Oestyd-skryfuitdaging: Intussen

  • 1

ek staan altyd tussenin
kyk van dié kant na dáái kant
en terug na dié kant om nie
‘n keuse te hoef te maak nie
tussen 2 x reg + 2 x verkeerd;           
‘n regop palindroom is ek
my Januskop versier met
lower argumente oor
daai kant, dié kant
met my gesplete tong
word elke voorwendsel besleg
my hart is boer,  my kop hoer
onverpoosd: ja maar …

en jy hoofman oor 100 –
waar is jou Hart?
wat doen jy met jou Kop?
As dit parstyd is
en die son se lig
in elke korrel gloei
en die donker druif se sap
pers oor jou lippe bloei
wat roer jou dan?

Is dit die werker op sy plek
lojaal, sonder verset;
of dalk die skone uitsigte
oor berg en wingerd
vanaf jou voorstoep –
vier jy só jou erfenis;
gehul in wynlandleefstyl;
en wat van naasteliefde?

En jy, elkeen van daardie honderd
wie is jy, wat glo jy, hoe dink jy?
Wat is jou rol in hierdie drama?
maak jy slegs aanspraak op jou reg,
arme slagoffer sonder insig
in die judasboksindroom gewroet?

Hei jy! En jy! En jy!
Wat het geword van saamwerk?
Saam die storms trotseer,
saam beur teen die wind
wat het geword van naasteliefde?

Maar nie een van julle is mekaar se naaste nie
want ons leef in die tyd van tussenin;
tussen julle staan die hedendaagse held –
die een wat kies om sy ingeskrewe
lede deur die swart see te lei;
hy sonder regret remorse religion
op sy oomblik-in-die-son-kruistog
Intussen, langs ingevoerde busse
vol gevegsgereed insittendes
staan hy met sy apple-lei in die hand
waarop hy haastig nuwe lede byvoeg –
daar is silwerlinge te verdien in sanksies
en elke tussenin kalant se dors na geld
beur die naastes uitmekaar

En jy wat staak!
Weet jy wat beteken staak?
Om op te hou, om end te maak
Om nie weer te begin nie.
Maar jy’s mos ingebus vir geld
Waar lê jou lojaliteit indien jy so iets het?

Alles in ag genome
Wat sal word van  my en jou
wat sonder nadink inklim in die oes
ons voete op die tafel
ons TV aan op nuus
wat bly dan oor vir my en jou?
waar sal ons hulp vandaan kom?
Ons wat van ‘n afstand als beskou
Mag boer en werker aanspraak maak
op ons lojale verset teen faksies
wat ook óns misbruik as pionne,
óns heen en weer skuif oor die
skaakbord waarop magsvertoon
die algemene deler is tussen
die arme werker, die stomme boer
en vra ons moet swyg oor die lot?
Die ingebusde politieke smet op
wat in voortyd edel was:
die boer en werker op die land
saamgevoeg in god se hand?

Ek staan steeds tussenin
kyk van dié kant na dáái kant
en terug na die kánt omdat
ek nie die reg het om te kies nie
nie ‘n keuse hoef te maak nie
En dáárom sal ek vorentoe verloor
wat nog altyd myne was.

Ek sal ook ingebus word oor die afgrond
van willose meelopery, van saamdoen
sonder afstand kry op wat aan my gedoen word
Ek sal besluiteloos weggee wat eens myne was:
Die enkel reg: om mens te wees

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top