanako die Koi, 226
Adwaita, reuseskilpad, 250.

#12
Onderhoud met Jeannette Bougrab, die metgesel van Stephane Charbonnier: “He was too young.”

#13
Die televisieskerm in die boekrak is klein: 310 x 420 mm. Dit staan heel onder naby The God Delusion en Die Stomme Aarde. Alles word een helse stroom van  inligting. Ek kan later nouliks onderskei; dit druis en my verstand wil swig onder die gewig daarvan. Al-Kaïda, Hizbollah, ISIS, Djihad. Hierdie fundamentalistiese perd wil ek waaragtig nie ry nie.

Lien Botha, Selfportrait in Human Race Machine, Trento, Italie 2007

 

#14

Jean Nouvel, Institut du  Monde Arab, Parys

 

#15:
Gaan stap. Iemand het ’n fisant doodgery in Sparaxisstraat. Die arme ding lê daar so plat soos ’n pannekoek.

 

Lien Botha, 10 Januarie 2015

 

#16:
Hayat Boumeddiene, die vrou. Sy is 26. Je ne suis pas Jeanne d’Arc.

 

 

#17
 Pied-Noir / The History Corner

#18  
Abbas died in his sleep on 24 December 1985.

#19
Ons moet die mense van die grys huis rapporteer by die gesondheidsinspekteur, want hulle plek lyk soos ’n varkhok. Dis oopgeskeurde swart sakke al die pad voordeur toe.

Niemand sal mens glo nie.

 

 

Lien Botha, Bettysbaai, 10 Januarie 2015

 

#20
Een winter in Parys het ons Jim Morrison se naam onder die sneeu uitgeskraap.

#21
In 1938 Mandelstam was arrested again and sentenced to a camp in Siberia. He died that year at a transit camp.

There is no need for words

There is no need for words:
nothing must be heard.
How sad, and fine,
an animal’s dark mind.

Nothing it must make heard:
it has no use for words,
a young dolphin, plunging, steep,
along the world’s grey deep.

#22

Claude Monet, Waterlelies, 1909

 

#23
Noah Sahara, flood victim, Zimbabwe, Al Jazeera, Saterdag 10 Januarie 2015

#24
Ons was swewend in die Kompanjiestuin se vinknesse toe die twee broers op joernaliste en spotprenttekenaars begin losbrand. Daar was baie kinders in die tuin en op die gras het ’n groep mense skaak gespeel.

Bronne
http://en.wikipedia.org/wiki/Magna_Carta#mediaviewer/File:Magna_Carta_(1225_version_with_seal).jpg
https://www.usc.edu/schools/annenberg/asc/projects/comm544/library/images/176.html
 http://www.aufait.ma/2014/09/12/ima-paris-movida-marocaine-lhonneur_538439 
http://abcnews.go.com/International/al-qaeda-spy-charlie-hebdo-gunmen-sleeper-cell/story?id=28114042
http://www.antena3.ro/externe/politia-franceza-ramane-in-alerta-hayat-boumedienne-tanara-care-l-a-ajutat-pe-autorul-atacului-de-279359.html
http://www.poetryintranslation.com/PITBR/Russian/Mandelstam.htm#_Toc485874610
http://www.sueddeutsche.de/reise/frankreich-seerosen-in-monets-garten-1.953344-4

 

Terug na die Charlie-seminaar | Back to the Charlie Seminar

  • 5

Kommentaar

  • Gerard, Rooiels

    Lien, hierdie slaan dieper as enige artikel, reportage, kommentaar ... die afgelope dae. Dankie. G

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top