Is dit tyd?

  • 50

Angus Buchan (foto: boekomslag van A Mustard Seed)

Angus Buchan is ’n omstrede prediker. Hy’s ’n hoogs effektiewe prediker, een wat rekordskares lok – wat waarskynlik ’n groot deel van sy omstredenheid veroorsaak.

Ander predikers hou nie van hom nie, want hy doen wat hulle nie kan doen nie. Boonop het hy nie ’n dag se teologiese opleiding gehad nie, en hy is die eerste een wat jou dit sal sê. Hy is ’n eenvoudige mens, wat preek in jeans en ’n geruite hemp, hoed op die kop. Hy is ’n plaasboer, en hy probeer nie voorgee om iets anders te wees nie.

Van die kritiek wat teen hom geopper word, is dat hy spreek tot die psige van wit Afrikaner- (of dan Afrikaanssprekende) mans – ten spyte van die feit dat hy van Skotse afkoms is, en sy preke gewoonlik in Engels hou, met soms groot stukke Zoeloe tussenin. Hy praat Zoeloe vlot.

Die byeenkoms wat hy op 22 April 2017 buite Bloemfontein gehou het, word beskou as die grootste sodanige byeenkoms nog in Suid-Afrika. Knap duskant een miljoen mense het dit na raming bygewoon. Volgens Buchan se woordvoerders by Shalom Ministries is 1,7 miljoen kaartjies uitgereik vir bywoning, en 280 000 kaartjies vir parkering. Hulle het egter reggemaak vir tussen drie en vier miljoen mense. 400 ligte vliegtuigies en helikopters het die nuwe Tempe-lughawe, asook die Bram Fischer-lughawe, aangedoen.

Een private helikoptermaatskappy het op hul Facebookblad aangedui dat hulle op Saterdagoggend bespreek was vir 200 vlugte vanaf die twee lughawens na die perseel by Wilde Als, waar die byeenkoms gehou was. Rob Byrne, wat onder die Twitter-naam @TrafficSA inligting oor verkeerstoestande gee, het vroeg Saterdagoggend reeds aangedui dat verkeer op die paaie na Wilde Als buitengewoon druk is. Op een stadium het ander Twitter-gebruikers berig dat verkeer vir 40 km lank feitlik tot stilstand gebring is.

Die inligting van Buchan-kritici dat daar kwalik 100 000 mense was, kan dus met gerustheid ignoreer word.

Die fel kritiek wat teen Buchan, en die byeenkoms, gelewer was op sosiale media, was verstommend. Pro-Buchan- en anti-Buchan-groepe het mekaar van vroegdag al die stryd aangesê, en teen laatmiddag, toe die byeenkoms verby was, het mense mekaar oor en weer “unfriend”.

Hierdie was nie ’n Mighty Men-konferensie, die vlagskip-Buchan-byeenkoms, nie. Die doel van die byeenkoms was duidelik gestel: bid teen die korrupte leierskap van die land, en bid vir reën. Met dié doelwitte kan daar nie fout gevind word nie, en ek vermoed die kritiek is teen die manier waarop daar te werk gegaan is. Save South Africa en die verskillende politieke partye het ook optogte gereël in protes teen die korrupte leierskap van ons land. Gesamentlik het hul getalle nie naby gekom aan dié van die Buchan-byeenkoms nie. Dis vreemd dat mense wat bereid is om aan optogte deel te neem om presies dieselfde oogmerk te bereik as Buchan, hom kritiseer vir die wyse waarop hy werk. Dis goed en wel om te sê gebede gaan nie ’n verskil maak nie, maar het mense regtig geglo die optogte gaan ’n verskil maak? Régtig?

Maar waarteen is die kritiek?

Buchan vra geen fooie vir die byeenkoms nie. Hy maak dus nie ’n sent geld uit die feit dat meer as ’n miljoen mense sy byeenkoms bygewoon het nie. Toegang was gratis. Parkering was gratis. Geen kollekte was opgeneem nie. Die kritiek dat dit net ’n geldmaakskema is, hou dus nie steek nie.

Sy teologie is beslis nie onproblematies nie. Hy preek tradisionele familiewaardes: geen seks voor die huwelik nie; die man as hoof van die huis; ’n huwelik is tussen man en vrou. Of soos sy kritici dit sal stel: hy kom chauvinisties en homofobies voor. Sy boodskap is egter niks anders as elke ander geloof (Christelik, Moslem, Hindu, Joods ens) nie. Ek weet byvoorbeeld net van twee kerke in Suid-Afrika wat gayhuwelike erken, en hul gesamentlike ledetal is waarskynlik onder 1 000. Selfs die Anglikaanse kerk, wat uitgesonder word as ’n progressiewe kerk, weier om gayverhoudinge en gayhuwelike te erken. En terwyl hulle vroulike predikante inseën in Suid-Afrika, en selfs al ’n vroulike biskop het, is daar ander wêrelddele (soos England) waar vroue nog nie ten volle aanvaar word op die kansel nie.

Die Zion Christian Church preek presies dieselfde, met ook jaarlikse byeenkomste waar gemeentelede in hul duisende opdaag, maar geen woord van kritiek word teen hulle gevel nie. Hoekom nie? Gaan dit dan regtig oor die boodskap wat afsku verwek, of is dit die boodskapper wat geteiken word?

Pastoor Tim Omotoso, ’n Nigeriese pastoor met verskeie gemeentes in Suid-Afrika en in Brittanje, Frankryk en Israel, asook ’n gewilde televisiebediening, preek dieselfde. Hy het egter selfs verder gegaan en verskeie van sy vroulike gemeentelede seksueel misbruik, en staan nou tereg op vele aanklagte van mensehandel in Port Elizabeth. Ek het nog nie gesien dat enige van die Buchan-kritici hulle hierteen uitspreek nie.

Buchan predik nie geweld nie. Hy preek aanvaarding en liefde. Hy preek dat mense hulle lewens moet verander. Hy preek beslis nie net vir wit Afrikaanse mans nie. Die meeste van sy kritici, vermoed ek, het nog nooit een van sy byeenkomste bygewoon nie, en praat nuusberigte klakkeloos na.

Ek wou nie dieselfde fout maak nie. Daarom het ek ’n paar jaar gelede ’n Mighty Men-konferensie op Nuweland bygewoon. Ek is nie wit of ’n man nie, en tog het ek nie onveilig gevoel of gevoel dat wat gepreek word, my benadeel nie. Die gehoor was beslis nie net wit mans nie, alhoewel daar meer mans was as by enige ander byeenkoms wat ek al bygewoon het.

Ek het al genoeg godsdienstige byeenkomste bygewoon in my lewe om te weet dat my BS-meter fyn gekalibreer is. Buchan gló wat hy preek – hy is nie besig om mense vir sy eie siniese doeleindes uit te buit nie. Hy het al op meerdere geleenthede die verhoog gedeel met vroulike predikers, skynbaar sonder dat hy enige probleem daarmee ervaar. Preek hy dat mans hulle vroue moet slaan, soos wat beweer word? Nie in die byeenkoms wat ek bygewoon het nie.

Ek stem nie saam met sy stelling dat Suid-Afrika ’n christelike regering moet kry nie. Ons het al een gehad, en ons betaal nou nog die prys van die apartheidsvrug wat dit opgelewer het.

Ek het nie Bloemfontein toe gegaan nie. Dit verstom my egter dat mense kan dink dis wonderlik dat ’n miljoen mense ’n Justin Bieber-konsert bywoon, maar dit afstootlik vind wanneer iemand iets positiefs probeer doen met dieselfde getal mense.

Beteken dit ek eet als wat hy preek vir soetkoek op? Natuurlik nie.

Suid-Afrika het bepaald nodig om gered te word. Derduisende mense het ’n paar weke gelede optogte gehou daarvoor. Buchan se byeenkoms bied mense hoop. Ons het hoop nodig. Ons het mense nodig wat bereid is om op positiewe manier ’n verskil te maak.

Juis daarom is ek bereid om Buchan ’n kans te gee. Nie blindelings, klakkeloos en onbevraagtekenend nie, maar hoopvol.

En dié wat hom kritiseer, maar stilbly oor Omotoso en ander predikers wat hul gemeentes uitbuit, moet hulself afvra: Hoekom die een kritiseer maar nie die ander nie?

Of is dit nog steeds ’n geval dat swart lewens maar uitgebuit kan word, maar die oomblik dat daar die geringste aanduiding is dat wit mense aan uitbuiting blootgestel word, moet die Facebook-krygers uitspring?

Gaan dit regtig om die boodskap, of gaan dit om die boodskapper? Is dit nie tyd dat ons met onsself begin eerlik is nie?

  • 50

Kommentaar

  • Christelle Bekker

    Ek is nie bekend met enige ander kritiek teen Saterdag se byeenkoms as bloot sommige teologiese verskille met Buchan se boodskappe nie. Ek en my gesin het Saterdag in ons huis saam met die groep gebid.
    Dit lyk my ons kyk maar elkeen uit ons eie seerplekke na die inhoud van sy boodskappe. Ek het 'n uur of wat voor ek jou skrywe gelees het, self sterk my opinie teenoor sy oproep tot 'n christelike regering uitgespreek.
    Om onderdanigheid van vroue egter so ligtelik te hanteer is na my mening onsensitief. Dit, saam met jou oningeligte uitsprake oor same sex verhoudings.
    Wat verder baie onbillik is, is om rassisme agter die kritiek te sien. Ek het bewys van bogenoemde onderwerpe, maar jy het geen grond om te sê dat mense wat nie die prediker van Kenia kritiseer het nie, nie omgee vir lewens nie. Ek het vir die eerste keer van hom gehoor toe ek die berig in die koerant lees. Net soos ek ander kritiek oor Buchan gemis het, het jy duidelik die weerstand teen die man se optrede ook gemis.

    • Gerhard du Toit

      Ek verstaan nie, jy het, by jou huis, saam gebid, maar jy steun nie 'n Christen-regering nie?
      Blykbaar verstaan jy ook niks aangaande die vrou se rol in die huwelik nie.

      • Marié Delport

        Ons regering offer nou SA aan die voorvadergeeste. Dan liewer 'n christelike regering met die Bybel in die hand!

    • Elize Badenhorst

      Bettina, almal mag dalk nie voel dit was nodig om in Bloemfontein te gaan bid nie en nie almal kon dit bekostig nie. As miljoen+ mense saam gebid het is dit wonderlik. Die hartseer is dat van die mense wat daar was enige iemand wat vrae daaroor vra met soveel venyn aanval, dat mens wonder watse gesindheid daaruit spreek. Ek dink die beskuldiging dat ander predikers nie van oom Angus hou nie omdat hy regkry wat hulle nie kan doen nie bitterlik onregverdig is. Daar mag kritiek wees oor sommige dinge of maniere wat hy sê, maar dit beteken glad nie dat hulle nie van hom hou nie. Kritiek is nie noodwendig 'n negatiewe ding nie. Oom Angus is 'n mens en nie God nie en ongelukkig kom sommige reaksies deur asof hy God is en volmaak is. Dit kom nie van homself nie. En om te sê dat niemand iets sê oor die onaanvaarbare optrede en misbruike van swart predikers niks oor gesê word nie omdat daar nie omgegee word wat met swartmense gebeur nie is die grootste onsin wat ek nog gehoor het! Vir watter rede word die rassekaart alwéér uitgepluk? Niemand het eers verwys daarna nie. Almal het gaan bid, ras en kleur was geen faktor nie. Ek mag my eie opinie hê oor die bidgeleentheid, maar om dit as jaloesie af te maak is onbillik!

    • Victoria Koorzen

      Christelle, ek het "It's Time" op fb gevolg (followed). By elke berig of foto wat hulle geplaas het, was vele opmerkings. By sommige so veel as 654! Bàie daarvan was uiters negatief en beledigend - teenoor die prediker; dié wat glo dat die samekoms waarde het; teenoor kerke en godsdiens in die algemeen; teenoor God self. Sosiale media is oorweldigend en baie vinnig. Mens mis maklik van die kommentaar 🙂

    • Ek stem 100% saam. Ek hoop mense soos Jean Oosthuizen lees Bettina se artikel, want sy sê presies wat ek graag sou wou sê vir almal wat tog so slim, negatief en neerhalend is oor 'n mens met goeie bedoelings.

  • Belinda Austen

    Makes so much sense and it is time for people to turn to their faith, morals and beliefs which they were always afraid to do.

  • Hennie la Grange

    Daar is groot waarde aan die artikel. Die outeur se gestelde versigtigheid en ewewigtigheid is goed. Twee goed wil ek probeer antwoord omdat dit gevra word. Waarteen was die kritiek? Ek is van een van die klein kerkies wat mense in gay verhoudings vryelik ontvang. Daar is, soos jy tereg uitwys, oor hierdie en baie ander sake nie eenstemmigheid onder gelowiges nie. Daarom is kritiek teen en steun vir die goedige Oom Angus se teologie en geloofsopvatting seker ten minste nie onverwags nie. Jy kan tog nie van die kerke verwag om hom aan te prys as hulle/ons onderlinge geloofsverstaan so grondig verskil en ons bekommer oor die boodskap waarmee ons lidmate daarvandaan terugkeer nie? Dis juis wat ek van die kerk hoop: dat ons almal saam verantwoordelikheid sal dra vir die suiwer verkondiging oor God en die evangelie van Christus. Jy sê dit self: Dat sy "teologie beslis nie onproblematies is nie" hoewel die voorbeelde wat jy daarvan voorhou, etiese kwessies is eerder as teologie. Sou jy volstaan het met: die kritiek was te erg, was ek dit met jou eens. En dan, die tweede vraag: Nee, dis nie waar dat Swart lewens nie saak maak nie. Ek moet erken dat ek nou hier by jou vir die eerste keer hoor van die Pastoor Tim Omotoso. Dankie daarvoor! Miskien leef ek/ons met oogklappe aan. Dis dalk omdat ons in ons eie gemeenskappe leef en op ons eie gemeenskappe ingestel is en ons weet van en reageer meer en eerste op goed wat ons kern kring raak. Bloemfontein is in my geval gewoon nader aan my as PE. Maar ek en my gemeente het Sondag in die erediens ook vir Koptiese Christene in Egipte (ek dink ek sal van hulle teologie ook verskil?) en Moslems in Sirië (van hulle geloof verskil ek beslis) voorbidding gedoen. Dus: Ja, dit gaan oor die boodskap. En jy het reg: Ons moet eerliker en dalk ook billiker wees.

  • Bogenoemde skrywer het gelyk. Hier is jag gemaak op 'n persoon. Dis iemand wat werklik opreg doen wat hy doen.
    Daar is ander soortgelyke organisasies wat geen kritiek uitlok nie.
    Ons moderne mense is nie dom mense nie. Ons eet nie alles vir soetkoek op nie. Mense maak hulle keuses. As dit nie uit God is, sal dit ook nie werk nie. Laat ons nie op die kantlyn staan en veroordeel nie.
    Annatjie.

  • Willem van den Berg.

    Die tragiese en kinderlike petalje op Wildeals is simptomaties van die ernstige politieke en sielkundige probleme (niks met geloof of die spirituele te make nie, anders sou hul eie kerke of binnekamers goed genoeg gewees het) waarmee die polities ontmande Afrikaners deesdae worstel. Geen gebiddery (of protesoptogte) gaan dit regstel nie. Rasionele analise, realistiese strategie en toespitsing op effektiewe maniere om die eie te beskerm en te behou is al wat gaan help.

    • Marietjie Greyling

      'n Bietjie kras gestel. Doen asb jou huiswerk - dit gaan om die Woord en nie die mens nie! Nie alles kan so beredeneerd en wetenskaplik benader word nie. Dit gaan oor liefde, goedheid en hoop in 'n gebroke wêreld - 'n Suid-Afrikaanse wêreld! Al stem ek ook nie saam met alles wat oom Angus predik nie, gee ek hom steeds die voordeel van die twyfel. Ten minste het hy probeer. "There is nobility in trying ..." Ek sluit af as gelowige (allermins nie 'n 'perfekte' gelowige nie) - GOD IS LIEFDE. En Angus Buchan het opreg, as mondstuk van Bo, hierdie liefde en hoop, Saterdag 22 April 2017, met derduisende 'soekende', gelowige mense gedeel ...

    • Jo maar jy is slim. Waarom het jy nog nie, na jou analise, iets gedoen om die land te red nie. Jy het dan die perfekte oplossing!

    • Trudie Herselman

      Ek dien die Almagtige Vader en daar is absoluut niks tragies daaraan nie. Ek voel jammer oor jou uitspraak hier want ongelukkig sal ons eie strategieë om "ons eie" te beskerm geen vrugte afwerp nie. Slegs wanneer jy kinderlike geloof het, kan God beweeg in Suid-Afrika, so laat ons toe om kinderlik te glo. Dit is my voorreg.

      • Ja glo kinderlik dat die vis Jona ingesluk het en glo kinderlik dat die wêreld op sy vier pilare staan ... en ... moenie bevraagteken, nie anders is jy mos van die duiwel!

    • Chris Marnewick SC

      Help ons asseblief, Willem, deur te verduidelik hoe jy voorstel ons jou voorgestelde oogmerke kan bereik.

      • Jammer Chris ek is maar net 'n ou, maar ek sou soos die Jode met 'n hegte samesnoerende strategie (soos 'n gesamentlike vyand en of geregimenterende geloof) en na deeglike studie van ander selfbeskerming meganismes begin om die aard en bemeestering van minderheidspolitiek te bemeester.

  • Lorinda Hanekom

    Amen. Ek stem regtig uit my hart uit saam met die skrywer. Dit gaan oor ’n opregte ware boodskap en dank God vir die Evangelie wat bereid is om te dien wat God hom opdrag gee. As ek in sy skoene was, sou ek dit ook tot die beste van my vermoë vir God doen. Halleluja. ANGUS BUCHAN you are doing a great job ... Die positiewe terugvoer gisteraand by die kerk, die getuienisse wat gelewer is deur mense wat wel daar by Wyse Als was, dus uit en uit 'n smag en ’n honger na God se Vrede en Liefde. Ons moet op ons knieë bly, God hoor ons gebede en Hy is Almagtig en gaan vir ons vrede gee.

  • Dis presies hoekom dit gaan in ons land soos dit gaan. Veroordeel ons naaste vir hulle optrede. Is dit so onmoontlik dat ’n man met geen teologiese opleiding nie ’n boodskap van die Vader kan kry nie? Dis hoekom ons nog sal onder gaan as ons nie op ons knieë gaan nie. Wat het die duisende oproeriges reggekry, is Zuma al weg? Nee ... nou is dit nie ook die Bybel wat se raak my gesalfde nie aan nie maar daar is wraggies mense wat dink hulle kan hulle teen God verset en iemand veroordeel en dink die oordeel gaan hulle nie eventually tref nie. Goed gedaan Angus, goed gedaan, dit moet meer gereeld gedoen word.

  • Nogal Andersdenkend

    Is dit nodig om so 'n massasaamtrek te hou om 'n punt te maak? Nou weet ek daar is ongeveer 700 000 mense wat dink dat hulle dinge kan verander deur saam te bid en dalk ook reën vir die Kaap te bring.

    Persoonlik bly ek skepties en is geregtig daarop. Ek hoop ek word my standpunt gegun, sonder veroordeling.

    • Dink die klomp volgelinge van die oom dat hulle deur saam daar op die vlakte te bid hulle God se arm kan draai? Dink hulle soos die oom dat "we can move God" deur massa-vertoon?

      • Chris Marnewick SC

        Ek is nie 'n volgeling van "die oom" nie, maar ek weet dit: 'n Gebed gaan nie oor wat God* vir jou kan doen nie maar wat jy vir jouself kan doen. (*Wat jou idee van God ook al is.)

        En dit lyk vir my "die oom" het baie geïnspireer om die veranderings wat binne hulle nodig was vir hulle self aan te bring.

    • Gun my die geleentheid om jou te antwoord. Deur saam met enige groep wat ’n gesamentlike standpunt het byeen te kom maak ’n groot verskil. Vat nou rugby. Alleen by jou huis en die game op die tv is baie anders as om by die stadion te sit al kan jy nie eers so goed sien nie. Dieselfde geld vir enige ander doel ook. Dis net plain lekker om die samehorigheid te ervaar en te weet en te sien daar is nog wat soos jy dink en voel.

  • As ons al die predikers en mense wat die Woord bring onder ’n vergrootglas gaan sit wonder ek wie van die wat so klippe gooi gaan sonder kritiek daar uitkom. Hy spreek SONDE aan wat as die slimmes hul BYBEL ken en weet dat nie net sekere sondes gestraf gaan word nie maar alle SONDES. So jy kan maar sekere sondes doen dan is dit reg ek mag jou nie daarop wys nie maar ander wat hulle dink is verkeerd die kan aangespreek word. Wonder maar net waaroor kritiseer jy dan?

  • Gerhard du Toit

    Met een ding sit jy die pot mis. As die parlement nie met skriflesing en gebed geopen word nie, maw Christen-regering, sal dinge nooit uitwerk nie.
    Daar is net EEN Heerser en dit is dié EEN wat Homself die EK IS noem en Sy volgelinge word Christene genoem na Sy Seun Jesus Christus.

    • Wilma Cilliers

      Yes...BUT GOD. Om die teenwoordigheid van God se Gees te ervaar was ’n voorreg. Ek dank die Here vir die hoop wat ons volk so nodig het, te ontvang. Hier was ’n man wat gehoorsaam was aan die opdrag van die Here en ons almal wat daar was is geseënd en kon ons sonde hardop belei! Om terug te ry en jy sien wit en swart staan in kringetjies en bid soos bv in ’n kleedkamer in Kroonstad. Ons Vader gee ons nog ’n kans. Kom ons hou op met kritiek en hou ons oë gevestig op Jesus.

      • Martie Daffue

        Wil ook net my beskeie mening meedeel. Angus Buchan het soos in die bybelse tyd gehoor gegee aan die boodskap wat die Here op sy hart gele het. Al was daar net 10 mense glo ek dat hulle harte met baie hoop gevul was en nog steeds is. Moet nooit vergeet nie die Here is koning en ons lewe in die Openbaringtyd. Die Here het aan ons ’n belofte gegee dat wat ook al gaan gebeur Hy by ons gaan wees om ons daardeur te dra. JA EK GLO WAARAGTIG AAN DIE DRIE-ENIGE GOD, DIE VADER SY SEUN JESUS CHRISTUS EN DIE HEILIGE GEES. Die bybel is deur GOD geïnspireer en elke woord daarin geskryf staan sal bewaarheid word en geen woord mag bygevoeg of weggelaat word nie. Die profete het nie opleiding gehad nie, hulle het ook soos Angus geluister en God se bevel uitgevoer. Dankie Angus ek dank die Here vir jou wat Sy woord uitdra sonder doekies omdraai. Hallelujah en amen Jesus ons Here is groot en ek behoort aan Hom want by Hom is ek veilig.

  • Willem van Zyl

    Geagte Bettina Wyngaard. Ek wil begin deur te sê. Ek glo nie ons het nog ooit 'n Christelike regering in ons land gehad nie. Die vorige leiers van hierdie land het voorgegee dat hulle Christene was, maar hulle het apartheid op hulle wetsboeke gehad. Hulle het die NG-kerk gebruik om apartheid goed te preek. Duisende jong mans het hulle lewens verloor in ons grensoorloë om apartheid te "veg". Dit is nie 'n Christelike regering nie. Desmond Tutu en duisende mense oor die aarde het die apartheidsregering uitgebid. Vandag bestaan nie een van daardie partye nie. Die ANC is nie 'n Christelike regeerder nie. Hulle moet hulleself regruk of die ANC gaan soos die NP net in die geskiedenisboek genoem word.

  • Derick griesel

    Kan iemand my asb help? Ek is ’n nuwe christen en verskeie mense sê hulle stem nie saam met Angus oor verskeie van sy preke nie. Ek het probeer google maar kry nie antwoorde nie. Ek ken Angus glad nie en probeer net verstaan waarom hy gekritiseer word.
    Baie dankie en mag die HERE almal hier seën.
    Derick

    • Derick, onthou dat die duiwel lustig is en nie hou van wat in Bloem gebeur het nie. Hy gebruik mense om twyfel aan te blaas en sal enigiets in sy vermoë doen om enige goeie werk in die Naam van Jesus Christus ongedaan te maak. So, moenie twyfel nie - baie sg. "slim" mense sal ons probeer oortuig dat ons dom is om te glo. Sterkte.

    • Hi Derick weet jy daar sal maar altyd kritiek wees vanaf mense wat nie wil buig voor die gesag van God en Sy Woord nie. Selfs toe die Here Jesus op aarde was en net goed kom doen het (sien Hand 10: 38 - 39) en mense se lewens kom aanraak het, het hulle teen Hom opgestaan. Kyk ook na die verhaal toe Hy die blinde Barthemias genees het. Daar was ook twee groepe (gelowiges). Die wat hom (Barthemias) afgekraak het en die wat hom aangemoedig het. (Mark 10: 48 - 49)
      Onthou ook Jesus het gesê in die salig spreuke ( Mat 5: 3 - 12) dat mense slegte goed sal sê maar dat ons wat Hom opreg dien en glo geseënd sal wees deur God.
      Wat ek eintlik vir jou wil sê is moet nie in die slaggat van die vyand trap nie. Steur jou nie aan die negatief en veroordelende uitsprake nie, hy wil dit gebruik om jou blydskap en vrede te probeer steel uit jou hart. Hou jou oog op die Here Jesus en doen net wat Hy vir jou sê in Sy Woord, en jou siel (die innerlike mens) sal lewe. Vrede vir jou my broeder.

    • Hi Wilma miskien moet jy gaan kyk in die Bybel wat daaroor gesê word, dan verstaan ons as gelowiges mos beter. 1 Korintiërs 9 : 1 - 14 As jy nou die gedeelte mooi lees en kyk in vers 3 word daardie vraag gevra en die antwoord na ’n verduideliking vind ons in die 14de vers wat vir ons se wat die Here bepaal het hoe dit moet wees. Ek glo soos die Bybel ons leer die Hele Skrif is deur God gegee vir lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing in die geregtigheid. Sodat die mens van God volkome kan wees, volkome toegerus vir elke goeie werk (2 Timoteus 3: 16 - 17).

    • Soos enige besigheid is daar uitgawes. Geen prediker kan sonder 'n inkomste nie. Hoekom sing Steve of Kurt dan nie verniet nie. Selfde redenasie.

    • Wilma hy het geen geld gevra die dag nie. En nog een vragie dominees, Pastore ens verkondig hul die woord van God verniet?

      • Alle predikante word betaal om die Woord te bring! Angus het GEEN geld gevra vir Bfn se byeenkoms nie!

  • Iemand wat reeds sedert 1979 in die land is en nog nooit die moeite gedoen het om Afrikaans te leer nie, maar wel Zoeloe... Is Afrikaners 'n gawe geldkoei of wat? Siener van Rensburg het ook 'n visoen gehad van die "vriendelike Ingelsman"...
    ...

      • Ferdi, ja, maar die 90% Afrikaners waarvan jy praat gaan ook nie noodwendig vir Zoeloes in Afrikaans preek en verwag dat hulle moet luister nie (Zoeloes het dalk andersom 'n poging aangewend deur Oom Angus se neo-primitivistiese benadering). Ek is juis realisties, en wat is fout met die 1933 Afrikaanse Bybelvertaling? Baie Afrikaners dink dalk dat iemand die ou NP politiek en staatsbevoordeling van wittes sal vervang en dit gaan nie gebeur nie. Dit gaan ook nie help om godsdiens as dekmantel te gebruik in 'n poging om probleme miskien op te los en geraamtes in die kas te verbrand nie. In daardie sin was Siener van Rensburg se eenvoudige boodskap van lank gelede meer in die kol: dit sal ekonomies baie sleg gaan en jy sal voor jou eie deur moet vee. Ook Genl Herzog het in die 1930's gewaarsku dat die swart arbeiders nog 'n probleem gaan word en die probleme waarmee ons vandag sit is 'n direkte uitvloeisel van waarskuwings wat negeer is. Ten minste het Siener v R 'n plan gesien. Jy kan nie meer steun op kollektiewe swart arbeid nie, nog minder strukture wat Engelse in myne daargestel het om wit Afrikaners te bevoordeel. Jy moet nou die wrange vrugte van jou eie gemaksug pluk en vir 'n paar is daar dan hoop.

    • Ek is reeds sedert die 60's in SA en ek kan geen ander taal buiten Afr en Eng praat nie. Verstaan wel bietjie fanagalo en dit is dit.

  • Jy praat van ZCC en dat niemand daaroor iets sê nie ... is dit omdat mense nie weet wat werklik daar gebeur of is hulle te bang ? Weet jy waarna verwys ek? Wel ek weet ...

  • sarel krüger

    As ons stadsjapies in teenstelling met ons boere wat elke dag met swartes werk die moeite gedoen het om hul taal te leer sou die meeste van die probleme wat ons mee te make het, nie bestaan het nie. Daar is baie anderskleuriges wat net so keelvol is vir die situasie in hierdie land van ons. Dit het tyd geword dat ons almal volwasse besluite moet neem ter bevordering van ons land en nie ons eie ego's nie. Die Bloemfontein-byeenkoms toon dat daar tog mense is wat bereid is om die groot stap te neem. Alle Eer aan ons Groot Barmhartige God. Amen!

  • Ag Here Jesus red ons van ons self. Hoe sal ons ooit regkom as ons so aanhou onder mekaar stry. As ons selfs die goeie probeer sleg maak in ons eie waan. Dankie vir die mense wat bly glo dat U alleen ons redding is.

    Amen

  • Dit is baie hartseer dat ons so onder mekaar stry oor 'n mens terwyl die byeenkoms hoegenaamd nie daaroor gegaan het nie. Dit het wel gegaan oor Ït is time." Ek glo dat as ond diep dink sal ons almal besef dat dit tyd is, dat dinge in hierdie land nie so kan aangaan nie. Angus was maar net een mens wat iets prober doen aan die situasie. Omdat hy 'n Christen is doen hy wat die Bybel sê: 5. "Amen praise the Lord! The time is now! Yes, I’m on my way to visit you with Judgment. I’ll present compelling evidence against sorcerers, adulterers, liars, those who exploit workers, those who take advantage of widows and orphans, those who are inhospitable to the homeless—anyone and everyone who doesn’t honor me.” A Message from God-of-the-Angel-Armies.
    6-7“I am God—yes, I Am. I haven’t changed. And because I haven’t changed, you, the descendants of Jacob, haven’t been destroyed. You have a long history of ignoring my commands. You haven’t done a thing I’ve told you. Return to me so I can return to you,” says God-of-the-Angel-Armies (Malachi 3: 5-7). As elkeen van ons maar liewer ook net ons deel doen want Herlewing begin by jou en my. Soek maar eers die splinter in jou broer se oog en dan sal jy die balk in jou eie oog raaksien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top