WF 2015: Invallers

  • 1

Loeiende sirenes laat my oombliklik penregop in my bed sit. Ek kyk verward rond. Die alarm bo in die kamerhoek gooi vreemde rooi en blou skynsels oor die sewe beddens in die kamer.

Rondom my kom almal stadig orent soos hulle ook deur die skril geskreeu wakker gemaak word.

Skielik begin die hele vertrek skud en ek moet aan die bed vasklou om nie af te val nie. Die geruk bedaar meteens weer. Ek swaai my bene oor die kant van die bed – nou wawyd wakker – en staan vinnig op. Almal volg my voorbeeld; hulle ken die prosedure as die alarm afgaan.

Ons verlaat die kamer en begin in die lang wit gang na die saal afloop. Orals om my peul ander ook by hulle kamerdeure uit en sluit by die wemelende hordes in die gang aan.

Party se oë lyk verskrik. Ander is steeds so vas aan die slaap dat hulle sonder om veel in te neem, net blindelings saam met die skare vorentoe beur. Die vloer ruk weer onheilspellend en slinger my vorentoe. Ek verloor my balans en die volgende oomblik maak my voorkop met die wit vloer kontak. Sterretjies dans voor my oë en my slape begin pynlik klop.

Al wat ek sien, is voete rondom my. Ek voel iemand oor my been struikel en ’n brandpyn skiet in my arm op toe iemand my hand raaktrap.

Skielik paniekbevange, lê ek vasgekeer op die grond terwyl die hordes bo-oor my loop.

Ek gaan vertrap word, dink ek benoud.

Die volgende oomblik word ek tot op my voete geruk deur ’n paar sterk, bekende arms.

“Is dit nou die tyd om te lê en slaap?” merk Klayn met ’n glimlag op.

“My wekker het vanmôre ’n bietjie vroeg afgegaan,” mompel ek droogweg terwyl ek langs hom inval. “Wat gaan aan?” vra ek soos ons almal, geklee in ons eenderse wit lyfpakke, die dubbeldeure van die hoofsaal bereik.

“Dis wat ons hopelik nou gaan uitvind,” sê Klayn met ’n geligte wenkbrou.

Die saal is stampvol. Almal skuif senuweeagtig rond – ’n nies of hoes die enigste geluide in die ongemaklike stilte. Elke nou en dan skud die vloer weer heftig heen-en-weer en word paniek opnuut tussen almal gesaai.

Almal staar verwagtend na die enorme blou skerms teen die oorkantse muur. Die ligte verdoof geleidelik. ’n Harde pop-geluid weergalm soos die skerm aangaan en dan verskyn hy skielik daar – generaal Sitka.

Die beeld gaan vir ’n oomblik uit fokus terwyl die generaal peuter aan sy mikrofoon. Hy maak keel skoon en begin praat, sy stem helder oor die interkomstelsel: “Bly asseblief kalm. Niemand verkeer in onmiddellike gevaar nie.”

Die skare kalmeer iewat en hy praat verder: “Sewe-en-vyftig jaar gelede het ’n spesie ruimtewesens ons planeet oorgeneem. Ons het hulle teëgestaan so lank ons kon, maar moes op die ou end die neerlaag aanvaar.”

’n Sagte murmeling begin onder die skare en sommige knik verwoed.

“Gedurende die oorlog het ons egter hierdie ruimteskip, waarin ons tans reis, gebou. Voorrade is versamel en voorsorg getref vir ’n lang – dalk selfs permanénte – reis deur die ruimte. Ons topingenieurs het vyf jaar gewerk om die skip toe te rus met ’n volhoubare enjin wat die son se stralingsenergie gebruik. Soos julle weet, is die hele skip met sonpanele bedek om hierdie strale te absorbeer.”

Etlikes begin klap, maar hy maak hulle met ’n handgebaar stil.

“Vanoggend het ons ’n onverwagse meteoorstorm getref,” hy huiwer en sluk: “die meeste van ons sonpanele is onherstelbaar beskadig …”

Verbaasde uitroepe vul die lug. Die generaal wag geduldig tot die meeste weer tot bedaring kom.

“Ons ingenieurs is reeds besig om –” Sy woorde word uitgedoof deur die oorverdowende slag wat die volgende oomblik deur die saal weergalm. Die skip begin kantel en baie word op die vloer geslinger deur die onverwagse beweging. Ek gryp Klayn aan die skouer voor hy ook omval en kyk desperaat op na die skerms. Die generaal staan daar en kommunikeer angstig met iemand. Die boodskapper skud swaarmoedig sy kop en loop uit die kamera se visie. Generaal Sitka haal een keer diep asem en dan lui sy stem weer ferm oor die klankstelsel: “Ek is nou net ingelig dat ons driekwart van ons totale kragkapasiteit verloor het. Binne etlike dae sal ons nie genoeg krag oor hê om die skip te bestuur nie. As ons nie binnekort ’n noodlanding maak nie, sal ons onbepaald in die ruimte rondsweef.”

Die skerm raak weer blou.

Langs my hoor ek hoe Klayn na sy asem snak. My brein neem die nuus nie dadelik in nie. Die volgende oomblik breek chaos uit in die saal. Gille van angs eggo teen die mure en om my begin almal rondskarrel.

Na ’n ruk trek ’n opskudding aan die oorkant van die saal my aandag. Iemand staan daar en praat oor ’n mikrofoon. Diegene naby hom begin stadig ’n sirkel om hom vorm.

“Ons het ons koers verstel na die naaste planeet aan ons wat lewe onderhou ...”

Ek beur vorentoe deur die skare om beter te kan hoor.

“Oor drie dae behoort ons daar te wees … genoeg batterykrag om tot daar te kom… geen ander keuse ...”

Ek luister stuk-stuk soos ek deur die menigte beweeg.

“Daar is egter ’n onvoorsiene komplikasie,” sê die spreker toe ek uiteindelik heel voor uitkom.

“Hierdie planeet waarheen ons op pad is,” hy kyk versigtig rond, “huisves reeds ’n inheemse spesie.”

My hart trek benoud saam. ’n Inheemse spesie beteken net een ding: oorlog. Wat is die kanse tog dat hulle ons met ope arms sal verwelkom? Ek besef skielik met ’n koue gevoel op my maag dat óns nou nes ons invallers van destyds geword het. Óns gaan nou die planeet inval en die inheemse inwoners uitroei. Óns gaan die planeet se samelewings vernietig op soek na bronne. Óns …

“Wat is die planeet se naam?” vra ek huiwerig.

“Aarde, en die inwoners noem hulleself ‘mense’,” is die antwoord.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top